Ek is gevra om my mening te gee oor die impak wat Solidariteit en AfriForum se onlangse optredes (na aanleiding van die Amerikaanse president se aanbod dat verdrukte Afrikaners na die VSA kan “vlug”) op Afrikaans kan hê. Ek skets net eers kortliks die konteks wat hier ter sake is en gee dan my mening daarna.
Net vir die rekord: Ek het ’n loopbaan in diens van Afrikaans deurgebring en ek weet goed wat die stand van sake in die Afrikaanse gemeenskap is. Daarom my paar gedagtes oor iets wat my na aan die hart lê. Ek besef goed die reaksie op my insette sal uiters negatief wees, en dit is mense se goeie reg om anders as ek te dink. Maar staan net ’n oomblik terug en dink oor die gevolge van keuses. Dit is nie altyd opbouend nie. Inteendeel.
Die konteks
Diegene wat daagliks belangstel in wat om hulle aangaan, is goed op hoogte van die krisis wat die nuwe Amerikaanse regering sedert 20 Januarie teweeg gebring het. Dit is kwalik ses weke, maar ses weke wat die wêreld se politiek geskud het weens die lukrake en oningeligte besluite in optredes deur leiers wat pas aan bewind gekom het.
Van die besluite het ook oorgespoel na Suid-Afrika en ons land behoorlik geskud.
Daar is al uit talle hoeke geskryf oor wat sommige mense die AfriSol-debakel (AfriForum en Solidariteit) noem. Lanklaas het een tema die land se nuusblaaie, die media, asook sosiale media so oorheers. So ’n debakel het egter nie net direkte gevolge nie, maar ook indirekte gevolge, in hierdie geval vir ons taal Afrikaans, die primêre taal van die mense oor wie dit in hierdie krisis gaan. Dit is waaroor ek skryf in hierdie artikel. En ek skryf met groot kommer in my hart hieroor.
Die agtergrond van die krisis is bekend: Die nuwe Amerikaanse president het geoordeel dat Afrikaners onderdruk word in Suid-Afrika en toe aangekondig dat hy stappe teen die land gaan onderneem om dit teen te werk. Dit het voorspelbaar woedende reaksies uit talle hoeke ontlok en dit is ten sterkste afgekeur deur bykans alle SA politieke partye. Van die partye se leiers het behoorlik vuur gespoeg omdat die indruk gewek is dat Afrikaners nie deel wil wees van die SA samelewing ná 1994 nie.
Dit was weer wit teen swart en bruin, soos in die tyd van apartheid. Verwyte is rondgeslinger, skelwoorde het gevloei, dreigemente is gemaak uit verskeie hoeke, humeure het ontplof. Die woorde “verraaiers” en “hoogverraad” is gebruik om die gevoel te verwoord oor hoe ander landsinwoners voel teenoor die Afrikaners.
Die voor- en nadele van trump (kleinletter) se bedenklike en oningeligte optrede is emosioneel en polities beredeneer. Veral die aanbod dat Afrikaners hulself as vlugtelinge in die VSA kan gaan vestig as hulle verdruk voel, het kwaai reaksie ontlok. Afrikaners is daarvan beskuldig dat hulle hulself as ’n spesiale groep beskou wat nie regtig deel wil wees van die samelewing wat ná 1994 in die land tot stand gekom het nie.
Afrikaners is kort voor lank (weer) as rassiste geëtiketteer, soos in die tyd voor 1994, en daarvan beskuldig dat hulle apartheid wil terugbring. Wit mense, veral wit Afrikaanssprekendes, het opnuut onder vuur gekom, en hulle is weer eens in hokkies geplaas. Veral diegene wat Afrikaans praat, is met ’n breë kwas gesmeer as dislojaal teenoor die land waar hulle geskiedenis lê en waarvan hulle al sedert die middel van die 17de eeu deel is.
Wit en Afrikaans en rassiste is weer in dieselfde sin gebruik. Bykans ondenkbaar vir soveel wit Afrikaanssprekendes wat heel gemaklik in die land is en ook vir hulself geen ander tuiste sien nie. En ook reeds volledig ingeskakel het by die leefwyse in die nuwe Suid-Afrika, ten spyte van kommer oor die agteruitgang van die land op soveel vlakke. Dit hoef ek nie eens te noem nie, omdat dit bekend is wat dit behels.
Daar is selfs aangevoer dat dit net wit Afrikaners is wat ongelukkig is oor die agteruitgang van die land onder die ANC-regering se power bestuur van die land. Dit is natuurlik nie waar nie, soos blyk uit die verkiesing van 2024 wat tot ’n RNE-regering gelei het.
In hierdie proses het die uitstaande werk wat Solidariteit en AfriForum oor jare in die belang van die Afrikaanse gemeenskap in die besonder, en ook die Suid-Afrikaanse samelewing in die algemeen, gedoen het, skielik in die vergetelheid geraak. Beide organisasies was in die verlede met hulle insette, projekte en hulle effektiewe gebruik van befondsing ’n voorbeeld vir ander organisasies hoe te werk gegaan moet word om werklik ’n verskil te maak daar waar hulle kan. Maar skielik is dit alles vergeet en net die negatiewe word onthou. Die etikette is blitsvinnig om hulle nekke geplaas. Hulle reaksie dat van die terugvoer blote “histeriese” geluide is, dra by tot die etiketvorming.
Op ’n persoonlike vlak is dit vir my hartseer omdat ek soveel van die bestuurslede van die organisasies goed ken, groot waardering vir hulle het en in die verlede met hulle aan talle saakmakende projekte saamgewerk het. Dit wat ek hier beredeneer, is nie op hulle as individue gemik nie, maar op die impak wat die gebeure wat hier genoem is, op die beeld van die organisasies wat hulle bestuur en op Afrikaans as gevolg van die gebeure kan hê.
Die vet was nog meer in die vuur toe ’n afvaardiging van die twee organisasies in aller yl die oseaan oorgesteek het om in die VSA met amptenare van die regering daar te gaan praat oor wat die Amerikaanse regering kan doen om druk op die SA regering (in die besonder die ANC-deel van die regering) te plaas om die situasie om te keer.
Foto’s van die lede van die afvaardiging voor die kapitool (Capitol) in Washington is trots vertoon. Dit is dieselfde gebou waar die opstand op 6 Januarie 2021 die wêreld geskud het toe die posbekleër (juis die een wat die uitnodiging aan die Afrikaners gerig het) nie wou erken dat hy die verkiesing verloor het nie. Die gevolg was chaos en ’n erge polarisering in die Amerikaanse gemeenskap. Sommige het die kragdadigheid gekoppel aan die neem van die foto juis daar toegejuig, en ander was met reg uiters ontsteld, waaronder talle wit Afrikaanssprekendes. Uit ANC-, EFF- et al geledere is die foto’s as vertoon van mag ervaar. Daar is nie mooi gedink hieroor nie.
Tot sover die konteks. Dit is duidelik dat die wêreld van Afrikaanssprekendes omver gegooi is en dat die genoemde twee organisasies direk hierby betrokke is.
Die impak van die gebeure op Afrikaans
Een van die mees definiërende elemente rakende Afrikaners is dat hulle Afrikaans praat. Ek wil nie betrokke raak by die debat oor wie en wat ’n Afrikaner is nie. Daar is ander ruimtes daarvoor.
Die fokus wat nou op Afrikaners as groep val, raak ongelukkig ook die taal Afrikaans. En beslis nie positief nie. Dit is die Afrikaners se daaglikse gebruikstaal, die een waarmee die gedagtes van die groep verbind word. Die negatiewe vuur wat die Afrikaners as groep die afgelope paar weke getrek het, maak klaarblyklik die beeld van Afrikaans baie seer. Daaroor kan geen twyfel wees nie.
Die assosiasie van Afrikaans, selfs al is dit nie doelbewus nie, met uitsluiting roep herinneringe op van ’n tyd wat ’n mens gehoop het nie weer sal opkom nie. Dit is juis bykans 50 jaar ná Soweto 1976. Die pyn van hierdie tyd lê diep en kan nie vergeet word nie. Die woede wat die herinnering oproep, is iets wat beslis kon gebly het. As ’n mens luister na terugvoer uit die nie-Afrikaanse gemeenskap, en ook uit die bruin en swart Afrikaanse gemeenskappe, is dit ook duidelik dat Afrikaans wéér hier die spit gaan afbyt.
Dit is waarskynlik so dat die emosie wat met die Amerikaanse president se optrede gepaard gegaan het en die positiewe reaksie van die Afrikanergemeenskap daarop, spontaan was en dat die gevolge nie bereken is nie. Dit was eerder ’n geval van “ons as gemeenskap is onder druk” en hier kom die magtige Amerikaanse president met ’n aanbod wat te goed vir woorde is. Dit dien as regverdiging om die hand van die verlosser aan te gryp. Die res is geskiedenis. Ongelukkig.
