’n Regering van nasionale eenheid en die pad vorentoe

  • 0

Opsomming

Die uitkoms van die 2024-verkiesing het nie net as ’n skok vir talle politici en akademiese ontleders gekom nie, maar het ’n vorm van koalisieregering (nasionaal en in sekere provisies) boonop noodwendig gemaak. Die politieke keuses van die ANC as meerderheidsparty na afloop van die verkiesing is gemotiveer deur die uitkoms van die verkiesing, sowel as ’n poging om sover moontlik politieke beheer (lees mag) te probeer behou. Hoe meer partye betrek kon word, hoe meer kon die ANC daarin slaag om politieke beheer te behou. Teen die agtergrond van waarskynlik die grootste politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings sedert 1994, het die regering van nasionale eenheid (RNE) tot stand gekom. Met sowat 10 partye betrokke, kon die ANC daarin slaag om die invloed van die DA (die grootste opposisieparty wat deel is van die RNE) tot ’n minimum te beperk. Groot weerstand teen die RNE het gekom vanuit die familie van die ANC (lees SAKP, COSATU en die ANC self), asook van ’n nuwe politieke formasie, die Progressiewe Alliansie, wat ná die verkiesing tot stand gekom het. Met as fokus die RNE en die pad vorentoe beklemtoon hierdie bydrae die talle uitdagings waarvoor laasgenoemde te staan gekom het, en die pad vorentoe. Die gevolgtrekking is dat ongeag die talle uitdagings waarna verwys word, dit in Suid-Afrika se beste belang is om ’n sukses van die RNE te maak en dat ander scenario’s ongetwyfeld slegter uitkomste sal oplewer.

Trefwoorde: 2024-verkiesing; koalisieregering; regering van nasionale eenheid (RNE); Progressiewe Alliansie; uitdagings; nasionale dialoog; transformatisme.

Inleiding

Met die winde van politieke verandering wat sedert die Ramaphosa-oorname binne die ANC (2017–2019) begin waai het, die geweld van Julie/Augustus 2021 in KZN en die uitslag van die 2021-plaaslike regeringsverkiesing (met bykans 70 hangrade as uitkoms), het groot afwagting geheers vir die 2024-nasionale en provinsiale verkiesings. Ongeag talle voorspellings (langer as ’n jaar voor die verkiesing is ’n dramatiese steunverlies vir die regerende party reeds voorspel) het talle politici (en sommige analiste) vas geglo dat die ANC weer eens ’n volstrekte meerderheid sou kon behaal. Hierdie aanname kon korrek gewees het indien die MK-party nie ’n stokkie hiervoor gesteek het nie. Die uitkoms van die verkiesing, waarin die ANC slegs 40,2% steun vir die party kon verenig, die MK-party met ’n stewige bykans 15% en gevestigde partye wat meestal onder hul beste presteer het, het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse politieke landskap gestuur. Nie net is die eenpartydominansie van die ANC oor die laaste 30 jaar beëindig nie, maar die trajek van ons demokrasie is herdefinieer en ’n nuwe en veranderende politieke omgewing het die nuwe interpretasie van bestaande politieke spelreëls geëis, selfs die behoefte aan nuwe politieke spelreëls. Bogenoemde het verder plaasgevind teen die agtergrond van groterwordende politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar – die grootste sedert 1994.

In ’n makro-omgewing van patrone van politieke onstabiliteit en geweld; eskalerende misdaadpatrone; endemiese korrupsie; beperkte ekonomiese groei en groterwordende werkloosheid; onderpresterende owerheidstrukture; en talle maatskaplike uitdagings, is goeie, stabiele en sterk regering nie onderhandelbaar nie. Die strategiese skuif van die ANC om die opsie van ’n regering van nasionale eenheid (RNE) op die tafel te plaas (en om alle partye uit te nooi om deel daarvan te word) het as doel gehad om deur middel van verdeling van mag, goeie plasing van individue van diverse partye (wigte en teenwigte) en sonder die afstaan van strategiese portefeuljes, soveel moontlik mag, beheer en invloed te probeer behou. Hoewel die ANC die verkiesing verloor het, het hulle die onderhandelinge vir veral die samestelling van die kabinet grootliks gewen en is die ANC-regering myns insiens stewiger in die saal as wat hulle sowat 40% steun (indien dit streng proporsioneel bereken sou word) moes oplewer. In ’n omgewing van groot politieke onsekerheid en nuwe spelreëls en toepassings, het die RNE afgeskop soos ’n dieselenjin op ’n wintersoggend in die Vrystaat. Dit was gou duidelik dat rolspelers groot aanpassings sou moes maak en dat die RNE allermins deur alle rolspelers aanvaar en ondersteun word. Kritiek vanuit die ANC-familie ten opsigte van samewerking met veral die DA en VF Plus het vanuit verskeie oorde opgeklink en daartoe gelei dat die Progressiewe Alliansie die RNE, Ramaphosa, “apartheidspartye” en “wit monopolie-kapitaal” tot vyand nommer een verklaar het.

