hoog in Villasavary op ’n balkon
wat moontlik eeue gelede uitgekap is
sweef ek uitgelate oor sonneblomgeel
afwisselend met oopgeharkte grond
waar ronde bale gras uitdroog
in die somerson
om ’n gedig te skryf sou beter wees
om hierdie landskap vas te bind
al is die woorde te lig en te wit
te klip te groen – alles gly terug
in die begraaftuin van vervloë dae
vergeel dan vinnig tot ’n vlerk
sonneblompapier
*
(agterna is die reis net
’n draling van windvoete tussen sipresse deur
’n asemproe soos reën teen ’n horison
met asfaltgedagtes wat oorskadu word
om alles weer te verken en met
woorde terug te lap)


Kommentaar
Alle reise gaan mos oor later se onthou van woorde en oomblikke. Nie eers ons beste kiekies kan daarop verbeter nie.