Akademia: ’n onderhoud met Danie Goosen

  • 3

Danie Goosen

Hans Pienaar praat met Danie Goosen, die akademiese hoof van Akademia, die universiteit wat in Afrikaans klasgee.

Wat was die vonk vir Akademia? Het die studente-onluste van 2015 ’n rol gespeel of kom die planne al voor daardie tye?

Die studente-opstande – en bygesê, die regeringsmagte wat die studente gewillig napraat – was nie die vonk vir Akademia nie, want Akademia het reeds in 2012 ’n werklikheid geword. Nogtans het dit ons reeds bestaande besef versterk: Afrikaanssprekendes sal self vir Afrikaans moet intree. Hierdie regering, ondersteun deur postkoloniale wraakmotiewe en verstikkende opvattinge oor transformatiewe eenheid, gaan nie universitêre Afrikaans duld nie.

As daar egter ’n identifiseerbare vonk is wat tot Akademia aanleiding gegee het, lê dit eerder in die hartstog van ons mense opgesluit om nie taalgewys te privatiseer nie, maar om akademiese ruimtes te skep waar universitêre Afrikaans kan floreer.

Dit is hierdie hartstog wat verklaar waarom ’n beduidende getal Afrikaanssprekende studente, volgens alle aanduidings, hulself in die toekoms by Akademia gaan aanmeld. Duisende studente verkies steeds om hul studies op ’n uitnemende, goedbegronde, oop, denkende en selfs veilige universitêre ruimte in Afrikaans te voltooi.

Histories gesproke kan die oorspronge van die hedendaagse hartstog vir ’n eie Afrikaanse universiteit selfs na die einde van die negentigerjare teruggevoer word. Reeds toe het verskeie intellektuele, onderwysers, aktiviste en besigheidsmense besef dat die grondwetlike ooreenkoms (of gebrek aan ooreenkoms) met betrekking tot universitêre Afrikaans inderwaarheid ’n ongeëwenaarde strategiese flater in die geskiedenis van Afrikaans verteenwoordig. Afrikaanssprekendes sou voortaan op hulself aangewese wees.

Toe het dit egter nog nie verder as praat gevorder nie. Vanaf omstreeks 2008 is die eerste praktiese treë vanuit die geledere van Solidariteit gegee om ’n eie private universiteit tot stand te bring. Verskeie navorsingsprojekte oor die hoe, die wat en die waarheen daarmee is van stapel gestuur, en in 2012 het Akademia ’n werklikheid geword.

Alhoewel ons akademiese aanbod tot dusver grootliks tot die ekonomiese en bestuurswetenskappe beperk was, het ons reeds tot meer as 1 000 studente gegroei. Intussen is reeds ’n veelheid van dekane vir ander fakulteite aangestel. ’n Realistiese vooruitskouing is dat ons met die uiteindelike vestiging van fakulteite soos die geesteswetenskappe, die natuurwetenskappe, die opvoedkunde, die regte en die ingenieurswese ’n totaal van tussen 5 000 en 6 000 studente op die beoogde heeltydse kampus sal kan huisves. Terselfdertyd dui ’n konserwatiewe vooruitskatting daarop dat sowat 3 000 studente op medium termyn binne die bestaande afstandsgeoriënteerde model aan Akademia tuisgemaak sal kan word.

Ons is, om dit maar sagkens te stel, verstom oor die steun wat ons vanuit verskeie lae van die Afrikaanssprekende wêreld ontvang. Afrikaanssprekendes se rou oor die verliese aan ’n eie universiteit moet nou vir die bou van eie universitêre ruimtes plekmaak. En as die staat nie wil meewerk nie, sal ons dit self doen, lui die hartklop in ons geledere.

Vertel ons ’n bietjie van jul besoek aan Amerikaanse universiteite. Hoe skakel hul benaderings in met die situasie in Suid-Afrika?

