Die nuwe kabinet: Hoe lank gaan die RNE hou?

  • 3

Dertig dae na die 2024-verkiesing het president Ramaphosa uiteindelik sy kabinet van nasionale eenheid op Sondag 30 Junie 2024 bekend gemaak. Die afspraak wat hy met die media en die land gehad het om teen 21:00 die Sondagaand sy kaggelvuurgesprek te hou, het soos in die bekende Covid-aankondigings toe eers amper 22:00 plaasgevind. Die onverklaarbare vertraging in die aankondiging laat onmiddellik die vraag ontstaan oor hoe lank die RNE staande gaan bly. Die aankondiging is voorafgegaan deur twee weke van bespiegelings, briewe oor en weer, en allerlei politieke wenslysies en teregwysings. Kortom, dit was ’n moeilik en uitgerekte geboorte.

Soos die kabinet saamgestel is, het die ANC 20 ministers, die DA 6, die IVP 2 en vier ander partye het ook ministers of adjunkte. Die totale aantal ministers kom op 32 te staan, wat meer is as die 31 ministers in die vorige kabinet. Die aantal adjunkministers is 43, wat ’n totaal van 75 uitmaak, en indien die president en adjunkpresident bygetel word, is dit 77. Dit is ’n groot aantal ministers en adjunkministers, maar die matriks van belange wat in ’n regering van nasionale eenheid hanteer en bestuur moet word, regverdig die getal tot ’n mate. Dit is egter belangrike om tussen ministers en adjunkministers te onderskei, want adjunkministers is nie lede van die kabinet nie. 

Wat is die verrassings in die RNE?

’n Paar aanstellings staan uit in die nuwe kabinet. John Steenhuisen (DA) as minister van landbou is beslis ’n verrassing en so ook Leon Schreiber (DA) as minister van binnelandse sake. Die aanwysing van Gayton McKenzie (PA) as minister van sport, kuns en kultuur het ook verbaas, asook die aanstelling van Pieter Groenewald (VF Plus) as minister van korrektiewe dienste, en beslis ook Mzwanele Nyhontso (PAC) as minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling. Angie Motshekga is vervang deur die DA se Siviwe Gwarube as minister van basiese onderwys. Onder die adjunkministers het niemand meer verbaas as die aanstelling van Bantu Holomisa (UDM) as adjunkminister van verdediging nie, iemand wat in 1996 deur Nelson Mandela in die pad gesteek is as adjunkminister van toerisme toe hy nog lid van die ANC was.

Onder die ANC-lede in die kabinet is dit merkwaardig dat drie ministers hulle poste kwyt is en as adjunkministers aangestel is, naamlik Joe Phaahla as adjunk vir gesondheid, Sihle Zikalala as adjunk vir openbare werke en Mondli Gungubele as adjunk vir kommunikasie en digitale tegnologie. Die aanstelling van Andries Nel as adjunk vir justisie en konstitusionele ontwikkeling is ook te verwelkom as een van die ANC-lede wat agter die skerms in Luthuli Huis ’n baie ywerige partywerker was. 

Watter storie vertel die RNE oor die ANC?

Dit was te verwagte dat die ANC senior kabinetsposte sou behou, maar met die uittrede van ministers soos Cele, Modise, Pandor, Gordhan, Patel en Dlamini-Zuma was die groot vraag hoe die landskap sou verander. Duidelik het Ramaphosa dit reggekry om sy lojaliste in hierdie poste aan te wys, soos Angie Motshekga as minister van verdediging en veterane, Senzo Mchunu as minister van polisie, Ronald Lamola as minister van internasionale verhoudinge en samewerking, Gwede Mantashe as minister van minerale en petroleumbronne, Kgosientsho Ramokgopa as minister van elektrisiteit en energie, en Parks Tau wat bevorder is tot minister van handel, nywerheid en kompetisie. Enoch Godongwana is weer as minister van finansies aangestel, en dit bring beslis bestendigheid mee, met sy adjunkte David Masondo (ANC) en Ashor Sarupen (DA). Blade Nzimande is weggeneem uit hoër onderwys en vervang deur Nobuhle Nkabane, wat allerweë verwelkom word, en hy kry nou net die portefeulje van wetenskap, tegnologie en innovasie. Aaron Motsoaledi word minister van gesondheid, en sy voorganger, Joe Phaahla, word sy adjunk, waarskynlik om die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering te probeer beskerm teen duidelike teenstand wat van die DA in die kabinet verwag kan word.

Wie kry nog wat?

