In 1925 het Afrikaans die status van ’n amptelike taal in Suid-Afrika verkry. Sedertdien het hierdie taal ’n komplekse pad geloop – van ’n simbool van nasionale identiteit vir sommige, tot ’n embleem van onderdrukking vir ander. Nou, ’n eeu later, staan ons voor die vraag: Hoe moet ons Afrikaans se rol in ons samelewing waardeer?
Vir baie Afrikaners is Afrikaans meer as net ’n kommunikasiemiddel; dit is ’n integrale deel van hul kulturele identiteit. Die taal is oor dekades heen geskaaf en geslyp, vanuit die kombuistaal van die 18de-eeuse Kaap, tot die goed gevestigde taal van akademici en digters. Organisasies soos die Afrikaanse Taalraad, asook talle ander organisasies en individue beywer hulle aktief vir die behoud en bevordering van Afrikaans in ’n land waar meertaligheid hoog aangeskryf word.
Tog is die geskiedenis van Afrikaans nie onbesmet nie. Vir baie Afrikaanse gemeenskappe, veral in die konteks van apartheid, het Afrikaans die taal van onderdrukking en segregasie geword. Die 1976-Soweto-opstande, waar studente teen die verpligte onderrig in Afrikaans geprotesteer het, is ’n blywende herinnering aan die trauma wat die taal vir sommige meebring. Hierdie geskiedenis het ’n merkbare invloed op hoe Afrikaans vandag gesien word.
In die post-apartheidera het Engels die oorheersende taal geword, veral in amptelike kringe en hoër onderwys. Dit het Afrikaans voor uitdagings gestel, aangesien baie jonger sprekers toenemend na Engels as ’n taal van geleenthede kyk. Dit laat die vraag ontstaan of Afrikaans in die toekoms as ’n lewende taal sal voortbestaan, of bloot as ’n kulturele reliek gesien sal word.
Daar is egter ook ’n groeiende erkenning aan die waarde van moedertaalonderrig in ’n meertalige land soos Suid-Afrika. In hierdie konteks is daar ’n pleidooi vir die beskerming en bevordering van Afrikaans, sowel as ander inheemse tale. Taaldiversiteit is ’n bron van rykdom, nie net ’n bron van verdeeldheid nie. Deur Afrikaans te ondersteun, kan ons ’n breër waardering vir ons land se kulturele diversiteit aanmoedig.
Dit is ook noodsaaklik om te erken dat mense die vryheid moet hê om Afrikaans se 100-jarige herdenking op hul eie manier te vier. Sommige sal dit sien as ’n geleentheid om hul taal en kultuur te vier, terwyl ander, gegewe die geskiedenis, verkies om nie deel te neem nie. Albei benaderings moet gerespekteer word in ’n diverse en meertalige samelewing soos ons s’n.
Die viering van Afrikaans se eeu as amptelike taal is inklusief en ons nooi almal uit om hieraan deel te neem. Die vieringe gee erkenning aan die taal se bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing. Om ’n inklusiewe en regverdige toekoms te bou, is dit noodsaaklik om die volle omvang van Afrikaans se geskiedenis te erken en te waardeer en om bewus te wees van al die verskillende invloede, gebruike en veranderinge wat die taal oor tyd gevorm het. Wanneer die heelheid van ons taalgeskiedenis erken word, beteken dit dat ons die bydraes en ervaringe van alle groepe en gemeenskappe wat die taal gebruik of beïnvloed het, in ag neem. Hiermee gee ons erkenning aan die inklusiwiteit en respek vir die diverse gemeenskappe wat die taal gevorm het en steeds vorm.

