- Jason Lloyd skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die verskynsel van Afrikaanssprekendheid en die toekoms daarvan in ons nuwe en ontluikende postapartheid, grondwetlike bedeling bly ’n gedurige besprekingspunt. Somtyds in die proses van dié diskussies wat gedryf word deur ons gedeelde hartstog vir Afrikaans, verdink ons mekaar van ’n rassistiese aanslag omdat in ontledings kennis geneem word van sosiale verskille wat in ’n mate saamhang met historiese “kleurverskille”.
Ons is natuurlik reg om gedurig bedag te wees daarop dat rassekwessies bygehaal word om ’n denkpatroon te bevestig waaruit ons eintlik moet wegbreek. ’n Gedurige gehamer op rasseverskille en die beweerde voorkoms van rassisme kan selfs bydra tot voortgesette rasseverdeling en rassisme in die hand werk.
Dit sou egter ook oneerlik wees om die naklanke en erfenis van ons rasgebaseerde geskiedenis te ontken in ons ontledings en besinnende gesprekke.
Die situasie wat geskep is deur president Donald Trump se uitvoerende bevel om hulp aan Suid-Afrika te staak en vlugtelingstatus aan Afrikaners te verleen, asook AfriForum en die Solidariteitbeweging se besoek aan Amerika, was soos die spreekwoordelike knuppel in die hoenderhok. Dit het ’n klassieke dilemma in die Afrikaanssprekende gemeenskap geskep – die dilemma van ’n verdeelde Afrikaanse identiteit.
Sommige wit Afrikaanssprekende openbare intellektuele soos Herman Wasserman, akademikus en oudjoernalis, en Anton van Niekerk, emeritus professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, het AfriForum en Solidariteit op ’n baie indirekte en subtiele wyse van ’n rassistiese of uitsluitende aanslag beskuldig, omdat hulle net na Afrikaners (dit wil sê: wit Afrikaanssprekendes) in hul betoë verwys.
.......
Die miskenning van bruin mense as die meerderheid Afrikaanssprekendes wys op die dilemma van ’n verdeelde Afrikaanse identiteit. Dit laat die vraag ontstaan of wit en bruin Afrikaanssprekendes mekaar kan vind? En of ras as faktor in die bepaling van sodanige Afrikaanssprekende identiteit irrelevant gemaak kan word?
.......
“Die ander ding wat nou weer vir my na vore kom, is dat Afrikaans en Afrikaanssprekendes nou weer uitgebeeld word as wit, terwyl ons weet die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Ons moet onsself as Afrikaanse skrywers en joernaliste en kommentators gaan afvra hoekom is daai assosiasie nog so sterk met ons,” het Wasserman in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.
In sy gereelde rubriek in Die Burger het Van Niekerk soos volg geskryf: “Watter boodskap bring die pretensie tuis by ons swart landgenote en veral ons bruin landgenote – die grootste groep wat Afrikaans praat, maar oor hul dooie liggaam na hulself as ‘Afrikaners’ sal verwys?”
Op Suid-Afrikaanse Engelse TV-nuuskanale (wat ’n voorbeeld is van swak joernalistiek en intellektuele leeglêery) is ek verbaas om te hoor dat Afrikaanssprekendes (hulle bedoel wit mense) “besig is om vir vlugtelingstatus in Amerika aansoek te doen”. Is daar dan niemand by dié TV-kanale werksaam wat weet van die kompleksiteit van Afrikaanssprekendheid in Suid-Afrika nie?
Die miskenning van bruin mense as die meerderheid Afrikaanssprekendes wys op die dilemma van ’n verdeelde Afrikaanse identiteit. Dit laat die vraag ontstaan of wit en bruin Afrikaanssprekendes mekaar kan vind? En of ras as faktor in die bepaling van sodanige Afrikaanssprekende identiteit irrelevant gemaak kan word?
Taal bly ’n potensieel verdelende kwessie; nie net hier te lande nie, maar ook verder globaal. En ons moet versigtig wees oor hoe sulke kwessies getakel en aangebied word. Ons wil niemand deur die gesig klap nie. Ook nie die vordering ongedaan maak wat alreeds tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes bereik is nie.
........
Die oorheerser se taal is oorgeneem, maar sy kultuur nooit geassimileer nie. Binne Afrikaanssprekendheid vind ’n mens elemente van daardie soort verhouding.
........
