Terminologie en terminografie: ’n onderhoud met Mariëtta Alberts

  • 2

Die boek Terminologie en terminografie het pas uit die pen van die terminologiekenner Mariëtta Alberts verskyn. Naomi Meyer vra haar oor die boek en oor die voortbestaan van Afrikaanse vakterminologie.

Mariëtta, brei asseblief uit op wat die verskil is tussen terminologie en terminografie.

Die verskil tussen terminologie en terminografie is kortliks soos volg: Terminologie verwys na die terme van ’n vakgebied of domein (dit is dus die verskillende vakke se woordeskat),  en kan ook verwys na die wetenskap of studie van die woordeskat van vaktaal. Daarteenoor verwys terminografie na die bedryf, maw terminologiewerk as sodanig. Terminografie behels die versameling, sistematisering, dokumentering en verspreiding van terme. Terminografie behels verder ook die proses om vakwoordeboeke of termlyste saam te stel (gedrukte of aanlyn vaktaalprodukte).

In die algemene woordeboekbedryf word byvoorbeeld eweneens gepraat van leksikologie (die studie van woorde) teenoor leksikografie (die skryf van algemene woordeboeke). Terminologie behels gevolglik net so die versameling of studie van die terminologieskat en terminografie behels basies die skryf van vakwoordeboeke.

Ek sien in die persverklaring dat Afrikaans een van ’n handvol tale was wat in die 20ste eeu tot ’n volle wetenskapstaal ontwikkel het. Hoe word bepaal wanneer ’n taal tot ’n volle wetenskapstaal ontwikkel het? (En hoe presies ontwikkel vakterminologie, as dit moontlik is om dit so breedweg te verduidelik?)

’n Taal kan as wetenskapstaal beskou word as daar genoegsame terme in ’n verskeidenheid vakgebiede of domeine bestaan. Hierdie terme word dan dikwels in vakwoordeboeke of termlyste opgeteken en vaktaalgebruikers kan met behulp van die terme behoorlik in die vakgebied kommunikeer. Die terme word deur vakkundiges (bv akademici) benut en inligting oor die vakgebied word dmv die terme oorgedra (bv in ’n opleidingsituasie of dmv publikasies in die besondere taal).

Die eerste vakwoordeboek in Afrikaans is in 1925 gepubliseer en sedertdien is verskeie Afrikaanse vakwoordeboeke gepubliseer, meestal saam met Engels. Afrikaanse vaktaal het veral vanaf 1950 tot 1994 ’n bloeitydperk beleef, want weens die tweetalige beleid moes daar vir Engelse terme Afrikaanse termekwivalente geskep word. Ek was in 2015 ’n lid van ’n ondersoekspan wat namens die SAAWK gekyk het na die stand van Afrikaanse vaktaal. Tydens die ondersoek het ons minstens 366 vakwoordeboeke opgespoor waarvan Afrikaans een van die behandelde tale is. Ek het sedertdien die lysie bygewerk en daar is sekerlik nou al naby 400 vakwoordeboeke (gedrukte vakwoordeboeke sowel as aanlyn termlyste of vakwoordeboeke) met Afrikaans as een van die behandelde tale. Ons vakwoordeboeke (wat Afrikaans as een van die behandelde tale het) word selfs in die buiteland gebruik. Die Vlaamssprekende deel van België beskou Afrikaanse vaktaal as van hoogstaande gehalte en ons vakwoordeboeke word daar gebruik in die opleiding van vertalers en tolke.

Ek was by verskeie projekte van die Internasionale Organisasie vir Standaardisasie (ISO) en van Unesco betrokke en ons kon die internasionale wêreld baie behulpsaam wees met terminologieontwikkeling. Sedert 1994 is daar daadwerklike pogings aangewend om ook die terminologie van die inheemse tale (Sintu-tale, voorheen Afrikatale genoem) te ontwikkel. Dit is interessant om daarop te let dat hierdie tale hul eie termskeppings dikwels eerder op die Afrikaanse terme skoei as op Engels. Ongelukkig word daar tans nie genoegsame aandag gegee aan die ontwikkeling van Afrikaanse terme nie, want wanneer Afrikaans saam met die ander amptelike tale gedokumenteer word, bestaan die Afrikaanse terme meestal reeds. Daar is dus  geen nuwe terminologiegroei in Afrikaans nie.

