Die Kaapse Forum (KF) se Hoerikwaggo Indaba was veronderstel om nuwe sosio-ekonomiese oplossings te soek vir ou probleme, maar toe raak dit verstrik in die “heen-en-weer” (en die kompleksiteit) van identiteit.
Die uitvoerende voorsitter van KF, Heindrich Wyngaard, is gedurende en na die indaba in ’n onbenydenswaardige posisie geplaas, omdat hy aan die media moes verduidelik dat die indaba eintlik gesoek het na sosio-ekonomiese oplossings; dat dit nie gegaan het oor identiteit nie.
Tereg word daar hedendaags onder bruin sosiale kommentators groot gewag gemaak daarvan dat bruin mense self verantwoordelikheid moet neem om hulle uit die moeras van armoede te lig.
Dit is teen dié agtergrond dat die KF dit goed geag het om ’n indaba aan die einde van November 2023 in Bellville byeen te roep om saam te dink en te praat oor moontlike sosio-ekonomiese oplossings.
Die indaba het probeer lig werp op die Erika Theron-kommissie wat in 1973 deur die apartheidsregering aangestel is om “sake rakende die kleurling-bevolking te ondersoek”.
Die verslag van dié kommissie het destyds strukturele armoede onder bruines as “chroniese gemeenskapsarmoede” bestempel.
...........
Die boonste derde van bruines se posisie het wel die afgelope 40 jaar “besonder goed verbeter”, en ook die middelklas het gevorder, het wyle Sampie Terreblanche, professor in die ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en destyds lid van die Theron-kommissie, in 2013 bevind.
Vandag is die prentjie nog ongeveer dieselfde, want die onderste 40% van bruines swem nog in armoede.
...............
Die boonste derde van bruines se posisie het wel die afgelope 40 jaar “besonder goed verbeter”, en ook die middelklas het gevorder, het wyle Sampie Terreblanche, professor in die ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en destyds lid van die Theron-kommissie, in 2013 bevind.
Vandag is die prentjie nog ongeveer dieselfde, want die onderste 40% van bruines swem nog in armoede.
In sy hoofrede getiteld “Die Theron-kommissie: die dilemmas daarvan en dilemmas daarna” het Allan Boesak, teoloog en struggle-ikoon, gesê die kommissie se dilemmas is steeds met ons vandag. “Al is dit in nuwe dog steeds skrikwekkende gedaantes.”
Ek stem saam met hom dat Suid-Afrika nou “hopeloos verswelg is in die politiek van eiesinnigheid, rasbeheptheid, dwaasheid, gierigheid, korrupsie en plein onnoselheid”.
Boesak, wat hom deesdae midde-in omstredenheid bevind omdat hy omstrede linkse ideologiese en onnadenkende uitsprake maak, soos om oudminister Lindiwe Sisulu te ondersteun en om ’n oproep te doen dat Suid-Afrika diplomatieke bande met Israel moet verbreek sonder om die ekonomiese implikasies vir arm mense in terme van bestaande en moontlike toekomstige handelsooreenkomste te oorweeg, het geen nuwe oplossings vir “ou” en “nuwe” uitdagings gehad nie.
Gevolglik het die KF se eerste indaba geen nuwe voorstelle opgelewer nie, omdat UDF-mans in ou en uitgediende struggleretoriek vasgeval het soos om byvoorbeeld deurentyd soos in die ou dae, te ontken het dat bruin mense bestaan.
Ons is lankal verby daai ou vervelige prekie en ook dat bruin mense nie ’n taal en kultuur het nie. Dit is deesdae sommer onsin, omdat ’n menigte bruin mense heel gemaklik is met wie en wat hulle is en heel trots is op hul Afrikaanssprekendheid.
...........
Ons is lankal verby daai ou vervelige prekie en ook dat bruin mense nie ’n taal en kultuur het nie. Dit is deesdae sommer onsin, omdat ’n menigte bruin mense heel gemaklik is met wie en wat hulle is en heel trots is op hul Afrikaanssprekendheid.
...............
Lees gerus die nuwe boek Coloured: How classification became culture geskryf deur die sosioloog, akademikus en politieke ontleder Tessa Dooms en die joernalis en skrywer Lynsey Ebony Chutel en word wys.
Ek hoop die KF-bestuur is nou beter toegerus oor hoe om die pad vorentoe aan te pak en ook vir wie om te betrek by toekomstige inisiatiewe om met sosio-ekonomiese voorstelle binne die konteks van ons ekonomiese werklikheid vorendag te kom.
Sprekers tydens die Indaba soos Christo van der Rheede, nuut aangestelde uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, Morne Mostert, akademikus en toekomskundige, en Crispin Sonn, sakeman en voorsitter van die direksie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), klink na mense wat die uitdagings van ’n moderne en postgrendelstaat-ekonomie verstaan. Maak hulle asseblief deel van gesprekke oor toekomstige praktiese oplossings.
