Is Akademia die antwoord?

  • 12

Foto van die Facebook-uitnodiging na Akademia se inligtingsessie en foto van Naomi Meyer (foto-erkenning: Naomi Bruwer)

Iewers die Saterdagoggend, in ’n woonbuurt in Somerset-Wes, raak my GPS-begeleier geïrriteerd.

“You have arrived,” vermaan sy my toe ek verbyry.

Kan nie wees nie. Dis dan ’n kerk. Ek draai om. Sowaar: daar verrys die Akademia-doudruppelvormvlag.

Daar is min motors in die parkeerterrein. Dalk is die ander mense nog op pad. Musiek speel in die gebou. Die lirieke klink nie Afrikaans nie – seker ’n ander geleentheid. Die vertrek se deure is toe, maar deur die venster sien ek mense besig met ’n energieke oefendansklas.

Agter my parkeer iemand.

“Is jy ook hier vir Akademia se inligtingsessie?” vra ek.

Sy frons, skud haar kop.

“Hoor dalk by Ontvangs.”

“Patmos,” lees ek op ’n bordjie teen die muur langs my. Op ’n ander muur: “Efese.” “Kleuterkerk.”

Die vrou wat my na Ontvangs verwys het, is skoonveld. Ek stap by ’n deur in.

Binne-in die ingangsportaal van ’n soort moderne kerksaal beduie ’n ander vrou vanuit ’n vertrek wat my aan die ontvangslokaal van ’n kinderhospitaal herinner (vrolike figuurtjies teen die mure geverf; bont kleure): “They are in there.”

Die deur voor my lyk soos dié van ’n radio-ateljee. Voorwaar ’n aldoelige gebou. Ek stap in.

Die eerste ding wat ek sien, is die mense wat nie daar is nie.

Daar is stoele uitgepak vir ’n klein gehoor – ek skat vir so 20 mense – maar hier is byna niemand nie. ’n Opkoms van drie mense, met my daarby ingesluit. ’n Groot skerm vertoon die moontlikheid van ’n uitsending van ’n aard, maar ek let nie mooi op nie. Ek is ongemaklik oor die min mense wat wél hier is.

’n Ma en ’n matriekseun, as ek sy ouderdom moet raai. En twee inligtingsbeamptes van Akademia is ook hier.

Die volgende ding wat my opval, is die kleur van die inligtingsbeamptes se gholfhemde. Dis ’n diep donkerblou en my heel eerste assosiasie is ’n buitelugskool van jare gelede. Of iets van die Voortrekkers – dié in ’n nuwe gedaante. Nie meer die kakie en bruin van my kinderdae nie. Die navyblou van vandag.

Die ma en seun is in gesprek met een van die inligtingsbeamptes gewikkel.

Die inligtingsbeampte onderbreek die gesprek om eers vir my welkom te heet. Sy vra my om ’n vorm te voltooi en vra my uit oor waarom ek hier is.

“Ek meen die hoofrede hoekom ek hier is, is weens die taalgesprek by Universiteit Stellenbosch,” sê ek terwyl ek ’n vorm voltooi.

“O ja,” knik sy. “Wil jy inskryf by Akademia vir volgende jaar?”

“Nee,” skud ek my kop. “Ek wil kom uitvind hoe dit in Akademia werk.”

Ek wou byvoeg: “... en ek het verwag hier gaan ’n saal vol mense wees. Weet jy hoe baie mense praat oor die taaldebat by die US op LitNet?”

Sy lyk nie vir my oorgretig of desperaat nie. Sy lyk klein groepies gewoond. Sy is vriendelik.

Ek maak vir my koffie by ’n tafel terwyl die uitsending op die skerm afskop.

Dis ’n soort Skype-gesprek, besef ek dadelik, toe die vrou op die skerm stip na ons almal kyk. Sy kan ons sien en hoor, en ons vir haar. Sy vertel dit ook vir ons, en ek vind ’n stoel. Daar is nog ander mense by ander inligtingspunte elders in die land, vertel sy. Sy is nou in interaktiewe gesprek met ons hier in Somerset-Wes, asook met ander mense in Krugersdorp, Vanderbiljpark en Bloemfontein. Hoeveel mense sou hierdie sessies bywoon? wonder ek.