Ongelukkig is baie vakwoordeboeke met Afrikaans as een van die behandelde tale reeds uit druk en dikwels selfs onbekombaar. Dit is ’n groot bekommernis. Die Afrikaanse terme in ou vakwoordeboeke is steeds bruikbaar, want terme verander nie maklik nie. Sommige terme is dalk verouderd, maar die ou vakwoordeboeke word nie bygewerk nie en gevolglik gebruik mense maar sommer die Engelse terme omdat hulle geredelik beskikbaar is. Dit is nie goeie nuus vir Afrikaanse vaktaal nie en dit was een van die redes waarom die handleiding geskryf is – gebruikers moet gemotiveer word om Afrikaanse terme te skep, te gebruik en te bewaar.

Dink jy dat 'n lewende taal soos Afrikaans inderdaad geen terminologiegroei toon nie? Ek dink aan werk wat byvoorbeeld by aanlyn publikasies soos LitNet Akademies plaasvind. Ek dink ook aan nuwe sprekers en nuwe beroepe. Ek wonder hoe mens die groei van terminologie bepaal en of jy dink dat terminologie ook op ander maniere kan groei as op die konvensionele en afgebakende maniere, soos in die vorm van 'n harde publikasie? 

Nee, Afrikaans toon wel terminologiegroei, want daar is talle Afrikaanssprekendes, veral taalpraktisyns soos vertalers, tolke en joernaliste, wat daagliks Afrikaanse terme skep. Hierdie terme word dikwels uit noodweer geskep omdat ’n taak afgehandel moet word en die term bloot nie te vinde is nie. Die terme bestaan dalk wel, maar hulle is nie noodwendig toeganklik nie (vakwoordeboeke is miskien nie beskikbaar nie en die virtuele platforms het die data nog nie aanlyn beskikbaar nie). Die Afrikaanse taal leen hom ook tot pragtige termskeppings – waarvan talle nuutskeppings is. Terme word dikwels deur nietaalkundiges geskep – waarvan leke en vakkundiges voorbeelde is.

My bekommernis lê eerder by gestruktureerde termskepping in Afrikaans. Daar word nie juis meer vakwoordeboeke saamgestel nie en die meeste taalkantore wat in die verlede terme gedokumenteer en beskikbaar gestel het, het toegemaak. Die hegemonie van Engels in die werksplek veroorsaak dat werknemers selde Afrikaans gebruik – Afrikaans word miskien nog gepraat, maar nie eintlik meer in amptelike dokumente geskryf nie. By tersiêre instansies word lesings by toenmalige Afrikaanse universiteite tans hoofsaaklik in Engels aangebied. Die drietalige terminologielyste wat by die Taaldiens, Universiteit Stellenbosch saamgestel word, is ’n voorbeeld van wat gedoen kan word om Afrikaans en die ander amptelike tale se terminologie naas dié van Engels te ontwikkel.

Hoewel daar weliswaar baie aanlyn publikasies is (soos LitNet Akademies), word die terme wat in hierdie publikasies verskyn, nie as sodanig as terminologie opgeteken/gedokumenteer nie. Ek sou graag dat elke persoon wat ’n artikel, lesing, werksopdrag, skripsie, verhandeling, tesis, klasgids of studiegids skryf, die kernterme wat daarin verskyn, sal opteken, sistematiseer en aan ander gebruikers beskikbaar stel (as termlys of aanlyn). Ek behoort aan Prolingua en daar word terme dikwels geskep en bespreek en dan in ’n termlys aanlyn beskikbaar gestel. Hierdie terme kan dan immers deur ander gebruikers benut word en wanneer die terme gereeld gebruik word, penetreer hulle in die vakgebied en taal/tale en raak gestandaardiseer.

Afrikaans op universiteitsvlak is in die spervuur. Soms word daar gesê dat solank mense ’n taal aanhou praat, of daarin aanhou kuns beoefen, dinge onder beheer is (wat die taal se gesondheid betref). Wat is jou gevoel hieromtrent?

Ek is bekommerd oor Afrikaans as wetenskapstaal. Die meeste navorsers publiseer in Engels omdat hulle artikels of boeke internasionaal gelees kan word (ek is self skuldig). Verder word klasse tans meestal in Engels aangebied. Die student hoor of sien dus nie meer Afrikaanse terme nie. Ek sou graag dat dosente agterin elke studiegids ’n lys aanbied van die kernterme wat in die betrokke studiegids aan bod kom. So ’n termlys behoort in Engels en Afrikaans (en indien moontlik in een of meer van die Sintu-tale) te wees en die terme behoort gedefinieer te word. Dit is ’n bewese feit dat inligting die beste geassimileer word indien dit in die moedertaalspreker se eie taal aangebied word. ’n Verdere probleem is dat die aanbieder van inligting (bv die dosent) nie noodwendig ’n Engelse moedertaalspreker is nie en gevolglik ook nie die inligting duidelik oordra (soos ’n moedertaalspreker sou) nie.