Die lees van ’n studie oor James Joyce, die groot Iers-Engelse romanskrywer van onder meer Ulysses (1922), sit ’n mens weer aan die dink oor daardie verhouding binne taal. Joyce se literêre werk, so word aangevoer in die studie, is self deel van die geskiedenis van Ierland se ingewikkelde taaltoestand waar die Iers-Engelse spreker in die wêreld van koloniale Standaardengels linguistiese maniere moes vind om politieke oorheersing te ondermyn. Die oorheerser se taal is oorgeneem, maar sy kultuur nooit geassimileer nie. Binne Afrikaanssprekendheid vind ’n mens elemente van daardie soort verhouding.
Met die draai van die vorige eeu het een van ons skerpste intellektuele Jakes Gerwel ons daarop gewys dat Afrikaanssprekendheid se betogings oor sy plek binne die taalverskeidenheid van Suid-Afrika miskien effens voorbarig is. Gerwel het ’n gesprek oor Afrikaans se eie interne verskeidenheid as belangriker geag.
’n Kwart eeu het nou al verloop waarin daai gesprek nog nie afgehandel is nie. Die vrae wat onwillekeurig by my opkom is of die steeds dominante deel van Afrikaanssprekendheid die vermoë het om daardie ander tradisie te laat gedy in wat nog dikwels steeds as “ons instellings” beskou word? En het daardie “ander tradisie” die geduld, verdraagsaamheid, vergewensgesindheid en aanpasbaarheid om so ’n ontwikkeling moontlik te maak?
Etniese identiteit is nooit staties nie; dit ontwikkel altyd juis omdat dit hoofsaaklik ’n subjektiewe gegewe is. Dit is eerder afhanklik van hoe mense dit in hul gemoed ervaar as van wat gewoonlik as objektiewe feite aangevoer word.
.......
Etniese identiteit is nooit staties nie; dit ontwikkel altyd juis omdat dit hoofsaaklik ’n subjektiewe gegewe is. Dit is eerder afhanklik van hoe mense dit in hul gemoed ervaar as van wat gewoonlik as objektiewe feite aangevoer word.
.......
Enkele voorbeelde kan illustreer wat hiermee bedoel word.
Twee eeue gelede was die begrip Duitsland suiwer geografies van aard, en Duitsers ’n groep mense, oor talle state versprei, wat min of meer ’n gemeenskaplike taal gepraat het. In reaksie op die Franse besetting van die grootste deel van Duitsland het die filosoof Johann Gottlieb Fichte in 1808 ’n reeks toesprake gehou waarin hy die Duitssprekende vir die eerste keer opgeroep het om ’n enkele volk, die Duitsers (pleks van die Pruise, die Rynlanders, die Württembergers, die Beiere, ensovoorts), te wees.
In die loop van die negentiende eeu het die ideaal toenemend posgevat, maar pleks van Fichte se ideaal van voetsoolvlak-vereniging het dit tot 1871 geduur voordat Duitsland van bo af deur Otto von Bismarck verenig is. En toe het Bismarck geoordeel dat die Duitssprekende Oostenrykers en Switsers buite die nuwe Duitse volk moes bly.
In daardie stadium was die gevoel tussen Noord- en Suid-Duitsland taamlik sterk. Die keuse om die Beiere wel in te lyf en die Oostenrykers nie, het hoofsaaklik berus op Bismarck se vrees dat Oostenryk in ’n verenigde Duitsland oor sy eie Pruise baas sou wou speel, saam met die wete dat Oostenryk te veel nie-Duitssprekendes bevat het.
Die praktiese staatkundige situasie het die Duitse bewussyn sterk help bepaal, en sedertdien beskou die Beiere hulself wel as Duitsers, in teenstelling met die Oostenrykers en Duitssprekende Switsers. Dit kon net so goed anders gewees het.
’n Tweede voorbeeld:
In die 16de eeu was daar ’n taamlike besef van etniese verwantskap tussen die Noord en Suid-Nederlanders. Die einde van die Tagtigjarige Oorlog in 1648 het egter op ’n verdeling tussen die gebiede uitgeloop. Die Noorde het die onafhanklike Republiek der Nederlanden geword, terwyl die Suide – die huidige Vlaandere en Wallonië – aanvanklik onder Spaanse en later Oostenrykse gesag gebly het.
In 1815 is België, met inbegrip van sy groot Franssprekende seksie, by Nederland ingelyf. Dat die mense hulle nie tuis by Nederland gevoel het nie, was te begrype, maar ook die Nederlandssprekende Vlaminge het in die 167 jaar tussen 1648 en 1815 te ver van hul noordelike taalgenote weggedryf. Die gevolg was ’n opstand in 1830 en sedertdien is België ’n onafhanklike staat.
