Dit is kortsigtig, naïef, opportunisties, onintellektueel en totaal belaglik vir die ANC om te dink om vier mense uit minderheidsgroepe op sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) te koöpteer gaan dié verloopte, korrupte en onbevoegde bevrydingsbeweging van sy rassistiese karakter en siel red.
Die ANC het alreeds as ’n rassistiese politieke party gedisintegreer. Net ’n wonderwerk wat nooit sal gebeur nie, sal die ANC daarvan kan red.
Dié gekoöpteerdes het hulself natuurlik as vrywillige handpoppe en meelopers verklaar in die ANC se groot spel van identiteitspolitiek oftewel die najaag en verskansing van naakte rassisme in Suid-Afrika.
Identiteitspolitiek is ’n politieke benadering waarin mense van ’n bepaalde ras, nasionaliteit, godsdiens, geslag, seksuele oriëntasie, sosiale agtergrond, sosiale klas of ander identifiserende faktore politieke agendas ontwikkel wat op hierdie identiteite gebaseer is.
Die najaag van rassisme of identiteitspolitiek is egter niks nuuts in die ANC se mondering nie.
Die ANC het nog altyd ’n historiese en ideologiese dispuut met die beginsel van nierassigheid sedert sy stigting in 1912 gehad. In so ’n mate dat alhoewel die kwessie van nierassigheid binne die kongresbeweging met die stigting van die United Democratic Front (UDF) in 1983 traksie begin gekry het, die ANC nog altyd skepties oor nierassigheid en die politieke posisie van minderhede in die algemeen was.
In ’n poging om die ANC se NUK meer “verteenwoordigend van die land se bevolking te maak” het dié party onlangs vier lede uit minderheidsgroepe gekoöpteer. Hulle is Gerhard Koornhof, ’n wit man, Alvin Botes, ’n bruin man, Steve Mapasekwa, ’n swart vigs- en genderaktvis, en Fawzia Peer, ’n Indiër-vrou.
Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa in Desember op die ANC se nasionale konferensie – voordat daar vir NUK-lede gestem is – in sy toespraak gesê het die ANC se karakter van nierassigheid het verwater en dit strek die party tot nadeel.
“Daar is ’n subtiele erosie van ons waarde van nierassigheid, veral in die praktyk.
“Die nierassige karakter van die ANC moet in die beleid van die party weerspieël word, asook in sy lidmaatskap, leiers, sy steun onder kiesers en sy mobiliseringsprogramme,” het Ramaphosa vir afgevaardigdes op die openingsaand van die konferensie gesê.
“Alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, geslag, klas, taal, kultuur, seksuele oriëntasie of gestremdheid moet ’n tuiste in die ANC vind.”
In ’n ander konteks het Kgalema Motlanthe op ’n keer bevestig dat nierassigheid nog steeds ANC-beleid is, maar wel toegegee dat die party dit nie geïnternaliseer het nie. En verder: dat nierassigheid nie meer in die ANC se houdings en uitsprake weerspieël word nie.
Terwyl die afgevaardigdes gehoor gegee het aan Ramaphosa se wekroep oor vroue – 44 van die verkose NUK-lede is vroue – het sy pleidooi oor diversiteit geen gehoor gevind nie.
..........
Ramaphosa se onsuksesvolle poging tot diversiteit in die ANC het felle kritiek van ’n menigte kommentators ontlok.
..........
Ramaphosa se onsuksesvolle poging tot diversiteit in die ANC het felle kritiek van ’n menigte kommentators ontlok.
“Hul koöptering is die ergste vorm van belediging,” het Hein Willemse, emeritus professor in letterkunde en teorie aan die Universiteit van Pretoria, in sy gereelde rubriek in Die Burger geskryf.
Willemse skryf: “Al is die nuut gekoöpteerdes ingeburgerde ANC-lede, ontsnap hulle nie aan persepsies nie. Die party poog nie om die redes vir die eng-Afrikanistiese geneigdheid in sy geledere te ondersoek of die verdringing van diversiteit aktief teen te staan of die teensin vir sy beleidsrigtings teen te werk nie.
“Nee, hulle kies die pad van kosmetiek, ’n titseltjie kleursel om die party beter te laat lyk.”