In ongeveer 2014 het die tersiêre instansies R8 miljoen van die regering ontvang om terminologie aan universiteite te ontwikkel. Die hoofklem is op die ontwikkeling van die terminologie van die Sintu-tale. Afrikaans is nie uitgesluit nie, maar die meeste terme bestaan reeds in Afrikaans – gevolglik ook geen nuwe ontwikkeling nie.

Ek het lank gelede terminologieopleiding by die Universiteit Stellenbosch se Taaldiens aangebied en sedertdien is talle drietalige termlyste van verskeie vakgebiede daar gepubliseer, in Engels, Xhosa en Afrikaans. Die terminoloog werk saam met die vakkundiges verbonde aan ’n bepaalde fakulteit en hulle dokumenteer dan die Engelse kernterme van die vakgebied, definieer die terme in Engels en dan word termekwivalente en definisies in die ander twee doeltale verskaf. Op hierdie wyse kan studente dus die terme en definisies in hul eie tale internaliseer. Die student het die inligting in sy moedertaal sy eie gemaak en selfs al moet die eksamen in Engels afgelê word, verstaan die student immers die begrippe. Ek sou graag wou hê dat hierdie model (wat ek in my Engelse boek beskryf) by alle tersiêre instansies gevolg word.

Is daar enige manier om te kan bepaal watter spesifieke vakgebiede minder en minder in Afrikaans funksioneer? Ek dink aan iets soos regsterminologie of spreektaal in ’n hof, en hoe dit byvoorbeeld juridiese Afrikaans beïnvloed. Kan jy dink aan vakgebiede wat jou in die besonder opval waar spesialiteitstaalgebruik in Afrikaans besig is om weg te val?

Dis nie maklik om uit die vuis te bepaal watter vakgebied aandag behoort te ontvang nie. ’n Mens kan deur ’n behoeftebepalingstudie bepaal watter vakgebiede dringend vakwoordeboeke benodig (ek beskryf die behoeftebepalingsproses in my boek). Alle vakke behoort as belangrik beskou te word. Dis nie net vakke wat tot die hoë echelons van die wetenskappe en tegnologie behoort wat belangrik is nie – dink ook aan byvoorbeeld skoenmakerterme en kuiperterme. As hierdie terme nie gedokumenteer word terwyl daar nog ambagslui is wat die kuns bemeester nie, gaan hierdie terme vir altyd verlore wees.

Ek het onlangs met ’n ou universiteitsvriendin gesels wat by ’n Afrikaanse privaat skool skoolhou en sy vertel my dat rekenaarstudies tans by hulle skool slegs in Engels aangebied word, omdat “daar nie Afrikaanse rekenaarterme beskikbaar is nie” – so ’n opmerking ten spyte van etlike goeie rekenaarwoordeboeke in Afrikaans! Dalk moet die rekenaarwoordeboek net bygewerk word? Gebruikers behoort egter ook opgevoed te word om vakwoordeboeke te raadpleeg. Verder is daar ook etlike aanlyn vakwoordeboeke beskikbaar of platforms waar gebruikers terme kan opspoor.

Die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale het in 2015 ’n tweetalige vertalende en verklarende regswoordeboek gepubliseer met die oog op spreektaal in die howe. Die vakwoordeboek handel oor die terme wat in howe ter sprake is, naamlik straf-, strafproses- en bewysreg en die sentrum is tans besig om die ander amptelike tale daarby te voeg. ’n Verklarende en vertalende politieke woordeboek is in 2018 gepubliseer. Ek dink nie gebruikers is altyd bewus van die vakwoordeboeke se bestaan nie en gevolglik word die terme natuurlik ook nie benut nie.

Ek glo dat elke persoon wat in ’n beroep staan (of gestaan het) ’n vakkundige uit eie reg en op sy/haar unieke terrein is. Ek sou dus graag alle vakkundiges wou aanspoor om die terminologie wat hulle daagliks in hulle werkplek gebruik, te dokumenteer. Dit sal veroorsaak dat die terminologie van die werkplek eenduidig gebruik word en dat ons ons vakwoordeskat kan uitbou en gestandaardiseerd gebruik.