Nouer samewerking tussen die MK-party en die EFF was ook aan die orde van die dag te midde van nuwe inligting ten opsigte van beweerde staatskaping/endemiese korrupsie waarin veral die EFF (maar ook Jacob Zuma en vooraanstaande lede van die ANC) geïmpliseer word. (Die fokus was hier veral op die VBS Bank-ondersoek, maar ook ander sake waarvan sommige ’n lang aanloop gehad het en wat dateer uit ondersoeke wat met beweerde staatskaping, korrupsie en verwante praktyke te make het, wat senior ANC-leiers en amptenare – waaronder Jacob Zuma – insluit.) Stemme het ook opgeklink vir die herondersoek van die Phala Phala-aangeleentheid, wat die huidige president Ramaphosa direk impliseer.

Regering van nasionale eenheid

Met ’n lang geskiedenis van eenpartydominansie in Suid-Afrika (Nasionale Party 46 jaar en die ANC 30 jaar) is die nuwe politieke spelreëls verbonde aan koalisiepolitiek, veral uitgebreide koalisies soos die huidige RNE, ’n werklikheid, en noodsaak die doelmatige en gereguleerde bestuur hiervan. Die verdeling van die spreekwoordelike “politieke buit” (posisies en voordele vir partye binne die RNE); samewerking ten opsigte van sake waaroor daar fundamentele ideologiese verskille bestaan; leierskaprolle en kwessies (kan Cyril Ramaphosa hierdie politieke skip bestuur?); reaksies van buite en van die ondersteunerskorps van deelnemende partye, is van die belangrike kwessies wat in orde moet wees om ’n funksionerende RNE te verseker. Meer belangrik is egter dat alle politieke rolspelers hulle moet verbind tot ’n nuwe stel spelreëls (tans nog nie duidelik en volledig geformuleer nie), en die dienooreenkomstige optrede van sodanige spelers. Hoewel ooreenkomste in hierdie verband bestaan, sowel as verbintenisse tot sake soos die erkenning van grondwetlike beginsels, die oppergesag van die reg en die toepassing van goeie regeerkundige beginsels, is talle sake tans nog nie opgeklaar nie en sal voorlopig ten beste op ’n grondslag van konflikbestuur (nie resolusie nie) hanteer moet word. Dít in ’n tyd waar sterk en duidelike leierskap nodig is en waarin die RNE daadwerklike leiding moet neem om talle strategiese politieke, ekonomiese en maatskaplike kwessies te hanteer. Bogenoemde kwessies beteken nie net die normale beheer en administratiewe bestuur van staatsaangeleenthede en -pligte nie, maar verwys ook na strategiese kwessies soos die inploffing van dienslewering op veral (maar nie uitsluitlik nie) plaaslike vlak; die hantering van staatskaping en endemiese korrupsie, tesame met die implementering van die Zondo-verslag wat talle invloedryke politici van veral die ANC impliseer; grensbeheer en onwettige immigrante in samehang met xenofobiese geweld wat telkens opduik; ’n stagnerende ekonomie wat vir ’n dekade of meer baie beperk (soms negatief) gegroei het; die vlug van kapitaal na die buiteland en onwilligheid om hier te investeer; en maatskaplike vraagstukke wat insluit armoede, ongelykheid en werkloosheid. Laastens, maar nie die minste nie, is uitgebreide politieke en institusionele verval, in die besonder die inploffing van die strafregstelsel en die agteruitgang van wet en orde wat daarmee gepaard gaan.

