Jy hoef vir niemand in hierdie land te vertel van taal en stryd nie. Daar is trouens min dinge wat ’n gemeenskap so kan polariseer as ’n gesprek oor taalregte en identiteit.
Tydens die kongres van die Dak-netwerk in 2022 maak iemand in die gehoor ’n opmerking wat die kwessie van Afrikaans se talle tonge dalk die beste illustreer. Nadat Die Burger se redakteur die gehoor aangemoedig het om die koerant te koop om die koerant lewendig te hou, steek ’n gemeenskapswerker op die Kaapse Vlakte sy hand op: “Meneer, ek wil graag die koerant lees; ek is lief vir Afrikaans, maar ek verstaan nie die taal van jou koerant nie.”
In sy gedig “Talle tonge” som die oud-ANC-politikus Mathews Phosa die situasie mooi op:
Talle tonge
Talle tonge het ek
een tong op ’n gegewe oomblik
’n heuningtong
’n bitter tong
’n tong stomp
genoeg om te swyg
my skerp tong klap
klap soos ’n sweep
en keep diep en laat bloei
my suur tong brand
brand soos asyn
en laat krimp inmekaar en skend
Talle tonge het ek
Een tong op ’n gegewe oomblik
’n tong om te sny
’n tong om te salf (uit: Deur die oog van ’n naald, 1996)
Vandag kan jy selde ’n beskaafde gesprek voer oor Afrikaans en in Afrikaans sonder om bewus te word van die “bitter” en “skerp” tonge wat niks anders ten doel het nie, behalwe as om ander Afrikaanssprekendes seer te maak. Die hartseerste van alles is dat selfs diegene wat probeer om met hul “heuningtong” Afrikaans se kant te stel, dit doen vanuit ’n paternalistiese perspektief, ’n ingesteldheid wat sê: “Kyk hoe hard het ons vir Afrikaans gewerk, en nou wil julle dit aan ons taal doen?” Hoeveel onse is in jou pond, wil ek dan vra. En wie is die julle wat hier ter sprake is? Is ons dan nie een taalgemeenskap nie?
Uit een mond
Praat jy van die seevaarders, die koloniste van Europa, wat teen die einde van 1500 die Kaapse kus aangedoen het om vars groente, vleis en water by die Khoi-Khoin te kry en uit nood ’n taal moes skep om met die eerste inwoners aan die Kaap te kommunikeer? Of van Autshumato (Herry) wat die rol van tolk en onderhandelaar moes vervul? Of praat jy van die Khoi en slawe en vryboere se kinders wat reeds sedert 1657 met mekaar gespeel het op die wynplase in die Kaap? Van Rensburg (2012:36) skryf dat die vryboere hierdie kinders na hul plase gebring het om daar te werk. Om met mekaar te kommunikeer, moes die kinders Afrikaans aanleer. Met kinderlike onskuld het ’n nuwe geslag onse aan die Kaap ontstaan wat op mekaar aangewese was. Al taal wat hulle gehad het om hul pyn en drome met mekaar te deel, was ’n vorm van Kaaps; “’n tong om te salf” kan jy sê, die eerste Afrikaans.
Of dalk word verwys na Langenhoven (vgl Hugo 2009:65) wat Afrikaans as ’n witmanstaal gestigmatiseer het, met sy uitlating in die vroeë 20ste eeu dat Afrikaans die grootste enkele prestasie is wat nie saam met die wit man van oorsee af gekom het nie. Dié snydende tong het Afrikaans laat bloei en sou dit stigmatiseer as die taal van die onderdrukker.
Hoeveel dae het ek in die Senaatsvergadering van die Universiteit Stellenbosch gesit en luister hoe die bitter tonge en die heuningtonge goed vir mekaar sê wat diep sny en seermaak. Hulle sou nie stop alvorens iemand bloei nie ... Van bloei kan ek getuig. As rubriekskrywer in die Afrikaanse media was ek al meer as dikwels aan die ontvangkant van lesers se snydende tonge. Soms is dit weens ’n meningsverskil. Maar meestal kritiseer daardie tonge met intense bitterheid wat onthul dat die kommentator nog nie vrede gemaak het met die demokratiese Suid-Afrika nie. Dit is dan dat ek berusting vind in Plato se woorde: Niemand word meer gehaat as hy wat die waarheid praat nie.
Al praat ons almal Afrikaans, praat ons nog nie uit dieselfde mond nie (Le Cordeur 2011).
My Kaapse tong
JC Kannemeyer het Kanna hy kô hystoe vermeld saam met die belangrikste internasionale dramas in die wêreld en Andre P Brink het Kanna beskryf as die grootse Afrikaanse drama nóg. Maar ’n groot onreg word Small aangedoen, want anders as algemeen verwag, ontvang hy nie die Hertzogprys vir Kanna in 1965 nie. Boonop het sy eie mense begin om Small te kritiseer en gesê dat hy spot met hulle taal. Small het hulle geantwoord as hy sê:
Nou vrinne
Kaaps is nie ’n joke nie
Dis ’n straight en diep taal vannie mense
waar hulle in gebore word en eerste kwyl
en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
en dan, daa’ byrie final beacon vannie dood in sterwe,
en, dja of course djy moet dit sing
Small het begin om namens sy mense te praat oor die liberale waardes van vryheid van denke en spraak: ’n Moses, soos hy die figuur in sy tweede bundel (Kitaar my kruis, 1962), noem: “Nou het ’n Moses (met sy hakkeltong) vir julle opgestaan”.