In reaksie op die opmerking oor die onderwyser wat meen dat rekenaarvakke net in Engels aangebied kan word: Hoe skep mens nuwe terme in nuwe omstandighede? Is 'n lomp vertaling uit Engels na Afrikaans 'n soort oplossing? Ek dink nou sommer ook hier aan die sosiale media met al die Engelse terme –  “likes” op Facebook, of “followers” en “subscribers” op YouTube – wat ander betekenisse het as die konvensionele en korrekte Afrikaanse vertaling van die woorde? Deel asseblief jou gedagtes hieromtrent.

Ek dink enigiemand wat graag sy/haar taal en dié taal se vaktaal wil beskerm en uitbou, sal eerder ’n term probeer skep as om Engelse terme te gebruik en dus ’n mengeltaal te praat. Wees kreatief en skep terme – toets die term by ander Afrikaanssprekendes en hoor wat hulle daarvan sê! Termskepping is nie iets wat in isolasie gedoen word nie – ’n mens skep (dikwels lukraak), bespreek, deel en gebruik. Dit laat die vaktale groei.

Ek behandel termskepping in my boek en wys daarop dat sommige tale graag nuutskep en ander weer makliker ontleen. Ek glo dat Afrikaanssprekendes (ten spyte van wat die burokrasie dikteer) steeds eerder terme sal skep as om te ontleen. Dink maar aan Afrikaanssprekendes wat van “Bakkiesblad” eerder as “Facebook”’ praat – die nuutskepping kan uiteraard nie amptelik gebruik word nie, want Facebook is ’n geregistreerde handelsnaam.

Ek was betrokke by ’n Suid-Afrikaanse meertalige terminologieprojek wat deur Microsoft onderneem is om rekenaarverwante terme in sommige van die amptelike tale (oa Afrikaans) te skep. ’n Mens se rekenaar en slimfoon (met sommige van sy toepassings soos Facebook) kan in Afrikaans bedryf word, maar gebruikers dink dikwels dat die Afrikaanse terme/opdragte vreemd is omdat hulle reeds aan die Engelse terme gewoond geraak het – dit is dus grootliks ook maar ’n gesindheidsverandering wat by gebruikers nodig is.

Ek sien jy verwys na 'n regsterminologieboek wat in 2015 verskyn het - dui dit vir jou ook op die groei van Afrikaanse regsterme, of is daardie publikasie eerder vir jou 'n naslaanbron van woorde wat lank reeds bestaan?

Tweetalige, verklarende straf-, strafproses- en bewysregterme is in die Regswoordeboek (2015) gedokumenteer en beskikbaar gestel – die terme daarin is verteenwoordigend van die terme wat in die howe gebruik word en bevat ou terme (bv Latynse terme en frases) sowel as nuutskeppings in Afrikaans. Daar is steeds vernuwing in regstaal (en genoemde vakwoordeboek bevat slegs ’n klein gedeelte daarvan) en daarom is die 2015-weergawe van die regswoordeboek reeds bygewerk en verbeter (ou wetgewing wat gewysig is, het bv term- of definisiewysigings genoodsaak). Die hersiene en bygewerkte drietalige (Engels, Xhosa en Afrikaans) vertalende en verklarende regswoordeboek sal hopelik vanjaar nog deur Juta gepubliseer word. Omdat die 2015-vakwoordeboek deur Juta gepubliseer is, is dit nie aanlyn beskikbaar nie. Die vertalende en verklarende politieke woordeboek van 2018 is ook deur Juta gepubliseer en nie aanlyn beskikbaar nie, maar die vertalende gedeelte daarvan kan reeds gratis op die platform van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) geraadpleeg word. Die termlys oor geestesafwykings wat ek in my boek ingesluit het as voorbeeld van hoe ’n vakwoordeboek saamgestel moet word, is ook op VivA beskikbaar.

Dit sal (Afrikaanse) terminologie ‘n hupstoot gee as alle vakwoordeboekpublikasies ook aanlyn beskikbaar gestel kan word. Die meertalige terminologie wat by die tersiêre instansies versamel word, sal in oopbronformaat beskikbaar gestel word. Die Terminologie-Koördineringsafdeling (die nasionale terminologiekantoor), Nasionale Taaldiens, en DKK beoog ook om die meertalige terme wat in die nasionale termbank is, aanlyn beskikbaar te stel. Dit blyk dus dat aanlyn platforms waarskynlik tans die beste wyse vir terminologieverspreiding is. Daar is egter nog gebruikers wat graag vakwoordeboeke in die hand wil hou en gevolglik word daar darem nog vakwoordeboeke gepubliseer.