Die vrou op die skerm lyk ook nie verbaas dat ons so min is soos die Boere op die aardsdrempel in Patagonië nie. Sy vra almal waar hulle gehoor het van hierdie inligtingsessies: Facebook? Of omdat ons lede is van Solidariteit?

En van hier af vertel sy ons praktiese dinge. Die voertaal by Akademia is Afrikaans. Lesings vind plaas soos hierdie gesprek – op ’n interaktiewe skerm. Toetse en assesserings vind in Afrikaans plaas . ’n Sekere aantal sessies is verpligtend om by te woon. Die klem is op gehalte-onderrig en die handboeke is die handboeke wat besluit word die gehalte-onderrig sal voorsien. Of dit nou Engels of Afrikaans is.

Watter kursusse word aangebied?

Ek het vooraf geweet Akademia is nog ’n betreklik jong universiteit. Ek het ’n onderhoud met Danie Goosen gelees en besef dit is rondom 2012 gestig. Ek hoor die onlangse Konstitusionele Hof-uitspraak maak ’n soort skrefie van ’n deur oop en moedig studente aan om in inheemse tale van hul keuse die opsie van privaat universiteite te ondersoek. Ek weet nie presies wat my verwagting is rondom die omvang van hierdie universiteit nie, maar ek is verbaas om te sien hoe min kursusse daar werklik aangebied word.

Die rigtings wat Akademia bied, is hoofsaaklik rekeningkunde- en bestuursrigtings. Daar is vier BCom-rigtings (bestuursrekeningkunde, ekonomie en regte, finansiële beplanning en ondernemingsbestuur) en een BSocSc-rigting (politiek, filosofie en ekonomie).

Hier is nog inligting: https://akademia.ac.za

Ek is te skaam om vir die vrou op die groot skerm te vra: waar is die letterkunde? Waar is die joernalistiek? Waar is argitektuur en ingenieurswese en medies en drama?

Ja, julle is Afrikaans, maar wat presies is ’n taal nog alles?

Haar praktiese, Afrikaanse woorde hou aan om oor my te vloei. Nie poëtiese Afrikaans nie, maar baie suiwer Afrikaans.

Ek onthou hoe my seun, toe ons pas terug was in Suid-Afrika nadat ons jare lank oorsee gewoon het, die eerste dag in Stellenbosch gevra het: Mamma, hoekom praat almal hier dan Afrikaans? Hy was dit nie meer gewoond nie. En ek het nog nooit so baie Afrikaans in ’n universiteitagtige omgewing gehoor nie.

Iewers gedurende die loop van die gesprek vra ander mense in ander gehore vrae. Die skerm aan ons kant vertoon die ander gehore. Daar is so tien of vyftien mense in die ander lokale. Almal is wit.

Toe die inligtingsessie verby is, waag ek dit om die inligtingsbeampte in ons saal iets te vra: Waarom bied julle net hierdie kursusse aan? Kom daar nog meer? En waarom juis so baie rekeningkunde?

Daar kom dalk nog later kursusse, knik sy. Dit hang van mense se behoeftes af. Op die oomblik het die mense by Solidariteit hierdie rigtings geïdentifiseer as omgewings waar ons land kundiges benodig.

Ja, sê sy vir die matriekseun en sy ma. As jy rekeningkunde by ons studeer, kan jy oorsee met jou kwalifikasie gaan werk. Maar ons moedig mense aan om te bly. Ons het goeie mense met goeie kwalifikasies nodig.

Die inligtingsessie is verby. Ek voel jammer vir die mense in die saal oor die baie swak opkoms.

Ek dink aan Azille Coetzee se In my vel; ek dink aan Mercy Kannemeyer se woorde: “Sies, Stellenbosch” in haar meningstuk oor die taaldebat by die US.

