grondwater
Marlise Joubert
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310204
Die digter Marlise Joubert debuteer in 1970 met die bundel ’n Boot in die woestyn. grondwater is haar jongste digbundel.
Die kolofon toon ’n foto van Didi Joubert en die digter (as klein dogtertjie): “in memoriam didi joubert [1922-2016]”. Heelwat van die verse handel oor die agteruitgang, demensie en dood van ’n geliefde moeder en vorm dan die vername leitmotief van die bundel. Ook die motto van Kristen Hannah voor in die bundel resoneer met die foto, en die digter-spreker se pyn en verlies rondom die moeder word geaktiveer:
A daughter without her mother is a woman broken. It is a loss that turns to arthritis and settles deep in her bones.
Die rubrisering van die bundel geskied in vyf dele en open met "1. ruite in ’n raam." Die raming van die gedigte kan dui op die argivering van die meditasies en herinneringe – verse waarin die finaliteit, of selfs futiliteit, van ’n geleefde lewe neerslag vind. Reeds met "geboorte van ’n wolvin" (9) word grondwater in ’n mineurtoonaard gestem. Strofes 8-9:
alleen en sonder trop het ek gedraf
ná ’n leeftyd is my winterpels ’n dikker vel
my oë gelouter met die lyding van ’n lam.
kom, waag dit maar
aan my woorde kan jy vat –
byt kan ek nie.
Die digter skryf met genadelose deernis oor haarself, geliefdes, vriende, familie en belewenisse wat onder meer in jeugmemento's verwerk word. Dis poësie wat beleë is; sorgvuldig opgeteken deur ’n deurwinterde digtershand, maar dis ook poësie wat met ’n gelate afstandname die inventaris van ’n lewe aan die leser oorgee. Só word die leser betrek in ’n spel met Joubert se eie oeuvre en selfs uitgedaag tot ’n hermeneutiese lees van enkele gedigte – maar meer hieroor later. Hierdie bemoeienis met die leser vind onder meer gestalte in konkrete poësie waarin die visuele, ruimtelike en akoestiese eienskappe van taal maksimaal benut word, byvoorbeeld in "palmboom" (11) en "nagstilte" (30).
"bad things happen" (12–13) herinner aan ’n soort poëtiese vonkfiksie en deur ontluistering roep die digter haar herinneringe aan volwassewording/mondigwording voor die oog. "ferdinand", die opeenvolgende gedig (14–15), is sinvol in koepletvorm wat die in-tandem-verhouding met ’n oorlede oom simuleer. Besinnings oor die natuur en die vier basiese elemente, grond, water, vuur en lug (wind) vorm oorwegend die tematiese boustof vir die bundel. "deur die wind" (19), asook "gasteplaas" (22), verse wat oor die wind handel, lei op ’n kataklismiese wyse tot "brand" (24), wanneer daar berig word hoe Knysna deur ’n verwoestende vlammehel verteer word. Die vyf tersines in "bootwoestyn" reik terug na Joubert se debuutbundel, ’n Boot in die woestyn. Ook die digter se biografiese opgaaf (of persoonlike register) kom aan bod, in die gedig "huis in die boord" (26–27), ’n vers wat inspeel op haar huidige woning in die Boord, Stellenbosch, en wat as geografiese anker ’n toevlugsoord vir die spreker-digter bied.
In "2. al die woorde" val die soeklig op ars poëtikale besinnings, ’n bemoeienis met die digkuns as taalkonstruk. Na analogie van Gilbert Gibson skryf Joubert in "sewe sondes, plus nog een" (31) ’n gedig wat vra vir ’n hermeneutiese lees en waarin die deurhaaltegniek by versreëls ingespan word. Die gedig kan op drie verskillende maniere gelees word.
