Hoerikwaggo: Ons kan namens onsself praat en besluit / ons moet maar self skommel

  • 1

Die onlangse Hoerikwaggo Indaba aangebied deur die Kaapse Forum (KF) was ’n samekoms waar ons vir ’n slag namens onsself kon praat en besluite neem. Alhoewel die beraad soos Jason Lloyd tereg melding maak dat die Hoerikwaggo Indaba vasval in identiteitskwessies sonder nuwe voorstelle (11 Desember 2023), was daar tog oomblikke van hoop.

Vir my as die seremoniemeester was dit ’n absolute voorreg om die gesprekke “ommie tafel” te lei met ’n klomp kenners in die bruin gemeenskap, maar ook ’n klomp gewone mense wat merkwaardige verskille in hul gemeenskappe maak. Mense vannie Weskus (daar wat ek vandaan kom), mense van die Klein Karoo, vannie Cape Flats en ander dele van die Wes-Kaap.

Ten spyte van die oud-politiese gekners van dié soos Allan Boesak was daar sprekers wat werklik die kern van die samekoms aangeraak het: Waar kom ons vandaan, waar is ons tans en waarheen is ons op pad.

Die indaba, na my sin, was ’n groot sukses deurdat dit vir die eerste keer ’n geleentheid gebied het vir bruin mense om onsself bymekaar te roep en eerlik met mekaar in gesprek te tree oor die probleme in ons gemeenskappe. Vir te lank het ander namens ons gepraat, soos die Theron-kommissie. Nes dié wat hulself as bruin beskou en saam met die ANC hul eie uitverkoop het, totdat die ANC hulle ook later soos klaargekoude bubblegum uitgespoeg het.

Nes die klomp nuutgestigte politieke partye wat hulleself as bruin partye klassifiseer, maar eintlik niks verstaan rondom die dinamika van bruin mense nie. Maar nie net hierdie sogenaamde bruin partye sit die pot mis nie, selfs die groter ouens wat dink alle bruin mense is dieselfde en dat die strategie vir Johannesburgse bruin mense gaan vir die bruin mense aan die Kaap ook werk.

Dis amper nes die Demokratiese Alliansie (DA) wat sê die Patriotic Alliance (PA) praat nie vir bruin mense nie en die PA wat sê die DA praat nie vir die bruin mense nie. In die middel van hierdie bogdebat is dit die einste mense wat glo die partye praat namens hulle wat daaronder ly. Dis dieselfde mense wat die sogenaamde Theron-kommissie oor verslag gedoen het wat tot nou steeds in armoede sit en wonder waar hul hulp vandaan gaan kom, “van die Here”?

Nee, daai Here gaan nie kom nie. Soos Adam Small skryf:

die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi’ ons
daai’s maar al

o God
U hoogste proef is nie die vuur
maar die vernedering

Ek onthou iewers op laerskool het ek by ’n antie se huis gekuier. Sy het toe ’n storie vertel van hoe “die saak met die Here” werk. “Jy kan maar bid vir ’n brood, ou maat, vir solank as wat djy wil, maar daai brood gaan nie kom nie. Die Here gaan nie ’n brood vir jou uit die Hemel laat val nie. Dis nie hoe die saak werk nie. Jy moet opstaan en gaan werk vir daai brood.”

Sedertdien onthou ek daardie storie en probeer ek eerder opstaan vir my brood en botter as wat ek net kniel en bid. Nietemin is dit presies wat die gaping is in baie van ons gemeenskappe. Dis asof ons wag vir geleenthede wat nooit gaan kom nie; dít terwyl ons eintlik self moet opstaan en gaan geleentheid soek of skep. Dit was ook wat vir my uitgestaan het by die indaba. Ons was eerlik met mekaar dat ons hulp nie uit die lug gaan val nie.

Roegshanda Pascoe, gemeenskapsaktivis en vegter teen misdaad oppie Cape Flats, het opgestaan en self bendes begin aanvat, want sy het besef om vir die polisie te wag is soos om op AVBOB se stoep te speel. Die klanke-juffroutjie Robyn Botes het besef dat om vir die onderwysdepartement te wag om innoverend te raak is om te wag vir nog ’n string bruin kinders om die sisteem te verlaat en in bendes te verval.

Ons het opnuut besef dat ons hulp nie van die politici gaan kom nie, maar dat ons hulp van onsself gaan kom. Ons moet self begin harde arbeid aflê, nie vir die baas en sy plaas nie, maar vir onsself. Dis tyd dat ons self moet begin standpunt inneem en iets vir onsself doen – dis wat die Afrikaners doen.

Maar nou ja toe, die groot uitdaging is natuurlik hulpbronne, want ja, die realiteit is dat die Afrikaner dit kan doen danksy ons vrot geskiedenis waaruit hulle die meeste geërf het. Hoe begin ’n (bruin) volk van voor af, met die historiese trauma in ag genome, en bou sy eie koninkryk – skommel die dice self? Ja, maar dit gaan ons nog baie jare kos. En dit gaan iets soos reparations en grondhervorming kos vir die bruin man om sy eie dice te skommel.

Lees ook:

Hoerikwaggo Indaba val vas in identiteitskwessies sonder nuwe voorstelle

Verslag oor die Hoerikwaggo Indaba: ’n suksesvolle byeenkoms

  • 1

Kommentaar

  • Ofskoon ek nie 'n antwoord op 'n tekort aan hulpbronne het nie, weet ek julle kan dit doen en met my stem (dis al wat ek het) sal ek julle altyd ondersteun. Terloops, het julle al daaraan gedink om die buiteland te nader vir geldelike ondersteuning?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top