’n Derde voorbeeld:
In 2003 het Arrie Rossouw, toe nog redakteur van Die Burger, besluit om eerder met die term Afrikaanssprekendes of Afrikaanses na alle moedertaalsprekers van Afrikaans te verwys, ten einde inklusiwiteit en ’n sterker samebinding rondom Afrikaans oor die kleurgrense heen te bevorder. Op 20 September 2003 het Rossouw in die politieke rubriek “Dawie” in Die Burger geskryf: “Ons hoop dit sal ’n beskeie bydrae lewer tot die afbreek van die laaste onnodige skeidsmure tussen Afrikaanssprekendes.”
Al drie voorbeelde illustreer dat veranderende historiese omstandighede ’n invloed op subjektiewe volksbewussyn kan hê. Wat ook al die geval is, dis iets wat óf spontaan sal gebeur óf glad nie.
Lees ook:
Dinkskrum: Notas ter herinnering aan Jakes Gerwel, die Karooseun van die plaas Malvern
Dinkskrum: Is die eenheid in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) op valse optimisme gebou?
Die AfriSol-afvaardiging na Washington: Politieke spel of etniese verteenwoordiging?
Afrikaans se nuwe grense: Ingrid Jones se visie by die 21ste Johan Combrink-gedenklesing
Afrikaans: 100 jaar as amptelike taal – ’n erfenis om te vier of om te verwerp?
Hoerikwaggo Indaba val vas in identiteitskwessies sonder nuwe voorstelle
Die effek van marginaal- en hibriedwees op die bruin politieke landskap
Kommentaar
Mense moet maar wees wat hulle wil wees. Het jy al gaan kyk na daai monstrosity genaamd die "Afrikaner verklaring" van 2024? Dit is op die internet beskikbaar (https://afrikanerverklaring.co.za/). Volgens daardie 12 artikels (die Boere laaik hulle 12 artikels dis gewis) in die verklaring, sal ek nie as Afrikaner kwalifiseer nie, omdat ek nie 'n Christen is nie. Daarby was ook net 'n spesifieke soort Christenskap vir baie jare mos aanvaar, naamlik die Calvinisme van die drie Afrikaanse susterskerke, NG, Doppers en Hervormers.
Afrikaner is 'n niksseggende konsep. Dieselfde is waar van Suid-Afrikaner, en ook van Afrikaanse.
Ek is gemaklik met Afrikaner ten opsigte van myself, maar ook met Boer en dalk die meeste met Europeer. Maar wat maak dit saak? In the greater scheme of things? Dis alles net lee begrippe.
En ek gaan beslis nie met Afriforum 'n 'dinkskrum' of 'n 'gesprek' voer oor die konsep Afrikaner nie. Volgens hulle definisie van Afrikaner, is ek beslis nie een nie. Dis 'n 'open and shut' geval. Ek gaan ook nie met enige ander mense die saak bespreek nie. Wit Afrikaners het volgens sommige interpretasies die konsep Afrikaner geapproprieer tesame met die taal. Ander interpretasies verwys na Hendrik Biebouw en argumenteer dat dit meer organies ontwikkel het. Mens kan lank vorentoe en agtertoe, heen en weer oor die dinge, en jy sal steeds nerens uitkom nie.
Wit Afrikaners is waarskynlik nie die oorspronklike "Afrikaners" nie. Deur die naam van hulle etnisiteit aan die kontinent van Afrika te koppel, is daar waarskynlik bewustelik of onbewustelik gepoog om hulleself as inheems te posisioneer. Dit terwyl wit Afrikaners na 4 eeue steeds sukkel om in Afrika aan te pas. En tog pas hulle ook nie meer in ander kontinente nie.
Hierdie praatjies oor etnisiteit is ook geensins uniek aan wit Afrikaners nie. Ander groepe is net so verdeeld oor die verlede. Sommige wil vasklou aan ou identiteite, ander wil nuwe identiteite uitkerf. Daar is verskeie soorte nasionalismes in Suid-Afrika. Zoeloe-nasionalisme, Nama-nasionalisme, Tswana-nasionalisme ens, ens. Ou kulturele tradisies word gereeld bevraagteken, soos die bruidskat en inisiasieskool. Baie moeders wil nie meer hê hulle seuns moet inisiasieskool toe gestuur word nie, en eerder medies besny moet word. So gaan dit in elke kultuur. Die tradisies bots met die vooruitgang. Die groot vraag waarmee mense skynbaar worstel, is wat is toelaatbaar en wat is nie. Is daar plek vir tradisie? Is daar plek vir vooruitgang?