Ek is ten eerste ’n Suid-Afrikaner in hierdie land. Ek is wit en ek is Afrikaans. Maar ek is nie lus om my klein taal in ’n klein groepie mense te gaan praat en iewers op ’n soort Patmos-eiland te gaan sit nie. Hier is ek, in die omgewing waar ek is. Ek wil my kinders toerus om te sukkel met die kompleksiteite van ’n multikulturele omgewing en ook die interessantheid en omvang van ander mense in hierdie land se menswees te leer verstaan. Dis die skole waarin ek hulle wil sien; dis die universiteite waar ek hulle wil sien studeer.

Ek sit met bittersoet herinneringe uit my kinderdae: ek en my nefie wat iewers op Naval Hill piekniek hou met Weermag-“rat packs” terwyl die groter ouens op die Grens veg vir ons veiligheid en ons taal. En dit sonder dat ek of hy dit destyds bevraagteken het. Ons was verbaas dat daar ’n soort sjokoladestafie in die rat pack was. Ons het later daardie aand, selfs tydens daardie immorele bestel, Rabobi op die TV gekyk. En nou is Spider-Man nie eens meer oorgeklank in Xhosa nie. Meertaligheid is dood.

Ek is kwaad vir die Universiteit Stellenbosch toe ek wegry. Ek weet ek misplaas die verkeerde emosie op die verkeerde instansie, maar dis nie ’n rasionele woede nie. Ek wil nie laer trek nie en ek gaan dit ook nie nou begin doen nie.

  • Naomi Meyer het die inligtingsessie rondom Akademia op Saterdagoggend 19 Oktober in Somerset-Wes bygewoon.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Persverklaring: Konstitusionele Hof lewer uitspraak ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

Terminologie en terminografie: ’n onderhoud met Mariëtta Alberts

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?

US geherkoloniseer

Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief

Akademia: ’n onderhoud met Danie Goosen

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

 

  • 12

Kommentaar

  • Akademia is die antwoord vir Afrikaanse studente, hulle word nou as't ware gedwing om vanaf staatsuniversiteite - wat nie meer aan hul internasionaal-erkende moedertaal vereistes wil voldoen nie (en sodoende ook kwaliteit inboet ter wille van kwantiteit) - te vlug na die, soos die skrywer Hans du Plessis dit noem op Maroela Media, "Afrikaanse tuislande" wat danksy die Afrikaans-vyandige regering (inbegrepe openbare universiteite) nou floreer.

    Dankie die Here vir Akademia, en 'n oorweldigende ja!

  • Meer graad-rigtings is op pad, Akademia het reeds aansoek gedoen om verdere akkreditasie vir 'n verstommende dertig to veertig grade, die inligting is daar vir enigiemand wat belangstel. Onthou, Akademia is maar slegs 7 jare oud!

    Die letterkunde, argitektuur, ingenieurswese en medies is dus op pad IN AFRIKAANS, waar jy jouself sal kan wees sonder politiese korrektheid of enige fieterjasies, en waar jy sal kan "swot en jol" en jouself sal kan geniet in jou taal soos voorheen die geval was en NIEMAND ten onreg was nie; in 'n "awesome" studente atmosfeer.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Akademia moet verwelkom en ondersteun word. Daar is te min universiteite in die land en die waarde van moedertaal word deur die owerhede opsy geskuif ten koste van inklusiwiteit. Vir diegene wat ernstig is oor moedertaal is privaatuniversiteite dus 'n goeie opsie in plaas van publieke universiteite.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    My uitgangspunt is dat ek 'n Afrikaner en Afrikaans is. Daarna kan al die ander dinge (bv kennisname van multikulturaliteit en meertaligheid) bygevoeg word.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Naomi, ja. Al gehoor van jy eet 'n olifant happie vir happie?
    Akademia doen behoefte analise, bv hul aansoek vir akkreditasie van 'n BCur lê vir goedkeuring en alle universiteite en kolleges wat dieselfde graad aanbied, wag ook vir regering se nuwe regulasies wat leerplanne voorskryf en akkreditasie.
    Basiese mediese dienste versorgers is in groot te kort in SA hospitale en ook as gemeenskapverpleegsters.
    Akademia kan geen hulp kry by bv Het Jan Marais Nasionale Fonds, want die gee glo net vir US, al is dit vir studie in Engels by US.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Die trant van die inleiding gee reeds te kenne wat die skrywer se gevoel is oor 'n Universiteit vir Afrikaanses en dit word bevestig met hierdie gedeelte: "Ek is ten eerste ’n Suid-Afrikaner in hierdie land. Ek is wit en ek is Afrikaans. Maar ek is nie lus om my klein taal in ’n klein groepie mense te gaan praat en iewers op ’n soort Patmos-eiland te gaan sit nie. Hier is ek, in die omgewing waar ek is. Ek wil my kinders toerus om te sukkel met die kompleksiteite van ’n multikulturele omgewing en ook die interessantheid en omvang van ander mense in hierdie land se menswees te leer verstaan. Dis die skole waarin ek hulle wil sien; dis die universiteite waar ek hulle wil sien studeer.'