Alhoewel die tweede gedeelte van die bundel neig na ’n verliteratuurde effek (of ’n selfbewuste gestileerdheid), stuur Joubert betyds hiervan weg wanneer sy in vrye vers voortdig. "inventaris van ’n geraamde verloop" (43) is ’n meesterlike intratekstuele spel met die digter se hele oeuvre, en verwysings na onder meer ’n Boot in die woestyn, Domus, Klipkus, Lyfsange, Passies en Passasies, Ontruiming, Bladspieël en Splintervlerk kom voor. Hierdie vers, wat ook as uitdaging aan die leser voorgehou word, kyk terugskouend met ’n panoramiese blik na enkele fasette van die digter se lewe; dis ’n vers wat op mistieke wyse sluit wanneer die gestorwe voorvaders na haar roep om "huis toe te kom" (die nalewe).
"3. syferwater", die derde gedeelte, handel oor transformasie of metamorfoses deur die verloop van ’n lewe. "is moeg" (48) tref met die afwesigheid van ‘n selfstandige naamwoord aan die begin van die sin/titel; ’n meesleurende gedig oor die aftakeling wat ouderdom meebring. Die vers open met "beenmoeg bittermoeg", wat op sy beurt ’n digterlike korrelaat met Kristin Hannah se inleidende motto vorm. Die volgende gedig, "oggendblues" (49) is minder uitgesponne, ’n meer gestroopte tipe vers waarin Joubert haar slag met digterlike kriptiek wys:
skadu's verdamp teen die muur
terwyl ’n wind die denneboom ontstigbloed sypel slakkepas deur die liggaam
wanneer oudword aanwas met cholesteroldie vrou verdwaal in haar nagrok
tot laat in die oggend soek sy na ligmet blou hande om ’n beker koffie
probeer sy weer en weer om tyd te stol.
"doktersbesoek" (50) en "kardioloog" (52–53) oortuig as verse wat steun op ’n narratiewe gang en wat handel oor die ouerwordende vrou se besoeke aan dokters. In "ons is die kinders" word die vorige bedeling gejukstaponeer met ‘n jong demokrasie; dis ’n gedig wat kritiek lewer op die toenemende angs rondom misdaad, sekuriteit en veiligheid.
Afdeling vier, "4. palm in die hand", vorm die hoogtepunt van die bundel: verse wat die leser ontroer in die eerlike en suiwer poëtiese segging. Hierdie verse handel oor die spreker-digter se bejaarde moeder en die finale fase voor haar dood. Die palm roep onder meer assosiasies van die liefdes-, noodlots- en lewenslyne in ’n handpalm voor die oog. So byvoorbeeld laat die moeder se broosheid en die verwysing na haar X-straalplate geen leser onaangeraak nie; dit is evokatief, dog weerloos; diepsinnig, dog sober, soos strofes 3–5 uit "bekken" (67) getuig:
staan langs die steriele radioloog
kyk deur die ruit van ’n kantoor
soos stootskrapers spoor masjiene
in beweging oor jou kreukellyfop die skerm ’n klein visgeraamte
van als gestroop dryf na bo
om hier oplaas geheime
van jou herkoms te ontblootek kyk na die fyn struktuur
se perfekte samehang –
tussen jou heupe dié vakuum
waarin ek lank gelede was.
Ook die ander moedergedigte, naamlik "demensie", "twee vroue", "uitskotvers" "versorging" "sterwe" en "in memoriam", vorm eweneens merkwaardige poësie. Maar die dood van geliefdes stel nie die finale grens nie. Die laaste gedeelte, "5. villa palmeira, bela-bela", reik duskant die sfeer van die dood wanneer Joubert besin oor onderwerpe soos die nalewe (en by implikasie reïnkarnasie), asook verse oor haar kleinkinders (haar nageslag wat voortlewe). In die slotvers, "villa palmeira, bela-bela" (105) morf die spreker as't ware terug na haar jeug, ’n vers wat aansluit by Joubert se biografiese register (die digter het op Bela-Bela, oftewel Warmbad, skoolgegaan).
grondwater is in geheel ’n bundel vir die fynproewer, maar dis ook ’n toeganklike werk – ’n bundel wat sonder twyfel as die hoogtepunt van die digter se oeuvre bestempel kan word. Dalk kan hierdie merkwaardige werk ten beste opgesom word aan die hand van die volgende uitspraak van Paul Engle: "Poetry is ordinary language raised to the Nth power. Poetry is boned with ideas, nerved and blooded with emotions, all held together by the delicate, tough skin of words."
Lees ook: