Dinkskrum: Is die eenheid in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) op valse optimisme gebou?

  • 1

  • Jason Lloyd skryf ’n nuwe rubriek vir LitNet

In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal. 


Die regerende koalisie van die DA-ANC, wat onvanpas as ’n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) bestempel word, het pas hul eerste 100 dae van regering voltooi nadat die ANC op 29 Mei vir die eerste keer sedert 1994 hul meerderheid in die nasionale en provinsiale verkiesings verloor het.

Die eerste 100 dae is gewoonlik enige administrasie se maatstaf van wat die beleidsplatform en praktiese rigting van so ’n regering tydens sy ampstermyn sal wees.

.........
Die eerste 100 dae is gewoonlik enige administrasie se maatstaf van wat die beleidsplatform en praktiese rigting van so ’n regering tydens sy ampstermyn sal wees.
............

Ironies genoeg het president Cyril Ramaphosa die RNE geloof en gesê dit moet gemeet word aan die impak wat dit op die mense se lewens het.

“Die RNE moet nie beoordeel word op grond van die oriëntasie van die partye wat deel daarvan is nie. Dit moet gemeet word aan die impak wat dit gaan hê op die lewe van arm en werkersklas-Suid-Afrikaners,” het Ramaphosa gesê.

Hier begaan die President ’n fundamentele denkfout, want al die politieke partye wat in die RNE dien, moet deurentyd op ’n individuele grondslag deur die media en politieke kommentators beoordeel word, want daar bestaan byvoorbeeld tussen die ANC en sy sosialistiese alliansievennote aan die een kant en tussen die DA en Vryheidsfront Plus aan die ander kant fundamentele ideologiese en beleidstandpunte. So ook moet die RNE as ’n kollektiewe staatsorgaan geweeg en gemeet word.

...........
Die maatstawwe vir goeie regering behoort die verbetering van dienslewering, sosio-ekonomiese toestande en die lewenskwaliteit van burgers te wees, nie leë lofsange en stories van leë eenheid onder politieke opportuniste wat geen wesenlike uitwerking op gewone mense het nie.
.............

Die maatstawwe vir goeie regering behoort die verbetering van dienslewering, sosio-ekonomiese toestande en die lewenskwaliteit van burgers te wees, nie leë lofsange en stories van leë eenheid onder politieke opportuniste wat geen wesenlike uitwerking op gewone mense het nie.

Die jongste skandaal van die RNE is Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, asook leier van die Patriotiese Alliansie (PA), se vermorsing van sowat R800 000 belastinggeld wat hy geblaas het om die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk by te woon.

Die volle bedrag is R804 597 en is op vlugte (R215 976,36), verblyf (R113 271), grondvervoer (R454 005), en verblyf- en reistoelae (R20 745,72) geblaas.

McKenzie se vermorsing van belastinggeld is nogal ironies, want kort ná sy aanstelling in die kabinet het hy aangekondig dat hy die sogenaamde superfans (wat onder andere Mama Joy ingesluit het) sal keer om oor die wêreld heen te reis om Suid-Afrikaanse spanne op belastinggeld te ondersteun.

“Ek het alle reise vir superaanhangers gestaak, want ons het atlete en kunstenaars wat sukkel om geld in te samel om sportbyeenkomste en uitstallings by te woon. Hoe regverdig ons om vir aanhangers te betaal. Ons sal nie meer vir hierdie reise betaal nie en sal daardie geld gebruik waar dit die nodigste is,” het McKenzie op X geskryf.

Die vraag is hoe word McKenzie ernstig opgeneem, omdat hy nou al berug is vir sy onintellektuele, onsamehangende en ongenuanseerde grootpratery. Hy belowe net, maar op die praktiese kant misluk hy of doen in elk geval niks nie.

Nog ’n skande vir die RNE is die Sunday Times se onthulling die ander dag dat die vergrote kabinet die belastingbetaler meer as R600 miljoen gaan kos elke jaar.

Die nasie, en selfs politieke partye soos die DA, was geskok toe Ramaphosa na die verkiesing 32 ministers en 43 adjunkministers aangestel het nadat daar verwagtinge was dat die kabinet eerder verklein sou word om koste te bespaar.

Al die ministers en adjunkministers het groot getalle personeel in hul private ministeriële kantore. Dis die salarisse van hierdie ministers, adjunkministers en hul personeel wat die belastingbetaler oor die R600 miljoen elke jaar gaan kos.

Boonop het verskeie ministers, insluitend die DA-leier en minister van landbou, John Steenhuisen, Pemmy Majodina, minister van waterwese en sanitasie, en Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, die minister van staatsdiens en administrasie, Mzamo Buthelezi, versoek om van die minimum vereistes af te wyk in die aanstel van personeel in ministers en adjunkministers se private ministeriële kantore.

Dit terwyl die ministeriële handboek duidelik stipuleer watter akademiese kwalifikasies en ondervinding personeel vir die onderskeie poste in private ministeriële kantore moet hê. Steenhuisen, Majodina en Mantashe se versoek is nie deur Buthelezi toegestaan nie, omdat die personeel wat hulle wou aanstel, nie die nodige kwalifikasies of ondervinding gehad het nie.

Die gerespekteerde ekonoom Duma Gqubule het die RNE onlangs afgemaak as net so nikswerd en niksseggend as Ramaphosa se sogenaamde new dawn (of new yawn) wat intussen ’n muis gebaar het.

...........
Die gerespekteerde ekonoom Duma Gqubule het die RNE onlangs afgemaak as net so nikswerd en niksseggend as Ramaphosa se sogenaamde new dawn (of new yawn) wat intussen ’n muis gebaar het.
..............

Vanuit ’n ekonometriese oogpunt het hy die “new dawn” afgeskiet as “optimism which is based on intangibles that cannot be measured”.

Gqubule looi die RNE verder deur te skryf: “In South Africa, six years after Ramaphoria fizzled, the same people who brought us the ‘new dawn’ are trying to convince us that all we need is government of neoliberal unity ‘GNU’ vibes to revive the economy after 16 years of declining living standards.”

Hy skryf dat die media en die sakegemeenskap probeer om ’n konsensus te skep dat die "elite verdrag" tussen partye wat 30% van stemgeregtigde kiesers verteenwoordig, gewild en goed is vir die ekonomie.

“They are using ‘fake economy’ statistics to create a dangerous illusion that ‘GNU’ vibes alone can create jobs. The signing of the elite pact on June 14 coincided with a pivotal turning point in the world economy when it became clear that the US Federal Reserve (Fed) would start a new cycle of cutting interest rates.”

Wanneer die Fed koerse verlaag, verswak die magtige dollar gewoonlik en meer kapitaal is geneig om na ontluikende markte te vloei. Van 14 Junie tot 10 Oktober het die JSE se indeks van alle aandele met 10,8% gestyg, maar die MSCI-indeks vir opkomende markte het ook met 7,4% gestyg.

Gqubule noem ’n belangrike punt deur te skryf: “Let us not forget that almost 80% of the assets of JSE listed companies have nothing to do with the South African economy. The rand appreciated 5,1%, but that is what usually happens when the dollar weakens.”

En dan plant Gqubule die uitklophou vir die RNE: “A strong currency does not necessarily reflect a strong economy. It tends to reduce net exports, the fourth component of GDP, together with consumption, investment and government spending.

“The rand movements have very little to do with the performance of the South African economy. If one looks at real economy indicators, the short-term outlook is bleak and there are five ominous signs that things are getting worse.

“The number of unemployed people increased by 718 000 during the first two quarters of 2024, which is much higher than the forecast of economists for the whole year of about 400 000. The economy has shed 71 000 jobs since the start of 2024 which is worse than the forecast that the economy would create 150 000 jobs during 2024.”

Gqubule noem dat die konstruksiebedryf sedert die begin van die jaar 118 000 poste verloor het.

“There have been four consecutive quarters of declining gross fixed capital formation, a measure of investment. Finally, more than 17 million people applied for the R370-a-month social relief of distress grant in September. This included 945 000 people who had tertiary qualifications.”

Nog ’n kopseer van die RNE is die besuinigingsmaatreëls in basiese onderwys. Duisende onderwysers gaan moontlik hul werk verloor. Skole se vervoer- en voedingsprogramme gaan moontlik ook gesny word. Dit gaan duisende arm skoolkinders van vervoer en moontlik die enigste maaltyd wat hulle daagliks geniet, beroof. Dit gaan verder bydra tot ongeletterheid en kroniese armoede.

Nog ’n moontlike struikelblok vir die RNE is die Bela-wet en die kwessie van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Die DA het reeds aangedui dat hulle sterk gekant is teen die twee stukke wetgewing in hul huidige formaat. Die groot vraag is of die DA en die Vryheidsfront Plus gaan onttrek aan die RNE indien dié wetgewing in die huidige formaat geïmplementeer word.

McKenzie het voor die verkiesing die Bela-wet afgemaak as “duiwels”, maar ek twyfel of hy sy woord gestand gaan doen en aan die RNE sal onttrek. Hy is per slot van rekening die aspoestertjie van die Suid-Afrikaanse politiek wat hom toenemend soos ’n voorbeeld van die “jollie hotnot” gedra waarna Jakes Gerwel in sy doktorale verhandeling, “Literatuur en apartheid” (1979), verwys.

Op die ou end gaan alles tog oor die “economy, stupid” soos oupresident Bill Clinton dit in die aanloop tot die Amerikaanse presidentsverkiesing in 1992 gestel het, waarin hy die nou ontslape oudpresident George HW Bush verslaan het. Clinton se advies strook met die basiese fundamentele beginsels van ’n markgerigte ekonomie (waarin vraag en aanbod koning kraai) soos dit vervat is as ’n georganiseerde wetenskap in die Skotse ekonoom Adam Smith se The wealth of nations van 1776.

Suid-Afrika het beduidende ekonomiese groei onder die makro-ekonomiese beleid van GEAR (Growoth, Employment and Redistribution) tussen 2000 en 2007 gedurende die termyn van oudpresident Thabo Mbeki gehad. Trouens, tussen 2003 en 2008 het die ekonomie elke jaar ’n surplusgroei van 5% getoon.

So hoe keer ons weer terug na die ekonomiese groeipatrone van tussen 2000 en 2007? Dit sal net bereik word deur volhoubare ekonomiese groei van ongeveer 5% per jaar en vyf miljoen werksgeleenthede oor die volgende dekade. Die fondasie van die ekonomie en ook die strukturele gebreke daarin sal eers reggemaak moet word.

Dit lyk egter of die lewe in Suid-Afrika eers swaarder gaan word voordat dit beter gaan word. Krities denkende ekonome voorspel niks goed vir die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die volgende drie jaar nie.

Dit beteken dat daar nog drie jaar van dalende BBP per kapita sal wees. Nedbank voorspel selfs jaarlikse BBP-groei van net 1,3% oor die volgende drie jaar.

Die vraag wat nou by my opkom, is of Gqubule reg is wanneer hy die RNE beskryf as ’n sandkasteel wat in duie sal stort omdat dit nie ’n sterk grondslag het van ’n geloofwaardige plan om die reële ekonomie te laat groei en werk te skep nie.

Lees ook:

Die nuwe kabinet: Hoe lank gaan die RNE hou?

Regering van Nasionale Eenheid se toekoms in gedrang oor Bela-wet

’n Regering van nasionale eenheid en die pad vorentoe

  • 1

Kommentaar

  • Die RNE is seker maar iets tussen 'n koalisie en 'n RNE. Dis nie vergelykbaar met die RNE van 1994 nie, maar ook nie 'n volslae koalisie nie. Vir Ramaphosa is dit 'n goue geleentheid om van sy opponente ontslae te kon raak binne sy party. Die ANC het daarby ook nie enige van die werklike belangrike portefeuljes vir die ander partye gegee nie. Die sleutels soos: Finansies. Ekonomiese ontwikkeling. Polisie. Sekuriteit. Dit is die departmente wat die ekonomie gaan kniehalter en die land op die ou trajek gaan hou. Onderwys, landbou, binnelandse sake en korrektiewe dienste is ook wel belangrik, maar die ANC was waarskynlik gretig om dit weg te gee, omdat die ANC so hulle onoplosbare kopsere vir iemand anders kon gee. So die ANC sal kan voortgaan om in te meng en ingewikkelde arbeidsbeleide daar te stel wat die land onaantreklik maak vir beleggers. Eintlik word beleggers van buite mos as 'n ongewensde ding gesien in sogenaamde "progressiewe" politiek. Behalwe nou wanneer daar verduidelik moet word hoekom elke kommunistiese staat faal, dan is dit weens "boikotte van die Weste". Mens wonder wie gaan vir Ramaphosa opvolg, en of daardie persoon eerder 'n koalisie met die EFF en die MK sal verkies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top