Ons het gou na die vestiging van Akademia besef dat die ideaal om ’n nuwe universiteit te stig nie net oor ’n plek vir universitêre Afrikaans handel nie. Inderwaarheid bied dit ook vir ons die geleentheid om nuut oor die universiteitswese te dink. Akademia wil nie net ’n Afrikaanse Maties of Tukkies wees nie. Néé, ons sal – met behoud van die klem op die hoogste denkbare opleiding – terselfdertyd ’n universiteit wees wat ’n antwoord bied op die talle vrae waarvoor die globale “besigheidsuniversiteite” vandag te staan gekom het. Véél meer is dus op die spel as die blote voortbestaan van universitêre Afrikaans.

Te midde van die klem op Afrikaans wil ons eerder ’n universitêre ruimte skep waarin Afrikaanse studente op ’n ander wyse – dit is op ’n verbeeldingryke, onbevange, begronde en denkende wyse – as aan die hedendaagse besigheidsuniversiteite hulle studies kan voltooi. In aansluiting by die oudste universitêre ideale uit die Westerse tradisie lê ons nie net klem op die ideaal van uitnemende opleiding nie, maar ook op die ideaal van wysheid.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ons (nou reeds derde) besoek aan verskeie Amerikaanse opvoedingsuniversiteite (sogenaamde “liberal arts colleges”) verstaan moet word. Goeie verhoudinge is reeds met hierdie universiteite gevestig. Tydens die jongste besoeke is hierdie verhoudinge versterk. Verskeie vorme van samewerking tussen ons is nou moontlik. Opwindende tye wag op ons dosente en studente.

Waaroor gaan dit by die sogenaamde klassieke opvoedingsuniversiteite? In wese verteenwoordig hulle ’n antwoord op die tendense in die globale universiteitswese om die universiteit as sodanig toenemend in “besigheidsterme” te herdefinieer. Ingevolge hierdie herdefiniëring die afgelope dekades skei universiteite toenemend hul navorsing (wat tot ’n enorme besigheid uitgegroei het) en dosering van mekaar. Beide word egter daardeur verskraal: Enersyds het navorsing toenemend slegs op supergespesialiseerde werk betrekking (wat slegs deur ’n klein getal navorsers gelees word), terwyl die dosering toenemend deur ’n gebrek aan ervaring en ’n wye blik op dinge (wysheid) gekenmerk word.

Terselfdertyd gaan die splitsing tussen navorsing en dosering, oftewel die teorie en praktyk van universiteite, met ’n fragmentering tussen die verskillende dissiplines (asook in die dissiplines self) gepaard. ’n Insig in die geheel van dinge gaan so verlore. As die verbande tussen die chemie en die antropologie, tussen die wetenskappe en die teologie, tussen die letterkunde en die politiek, ens, vroeër gekultiveer is, word ons nou met geleerdes gelaat wat, reeds volgens Nietzsche, deur massiewe ore met klein koppies gekenmerk word.

Daarteenoor word die klassieke opvoedingsuniversiteite waarmee Akademia verhoudinge aanknoop, aangevuur deur ’n sin vir die geheel (die samehang tussen die verskillende dissiplines) en bygevolg ook ’n lewenstyl gekenmerk deur wysheid. Studente wat hul grade aan ’n klassieke opvoedingsuniversiteit voltooi, is nie net buitengewoon goed opgelei in ’n bepaalde dissipline nie, maar verstaan ook wat die verband tussen hulle eie dissipline en die veelheid van ander dissiplines is. As gevolg daarvan is studente met die voltooiing van hul kwalifikasies nie net geleerde barbare nie, maar afgeronde mense. John Henry Newman het reeds in sy beroemde The idea of the university na sodanige studente as ware “gentlemen” verwys. Ons kan vandag gewoon praat van die opgevoede mens.

Ten slotte moet slegs genoem word dat in die agtergrond van die klassieke opvoedingsuniversiteite juis ’n besonder hoë opvatting lê van wat dit beteken om mens te wees. (Geen wonder dat die hedendaagse klem op die sogenaamde posthumanistiese mensbeeld met sy radikale “devaluering” van ons menswees so sterk deur sodanige universiteite aan ’n grondige kritiek onderwerp word nie). Ingevolge die klassieke uitgangspunte kom ons menswees tot sy reg in en deur karaktervorming, respek vir andere, ’n sin vir regverdigheid, ’n vraende lewenshouding, die soeke na die waarheid, oop en onafhanklike denke, klem op die skoonheid en goedheid van die werklikheid, ’n sin vir die geheel van dinge en – uiteindelik – ook ’n insig in die diepste (teologiese) gronde van die werklikheid.

