Passies en passasies neig om die leser te oorweldig

  • 0

Passies en Passasies
Outeur: Marlise Joubert
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R120
ISBN-nr: 978-1-86919-166-5
Formaat: Sagteband

Klik hier om jou kopie van Passies en Passasies by kalahari.net te bestel.

Dis selde dat mens ’n boek onder oë kry wat jou totaal oorrompel of geheel en al teen die bors stuit. Passies en Passasies van Marlise Joubert is een van daai bundels wat mens laat sê: “Ja, dis nice, máár ...” En soos die oplettende leser sal merk, is daar twee moeilike woorde in so ’n mening.

Nice grens aan ’n stopwoord; dis ’n byvoeglike naamwoord wat so dikwels gebruik word dat dit al alle kleur en geur verloor het (lesers onthou dalk daai motoradvertensie waar die jong man die bejaarde paartjie verkwalik dat hulle sy motor as "nice" beskryf). Nice is die tipe woord wat mens gebruik wanneer jy nie eintlik weet hoe om iets te beskryf nie.

Nou waarom is Passies en Passasies so ’n halfwas, louwarm nice?

Die antwoord hierop is eintlik te vinde in die ander angel in die aanvanklike oordeel: die máár. (Kom ons laat woordkeuse staan – vir hierdie leser irriteer “gesuspendeer” (bl 9 en weer 89) grensloos, maar vir ander sal dit waarskynlik nie pla nie.)

Eerstens is die bundel baie ryk, plek-plek miskien te ryk. Joubert stapel beelde opeen en gebruik bywoorde en byvoeglike naamwoorde mildelik. Van die beelde en beskrywings is so ongewoon dat dit nogal herkouing verg. Een voorbeeld hiervan is “voordragte e.a. sange: 5. waarskuwings” (bll 114-5):

ek moet jou waarsku teen die wind wat roer
die wind wat die hare van gordyne roer
ek moet jou waarsku teen die strooisel vere
wat die tarentale op ons werf kom los
ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels
kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer
in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku
teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang
want hulle blink verniet
[...]

Die ongewone beelde herinner byna aan Breytenbach (aan wie Joubert ook ’n brief-gedig rig (“lentebrief” bll 104–5; sien ook “snitte uit ’n oggend: 4. Gavotte du Tendre”, bl 37). Die oordaad in party van die gedigte laat die leser egter soms effe oorbluf.

Tweedens is die plasing van die digter binne ’n literêre netwerk (mens sou dit seker literêre name-dropping kon noem) ook steurend. So kry mens byvoorbeeld “Breyten wat bessierooi draai” (“snitte uit ’n oggend: 4. Gavotte du Tendre”, bl 37); “Marlene se nuwe boek” (“snitte uit ’n oggend: 6. Les pleurs”, bl 37); en “jou Mimi” (“poukos”, bl 52) – hoewel laasgenoemde ook speel met die volkseiening van “ons(e)” Mimi Coertze.

Derdens is daar gedeeltes teks wat geïnkorporeer word in gedigte wat miskien eerder omdig moet word of as motto's aangebied moet word; dit is steurend in ’n andersins heel aangename leeservaring. Voorbeelde hiervan is “snitte uit ’n oggend: 13. Le Badinage” (bl 41):

ek lees wat skryf Pascal in “Tien jaar later”:
“Die wêreld van verbeelding stuur sy ranke uit

na die wêreld van realiteit en mettertyd sal die twee wêrelde

by mekaar invou en vermeerder.”

en “snitte uit ’n oggend: 14. Tombeau pour Mr. de Sainte Colombe” (bll 41-2):

wat sê Pascal nog? Ons leef omring deur hallusinasies

wat skaars verlies en afwesigheid kan verbloem.

Ons is almal onseker en uit pas. Ons begin te vroeg.

Ons sterf nog voordat ons geheel en al ryp geword het.

Die bundel kan as ’n stuk barokkuns gesien word: mooi, maar partykeer oorweldigend vanweë die oordaad. Of as een van die pre-Raphaeliet-skilderye, waar die romantiek miskien ’n bietjie te ver gevoer word in die uitbeelding van die karakters.

Om nou egter terug te keer na dit wat nice is en dit wat méér as nice is.