Wat duidelik is, is dat die transformatisme (die oorhoofse ideologie van die ANC) nie werk nie; dat fundamentele politieke, ekonomiese en maatskaplike hervorming dringend nodig is; en dat die RNE uiters belangrike leiding sal moet neem. Die noodsaak vir fundamentele verandering enersyds, maar ook en veral die reële en potensiële weerstand wat hieruit kan voortspruit andersyds, sal suksesvol deur die RNE aangepak en doelmatig bestuur en hanteer moet word. Hierdie aspek spreek nie net tot die hart van ons demokratiese bestel nie, maar ook ten opsigte van groter staatkundige stabiliteit en die handhawing daarvan.

Die Progressiewe Alliansie met die EFF en die MK-party as kernrolspelers handhaaf ’n duidelike anti-stelselposisie, met uitsprake soos die verwerping van die grondwet en die Romeins-Hollandse reg as grondslag van die huidige Suid-Afrikaanse regstaat. (Korrupsie en staatskaping word hierdeur geregverdig deur ’n anti-koloniale sentiment te beklemtoon!) Gevolglik is dit geen geringe taak wat geplaas is op die soms wankelrige skouers van die president, met inbegrip van die breër leierskap van die RNE binne hierdie konteks en tydraamwerk nie!

Partypolitieke hersamestellings

Nie net het die uitkoms van die 2024-verkiesing ’n vorm van koalisieregering onafwendbaar gemaak nie, maar ook gelei tot ooreenkomste tussen voormalige politieke opponente en die totstandkoming van die RNE. Nuwe opposisie-formasies en ’n nuwe amptelike opposisie het ook in die proses die lig gesien. Die struktuur van die hersamestelling nasionaal is nietemin in heelwat gevalle nie belyn met dít wat op provinsiale vlakke (lees KZN en Gauteng) en op talle plaaslike vlakke (veral sedert die 2021-plaaslike verkiesing) aan die orde was nie. Hierdie asimmetrie hou die moontlikheid in van konflik en onstabiliteit van stelsels, waarvan die situasie in talle metropole en sommige plaaslike owerhede reeds getuienis is.

Lesufi (die premier van Gauteng) se weiering om aan die DA proporsionele verteenwoordiging in die betrokke provinsie te gee, en pogings van die ANC om DA-geleide metropole polities te ontsetel, skep reeds spanning en konflik en wys op die broosheid van alle koalisies op alle vlakke (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) waar magspolitiek, opportunisme en selfverryking ten grondslag lê van patrone van onstabiliteit en ’n gebrekkige vermoë om noodsaaklike en verantwoordelike besluite te neem. Op plaaslike vlak het talle metropole sedert die 2021-plaaslike verkiesing ernstige onstabiliteit ervaar, onder meer as gevolg van onstabiliteit van die regering, en daar was ’n onvermoë om noodsaaklike en belangrike besluite te neem.

Om die vure van die reeds bestaande uitdagings waarmee koalisies op alle vlakke te make het, verder te stook, het die Progressiewe Alliansie die RNE, die “Ramaphosa-ANC” en “wit rassistiese partye” (ondersteun deur “geldmagte”) as vyand nommer een verklaar. Strategieë ter ontwrigting van werksaamhede op talle vlakke; samewerking met die EFF as strategiese bondgenoot van die MK-party; sterk anti-stelsel-oriëntasies waarin die grondwet, die oppergesag van die reg en die grondbeginsels van die Romeins-Hollandse reg bevraagteken word, vorm die uitgangspunt van opponente van die RNE – veral aan die linkerkant van die politieke spektrum. Laasgenoemde moet saamgelees word met die bedreiging wat korrupsie-ondersoeke vir politieke elite inhou, waaronder Jacob Zuma, maar ook die VBS Bank-ondersoek vir Julius Malema en Floyd Shivambu – om nie eens te verwys na talle ANC-elite wat deur die Zondo-kommissie van ondersoek geïmpliseer word nie.