    Wat 'n absolute oorvereenvoudiging. Die subtiele sarkasme en bevooroordeeldheid spreek boekdele. Mens hoef nie jou eie prys te gee om ander beter te verstaan nie! Toegegee, elke mens het die reg op vrye keuses en dis die reg van die skrywer om haar kinders na Engelse skole en Universiteite te stuur. Iets wat sy oordeel in hulle belang is/sal wees. Hoe sy egter tot die gevolgtrekking kom dat dit van van hulle beter "toegeruste" mense sal maak, sal net sy weet. Dit is 'n standpunt waarmee ek geheel en al verskil. Tog wil mens dit waag om te sê; wag maar, ons praat weer oor so vyf of tien jaar. Die geskiedenis is vol voorbeelde van 'n "klein begin" tot reusagtige suksesse. 'n Beskeie begin vir Akademia is geensins iets wat behoort te pla nie. Wat wel sal pla en mens sal laat terugdeins, is indien ander faktore soos kleur en sekere godsdienstige oortuiginge as voorvereistes tot studie gestel sal word. Taal en taal alleen behoort behoort hoofsaaklik as oorweging te dien. Iets wat Akademia ons gerus oor kan inlig.

    Feit is, ons het Engels in ons moedertaal, naamlik Afrikaans begin leer. Daar is duisende Afrikaanse ikone wat hulle merk, nie net in SA nie, maar ook regoor die wêreld gemaak het en voortgaan om so te doen. Ek kry nie die indruk dat hulle wanaangepas is en aan 'n "Patmos eiland" mentaliteit ly nie. Inteendeel! Taal is deel van ons menswees asook wie en wat ons is. Daar is geen manier wat enige inperking daarop, kultureel goed kan wees nie. Ook nie op letterkundige, wetenskaplike en ander vlakke nie. Iets waaroor die skrywer tereg vrae vra maar wat ek glo wel aangespreek sal word. As die geliefde Stellenbosch wat met Afrikaanse kapitaal juis vir daardie doel tot stand gekom het (en derduisende mense SUKSESVOL vir die lewe voorberei het) gelyke status aan Afrikaans verleen, sou so 'n stap (Akademia) mos glad nie nodig gewees het nie. Ja, inter-kulturele verhoudings sou verseker 'n groter werklikheid gewees het bloot omdat die situasie dit sou dikteer. Bygesê natuurlik, mits Afrikaans deur die ander studente gerespekteer sou/sal word. Iets wat duidelik besig is om nie te gebeur nie hoofsaaklik vanweë verwronge en uitgediende politieke agendas.

    En sommer iets om aan te herkou ook; hoe lyk die stand van sake tans by eens voormalige Afrikaanse Universiteite? Wat is die 'kultuur' wat ooglopend waarneembaar is. By Kovsies is die hele Universiteit feitlik agter doringdraad toegekamp met veiligheidshekke en sekuriteitsmense wie se salarisse seker etlike miljoene beloop! Praat van 'n Patmos-eiland, hier is een!! Binne kook dit. Doen gerus navraag oor misdaad, diefstal, geweld, aanrandings (ook seksueel), dwelmmisbruik (en selfs prostitusie) statistieke en kry die geheel prentjie. Nee wat, dis nie die soort kultuur waarin talle ouers hulle kinders wil sien studeer nie. Ook nie soos die skrywer sê, sy haar kinders wil laat leer om mee te worstel nie. (Wat natuurlik haar reg is by- gesê.) Universiteite is veronderstel om 'n plek te wees waar studente studeer en hulle vir die toekoms bekwaam. Om dit effektief en sinvol te doen behoort dit in 'n veilige en rustige atmosfeer te geskied. Ook in 'n taal wat hulle verkies ten einde dit moontlik te maak. En dis juis as gevolg van AL HIERDIE FAKTORE dat die behoefte en idee van Akademia ontstaan het.

