Resensie: disteltyd deur Marlise Joubert
Protea Boekhuis, 2021
ISBN: 978-1-4853-1259-8
Nini Bennett
Marlise Joubert is al langer as vyf dekades werksaam in die literêre bedryf. Haar indrukwekkende oeuvre bestaan uit bekroonde hoorspele, romans en Versindaba-versamelbundels, waar sy in die hoedanigheid van samesteller optree. grondwater (2019) is met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie sowel ’n SALA-toekenning bekroon. disteltyd is haar tiende digbundel.
Die omslagontwerp, ’n foto getitel “Delft blue” van die fotograaf Jim Larimer, beloof ’n ryke aanbod van simboliek. Die Delftse blou vaas is ’n versamelstuk wat geassosieer word met vervloë rykdom. Distels, op hul beurt, kan geklassifiseer word as blom én onkruid en figureer as uitgebreide metafoor in hierdie bundel. Die verse handel oor prosesse van veroudering of gepaardgaande aflegging; en distels dra kulturele konnotasies van robuustheid, trots, pyn en aggressie. In Frankryk, byvoorbeeld, is die distel ’n simbool vir die son wat die bose en slegte geluk afweer. In Skotland word die distel geëer as heraldiese simbool van dapperheid. Die gemene deler tussen al die teenstrydige simboliese betekenisse is egter een van volharding – disteltyd is ’n ryk geskakeerde bundel en Joubert skryf met ’n deurwinterde digtershand waarin sy op kaleidoskopiese wyse bestekopname neem van ’n lewe.
........
In Skotland word die distel geëer as heraldiese simbool van dapperheid. Die gemene deler tussen al die teenstrydige simboliese betekenisse is egter een van volharding – disteltyd is ’n ryk geskakeerde bundel en Joubert skryf met ’n deurwinterde digtershand waarin sy op kaleidoskopiese wyse bestekopname neem van ’n lewe.
.........
Deel 1 open met jeugherinneringe en die verse is in ’n mineurtoonaard gestem. Die spreker verwissel van fokalisator: Die klein dogtertjie vertel van ’n mal ou vrou, ’n pop, en haar onderwyser-vader. In “instandhouding” (14–15) skuif die fokale punt na dié van ouma as die spreker voortdig in ’n tipe monologue intérieur en raad gee aan ’n kind. Verwysings na ’n familielid, asook ’n reisiger, kom voor en Joubert skep verse waarin verskeie “stemme” uit die verlede begin saampraat en aan die poësie ’n polifoniese kwaliteit verleen. ’n Hoogtepunt in dié deel is “slaapliedjie” (16), ’n wiegelied wat intertekstueel met Breytenbach se “slaap klein beminde” flankeer.
vergeet van alles, kind
vergeet van almal, ja
vergeet die briesende wolk
bo die biegkring van bome
ignoreer die weerligstraal
se swepe van verbryseling
slaap sag, slaap ver
vergeet van jouself
gaan op reis met die snuffelmaan
deur die ruimte van donker na lig
in die kosmos hang kristalle
en bars uit die nate van eeue
in ons heelal is jy stippelniks
behalwe die geheim van lewe
vir ’n wyle, kind
’n enkele sweeftog lank
Deel 2 betrek gedigte wat handel oor die spreker se tuin. Verbeelding, asook die transformasie van natuurelemente, kenmerk “soms weet ek nie” (26), met sy herhalende leitmotief van swane. Die begeerte na die gestaltung van dít wat lewe bloei uit in temas van hergeboorte in “as ek 80 word” (27), en ek haal die laaste drie reëls aan: “[…] dan kan ek rustig slaap asof gesloop / in die windroos van ’n jare lange verblyf / en wag dat ek weer gebore word”.
“In jou skoene” (28), met Totius se bekende “repos ailleurs”-fineer, betrek vervolgens Breytenbach se skets, “Fascistiese pampoen”. Hierdie dag staan al vir jare bekend as pampoendag, oftewel die viering van Breytenbach se verjaardag op 16 September. Dié speelse pampoenteks het reeds in 1964 in laasgenoemde digter-skilder se bundel kortprosa, Katastrofes, sy opwagting gemaak. Joubert korswil digterlik voort oor skoene en pampoene. Ook donker (!) Suid-Afrikaanse kwessies soos beurtkrag dien as boustof vir “beurtkrag” (29). Dit is ’n heerlike vers, eg Suid-Afrikaans in sy sardoniese aanbod. “Janfrederik” (34) vertel hoe die spreker hierdie voëltjie met hartmassering weer aan die lewe kry; die laaste reëls van dié aangrypende gedig: “[…] toe, skielik soos ’n vlieër, / strek hy vlerke en spat trillend weg // my oë trek skreef na die son / my tong stol in die aanpraat // ek wuif nog lank soos ’n ma / na die kind wat haar / agterlaat”.
Die verwonding van diere kom ook voor in die volgende vers, “Lam” (35), ’n beeldgedig na analogie van ’n skildery. Die verse in disteltyd beskik oor ’n dromerige kwaliteit, soos die “transgedaantes” wat bly morf in “refleksies” (37). Die drang na transformasie, of selfs kosmiese bevryding, vind gestalte in “40 winks, groenpunt, 24 desember 2019” (40–42) en “nuwejaar” (43), waarin die spreker se lewenstamheid blyk: “[…] die nuwe jaar reis / ’n leeftyd lank // verby die son”.