Die RNE se verbintenis tot die handhawing van die grondwet, die oppergesag van die reg en die toepassing van goeie regeerkundige beginsels dui op ’n onafwendbare konflik met opponerende politieke elite (lees veral die Progressiewe Alliansie en vermeende staatskapers), met die potensiaal om die demokratiese bedeling tot in sy fondamente te skud. Reeds word die Phala Phala-aangeleentheid afgestof vir verdere ondersoek, gerig op die ondermyning van Cyril Ramaphosa, en word die oorlogtromme in KZN geslaan ter nagedagtenis aan wat gebeur het met die inhegtenisname van Jacob Zuma in 2021 en die geweld wat daarop gevolg het. Hierin lê ’n werklike bedreiging vir die leierskap van Ramaphosa, die RNE wat reeds wankelrig voorkom en selfs die grondslag van grondwetlike regering, die oppergesag van die reg en die toepassing van goeie regeerkundige beginsels. Met die talle uitdagings waarmee die RNE intern asook ekstern te make het, is daar boonop ’n veranderende internasionale omgewing wat eiesoortige uitdagings stel en die gekompliseerdheid van die interne dinamiek potensieel verder kan vergroot.

’n Veranderende internasionale omgewing

In ’n politieke omgewing waar internasionale konflikte toeneem en die potensiaal bestaan dat oorloë (soos dié tussen Rusland en die Oekraïne, asook Israel en die Palestyne) verder kan eskaleer tot streeks- en wêreldkonflikte, is Suid-Afrika se betrekkinge met kernrolspelers tans uiters belangrik. In die toenemende polarisasie tussen Westerse lande enersyds en state soos Rusland, China, Iran en die nuwe BRICS-formasie andersyds, is daar baie op die spel vir Suid-Afrika, wat afhanklik is van veral buitelandse investering en beleggings op ’n Westerse grondslag. (Dit sluit instellings soos die IMF en die Wêreldbank in, wat baie staat maak op Westerse finansiering!) Die ANC-regering se keuse om hom by die Palestyne te skaar teen Israel ten opsigte van die saak wat by die Internasionale Strafhof aanhangig gemaak is, en die aanvanklike implisiete ondersteuning van Rusland, China en Iran (tans heelwat meer eksplisiet), plaas Suid-Afrika in konflik met toonaangewende Westerse lande – ook en veral wat handel, finansies en investering betref. Suid-Afrika se plasing op die sogenaamde gryslys deur die Financial Action Task Force (FATF) tydens 2023, is gemotiveer deur geldwassery en die finansiering van terroriste-instellings. Die onlangse ontdekking van vermeende terroriste-opleidingskampe te Witrivier (Mpumalanga), asook ’n kamp in Limpopo, hang saam met bogenoemde en bevorder geensins Suid-Afrika se internasionale beeld in hierdie verband nie. Die onlangse Lady R-episode het ook Suid-Afrika se beeld internasionaal skade berokken, veral ten opsigte van die Weste, wat primêr vir ekonomiese investering verantwoordelik is. Laasgenoemde sluit in handelsooreenkomste met die EU, asook die bekende AGOA-ooreenkoms met die VSA waarvolgens Suid-Afrika voorkeurbehandeling kry rakende toegang tot Amerikaanse markte. Met ’n ekonomie wat tydens die laaste dekade slegs sowat 1% gemiddeld gegroei het; ’n eskalerende skuldlas – tans 74% van die bruto binnelandse produk; hoë vlakke van armoede; en steeds hoër vlakke van werkloosheid en ongelykheid, kan verkeerde keuses op internasionale vlak allermins bekostig word.

Wat in hierdie opsig wel duidelik is, is dat koalisievennote verskillende, uiteenlopende en selfs botsende perspektiewe het oor hoe Suid-Afrika hom internasionaal moet plaas binne ’n snelveranderende, meer onderling botsende en gekompliseerde internasionale orde in wording. Botsende perspektiewe ten opsigte van Suid-Afrika se buitelandse beleid binne die RNE kan negatief inwerk op samewerking en samehangendheid binne die instelling, en groot druk plaas op president Ramaphosa ten einde eenheid te bewaar en samewerking te bevorder.