Die IVP kry twee baie belangrike ministersposte, naamlik plaaslike regering en tradisionele sake, en staatsdiens en administrasie, en dan verder nog twee adjunkministersposte. Al Jama-ah en die UDM kry elk ’n adjunkministerspos en Patricia de Lille (GOOD) bly minister van toerisme.

Wat is die vooruitsig van die RNE?

Die instelling van ’n RNE is in baie geledere verwelkom en die markte het positief op die stap gereageer, maar die tyd wat verloop het tussen die Verklaring van Voorneme, die inhuldiging van die President en die aankondiging van die kabinet, het weer baie vrae en onsekerheid laat ontstaan – vrae soos wie die opposisie in die parlement gaan wees, waar ministers gaan sit en hoe debatte in die parlement gaan plaasvind, om maar ’n paar van die punte op die ongekarteerde terrein aan te stip. Daar is beslis nog ’n tegniese uitklaringsvlak nodig tussen politieke partye en kabinetsbesluite. Een voorbeeld is die ideologiese spanwydte tussen die DA, wat nou beheer het oor landbou, en die PAC, wat die portefeulje van grondhervorming en landelike ontwikkeling gekry het. Die nasionale dialoog wat Ramaphosa in die vooruitsig gestel het, gaan nasionale vraagstukke kan bespreek, maar die implementering van beleid gaan baie meer doelgerigte tegniese uitklaring vereis.

Betree ons die Sewende Administrasie met Cyril Ramaphosa as ’n flou makou? Moes ons iets lees in die feit dat hy nie ’n 21:00-afspraak met die media kon nakom nie, of gaan dit die nuwe norm van die RNE wees, naamlik dat besluite eenvoudig langer gaan neem om afgehandel te word? Die partye in die RNE gaan die winste van sukses deel, maar ook die verliese van mislukking. Konstruktiewe samewerking in die RNE gaan ongelooflike baie energie vereis, en ideologiese bottelnekke kan Ramaphosa se leierskap net so beperk as wat ’n vyandige faksie in die ANC dit sedert 2018 gedoen het. Is sy raklewe net tot Desember 2027, wanneer sy tweede termyn as leier van die ANC ten einde loop?

Dit was egter ’n meesterskuif van Ramaphosa om ’n RNE te skep en ’n oop uitnodiging aan alle partye te rig binne ’n bepaalde konstitusionele en ekonomiese raamwerk. Ramaphosa het dit reggekry om 10 partye plus die ANC, en sodoende 72% van die steun soos uitgebring in die 2024-verkiesing, agter die RNE te verenig. Hoe dit egter in die praktyk gaan manifesteer, bly ’n ope vraag en gaan grootliks bepaal word deur interne partydinamika binne die ANC, DA, EFF en MK. Laasgenoemde twee partye het reeds besluit om nie aan die RNE deel te neem nie, al het die EFF op die nippertjie halfhartig gesoek na ’n reddingsboei om wel in die RNE te dien, met onmoontlike voorwaardes. Die EFF het polities in die proses die ANC se legitimiteit bevraagteken en ondermyn, maar eintlik ’n eie doel teen hulself aangeteken.

Die volgende stap in die proses gaan die opening van die parlement wees en die finalisering van die werkswyse van die RNE op parlementêre vlak met die MK as die primêre opposisie met ’n beduidende groep bewese staatskapers in hulle midde as parlementariërs. Of die RNE gaan staan of val, gaan bepaal word deur die ANC-leierskap se vermoë om die verbrokkeling van die party te stuit in tussenverkiesings, in die parlement en veral in die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing.

  • 3

Kommentaar

  • Ek is net bekommerd oor die minderwaardige poste wat die DA gekry het, aangesien hulle die tweede sterkste politieke party is.

  • Ag ja, pessimiste!
    Wees positief, gee dit 'n kans.
    Dis (die rne) soos die meerderheid ( 72% nè) dit wil hê.
    Ek dink die groot ou het 'n goeie job gedoen - natuurlik gaan daar dwarstrekkers en beterweters wees - dis mos so in die politiek.

  • Nee ek dink nie mens kan sommer so aflei dit is wat 'die meerderheid' wou he nie. Na afloop van die verkiesing het die gewone mens geen inspraak in die keuses wat die politici maak nie. Hoe weet ons dat daardie 40 % ANC kiesers almal so regering wou hê? En dieselfde met die 22 % DA kiesers? Maar met hierdie kabinet wat nou gekies is, kan mens verwag dat daar nie juis groot veranderinge gaan kom aan die land se ekonomiese beleid nie. Terwyl daar ook onenigheid sal voortduur oor die buitelandse beleid.

    Bettina vra dus tereg, hoe lank gaan dit hou?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top