Die universitêre diskoers hier te lande is erg gekoloniseer deur identiteitspolitiek aan Amerikaanse kampusse – die belange en kwessies van minderhede daar is byna heelhuids oorgeplaas na ons universiteite, waar sulke minderhede soms oorweldigende meerderhede is. Loop julle nie gevaar om julle ook deur die stryd op die Amerikaanse kampusse te laat lei nie?

Dit is ’n moeilike vraag. Minstens twee aspekte moet in die antwoord ter sprake gebring word.

Eerstens is dit uiteraard belangrik om nie klakkeloos voorbeelde vanuit die Amerikaanse konteks na ons eie wêreld oor te dra nie. Te midde van die talle ooreenkomste is daar ook merkbare verskille met betrekking tot die universiteitswese. Iets soos die “goeie oordeel” in dus nodig wanneer besluit word wat ons van universiteite elders kan leer en wat nie. In die VSA kan die sogenaamde opvoedingsuniversiteite byvoorbeeld bykans uitsluitlik klem op opvoeding (of die “vorming” van studente) lê, terwyl ons vir sowel opvoeding as opleiding plek wil maak. Presies hoe ons dit gaan doen, is ’n saak wat ons met groot oorleg sal hanteer. Terloops, die oeroue deug van die “goeie oordeel” (of “praktiese wysheid”) is, naas die deugde wysheid en regverdigheid, ook ’n deug wat Akademia onder sy studente wil vestig.

Tweedens, met jou verwysings na die identiteitspolitiek soos wat dit aan Amerikaanse universiteite beoefen word, word ’n konseptuele mynveld betree. Wat daarmee bedoel word, is nie altyd duidelik nie.

’n Eerste betekenis wat aan identiteitspolitiek gegee kan word, is ’n betekenis waarvan ons onsself krities afgrens. In hierdie geval verwys die identiteite wat op kampusse bevorder word, na identiteite wat hulself afgrens van wat hulle as die onsuiwere of selfs die bose “ander” beskou. Ingevolge hierdie opvatting bestaan die eie identiteit (byvoorbeeld die eie geslags-, rasse- of postkoloniale identiteit) slegs by grasie daarvan om die ander identiteite tot onsuiwere sondebokke te verdoem wat met mag en mening uitgedryf moet word. So ’n opvatting van identiteit vernietig die etos van die universiteitswese en in die besonder die universitêre “oop gesprek” wat in die hart daarvan staan. Onthou tog NP Van Wyk Louw. Geen argument kan in ’n konteks gevoer word waar die teenstander per definisie as boos afgemaak word nie. Inteendeel, uiteindelik gee slegs mag en verdelging dan die deurslag. As sodanig weerspreek dit die gees van die ganse Westerse universiteitswese soos wat ons dit vanaf die Hoë Middeleeue leer ken het. Ongelukkig toon ook plaaslike studente wat van hierdie nie-universitêre retoriek gebruik maak, kwalik enige tekens van ’n besef dat hulle hulself as studente weerspreek.

’n Tweede betekenis wat ons egter aan die begrip identiteit  kan heg, word nie deur die onderskeid tussen goed en boos, lig en donker, aanvaarbaar en verdelgenswaardig, ens, onderlê nie. Met hierdie identiteite verwys ons na historiese, kulturele en talige tradisies wat oor die tyd heen op “natuurlike” wyses gevorm en op die grondslag van vrywillige deelname rus. In hul gesonde manifestasies ervaar sodanige identiteite hulself, bewus van hul begrensdheid, as dele van ’n groter geheel, en nie as dele wat by grasie van die verdelging van andere bestaan nie. Akademia sluit by hierdie opvatting van identiteit aan, soos ook die opvoedingsuniversiteite wat ons pas in die VSA besoek het.