In deel drie skryf Joubert ars poëtikale gedigte, byvoorbeeld “laat in die nag” (46), wat die donker ondertone van die graf suggereer, en sy sit die tema van gedaanteverwisseling voort in “eendagwens” (47), ’n vers vir haar geliefde en eggenoot, Louis Esterhuizen. In Joubert se oeuvre figureer reële karakters soos laasgenoemde digter (Esterhuizen), asook die digter-spreker se moeder, Didi Joubert. Die konsep van outeursdwaling is dus doelbewus afwesig by die lees van Joubert se poësie. Ewenwel: “eendagwens” spreek die wens uit dat die spreker op amper panteïstiese wyse in ’n denneboom sal verander ná haar dood:
eendag is ek nie meer
hier of daar nie –
en dan, geliefde, wil ek
soos ’n spits denneboom
driehoekig voor jou staan
neem my dan
astraal in jou op: geletsel
met repe droë bas tot by
die toppunt van hoogtes
van hierbenede na die bowêreld
soos hande sal elke kegel
palmkaal voor jou voete val
ruik my in die oksel
van die denneboom
streel die immergroen naalde
se wasbedekte nerwe
sien my in elke oggend
wat uit die landskap stoom
veral in die uitspansel
van jou nagblinde oog
Ars poëtikale prosesse as deelversameling van veroudering, aflegging en dood word bepeins, terwyl die spreker pertinent “praat” met digters wat reeds oorlede is in “dooie digters” (52). Die leitmotief van stemme wat saampraat, soos voorheen genoem, word onder meer herhaal in “brief aan die digter” (54).
Joubert sit haar intertekstuele gesprek voort in “slangbrief, februarie 2020” (56–57), ’n vers in briefvorm wat inspeel op Margaret Atwood se “Psalm to snake”. Die slang as slinkse en aweregse muse word belig. Die vers se datumgegewe is baie interessant: einde Januarie 2020 het die WGO die uitbraak van Covid-19 as openbare noodtoestand verklaar. Die slang as “profeet”, “telepatiese mededeling”, “giftige waarskuwing” en “sinistere boodskap” word só ’n gelaaide simbool vir die toenemende gevaar van die koronavirus in 2020.
In deel 4 intensiveer die belewenis van veroudering, angst oor die naderende dood en die gepaardgaande versugting na die transendentale. “Veroudering” (60–61) se slotstrofes resoneer met Pavese se “Verrà la morte e avrà i tuoi occhi”, waarin die spreker haar sterwende gesig in die spieël sien. Joubert se vers, en ek haal aan, strofe 3: “[…] waarheen is die dae / asof tyd ons nooit sal verwinter nie”.
Slaap as figuurlike dood word beskryf in “narkose: grepe van vlug” (63), ’n skyndood of psychoma waar assosiasies van Hipnos, die god van slaap, versus Tanatos, god van die dood, opgeroep word. Ook in “die melankolie van slaappatrone” (64) word die weerlose slaap van twee bejaarde geliefdes sensitief verbeeld. Joubert lewer haar kwota sosiale kritiek oor geslagsgebaseerde geweld in “agter geslote deure” (65). Die daaropvolgende “vroue”, met sy mitiese inslag, sluit aan by Pinkola-Estés se Women who run with the wolves.
Die digter is lief daarvoor om briewe te skryf, soos byvoorbeeld haar briefroman, Klipkus (1978), asook die talle briefgedigte in haar oeuvre getuig. Deel 5 se “nagboekgesprek” (72–87) open as ’n lang brief in agt dele aan die moeder, geskryf in die tweedepersoonsperspektief. Die spreker vertel van haar oorlede moeder se dagboeke vol inskripsies en knipsels. In stede van “dagboek” dui die lees en verstaan van “nagboek” op ’n geheime, nokturniese aktiwiteit, maar ook op die oorlede moeder se dagboek wat ’n “nagboek” word, want sy is oorlede. Die aktualiteite en trivialiteite van die dag word belig: Die spreker nooi die leser as ’t ware as voyeur om met die lees van dié brief-/dagboekgedig ’n intieme binnekyk in die moeder se lewe te kry. Die gedig word ’n kroniek van ’n bejaarde se laaste jare; dit vind gestalte in ’n egodokument van die moeder waarin historiese gebeure digterlik verwerk word.
Die laaste deel handel oor die belewenis van die inperking en Covid-19. Die toenemende gevoel van vervreemding word treffend verwoord, en ek haal aan uit “herfsmusiek” (94–95), strofes 6–8:
my naaste vasgevang
in anderland en besoeke
transformeer na papierpoppe
op ’n skerm
my vingers sónder
die aanraking van ’n gesig
en géén wang
teen ’n kind se wang
ons teks die leegtes
glimmend vol
al is die weersiens
gansverlore uitgestel
Ook in “afsondering” (96) word hierdie gevoelens van nihilisme verwoord.
Joubert vang die zeitgeist van die koronavirus vas en ruimtelikheid, byvoorbeeld die natuur, word ontgin. Die spreker probeer ontvlug van die knellende inperking deur haar aandag te vestig op haar tuin en ander natuurverskynsels. In “wanneer die lig doof” (98) beskryf sy haar geliefde wat uitgaan om “proviand” te koop: “[…] gemasker soos ’n slinkse dief / gepantser met chirurgiese / handskoene om ’n virus / te systap, al sou dit naelskraap / verby ’n windswiep wees”. (Let daarop dat die woord “proviand” assosiasies met ’n oorlogsituasie oproep.) Gevoelens van dissosiasie word knap verwoord – die verse word gekenmerk deur ’n onheilspellende gevoel van ’n dreigende apokalips.
Joubert beoefen amorfe poësie wat steun op vrye assosiasie en die bewussynstroomtegniek. Die digter slaag in die meerderheid gedigte daarin om die leser te verras of mee te sleur met die besondere beeldryke aanslag van die verse. Of, om dit in plein Afrikaans te stel: Die gedigte in disteltyd is donners mooi.