Waarom, dink jy, is dit van belang dat ’n taal spesialiteitswoorde behou?

Vakkundiges kan nie eenduidig kommunikeer as daar nie gespesialiseerde vakwoorde (terme) bestaan nie. Vertalers, tolke, leerkragte, vakspesialiste en joernaliste (om maar ’n paar gebruikersgroepe te noem) is afhanklik van gestandaardiseerde terme om te kommunikeer en hul boodskappe oor te dra. Soms word meer as een term vir dieselfde begrip in ’n taal geskep en die proliferasie van terme veroorsaak dat die ontvanger van die inligting nie ’n duidelike boodskap kry nie. Daar is ’n een-tot-een-verhouding (of behoort te wees) tussen begrip en term en die term word beskou as die linguistiese of nielinguistiese (soos mnemoniese tekens, ikone, strepieskodes, formules, ens) verteenwoordiger van die begrip. As ’n taal nie meer die vaktale van verskeie vakgebiede byhou deur nuwe terme te skep nie, word die taal net ’n omgangstaal – ’n taal wat geen akademiese of beroepsfunksie (kan) vervul nie.

Dis natuurlik nie net vaktaal wat wegsyfer nie, maar ook algemene Afrikaanse stelswyses. Mense begin in Engels dink en praat dan as 't ware ’n soort vertaalde Engelse Afrikaans. Dis opmerklik in algemene spreektaal ook. Sluit die skryf van akademiese artikels in Afrikaans en iets soos byvoorbeeld sinskonstruksies aan by die tema van vakterminologie, of val dit buite hierdie boek se strekking? 

Ek raak dit aan, maar dit is nie die hoofdoel van die boek nie. My idee was om vakkundiges te leer hoe om terme te skep, te definieer, te dokumenteer en in lyste te sistematiseer sodat die terme van die bepaalde vakgebied deur ander gebruikers benut kan word. Én dat Afrikaanse vaktaal nie verlore sal gaan nie!

Kan mense in praktiese omstandighede nog sekere Afrikaanse spesialiteitswoorde gebruik en deur ander mense wat nie Afrikaans kan praat nie, verstaan word?

Afrikaans skep terme deur van verskillende prosesse gebruik te maak. Een so ’n proses staan bekend as transliterasie – dit beteken dat die klassieke stam (Latyn of Grieks) gebruik word om die term te skep. So ’n term is dan internasionaal herkenbaar – ek verduidelik die beginsel in my boek en gee ook talle voorbeelde. Verder is daar ’n termskeppingsproses waar die terme direk uit die oorspronliklike taal ontleen (bv musiekterme uit Italiaans of regsterme uit Latyn). Ook sulke terme is dan internasionaal herkenbaar. Gewoonlik gee ons dan in Afrikaans (of in die ander tale) ’n vertaling as sinoniem.

Wat van ander tale in die land en die toekoms en die groei van vakterminologie in hierdie tale?

Ek het in 2017 ’n Engelse boek gepubliseer wat grootliks op my lesings gegrond is. Dit is dus eerder die boek om deur anderstaliges benut te word as die huidige boek. My teikengroep was daar eerder taalkundiges en taalpraktisyns, waar die huidige boek se teikengroep vakkundiges is. Die huidige boek kan uiteraard ook deur taalkundiges en taalpraktisyns benut word.

Die toekoms en groei – ek is bekommerd. Toe ek my loopbaan as terminoloog begin het, was daar ongeveer 25 Afrikaanssprekende terminoloë in die nasionale terminologiekantoor werksaam. Tans is daar een terminoloog per taal. Ons het destyds aan verskillende vakwoordeboekprojekte gewerk (ook saam met buite-instansies) en as junior terminoloog moes jy aan verskeie projekte werk en dan wel onder die mentorskap van senior terminoloë en vakkundiges. Ons het destyds die terminologiese inligting op indekskaarte aangebring – eers Engels/Afrikaans en dan op ’n tweede stel Afrikaans/Engelse indekskaarte. Hierdie stelle indekskaarte moes gealfabetiseer word en dan moes die inligting deur ’n datatikster in manuskripvorm getik word. Daarna is die data geproeflees. Dan gaan die manuskrip na die (Staats)drukker en daarna word galeiproewe en bladsyproewe geproeflees. Tans word alle terminologiese inligting op databasisse aangebring en as die data korrek ingevoer word, is daar minimale proefleeswerk nodig. Tans kry alle terminoloë verbonde aan die nasionale terminologiekantoor slegs databasisopleiding – geen terminografieverwante opleiding nie. Die nuutaangestelde terminoloë het weliswaar in 1994–1996 behoorlike terminologieopleiding ontvang. My vrees is dat goedopgeleide terminoloë in Suid-Afrika besig is om as spesie uit te sterf.