Moet ons Akademia as ’n alleenstaande inisiatief sien, of is dit as organiese deel van Solidariteit se “2030-blyplan”?

Alhoewel dit reeds vroeër in die openbaar gesê is, is dit belangrik om dit nogmaals te beklemtoon: Die Solidariteit-beweging is ’n merkwaardige “netwerk van instellings” wat deur twee “federatiewe” eienskappe gekenmerk word:

Enersyds deel die verskillende organisasies in die netwerk belangrike lewensbeskoulike en organisatoriese uitgangspunte; andersyds funksioneer die verskillende instellings ingevolge oogmerke, organisatoriese strukture, ens, grootliks onafhanklik. As sodanig is die Solidariteit-beweging ’n merkwaardige prestasie: Vanweë sy netwerkagtige struktuur vermy dit sowel ’n verstikkende eenheid as ’n fragmenterende veelheid. Akademia blom binne so ’n konteks.

En ja, Akademia ondersteun die “2030-blyplan” ten sterkste. Dit lê saamgevat in die wese van ons as tersiêre instelling: Ons grens onsself af van die globale, en in die besonder neoliberale, opvatting dat universiteite niks anders as die “opwaartse mobiliteit” van die sogenaamde vryswewende individu moet bewerkstellig nie. Laasgenoemde houding lê ten grondslag van die heersende globale elites se mensbeskouing: ’n superbeweeglikheid waarin die private belange van genoemde individu die hoogste uitgangspunt verteenwoordig. Vandag eet ons in New York, môre werk ons in Tokio, oormôre slaap ons in Londen. Geen lojaliteit teenoor die eie gemeenskappe, die eie plekke, die eie tradisies kenmerk dié lewe nie.

As gemeenskapsuniversiteit verteenwoordig Akademia bykans die teenkant van hierdie verskaalde (en supernomadiese) opvatting van wat dit beteken om mens te wees. Akademia moedig nie ’n ontvlugting van die eie gemeenskap(pe) ter wille van ’n ongebonde bestaan elders aan nie, maar eerder ’n kultivering van ons menswees ter wille van die “gemeenskaplike goed”. Hiervolgens lê ons geluk as mense nie opgesluit in die ontvlugting van die eie nie. Nee, dit lê eerder opgesluit in ’n kritiese, oop en onbevange diens aan dit wat ons as gemeenskappe met mekaar deel. Dit alles sonder om ons deel-wees van en verantwoordelikheid jeens die globale wêreld te ontken.

Jy praat van die "eie". Gaan dit dus vir Akademia oor Afrikaans, of die Afrikaner? En waar pas die meerderheid gebruikers van Afrikaans, die sogenaamde bruin mense, by die visie agter Akademia in?

Ja, ons praat inderdaad dikwels van die “eie”, omdat dit vir ons die vertrekpunt van ons nadenke oor onsself en ons roeping verteenwoordig. Sonder ’n gesonde besef van die eie is kwalik enigiets moontlik. Trouens, daarsonder sal heersende kragte ons eenvoudig opsy skuif. Waarmee ons uiteraard nie sê dat ons nie ook goeie verhoudinge met die heersende kragte wil handhaaf nie.

Jou vraag hou verband met die wie en wat van die eie. Nou, laat my toe om tog ’n bietjie anders op jou vraag te antwoord as die wyse waarop dit gewoonlik in die hoogs voorspelbare en benouende openbare gesprekke gedoen word.

Vanuit die mees wesenlike gesigspunt beskou, kan die bronne van die eie metafories gesproke na drie stede uit die Westerse geestesgeskiedenis teruggevoer word. Ek verwys na Jerusalem (dié metaforiese stad van ons Christelike godsdiens), Athene (dié metafoor van ons akademiese erfenis) en Rome (dié metafoor van ons polities-administratiewe erfenis).