Sy poësie en dramas was sy manier om te rebelleer teen die uitsluiting van bruin mense, en veral Kaapssprekendes, uit die hoofstroom- Afrikaanse leefwêreld. So word Small die skrywer wat die spreektaal van die Kaapse werkersklas – eens verbind met afwyking, domheid en grappigheid – so pragtig en met soveel waardigheid te boek gestel het. ’n Stem vir menige stemlose. ’n Tong vir die tongloses. Hy het Kaaps gevestig as “’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra” (Kitaar my kruis).
Deur in Kaaps te skryf, het hy sy mense taalkundig bemagtig en só hul tong teruggegee wat deur die establishmentmedia en apartheidsregering stilgemaak is: “Laat die wêreld maar praat pellie, los en vas.” Sodoende slaag Small daarin om van Kaaps ’n literêre taal te maak en Kaaps te verhef tot ’n taal van verset teen politieke onreg. Meer nog: Danksy Small is die stigma rondom Kaaps afgebreek, is die Suid-Afrikaanse letterkundeskat verruim en die Afrikaanse woordeskat verryk. Vandag word sy werk in skole en universiteite bestudeer.
Moedertaalonderrig
Reeds vroeg in my loopbaan het die botsing plaasgevind tussen sommige kinders se reg op onderwys (die eenvoudige behoefte aan toegang tot onderwys) en die taal- en onderwysregte van leerlinge. Dis alombekend dat ek ’n groot ondersteuner is van moedertaalonderrig. Dit is belangrik dat leerders in die vormingsjare in hul moedertaal onderrig word, omdat geletterdheid en syfervaardigheid vaardighede is wat in die grondslagfase ontwikkel word. Dit is die beste manier om te verseker dat ’n kind akademies presteer en ’n afgeronde individu sal word. Plaaslike en internasionale navorsing ondersteun hierdie siening (Le Cordeur 2008).
Ek glo aan moedertaal-gebaseerde, tweetalige onderrig waar ’n kind begin in sy moedertaal en gaandeweg ’n tweedetaal en selfs ’n derdetaal aanleer. Ek is van mening dat die Bela-wet Afrikaans sal versterk en nie ondermyn nie, terwyl dit ook ’n plek gun vir al ons ander inheemse tale. Wat ek vir Afrikaans verlang, moet ek ook gun vir ander taalgemeenskappe; as ons mekaar se tale respekteer, lei dit tot wedersydse respek en uiteindelik nasiebou.
Gemaklike kommunikasie maak sosiale interaksie gemakliker. Dit is ’n voldonge feit dat sprekers van ons inheemse tale tot dusver Engels of Afrikaans moes aanleer om sosiaal te kon funksioneer. Slegs ’n klein aantal nie-moedertaalsprekers het ooit probeer om Xhosa aan te leer. Dat isiXhosa 1 op my graadsertifikaat pryk, is een van my beste prestasies.
Eers wanneer die dag aanbreek dat almal van ons in hierdie land mekaar se tale goed genoeg kan praat om behoorlik met mekaar te kan kommunikeer, sal ons ophou om ons eie ekonomiese vooruitgang te belemmer. As swart mense ’n lae aansien in die ekonomiese mark het, sal swart mense aanhou om hulle moedertaal op te offer ter wille van die oënskynlike voordele wat ander tale bied. Ons moet taal laat groei om mense te laat groei.
Die Bela-wet het baie publisiteit ontlok. Ek het van my kant af probeer om te luister, om werklik te hoor wat mense sê, onderwyl ek my weg probeer baan het deur ’n mynveld van teenstrydige menings en mededingende regte.
Die Duitse filosoof Nietzsche se teorie van die Übermensch (om volledig mens te wees) is hier van toepassing. Bela is meer as twee klousules oor taalbeleid en toelatingsbeleid. Die Grondwet, asook Bela is duidelik dat taal nie die rede mag wees waarom ’n kind toegang tot ’n skool geweier word of die reg van skool ontsê word nie, hetsy dit taal is, hetsy oorvol skole of ouers wat hul plig versuim. Altesaam 56 klousules beklemtoon dat ’n kind se reg op opvoeding ons almal se eerste prioriteit moet wees.
Vraag is: Stel die huidige onderwysstelsel die meerderheid kinders in staat om die beste mens te wees wat hulle kan wees? Die jongste verslag deur die Reading Panel (Netwerk24 2025) toon dat ’n onrusbarende 80% van ons graad 3- en 6-leerders nie met begrip kan lees nie. Die vernaamste rede is dat ’n verstommende 85% van byna 10 miljoen kinders jonger as vier jaar geen toegang het tot vroeëkindontwikkeling nie (Du Preez 2025). Vroeëkindontwikkeling is vir baie lank afgeskeep in Suid-Afrika en ons pluk nou die wrange vrugte daarvan. Daarom verwelkom ek die Bela-wet wat graad R nou verpligtend maak.