Diegene van ons met ’n historiese sintuig sou kon getuig dat die rassistiese trajek van rassisme jeens minderhede waarop die ANC hom op begeef, ’n lang verlede het.
Die nierassige samestelling van die UDF se leierskap in die 1980’s het die party nog meer ongemaklik gemaak, veral omdat ’n sekere nasionalistiese groep binne die ANC geglo het dat die “struggle” alleenlik aan “Africans” behoort. En ook geïsoleerd deur net Africans beheer behoort te word.
Selfs in die buiteland was ’n groep African ANC-leiers oortuig dat senior bevrydingsleiers soos Oliver Tambo beheer is deur minderhede – wat glo ook hulpbronne beheer het.
Die aanvaarding van die Vryheidsmanifes deur progressiewe magte in die ANC in 1955 wat verklaar Suid-Afrika behoort aan almal, wit en swart, het verder druk op die nasionalistiese groep binne die ANC geplaas. In so ’n mate dat die ANC hom in 1958 in sy jaarverslag herverbind het tot nierassigheid.
Op die ANC se Morogoro-konsultasiekonferensie in Tanzanië in 1969 was die mees omstrede kwessie van bespreking die posisie van “non-Africans” – oftewel nierassigheid – binne die ANC.
Selfs nadat die ANC sy lidmaatskap vir alle rasse oopgegooi het, die alliansie met die SAKP (wie se leierskap deur minderhede oorheers is) formeel gesluit is, en selfs nadat die UDF gestig is, het die ANC se nasionalistiese groep nog steeds nierassigheid probeer vernietig.
By die ANC se nasionale konferensie in 1985 in Zambië het die nasionalistiese groep nog ’n poging aangewend om selfs die verkiesing van minderhede tot die NUK te verhoed. Hulle het selfs aangevoer dat minderhede geen sake het om hulle met die anti-apartheidstryd te bemoei nie.
So is daar minderhede wat vandag glo dat die ontbinding van die UDF aangepor is deur swart nasionaliste in die ANC wat die UDF se nierassige samestelling en karakter verpes het.
Allan Boesak, UDF-medestigter en anti-apartheidsaktivis, het in ’n onderhoud in 2017 met Pretoria News gesê hy was gekant teen oudpres Nelson Mandela en die ANC se voorstel dat die UDF moet ontbind.
“I will always regret very much that I allowed myself to be pressured, not just by acquiescing, but also being on a stage when the announcement was made. They asked me to speak, and I did. It did not come from my heart, but I spoke – and that should never have happened. I’m ashamed of that moment.”
In ’n toespraak in 2005 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het wyle Jakes Gerwel, oud-UWK-rektor, sekretaris van die kabinet en direkteur-generaal in Nelson Mandela se presidentskantoor, ons daarop gewys dat die betekenis van nierassigheid dikwels uitgebrei is om te lui “non-racialism ideally under African leadership”.
Volgens Gerwel het dit nie enige noodsaaklike “entitlement” beteken nie. Of dat posisies van leierskap op enige meganiese wyse Africans toekom nie; of dat as gevolg daarvan dat hulle die “most oppressed and exploited group” was, Africans nou op simplistiese wyse die grootste regstellingbeloning verdien nie.
“‘African leadership’ het in daardie konteks in die eerste plek eerder verwys na ’n morele dimensie en selfs verpligting.”
Volgens Gerwel is nierassigheid die mees kosbare geskenk van Africans aan Suid-Afrika.
“Africans is dus nie in die eerste plek die ontvangers van nierassigheid nie, maar as gevolg van hul ervaring van rasse-onderdrukking en hul vermoë om daaruit te kon leer oor die immoraliteit van sulke onderdrukking, die toonaangewende klas in die soeke na en skepping van uiteindelike nierassigheid. Vandaar die leidende en dus emansipatoriese rol van Africans in die vestiging van ’n nierassige samelewing.”
Luister ons egter na Boesak, is presies die teenoorgestelde besig om te gebeur: African “entitlement” neem toe en die toedeling van leierskapsposisies word hoofsaaklik aan Africans toegedien.
By die 36ste-verjaarsdag-vieringe van die UDF in Mitchells Plain in 2019 het Boesak gesê daar is ’n doelbewuste politieke poging – wat hy ’n handeling van “unremembering” noem – van uitsluiting om die geskiedenis en nalatenskap van die UDF om suiwer ideologiese redes te manipuleer en te vernietig.