Evaluerende perspektiewe

Die uitslag van die 2024-verkiesing het die demokratiese bestel herdefinieer en op ’n nuwe trajek geplaas. In ’n omgewing van groot polities-staatkundige, ekonomiese en maatskaplike uitdagings moet bestaande grondwetlike beginsels herondersoek, nuut toegepas en selfs met nuwe reëls aangevul word om sodoende suksesvolle demokratiese konsolidasie te verseker. Die konsolidasie van die huidige demokratiese bestel is tans geen uitgemaakte saak nie en die suksesse van die RNE enersyds, maar ook die uitkomste van die beoogde nasionale dialoog andersyds, beklemtoon die noodsaak vir fundamentele en rigtinggewende verandering, andersoortig maar in opsigte vergelykbaar met die politieke oorgang van 1989 tot 1994. ’n Aantal belangrike aspekte verdien verdere aandag:

1. ’n Suksesvolle RNE: Die sukses van die RNE (soos tans saamgestel) is uiters belangrik vir ’n gematigde oorgang waarin die reëls van koalisiepolitiek geïdentifiseer word, samewerkende partye daartoe inkoop en ook terselfdertyd eienaarskap daarvan moet neem. Benewens ’n verbintenis waartoe ooreengekom word en wat in stand gehou moet word, impliseer dit ook om algemene belang hoër te stel as partypolitieke voorkeure; sterk en daadwerklike leierskap (transformatief van aard maar anders as waarna transformatisme verwys); om te kan opponeer sonder om te vernietig; en demokratiese waardes voorop te stel en te konsolideer. Die mislukking van die RNE (tans op losse grondslag) het as implikasie ’n sentrum-linkse koalisie (wat die Progressiewe Alliansie of lede hiervan sal moet insluit) en sal as uitkoms hê radikale beleidstoepassings, beperkte ekonomiese groeimoontlikhede en gebrekkige investering, asook die potensiaal vir groter politieke onstabiliteit. (Politieke onstabiliteit is reeds daar, maar kan myns insiens onder ’n sentrum-linkse alliansie verder versleg en selfs staatkundige stabiliteit met inbegrip van die demokratiese orde bedreig!) Kortom, die huidige RNE is ’n beste-saak-scenario en enige ander scenario sal op hierdie tydstip myns insiens slegter wees. Dit beteken derhalwe dat die RNE sal moet presteer, uitkomste lewer en dat leierskap in hierdie verband strategies noodsaaklik is. Sigbare suksesse en prestasies, ook en veral op die korter termyn, is van kernbelang in hierdie opsig.

2. Die pad van politieke, ekonomiese en maatskaplike hervorming: Die beklemtoning van die idee van ’n nasionale dialoog dui daarop dat die aard van probleme en uitdagings in die huidige Suid-Afrika groter is en meer sake omsluit as dit waarvoor uitsluitlik politieke partye en groeperings verantwoordelikheid kan neem en/of invloed oor kan uitoefen. Myns insiens is die antwoord duidelik, naamlik dat soos die ou NP van apartheid en afsonderlike ontwikkeling moes afskeid neem, moet die ANC wegbeweeg van transformatisme en veral die radikale toepassing daarvan. Nie net is dit diskriminerend van aard nie, maar dit belemmer ekonomiese investering en groei, bevorder ongelykheid en ander maatskaplike uitdagings, asook effektiewe politieke en maatskaplike instellings wat noodsaaklike dienste moet en kan lewer. Soos tydens die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare, is Suid-Afrika weer eens op soek na ’n politieke, ekonomiese en maatskaplike paradigma wat die uitdagings, eise en omstandighede van ons tyd na behore kan aanpak. Hierdie paradigma is net ten dele te vinde binne die huidige demokratiese bestel, en groei en vernuwing blyk uiters noodsaaklik te wees. Hopelik kan die nasionale dialoog, soos voorgestel, leiding in hierdie verband verskaf. Die ontsporing daarvan sal ongetwyfeld uitloop op groter politieke, ekonomiese en maatskaplike onstabiliteit – ’n scenario wat allermins op die oomblik bekostig kan word. Met die 1996-grondwet as grondslag sal daarop uitgebou en gekonsolideer moet word om die politieke eise en omstandighede van ’n nuwe era te hanteer en demokratiese konsolidasie te bevorder.