Soos onder die derde vraag hier bo genoem, is daar inisiatiewe by die tersiêre instansies om terminologie in die ander amptelike tale te ontwikkel. Daar is uiteraard ook inisiatiewe soos die SaDiLaR-projek (mensliketaaltegnologie) wat terminologie vir die onderskeie projekte in al die amptelike tale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal benut.

Vertel asseblief vir ons lesers kortliks van jou agtergrond en betrokkenheid by akademiese terminologie?

Ek het my loopbaan as terminoloog by die nasionale terminologiekantoor begin (ek was die kantoorkat) en het onder uitstekende mentorskap aan verskeie vakwoordeboekprojekte gewerk. Daarna is ek na die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar ek navorsing gedoen het oor leksikografie, terminologie en rekenaarlinguistiek. Ek het intussen ’n DLitt et Phil aan Unisa behaal oor vakleksikografiese behoeftebepaling. Na die RGN is ek terug na die terminologiekantoor as hoof van terminologiese navorsingstudies en ek het ook vir ’n aantal maande as kantoorhoof waargeneem. Ek is daarna na die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), waar ek aangestel is as bestuurder van die nuutgestigte 11 Nasionale Leksikografiese Eenhede. Ek het in 2010 vroeg by PanSAT afgetree as direkteur: Terminologie en Standaardisering. Ek was ook tussendeur deeltydse dosent aan verskeie tersiêre instellings en het terminologieopleiding by privaat en staatsinstansies aangebied. Ek was die voorsitter van die SABS TC/37-span, wat ’n nasionale komitee vir die internasionale ISO TC/37 is. Ek was gevolglik ook lid van die ISO TC/37-span en het namens ISO en Unesco aan terminologienavorsingsprojekte gewerk. Ek was vir 17 jaar ’n lid van die SAAWK se Taalkommissie en het ook op die SAAWK se Terminologiekomitee gedien. Ek was lid van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans en het in hierdie hoedanigheid verskeie lopende (meertalige) terminologieprojekte beoordeel. Ek was ’n stigterslid van die African Association for Lexicography en het ook op die Raad gedien (eers as sekretaris en later as president). Ek was ook betrokke by die instelling van ’n akkrediteringseksamen vir terminoloë vir die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI). Na my aftrede is ek steeds by vakwoordeboekprojekte betrokke (oa regs- en politieke woordeboeke). Ek het ’n volledige termlys oor psigiatriese versteurings in die huidige boek opgeneem om aan te dui hoe sodanige produk behoort te lyk – die termlys is ook aanlyn op VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans) se webwerf beskikbaar. Ek was medeontvanger van verskeie pryse (CJ Langenhovenprys, CL Engelbrechtprys, Stalsprys, twee ATKV-Woordveertjies en twee SAVI-woordeboekpryse). Ek is tans navorsingsgenoot by die Navorsingseenheid vir Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit.

Waar kan hierdie boek bestel word en wat is die koste hieraan verbonde?

Ek het ’n navorsingstoekenning by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) ontvang om die boek te skryf en die boek is die eiendom van die SAAWK. Die boek is by die SAAWK beskikbaar (melanie@akademie.co.za) teen R200 per eksemplaar.

Ek wil graag noem dat ek saam met ’n besonderse span mense aan hierdie boek gewerk het: Tom McLachlan (taalversorger), Marlene Rose (proefleser), Henry Daniels (setter), Jacques Nel (omslagontwerper), Marlinee Chetty (projekbestuurder) en my man, Sarel Alberts, wat my met die indeksering gehelp het. Die SAAWK het die navorsing en die boek gefinansier en ’n besonderse boekbekendstelling gereël. Dit was nie net wonderlik om saam met almal te werk nie, maar dit is veral ’n vreugde om te dink dat almal (ook diegene wat die bekendstelling bygewoon het en die boek aankoop) soveel vir Afrikaanse vaktaal omgee.

Baie dankie vir die geleentheid om die boek ook aan LitNet-lesers bekend te stel!

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Persverklaring: Konstitusionele Hof lewer uitspraak ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid

Persverklaring: publikasie goeie nuus vir Afrikaans as wetenskaptaal

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top