Boekresensie: bladspieël deur Marlise Joubert

  • 0

bladspieelomslag

bladspieël 
Marlise Joubert 
Human & Rousseau
ISBN: 9780798169547

Op die buiteblad van Marlise Joubert se agtste bundel, bladspieël, dryf daar ‘n vaag-gedefinieerde vrouefiguur op ‘n gedempte groen agtergrond, ‘n duidelike aanwysing dat dit hier nie gaan oor ‘n skerp aftekening van die werklikheid nie. Wat dié beeld ontbeer aan realistiese skerpheid, wen dit egter in die oproep van ‘n sekere stemming, asook die suggestie van ‘n swoel sensualiteit. Die doelwit van hierdie gedigte is in die eerste plek die “begeerde ontroering”, soos uiteengesit in die gedig, “agenda” in die bundel:

       sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
       om die enkels van begeerde ontroering

       so moet die gedig jou mettertyd tot
       stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin

       sodat jy die woorde word, self die klank
       en die ritme van ‘n verlore tyd, die afstand

       van vrugwater na sloot
       en later slegs ‘n hartklop

       wat jou opraap ver verby
       die stingelende dood.

Die musiekterm diminuendo kom waarskynlik die naaste aan ‘n beskrywing van die soort stemming wat herhaaldelik in die gedigte opgeroep word: ‘n meestal melancholiese gewaarwording wat geleidelik wegsterf, baie duidelik in ‘n gedig soos “lied”:

          al hoe stiller

          die tinte
          van haar stem
          in ‘n rivier
          wat kloof
          na die ruspunt toe
          en lank daarna
          steeds eggo
          in die leegte
          van my
          oor.

In die eerste gedig in die bundel, “herfs”, word die onvermydelike wegsterf van ‘n byna ekstatiese sensuele gewaarwording beklemtoon deur dit aan die gang van die seisoene te koppel. Soos met die buitebladskildery kry die leser ‘n duidelike besef van die veranderlike, vervloeiende aard van die werklikheid en ervaring:

          vandag staan die wolke skeef
          druppende kerswas oor die land
          ek wil dit nie verloor nie

          in die tuin ‘n geveg tussen vinke

          verwers met kwaste en lere poleer
          my mure met die kleur van sand

          niks hiervan wil ek opgee nie.

Hierteenoor staan oomblikke waarin die spreker die agterlaat van ‘n vasstaande wêreld positief ervaar, soos in “lyf”:

          en jy wag
          o, jy wag vir die stortvloed

         om af te kom van bo
         om jou weg te neem
         na die onbekende omtes toe

          waar jy liefs
          nóg vis nóg vlees wil wees.

Die poësie in bladspieël is primêr stemmingspoësie, gebou om gedagtegange en beelde, terwyl konvensionele versmiddels soos ritme, rym en vaste versbou tot die minimum beperk word.

Die sentrale rol wat deur die visuele gespeel word, word beklemtoon deur die titel met sy oënskynlik teenstrydige betekenisse: enersyds kan “bladspieël” verwys na die gedigte as weerspieëlings van die digter se bestaan, ‘n betekenis wat andersyds weerspreek word deur die letterlike betekenis van “bladspieël” soos dit in die tipografie gebruik word. In laasgenoemde betekenis verwys die term na die visuele faset van ‘n gedrukte teks waar die verhouding tussen die ruimtes wat deur die letters op die bladsy en die wit marges beslaan word, die belangrikste element is, naas die lettertipe(s) en die spasiëring van die letters. Die bladspieël – die voorkoms van ‘n gedrukte teks – ontlok as’t ware die basis-affek, die eerste emosie, by die leser wat ‘n teks opneem, nog voor enigiets gelees word.

Die bewussyn van die beperktheid en ontoereikendheid van taal en poësie wat so deur hierdie betekenis van die titel gesuggereer word, kom aan bod in ‘n hele aantal gedigte, soos “hotel. hermanus”, “om te dig” en “terugvlug”. In “ná die slaap” word die gedig byvoorbeeld gelykgestel aan waardelose rommel:

          dit sal beter wees om alles
          dadelik van die geheue se tafel af te vee
          in gister se swartsakke te gooi

          en op die sypaadjie staan te maak
          as misvormde, onsigbare gedig.

Die bladspieël-idee kom die duidelikste tot sy reg wanneer gekyk word na wát voorgestel word, die pessimisme ten spyt: dit is primêr poësie gerig op die ek in haar (emosionele) verbintenis met die wêreld direk om haar – in die eerste plek haar gekoesterde bestaan in ‘n voorstadhuis, haar man en haar kuns. Op hul beste herinner die gedigte die leser dat hier, in hierdie “marges” van die wêreld (om die “bladspieël”-idee te gebruik), net soveel intensiteit en kompleksiteit is as in die “hoofstroom”-wêreld van digters wat oor groot kwessies en filosofiese en politieke vraagstukke skryf.

Ook wanneer die spreker weg is van die huis, op een van die reise wat in ‘n aantal gedigte figureer, soos “madrid”, bly sy bewus van die efemere aard van haar bestaan wanneer sy ‘n vrou groet wat die straat vee:

          sy lag my sonder tandjies toe
          begin weer langsaam sleep aan dooie blaar

          asof ek iets van haar was
          ritselend, en weg –

Dit is veral in die langer gedigte, soos “hoogsomer: waylands”, “stormsriviermond” en, by uitstek, “dagskrif vir die wegland”, dat Joubert toon waartoe haar benadering in staat is: ‘n stemming word nie net opgeroep nie, maar ook oor ‘n langer tydsduur gemoduleer.

bladspieël bevat uiters toeganklike, maar tog treffende poësie waarvan die trefkrag net toeneem met elke herlees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top