Afrikaans het ’n verlede, hede en volgens beplanning ook ’n toekoms. Dit wat soveel mense van die verlede onthou, hou verband met minderwaardigheid en die afdwing daarvan in Afrikaans deur oorwegend wit Afrikaanse mense. In die hede het Afrikaans danksy die bydraes van soveel Afrikaanse mense en ook hulle direkte betrokkenheid by die opbou van die SA samelewing, ’n beeld van welwillendheid, van ’n strewe om deel van die unieke SA eenheid te wees. Weens die optredes van die afgelope tyd het vertrouensverhoudinge van meer as 30 jaar seergekry en daarmee saam die assosiasie met Afrikaans as taal van die opstandige Afrikaners bevestig. Dit gaan onvermydelik ook ’n impak op Afrikaans se pad vorentoe hê.
Die groei of kwyn van ’n taal word bepaal deur ’n klomp faktore, waaronder demografie (dat die sprekersgemeenskap nie net getalsgewys toeneem nie, maar ook meer divers in gebruik is); die verlies of bykry van funksies (dit wat daagliks met die taal gedoen word, as taal van onderwys, van regspraak, van werk, van ekonomie, ensovoorts); en ook die beeld wat nie-sprekers van die taal het (is kontak met hulle aangenaam of stoot hulle mense af?).
Hierdie hele debakel het veral die beeld-faktor beklemtoon. Dit wil sê, die persepsie wat mense het oor die sprekers van die taal. Dit is dié faktor wat die langtermynaanvaarding van Afrikaans en die sprekers van die taal kan bepaal. En dit verg optrede van mense wat belang het by die toekoms van Afrikaans.
Dit is daarom belangrik om die boodskap deur te kry na ander taalgroepe: Alle (veral wit) Afrikaanssprekendes dink nie soos diegene wat hulself as Afrikaners beskou nie. Daar is ook ander Afrikaanse stemme wat heel tuis in Suid-Afrika is, ongeag die talle gebreke en self-gemaakte krisisse waarmee die land daagliks te doen het.
Ons almal weet die ANC het die land geweldige skade aangedoen, en ons weet die ANC soek iemand op wie hulle die skuld vir hulle onvermoë, korrupsie en swak regering kan pak. Gelukkig vir hulle kom bied die AfriSol-groepering hulself hiervoor aan. ’n Godgegewe geskenk. Maar die manier van doen het niemand gebaat nie. Suid-Afrikaners gaan anders te werk.
Ons weet ons moet in moeilike omstandighede die land laat werk, maar hierdie mate van polarisasie gaan ons nie vorentoe neem nie. Ook nie Afrikaans nie.
Daarom, om die skrywer Jeanne Goosen aan te haal: “Ons is nie almal so nie.” Oftewel: Daar is talle Afrikaanssprekendes wat heel tuis voel in die land en hier gaan en wil bly. Al is dit ’n cliché, moet die impak van persepsies hoegenaamd nie onderskat word nie.
Ek sluit daarom aan by Christo van de Rheede se soort Afrikaans en sy soort Afrikaanse gemeenskap:
My Afrikaans sê hou verby, asseblief. Want dit vind eerder aanklank by ’n nierassige Afrikaanse smeltkroes wat eerder omarm as uitsluit, eerder verruim as wegstoot, eerder verenig as verdeel, eerder bevraagteken as slaafs navolg en wat sonder twyfeling voorspraak maak vir die waardes van die Grondwet en skeppend daarmee omgaan om van Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak. My Afrikaans kan!
*
Hierdie dokument is uit eie beweging deur die skrywer voorgelê ná ’n versoek van LitNet. Dit verteenwoordig nie noodwendig die siening van enige instansie waarby hy betrokke is nie.
Lees ook:
Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe
Afrikaans se nuwe grense: Ingrid Jones se visie by die 21ste Johan Combrink-gedenklesing
Kommentaar
Waarom mag wit Afrikaners hulle nie beywer vir die uitbou van hulle eie taal en kultuur nie? Wat baat 'n hooghartige, stilswyende, passiewe, gatlekkende houding ons? Dit is juis hierdie mentaliteit wat ons in die toestand, wat ons nou is, laat beland het.
Ons word uit ons skole, universiteite en leefruimtes verdring, maar ons mag die kanker nie probeer teenwerk nie, dan gee ons aanstoot. Geleenthede wat soos 'n paar krummels op ons pad kom, mag nie gebruik word nie, want die elite se slaphandjies moet skoongehou word, want hulle "is nie almal so nie".
Ons word nou met 'n skeldnaam "Afrisol" gebrandmerk. Dan maar liewer dit, as 'n afridrol.