Die UDF-politici en kerkleiers wat gerieflikheidshalwe vir meer as ’n kwarteeu opsy gestaan het en net bloot toegekyk het hoe die regerende party die land opmors en op ’n nuwe rasgebaseerde trajek geplaas het, moet liewer nie betrek word nie.
Hulle hou hul liewer besig met hul eie romanse oor nierassigheid wat nog nooit regtig traksie gekry het sedert dit in die 1980’s met die stigting van die UDF berug geword het nie.
Nierassigheid het veral binne ons postapartheid konteks geen intellektuele onderbou nie. Dit is eenvoudig om tot so ’n gevolgtrekking te kom, want dit bestaan nie. Om daarna te strewe is absoluut die moeite werd, want nierassigheid behoort ons heeltyd te herinner dat ons almal mense is en dat ons menslikheid altyd gekoester, bewaar en bevorder behoort te word.
Deur die UDF-politici en kerkleiers te betrek kan ons weer verstrik raak in die “heen-en-weer” van die taal, politiek en dilemmas van die verlede.
Lees ook:
Verslag oor die Hoerikwaggo Indaba: ’n suksesvolle byeenkoms
Kommentaar
Nes ek wil-wil hoop verloor oor die land, Afrikaans en die toekoms van my kinders lees ek iets soos hierdie van Jason Lloyd. Ja, daar is genoeg oulike mense wat kan en wil en die toekoms met positiwiteit wil betree. Mag diesulkes saamspan en die aftrekkers en agteruit kykers op hul neuse laat kyk.
Dis absoluut tragies en onvanpas dat daar, as dit by bruin mense kom, daar altyd en feitlik met geen uitsondering nie, die identiteittamboer geslaan word. Selfs Habakuk weet, so kan dit nie voort borduur word nie. Die indaba opsigself het egter wel die kwessie van armoede onder bruin mense aangespreek. Laat dit gesien word dat die bus nou wel vertrek het. Die speel met woorde - soos ek ook nou doen - verlig nie armoede nie. Die uur het geslaan dat ons moet kyk na welvaartverspreiding. Daar is genoeg intellektuele en ekonomiese 'trust' om die 'tipping point' te wees.
Wat 'n deurmekaarspul. Klink soos 'n NG sinode. Of 'n Boerkaner bash. Die een wil 'n Boer genoem word en die ander 'n Afrikaner en nog een is eerder Suid-Afrikaner en die een met die lang baard voel hy is 'n Israeliet.
Ek het die sosioloog en die joernalis se boek aangeskaf, en dit so bietjie deurgeblaai al, maar nog nie juis aandagtig deurgelees nie. Sal nog later. Dit skyn egter dat die boek ook gladnie juis so positief oor Afrikaans is nie, en onder meer voorstel dat Afrikaans gestraf behoort te word vir die taal se meerderwaardigheid en dat die amptelike statuts van Afrikaans dalk opgehef moet word (bl 102).
Dit lyk egter na 'n interessante boek en ek sien uit om dit te lees. Ek sien die heer Lionel Adendorf se 2016 artikel (https://www.iol.co.za/news/opinion/theres-no-such-thing-as-a-coloured-identity-2058521), is onlangs weer wyd gesirkuleer in die kuberruim. Hy argumenteer skynbaar presies die teenoorgestelde as wat Dooms en Chutel se boek doen.
Interessant om te sien dat De Klerk se stigting steeds voortbeur. De Klerk en sy ministers het ryk geword met al hulle leë beloftes van wigte en teenwigte, en erger nog, het nie een van hulle ooit pa gestaan vir apartheid nie. Net soos wat die ANC-politici vandag ook verantwoordbaarheid wil afskuif op die uitvoerende amptenare, en hulleself van alle blaam wil onthef, so het De Klerk en sy ministers presies dieselfde gemaak. Dit is maar die aard en wese van politici.
Het die dis weer aan die verkeerde kant geval vir die Indiana.
Ek stem heelhartig saam met die aanslag van Jason Lloyd.
Die Weskaap-Forum herinner my aan die Driekamerparlement.
Kom ons begin eers om ons huis reg te ruk voor ons op die hoeke van strate gaan preek.
Gegroet, Ivan. U maak 'n stelling wat ek nie mooi verstaan nie. Die Kaapse Forum herinner my gladnie aan die Driekamerparlement nie. Nieregeringsorganisasies kom tot stand wanneer die formele politiek (soos die wetgewer), faal om 'n veilige en voorspoedige staat daar te stel vir alle mense, en ook nie die bereidwilligheid en/of kapasiteit toon om enige iets aan die saak te verander nie. Dit skyn dat daar 'n groot behoefte deur die Kaapse Forum gevul word, let byvoorbeeld op die skrywe van William Sezoe (https://www.litnet.co.za/hoerikwaggo-ons-kan-namens-onsself-praat-en-besluit-ons-moet-maar-self-skommel/).
Die alternatiewe sluit onder meer in om by die Uniegebou se tuine te gaan kamp opslaan. Maar daar wag mens oneindig lank, want die prez is 'n besige man, en het nie tyd om almal te woord te staan nie.