    Sou hierdie 'euwels' hulle by 'n Universiteit soos Akademia voordoen, sal dit veel makliker wees om te hanteer. Die beskuldiging van 'rassisme' val tot 'n groot mate weg terwyl dit nie die geval by huidige Universiteite is nie. Word opgetree, word die risiko geloop dat die toepassers daarvan, van rassisme beskuldig word en kry dinge 'n politieke kleur soos telkemale reeds bewys is. Die gevolg is optogte en stakings terwyl studente wat wel wil klas loop, geviktimiseer word.

    So, diegene (soos die skrywer) is vry om te doen wat hulle goeddink. Oor alternatiewe hoef hulle nie te kommer nie. Los dit maar vir die mense wat daardie opsie wil uitoefen. Mens noem dit demokrasie in aksie........

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die begrip Afrikaner se nie veel nie. Afrikaners kan nie eens onder mekaar saamstem oor of 'n Afrikaner 'n Christen moet wees of nie...of watter denominasie die ware Christene is nie...

  • Avatar
    Hans Richardt

    Johannes Commestor, ek is wit Afrikaner, van Boere afkoms en nie skaam daaroor nie.
    Ek was verdraagsaam, maar aan geduld kom ook einde.
    Ek luister na jonger mans wat praat oor "oorlog" en lag in my mou. Die dae van jaggeweer en sakkie biltong vat vir kommando, is lankal verby.
    Ek het lankal geleer dat "oorlog" op vele vlakke, meestal met pen ✒ geveg kan word, bv sosiale, ekonomiese en politieke vlakke. Die vierde vlak het ek verander na sekerheid van militêr. Sekerheid is omvattende beskrywing. Ek dink deesdae dat Mao as kommunis, waardevolle lesse gehad het, wat selfs in sg demokrasie as teenvoeter vir aanslag teen wit Afrikaners se taal en kultuur, gebruik kan word, maw verslaan jou vyand sonder om 1 skoot te skiet.
    Meet dit aan ons strewe vir selfbestuur en trappie-vir-trappie sukses daarin en daarmee. Sou ons soos ander in ons oglokrasie, bv Stellenbosch met oproer beskadig het oor Engels, het ons reeds verloor. Deur alternatiewe, hoe beskeie ookal, te vestig, pak ons ons uitdagings aan. Getalle is dikwels misleidend.

  • Ek vermoed dat Akademia ook in finansiele opsig sin kan maak vir baie mense. Dis alles goed en wel as jou kinders uit jou huis in Stellenbosch kan studeer maar vir die res is dit 'n baie duur prys om te betaal vir daardie voordele, d.w.s. indien jy ooit toelating of plek in 'n koshuis kry.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Die een ding is dat daar raskwotas vir toelating is, bv medies, tandheelkunde ens.
    Tog krimp klasse vir Afrikaans as taal hoofvak en dit bedreig ook die bestaan van taalkunde.

  • Uitstekend, baie dankie Gustaf, beter kan dit wragtig nie! Jy het nou mooitjies al die linkses se besprekingspunte met logiese beredeneerde argumente weerlê en op hul kop gedraai! Bravo, bravo! Baie, baie dankie!

    Akademia, voorwaarts! Ons staan hotom en haarom vir Afrikaans!

  • Avatar
    Hans Richardt

    Charles, is selfbestuur ook vorm van laer trek en ABO van voor veg? As Akademia en SOLTECH selfbestuur is, is dit die pad om te stap, want om deurentyd te kla gaan niks verander aan regspraak oor amptelike beleid nie, wat so goed as wetgewing is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top