In die eerste instansie is daar die reikwydte van die bundel. Passies en Passasies skop af met gedigte oor vroue in ’n afdeling getiteld “die omsingelde huis”: vroue as kunswerke, vroue en kunstenaars, vroue as kunstenaars, gewone vroue wat sukkel met liefdesverhoudings of met die daaglikse probleme van die lewe, en in “in memoriam: Lisbé” (bll 18-9) ook die dood van vroue. In die tweede afdeling (“passies”) skenk Joubert grotendeels aandag aan die mans in haar lewe – die vaderfiguur en verskeie bemindes. Dit is veral in hierdie afdeling dat daar ’n aantal treffende gedigte is. Die afdeling “winterbriewe e.a.” betrek weer die digter se dogter en besinning oor gevoelens van verlies en onbehaaglikheid. In die vierde en laaste afdeling, “sleursange”, gebruik Joubert liedere uit ander lande – so wyd verspreid soos Peru en Sarawak (Indonesië) – as basis vir haar gedigte. Die gedigte wat nie verwerkings of vertalings van hierdie liedere is nie, het ’n redelik sterk ritmiese komponent of surrealistiese trekke (dit is ook in hierdie afdeling dat “voordragte e.a. sange: 5. waarskuwings” voorkom) – sien byvoorbeeld “voordragte e.a. sange: 4. perde” (bll 112–3).

[...]
perde is konings wat proes en galop
oor pleine en plato’s van mense
perde dra vragte van kinders en ridders
of oues van dae soos ’n hut op die rug
perde runnik alleen en verruk in ritmiese bome

perde is visse in waterwoestyne
swiepend van links en na regs
en terug in die lug asof gode
hul koppe in nette wil vang
met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet
[...]

Tweedens is daar die gedigte waar beelde keurig geskep word sonder dat die leser verswelg in ’n oordaad beskrywings. Weens ruimtebeperkinge sal hier slegs twee voorbeelde aangedui word, maar daar is aansienlik meer as net twee sulke gedigte in die bundel. ’n Leser met tyd en ’n behoefte om die gedigte te tel, sal waarskynlik vind dat daar meer van hierdie tipe gedigte is as van die oordadige soort.

Voorbeeld een: “vyftig is nie oud nie” (bl 83):

vyftig is nie oud nie paai ek jou
en op sewentig sal jy soggens
in die mis gaan stap met nuwe tekkies aan
nes die seun wat straataf fiets –
en jy sal vir hom wuif

saans sal jy die losgemaakte veters
van jou hande oor al die uitlope
in my gesig kom streel
weliswaar onherkenbaar dan
in rimpels water wat oor die vel kom breek

al hoe wyer erodeer
totdat ek oud en sat my hele tagtig jaar
se kreupelhout in die sagte walle sand
van jou skouers rus.

Voorbeeld twee: “Melkbosstrand” (bll 62–3):

duine sit borselkoppe bymekaar.
luister luister hoe raas hoe sloep
die branders lang stremsels melk aaneen.

die watervoëls swenk uit die wind
klap vlerke teen die somerskuim.
ongemerk skuif die duine hulle heupe weg.

veraf uit die mis wasem en breek
eers die drawwers dan die perde met ruiters.
en alles begin galop oor die strand teen ’n son

wat sy brandende skip dieper laat sink.
goud kleur grys na rooskwarts jogurtwolk.
’n hond sleep ’n seewierarm op die sand.

links rys Tafelberg op soos ’n kasteel
uit die sirkelgragte vol dralende rook.
regs staan Koeberg stil op kernkrag
sing atome onhoorbaar deur die lug.

uit die lappie uitgeduinde sand
voor ’n wye huis stoot mielies orent.
word blare bokkomdroog gebroei.

’n vrou pluk lang vingers groenboontjies af
braai die Sondag-geelstert in suurlemoen
lag en drink vonkelwyn met ’n perskegeur.

ek kyk na dowwe figure met kinders al slenterend
en honde in die louwarm skemer emmersvol
verspil teen huise reeds verlig. nog ’n hings
breek ritmies deur en verdwyn opeens in room.

vensters en skuifdeure staar met vaal
glasoë terug. die dreuning van ’n boot
versink. twee stoeltjies word opgevou.

Koeberg splits donker af teen die maan.

minnaars omhels en kloof uiteen.

in Tafelberg se kasteel blaas
iemand kerse dood.

Passies en Passasies is ’n bundel wat mens stadig moet lees, anders word jy so oorweldig dat jy die dele wat nice en meer as nice is, mis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top