Die antwoord is eintlik baie eenvoudig. Suid-Afrika het 'n liberale grondwet met vryheid van identiteit. Elkeen kan wees wat hy of sy wil wees, solank dit binne die perke van die wet bly en nie andere se regte ontneem nie. Dies wat dus wil "nasiebou" saam met die ANC, moet kan nasiebou, en dies wat wil laertrek by Bloedrivier, moet kan laertrek. Vir elkeen moet daar ruimte wees. Dit glo ek is die gees van die klassieke liberalisme wat die tradisie is waarin ons grondwet staan.
Omdat Suid-Afrika egter besig is om te faal, finansieel bankrot is, en nie lekker slaag met die hele "nasiebouprojek" nie, is daar nou skynbaar 'n bietjie van 'n oplewing in etniese identiteite. En tog is Afrikaner in 2025 nie dieselfde as Afrikaner in 1950 nie. Identiteitspolitiek is ook maar 'n pendulum wat heen en weer swaai. Dan diekant toe, dan daai kant toe.
Nie dat die konsep "Afrikaner" eintlik enige vaste betekenis het nie. Soos jy opmerk, ontwikkel dit en nuwe betekenisse word daaraan geheg. Die "Afrikaner verklaring" van 2024 is egter baie duidelik dat "Afrikaner", volgens hulle, eksklussief na witmense verwys. Ek stem nie noodwendig daarmee saam nie, maar ook van daardie gedagte sal mens nooit ontslae kan raak nie. Dit is 'n bepaalde definisie van die konsep, wat steeds met ons is, en waarskynlik altyd sal wees.
Wat myself betref, nog my etnisiteit, nog my nasionaliteit, wek by my enige vorm van patriotisme. Ook nie my taal nie. As ek my identiteit in enige iets moet wortel, dan sal dit wees in die feit dat ek 'n hominied is. Wat ontwikkel het uit ouer spesies. Verganklik. My lot intiem verweef met die van die aarde en met medemense.
Met al die teen-Afrikaner-vyandigheid deesdae is dit 'n polities wyse en makliker uitweg om te verklaar dat 'n Afrikaner enigiemand is wat homself as Afrikaner opgee, soos wat die Solidariteit Beweging en Orania inderdaad doen. Meeste (Suid-)Afrikaners weet egter dat Afrikanerskap op veral drie pilare rus, naamlik (1) afkoms (Noord-Wes-Europees - hoofsaaklik Nederlands, Duits en Frans vanaf 1652 tot so 1800), (2) godsdiens (Protestants-Christelik) en (3) moeder- & huistaal (Afrikaans).
Hier kan jy nou duidelik sien teen watse muur jy jouself gaan vasloop. Nie dat ek jou ooit sal ontmoedig nie, Jason, inteendeel. My voorstel is: Maak 'n date met Kallie Kriel, dan bespreek julle 'n tafel by Mak en Bien in die mol, of so nie Wimpy, vir 'n molberaad een mooi Saterdag. Dan nooi julle vir Hannno Visagie saam. Almal is ook teen Hanno, net soos almal teen Kallie is. Hulle is die nuwe geslag verontregdes. Jy kan sommer aan sy gesig sien hoe suffer Kallie in die lewe. Jy en Kallie is boonop ook albei twee groot Trump-manne, so there's that...Weet nie van Hanno nie, maar het my vermoedens...
Van daar kan julle dan oorskuif na die sportspub vir die rugby en Sondag kan almal ook saam die erediens gaan bywoon by NG Kerk Pypdroompark. Onthou, dis die 1953-vertaling van die Skrif of NIKS. Of los jou Bybel sommer tuis, dis die NG Kerk after all, en big screens word verskaf met al die tersaaklike Skrifuitlegte.
Ongelukkig gaan ek julle manne nie kan join nie. Naweke luister ek draadloos en was my kleertjies terwyl ek kyk hoe die grassies groei, die windjie waai en die sterretjies flonker, al is daar maar min sterre te sien hier in die Skiereiland.
Barend so jy bedoel ek moet my steur aan Hanno Visagie? Hahaha, dit sal die dag wees?