Versindaba 2008: Mag niemand ooit vir hulle moe nie?

  • 0

Versindaba 2008

Marlise Joubert (samesteller)
Fiksie - Poësie (2008/08)
Prys: R120.00
Uitgewer: Protea Boekhuis
Klik hier om dié boek te bestel.

 

"Ek hoop dat hierdie versamelbundel boordensvol nuwe verse soos vars heunings sal wees," skryf die samesteller, Marlise Joubert, in die inleiding van Versindaba 2008. Dié versamelbundel is nr 4 op Versindaba se kerfstok en Joubert droom groot: "Wie weet, dalk word die Versindaba ook eendag 100 jaar oud?"

Die voorwoord is geskryf deur die uitgewer Nicol Stassen en lyk soos 'n lesing oor die polisisteemteorie waarvolgens die poësie nie as "losstaande monoliet" beskou moet word nie. Wanneer die aantal publikasies van digbundels afneem, word uitgewers verwyt, maar moet "ander deelnemers in die Afrikaanse literêre veld se rol in die ‘verbruik' van poësie [...] ook onder die loep geneem word," skryf hy. Dit blyk dat Joubert dit ook eens is dat daar ander rolspelers betrokke is by die broodwinning van die poësiebedryf. In haar geestige inleiding spreek sy haar wens uit dat jong digters die "leisels opneem"; dat hulle ? plek soos "Hartenberg of Delheim of Rust en Vrede" moet identifiseer waar hulle, soos Sylvia Plath en Ted Hughes by The Orchard, "deel kan wees van ? klein sameswering met wyn, ? kaasbord en ? olyf of twee" met "voorlesings, redekawelings, minnesang of skellerasies, selfs skunnige skinnerasies".

Versindaba 2008 bevat die gedigte van 17 gevestigde en agt opkomende digters. Onder die gevestigdes is heelparty pryswenners, soos Hennie Aucamp, Marius Crous, Johann de Lange, Joan Hambidge, Danie Marais, Petra Müller, Marlene van Niekerk en Ilse van Staden. Dit lyk of die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch goed verteenwoordig word met nie minder nie as vier van die agt opkomende digters wat by dié departement werksaam is en voorheen in die studentebundel Penseel gepubliseer het. Die opkomende digters is Suzanne-Louise Bezuidenhout, Ronelda S Kamfer, Annie Klopper, Loftus Marais, Melt Myburgh, Marius Swart, Johan Swarts en Jasper van Zyl.

Dit is, soos Ampie Coetzee ook in Die Burger van 30 Oktober 2008 uitwys, uit die staanspoor duidelik dat die Dood en sy Ontslapenes by baie van die gevestigde sowel as die opkomende digters die oorheersende tema is. So handel die eerste gedig in die bundel, "Drieankerbaai", geskryf deur Aucamp, byvoorbeeld oor "Ingrid [wat] deur die wiere beur". De Lange skryf oor ? voorlaaste besoek aan Ernst van Heerden en wonder oor die "verskriklike uur" waarin Kerkorrel oorlede is: "was daar sonlig op jou hande, was daar bloed?".

Crous vat ? obsedasie met die dood effens verder wanneer die spreker in "Outopsie" met ? potlood soos ? skalpel in die murg in wil sny nadat die "subjek" teen 120 mpu ten gronde gegaan het. "[H]oe kry ek afstand om jou lyf te kan dissekteer," verwoord Crous die soeke na moed om die dood van ? geliefde te verwerk; hetsy deur aanvaarding, of deur die skryfproses. Bezuidenhout vertel hoe die dood van ? vader ? mens raak in "Om jou pa te sien" en hoe jy "ná die klimaks van koeksisters en pikante pasteitjies" alleen in ? park gaan sit en "wonder/ wie nou jou swaai gaan stoot". Oor die dood besin Marais ook in "Oukersaand in die Medi-Clinic" ná ? vader se klein hartaanval by die braaivleisvuur: "Die dood gooi soms klippe deur die ruit,/ net om mense in stil huise te laat skrik."