..........
Die vraag moet gevra word hoekom die ANC so rassisties is en ook terselfdertyd so minderwaardig voel.
..........
In die Pretoria News-onderhoud in 2017 het Boesak Mandela daarvan beskuldig dat hy apartheid se raskategorisering van wit, swart, bruin en Indiër teruggebring het.
“He (Madiba) spoke openly about whites, coloureds and Indians. But even more problematical was his response to black consciousness in an essay in a book compiled by another struggle veteran, Mac Maharaj.”
Boesak sê Madiba het in die essay ’n probleem met swartbewussynkwessies gehad.
Mandela het glo ook ’n probleem gehad met die “black consciousness contention that race is a deceitful category that has no scientific basis and that it is a political and social construct. Arising from this, therefore, is that it is one’s humanity that counts more than the question of race or ethnicity, or any of that.”
Volgens Boesak het Mandela fundamenteel hiermee verskil.
“Instead, he made the stunning statement that one could not deny the reality of the texture of your hair, the shape of your nose or the colour of your skin. When Mandela introduced racial categorisation, it became the language of the ANC.”
Volgens Boesak was dit ’n ernstige probleem: Hy het gevoel dit gaan ons in ’n situasie inneem waar die hele kwessie van nierassigheid en sosiale kwessies bevraagteken word.
“Why would you want to make these distinctions in terms of skin colour or ethnicity if it has not attached itself to some privilege – social, economic or racial privilege?
“What was that necessary for? Why would the ANC be interested?
“But now, of course, we’ve seen where they’ve gone.”
Volgens Boesak moet leerlinge ongelukkig nog steeds dokumente waarin hul raskategorie aangedui word, by skole invul.
“But when you ask yourself where this comes from, you can see how easily the ANC, not only in its leadership, but as an organisation and then in its policies and language has embraced the language of apartheid, and all those things we considered the pillars of apartheid.
“It is no wonder that, 23 years later, we have no idea what non-racialism actually means. It is no wonder that something as fundamentally good in principle as affirmative action becomes a contentious issue because they refuse to apply it to all those who were disadvantaged.”
Die vraag moet gevra word hoekom die ANC so rassisties is en ook terselfdertyd so minderwaardig voel.
Sedert 1994 kon die ANC nie daarin slaag om ’n redelik gesofistikeerde moderne ekonomie soos Suid-Afrika suksesvol te bestuur en uit te bou nie. Die ANC saai liewer ekonomiese verwoesting, en word daarvan beskuldig dat hulle korrup en onbevoeg is.
Omdat die ANC totaal hulpeloos is, het die party, soos die NP-apartheidsregering, verskeie diskriminerende kategorieë ingestel waarop die regering “wetlik” veral teen minderhede kan diskrimineer. Dit sluit onder meer ras, geslag, ouderdom edm in.
Die ANC glo ook in die oorblyfsel van kolonialisme dat probleme wat deur rassisme veroorsaak is, met meer rassisme opgelos moet word. Ek vermoed die ANC kan nie alleen die skuld hiervoor kry nie. Buitendien het die ANC alles van hulle sosialistiese en kommunistiese base gekopieer. Die ANC se idees is uit die ou kommunismeboek geknip en geplak. Daar is net mooi geen enkele oorspronklike idee wat uit die ANC gekom het nie.
Dan glo die ANC in die leuen dat almal en alles gelyk is. Dis ’n wêreldwye tendens met kommunistiese wortels om alles en almal gelyk te wil maak en verskille uit te vee. Daar bestaan nie iets soos gelykheid nie. Dit is net wiskundige vergelykings wat gelyk is. Gelykheid bestaan nêrens nie. Nie in gesinne nie. Nie in die natuur nie. Ook nie in die werksplek nie. Dit kan nie werk nie. Dis teen die lewe. Dit is ’n onreg teen almal. Dit is ’n vorm van sosiale manipulasie wat onnatuurlik is wat die ANC op die duur tot die asblikke van die geskiedenis gaan reduseer.
Soos Willemse tereg opmerk, gaan nie eens “hierdie politiek van koöptering van sogenaamde leiers” die ANC van ’n roemlose aftog red nie.



Kommentaar
Uitstekende artikel. Baie feitelik gestel.