Ingevolge diepste oortuiginge ervaar Akademia sigself as die erfgenaam van hierdie drie stede. Akademia se eie self word daardeur gestempel. Teen hierdie agtergrond lui ons antwoord op jou vraag kort en bondig: Akademia wil op ’n skeppende, kritiese en helder denkende wyse kontinuïteit aan dié erfenis gee. Enigeen wat hom- of haar daarmee vereenselwig, is by Akademia welkom.

Ter verheldering van die begrip erfenis soos wat dit hier gebruik word, is nog ’n laaste opmerking nodig. Met laasgenoemde argumente word nie gesê dat ons geestelike, intellektuele en politieke erfenis sonder probleme is of dat dit nie ook verander kan word nie. Inteendeel, soos enige ander erfenis word dit ook deur sowel hoogte- as laagtepunte gekenmerk. Nogtans is ons ook oortuig daarvan dat dieselfde erfenis ons ook in staat stel om ’n rasionele, eties en selfs esteties begronde antwoord op die laagtepunte te gee.

Om maar net een voorbeeld te noem: Genoemde erfenis was op verskeie wyses aandadig aan ’n wanpraktyk soos slawerny. Terselfdertyd was dit dieselfde erfenis wat ons in staat gestel het om ’n rasionele en etiese kritiek op dié verderflike praktyk te ontwikkel en dit ook af te skaf. In hierdie sin hoef ons nie van ons erfenis afskeid te neem om anderkant die laagtepunte te kom nie. Inteendeel, ons erfenis self stel ons daartoe in staat. As sodanig sluit Akademia aan by wat Alasdair MacIntyre ’n tradisie-begronde rasionaliteit (tradition-based rationality”) noem, dit wil sê ’n rasionaliteit wat vanuit die erfenis gevoed word. En wat dus nie deur ’n koue, abstrakte en tradisielose rasionaliteit gekenmerk word nie. Om dit nogmaals te herhaal: Enigeen wat hom- of haarself daarmee vereenselwig, sal Akademia as ’n akademiese tuiste ervaar.

Jy praat van die drie stede wat die erfenis van Akademia metafories omvat. Maar moet 'n mens nie daarby Fez in Marokko voeg, waar die eerste universiteit gesetel was nie? Per slot van rekening het die herlewing van Griekse tekste onder Islam die Renaissance moontlik gemaak.

Ja, jou vraag handel in wese oor die verhouding tussen die erfenis waarop Akademia sigself beroep (kortom: die sogenaamde Westerse erfenis) en ander erfenisse (soos die erfenis van die klassieke Islam).

Dit is belangrik om te beklemtoon dat Akademia maar net die hoogste respek vir die ander erfenisse het. Dit is ’n respek wat onder meer gevoed word deur die historiese insig dat die verskillende erfenisse van die mensdom inderwaarheid nie op ’n waterdigte wyse van mekaar onderskei kan word nie. Oor tyd heen kan hulle mekaar ook ten goede beïnvloed. Dit is onder meer waar van belangrike Griekse filosofiese tekste wat via hul vertaling in Arabies uiteindelik hul weg na die Middeleeuse Europa gevind het – nou in die gedaante van hul vertaling in Latyn. Sonder twyfel het hierdie vertalings vanuit die Arabiese wêreld ’n groot invloed op die Westerse erfenis uitgeoefen. Om die waarheid te sê, groot Arabiese denkers soos – om maar die Latynse name te gebruik – Avicenna en Averroes het eweneens in vertaalde vorm ’n betekenisvolle (maar tog beperkte) invloed op ons erfenis uitgeoefen. Ons is dankbaar daarvoor. Enigeen wat dit ontken, verstaan nie hoe verskillende erfenisse mekaar kan beïnvloed nie.

Nogtans sou dit ’n groot fout wees om daaruit af te lei (soos wat dikwels in die verlammende nawerking van die postmodernisme gedoen word) dat ons nie van die eie integriteit van die verskillende erfenisse kan praat nie, maar slegs van gefragmenteerde erfenisse, dit wil sê van skerwe sonder enige werklike interne samehang of vorm.