Tussen hierdie meer ernstige gedigte is daar ook enkele ligter verse wat die spanning verbreek. Hambidge skryf oor Sophia Loren, oor wie ons almal blykbaar steeds met Peter Sarstedt saamsing: "So where do you go to, my lovely/ when you're alone in your bed?". Bezuidenhout skryf oor Laura, "(dikwels gedora)/ common en kitsch/ naels geverf met lusty lavender/ wig ge-tease om te please (van drywers tot dominees)". In ? gedig van Johan Swarts is die spreker bly hy en sy nooi bly nie in Darfoer nie, maar spyt dat haar klere nog nie afgebrand het nie, en in "Metafisika vir beginners" verduidelik Marais hoe Hart, Siel, Verstand en Rede op "Ware Liefde" reageer:

Verstand sug net oor Hart en Siel
Verstand is iemand wat Rede verstaan
Rede glo heimlik dat Verstand
deur Hart en Siel benewel word
Rede sê Siel is Hart se denkbeeldige maatjie
Verstand sê Rede se grootste probleem
is dat hy nie die behoefte
aan Hart en Siel ernstig opneem nie.

Nog ? grappige vers is dié van Klopper, waarin die "Geskiedenis van ? dorp" uitgelê word met "Tiens Rademeyer", die name van mense verander, "want wie gee om?", wat haar "toekomstige huweliksmaat" ontmoet en haar intrek neem in "Sonneblomstraat 13".

Daar is in Versindaba 2008 ook heelwat natuur- en ekologiese gedigte. "Wie indring in natuurlike vestings/ en met treksaag en byl wil verniel/ tas aan, nie net van die bos nie,/ maar sy eie, onsterflike siel," skryf Aucamp. Müller skryf oor die Choberivier se "pelikane/ [wat] soos trosse ou en jong rose langs die waters [...] sit", en Van Staden oor die "Fluisterklip" wat "vanselfsprekend/ ver en alleen die veld in/ [lê] ver en stil want die grondonthou is swaar".

Een van die bundel se hoogtepunte is twee verse van Van Niekerk, "herfsmeditasie" en "delicious monster". In laasgenoemde glinster ? delicious monster "uit die dieptes op" teen die stam van ? sering en sing die spreker uiteindelik "? lied van die ander oewer" vir die verdringde sering.

Dat "poëtiese diversiteit", soos Stassen dit in die voorwoord stel, in dié bundel ? belangrike oorweging by die seleksie van verse was, is duidelik. Dat Versindaba 2008 ? "moment-opname van die Afrikaanse poësie" is, is egter aanvegbaar. Daarvoor is daar te veel Stellenbosch in die bundel - Joubert se inleiding as skitterende voorbeeld. Stellenbosch verteenwoordig nie die Afrikaanse poësie nie. ? Mens wonder ook of sommige verse, soos "Prys van armoede" van Peter Snyders, tot ? "moment-opname" van die "huidige jaar" gereken kan word. "Prys van armoede" handel oor die "lae gemiëne hou" (my kursivering) wat die styging in pryse vir die arm man en vir Joanie (wie is Joanie?) toedien, maar volgens 'n voetnoot is al die pryse wat in die vers genoem word, op 27 Julie 2004 van toepassing.

Is dit ? goeie bundel? Verse soos dié van Van Niekerk mag my dalk net oorhaal om dit te koop. Dat die "verbruiker" ook aandadig is aan lae verkoopsyfers en die gevolglike verminderde publikasie van digbundels, is gewis so. Ten spyte van te veel Stellenbosch, is Stassen, Joubert en almal wat ? aandeel het aan die publikasie van Versindaba 2008, se ywer om Afrikaans lewendig te hou, bewonderenswaardig. Ook bied hulle ? broodnodige platform vir opkomende digters. Die inleiding se verwysings na Plath en Hughes, hul teedrinkery en hul wandelinge waartydens Plath hardop poësie voor koeie siteer, is miskien effens geesdriftig en oordrewe, maar ék sal nie die een wees wat vir Versindaba 2008 moe nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top