3. Demokratiese konsolidasie: ’n Demokrasie konsolideer wanneer alle (of bykans alle) politieke rolspelers hulle verbind tot die spelreëls van ’n demokratiese bestel, soos dit grondwetlik vervat is en wat waardes soos vryheid, gelykheid (of gelyke geleenthede), verantwoordbaarheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid en verskeie vorme van burgerlike vryhede erken en in stand hou. Suid-Afrika het nog nie hierdie punt bereik nie, en partye wat deelneem aan die Progressiewe Alliansie en verbind is tot hul modus operandi, bedreig die fondasies van die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel. In belang van staatkundige stabiliteit in die algemeen en die demokratiese bestel in die besonder, sal die RNE sterk optrede in hierdie verband moet neem – waar en indien nodig. Kapasiteitskepping binne die veiligheidskluster en die strafregstelsel (met inbegrip van die polisiediens) is hier van kernbelang. Die suksesvolle implementering van die bevindinge van die Zondo-kommissie (nieteenstaande politieke weerstand en selfs verset) kan hier ’n belangrike beginpunt wees om die pakhanate-tentakels van ’n mafiastaat teë te werk en sodoende mee te werk tot demokratiese konsolidasie.

4. Staats- en nasiebou: Myns insiens moet hierdie aspekte primêr binne die raamwerk van die nasionale dialoog hanteer word, wat insluit talle kwessies van ’n polities-staatkundige aard, die ekonomie en maatskaplike omgewing. Ten opsigte van staatsbou, is prosesse van institusionalisering ten einde politieke verval teë te werk, van kernbelang. Dit sluit in alle owerheidsvlakke, asook semi-staatsinstellings met as uitgangspunt aanstellings op die grondslag van meriete en nie kaderontplooiings nie; ’n ontwikkelingsgerigtheid om vraagstukke aan te pak en dienste te lewer waar benodig; en suksesvolle beheer van die staatsterritorium te neem, met besondere maar nie uitsluitlike verwysing nie, na grensbeheer asook talle sake wat met wet en orde te make het, en hoe openbare belang in hierdie opsig bevorder kan word. Die onderskeiding tussen die staatsdomein en dít wat as burgerlike samelewing omskryf word (lees regte, maar ook en veral verantwoordelikheid en pligte), moet duidelik afgebaken en toegepas word. Laasgenoemde is ’n kernaspek van demokrasie en burgerregte, soos reeds vervat in die 1996-grondwet. Onder nasiebou, soos met staatsbou, kan verskeie kwessies genoem word, waaronder nasionale welstand (armoede, ongelykheid, werkloosheid, onderwys, gesondheid en dienslewering), maar ook sake soos identiteitskwessies (ras, kultuur, gender, ens). Die identifisering van hierdie kwessies, die fasilitering van die nasionale dialoog, asook die strukturering daarvan is ’n belangrike regeerkundige taak van die RNE. Uitklaring sal verkry moet word oor kwessies soos: Wie gaan deelneem? Watter struktuur gaan hiervoor gebruik word? Watter kwessies gaan aangepak word? Hoe gaan besluite geneem word? Wat gaan met die besluite gebeur en/of hoe gaan dit geïmplementeer word? Antwoorde/besluite in hierdie verband sal moet bydra om staatsbou en nasiebou te bevorder en demokratiese waardes en praktyke te help konsolideer. Die uitklaring en toepassing van demokratiese spelreëls as nie-onderhandelbaar is kernbelangrik vir die konsolidasie van die Suid-Afrikaanse demokrasie in hierdie moeilike tydperk. Hiermee saam die verbintenis van politieke rolspelers tot die kultuur, etiek en praktyk van opposisie-politiek. Hierdie aspek plaas ’n groot premie op politieke leierskap.

5. Leierskap: Om bogenoemde te verwesenlik is leierskap noodsaaklik. Hierdie leierskap moet transformatief van aard wees (gerig op verandering binne ’n nuwe paradigma van denke), soos toegepas op bestaande demokratiese praktyke met die doel om te versterk en uit te bou. Die eis ten opsigte van leierskap strek veel verder as net die president of selfs die RNE. Dit moet ook insluit leiers van die burgerlike samelewing, waaronder nie-regeringsorganisasies, korporatiewe en kerkleiers, akademici en persone van invloed, nasionaal en internasionaal.

Die uitdaging waarvoor ons primêr te staan gekom het, is om met bestaande demokratiese waardes as grondslag ’n Suid-Afrika te herbou wat die gekompliseerde eise maar ook die verwagtinge van ons tyd daadwerklik kan aanpak; met kortertermyn-suksesse ’n grondslag vir langtermyn-ontwikkeling kan lê; en waarin algemene belang hoër geag word as bepaalde belang. Dit benodig leierskap wat vanuit ’n gesonde waardestelsel kan dink en help bou aan ’n nuwe tydvak wat voor die deur lê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top