So ’n opvatting verteenwoordig ’n ernstige vergissing. Ter verheldering moet ook die volgende genoem word: Die Westerse erfenis waarop ons ons beroep, is oor tyd heen inderdaad deur ’n veelheid van kragte beïnvloed, soos juis Jerusalem, Athene en Rome. Nogtans toon dit ook ’n intrinsieke samehang en integriteit – ’n eie vorm – wat oor eeue gestalte gekry en genoemde drie stede in ’n eenheid geknoop het. Om dit te begryp, kan na ons erfenis – soos enige ander volwasse erfenis – as ’n “ingewikkelde eenheid” verwys word. Dit verteenwoordig ’n eenheid wat deur die samevloeiing van genoemde drie stede gevorm is.

Daarby eindig dit egter nie. Die eenheid in ons eie erfenis is selfs nog ingewikkelder as wat hier bo te kenne gegee is. Vorming is ’n dinamiese proses. In die historiese vorming van die groot Westerse erfenis het byvoorbeeld verskeie moderne stede (om by die metafoor van die stad te hou) eweneens ’n vormende invloed uitgeoefen. Ek verwys hier uiteraard na moderne stede soos Parys, Londen en Berlyn. As ons ons wortels na Jerusalem, Athene en Rome kan terugvoer, is dié erfenis op velerlei wyses uitgebrei, uitgedaag en selfs verdiep deur genoemde moderne stede. In vele opsigte handel dié kulturele vraag waarmee ons eie erfenis vandag worstel juis oor die vraag hoe die ou stede en die moderne stede, die tradisie en die moderne, ’n vrugbare gesprek met mekaar kan voer – dit alles sonder om die oue ten koste van die nuwe of die nuwe ten koste van die oue te beklemtoon.

Eersgenoemde moontlikheid (beklemtoning van die oue) versinnebeeld die reaksionêre denke, laasgenoemde (beklemtoning van die nuwe) die sogenaamde progressiewe denke. Beide verteenwoordig egter ’n vertekening van ons ryke erfenis. Akademia vind sigself tuis tussen hierdie uiterste moontlikhede. Nog nader geformuleer: Akademia sal sigself graag wil sien as ’n forum wat die gesprek tussen die tradisie en die moderne in stand wil hou. Waarom? Want dit is in hierdie gesprek dat ons erfenis ’n lewende, skeppende en dinamiese erfenis kan bly.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?

Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief

US gerekoloniseer

Interview with Dilip Menon - on Learning Zulu and monolingual universities in South Africa

Interview: The end of public universities in South Africa?

University Seminar 2016: Achille Mbembe on the new politics of the South African student

  • 3

Kommentaar

  • Sjoe, ek's beïndruk, mag Akademia van krag tot krag gaan, en die uitgestote en uitgeslote Afrikaanse studente van Stellenbosch opraap!

    'n Nuwe era lê voor die deur ouens; 'n nuwe era vir Afrikaanssprekende studente wat begerig is om te leer!

    SO TROTS!

  • Avatar
    Jacobus Swart

    Prof. Goosen gee hier ’n lieflike begronding van Akademia en sy werksaamhede.
    Mag dit ’n ruimte wees waar die wysheid gevind sal word, maar ook waar mense
    mekaar sal vind.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Charles, dis nou wel nie Tradisionele klasse soos bv in 1970's nie, maar soos "Facebook messenger" klas. Dis tog deel in die nuwe industriële rewolusie, 1 dosent vir die hele land se Filosofie in Afrikaans? Nogals standaardisering.
    Daar was altyd probleem met standaarde en "benchmarking" vir kwaliteit van onderrig.
    Die belangrikste van Akademia en SOLTECH, ons wit Afrikaners doen selfbestuur, wat reeds deel is van selfbeskikking. Ons sit nie in sak-en-as en kla net meer nie.
    Jy dra R X per maand by as lid van bv Afriforum en die fondse van soveel lede saam word dan gebruik vir bv Akademia of watter projek. Dan is daar die komende beleggingsfonds Kanton, wat vir spesifieke bouprojekte in selfbeskikking gebruik sal word.
    Ons bly en bou vir selfbeskikking.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top