Stellenbosch, o Stellenbosch
Ek sal my plig versuim as ek nie iets sê oor my vorige werkgewer, die Universiteit Stellenbosch, nie. Almal wat betrokke is by die US en so entoesiasties deelneem aan die gesprek rondom Afrikaans, kan leer uit Adam Small se versoenende houding. Die oorlewing van Afrikaans hang nie af van wat op Stellenbosch gebeur nie, maar van die vergewensgesindheid van ’n Adam Small wat bereid was om die Hertzogprys te aanvaar dekades nadat hy dit verdien het. Juis daarom moet die US toesien dat jongmense, veral diegene uit agtergestelde gemeenskappe, in ’n taal kan studeer wat hulle bo hul omstandighede laat uitstyg om volledig mens te wees.
Die jeug het die verantwoordelikheid om ook hulle deel te doen. Die universiteit spandeer miljoene rande op hulpbronne om juis hierdie geleenthede te skep. Dit is tyd dat jongmense na vore kom en die ruimtes wat Small vir julle oopgeskryf het, die bladsye in koerante en tydskrifte wat leeg geraak het omdat ons te skaam is om in Afrikaans te skryf, te vul. Dis wat ek op Stellenbosch gedoen het. In ’n see van Engels het ek voortgegaan om in Afrikaans te skryf en publiseer (Le Cordeur 2025). Gaandeweg het die wiel gedraai. Meer mense het respek vir my begin kry en so ook vir Adam Small en vir Kaaps.
Dat Stellenbosch, wat in die verlede bruin en swart studente geweier het (toe Small en later ook ek daar wou studeer), ’n ere-doktorsgraad aan Small toegeken het, was die regte ding om te doen. Dit het die boodskap uitgestuur dat die US onherroeplik verander het. Maties staan vandag vir al die verskillende tongvalle in Afrikaans, ook vir Kaaps. Is dit nie tyd dat die Departement Afrikaans en Nederlands sy naam verander na die Departement Afrikaans en Kaaps nie?
Versoening
Die Hertzogprys, eens so verdelend, het gesorg vir een van die groot versoeningsoomblikke van ons land. Politieke versoening (wat Madiba ons gegee het) is belangrik, maar dis nie genoeg nie. Dit, het Suid-Afrikaners se uiteenlopende reaksie op Donald Trump ons gewys, bring nie eenheid en vrede nie. Wat Suid-Afrika nou nodig het, is intellektuele versoening, wat die filosofie, die kuns en musiek ons bied. Volgens Adam Small (2013) is dit diepsinniger en die grondslag van ware versoening en eenheid.
By die SBA glo ons in die potensiaal van mense en dat elke individu ’n unieke bydrae tot die herstelproses van ons land kan bring. Afrikaans het die vermoë om die unieke vaardighede van elkeen te fasiliteer. Reeds sedert die dae van Autshumato is dit ’n taal van onderhandeling: die taal van vryheid waarin Mandela met PW Botha gepraat het. Dit is ’n akademiese taal en Kaaps is vandag ’n letterkundetaal. Vir ons by die SBA is dit ’n taal van bemagtiging en, in die woorde van Small, is dit ’n taal wat bestem is vir die kitaar wat jy moet sing.
Soos Small, glo ek dat Afrikaans aan almal behoort wat die taal praat, ongeag dialek of tongval. Die onskuld van Namakwa-Afrikaans, die eerlikheid van Griekwa-Afrikaans, die humor van Kaapse Afrikaans, tesame met sy ontronde Bolandse Afrikaans met sy Bolandse bry, is almal boustene van ’n taal wat ons ons eie noem, juis omdat dit ons saambind en nasiebou bevorder. Dit is bewys van jou liefde en respek vir mede-Suid-Afrikaners.
So word Afrikaanssprekendes bemagtig om as Übermensch die beste van hulself te gee in die strewe na ’n verenigde Suid-Afrika.
Bronne
Du Preez, M. 2025. Sewe goed wat jy vandag wil weet. Vrye Weekblad, 25 Februarie.
Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
Le Cordeur, M.L.A. 2008. Moedertaalonderrig steeds die beste. Die Burger, 16 Februarie, bl. 7.
Le Cordeur, M.L.A. 2011. Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit – ’n sosiokulturele perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4).
Le Cordeur, M.L.A. 2025. Die Adam Small lesing gelewer te Pniel. 22 Februarie.
Phosa, M. 1996. Deur die oog van ’n naald. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Small, A. 1962. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM.
Small, A. 2013. Aanvaardingstoespraak by die Hertzogprys.
Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
Lees ook:
SteedsDink met LitNet Akademies: Michael le Cordeur oor sy akademiese navorsing
Kollig op akademikus Michael le Cordeur: Moedertaalonderrig en leesbegrip