Hier onder reageer Gustaf Pienaar, ’n nie-praktiserende advokaat van Vleesbaai, op die Fourie-verslag:
Regter Burton Fourie se verslag oor die ondersoek na die gedrag van Wim de Villiers in die Universiteit Stellenbosch se kanselierskandaal, het op 2 Desember 2019 voor die US se Raad gedien.
Waarom ek steeds na die gebeure as ’n “skandaal” verwys, sal mettertyd blyk.
Die ondersoek was, voorspelbaar genoeg, die spreekwoordelike berg wat ’n muis gebaar het. Eweneens voorspelbaar was die vreugdevure wat in Stellenbosch aangesteek is toe die Raad sy goedkeurende tjap daarop geplaas het.
In die afwesigheid van onafhanklike getuienis – dit wil sê, betekenisvolle inkriminerende getuienis wat vérder sou gaan as die weergawes van die dramatis personae, De Villiers en Cameron – was die uitslag ’n voldonge feit: De Villiers het nié ingemeng met die gang van die reg nie. ’n Mens moet nie vir ’n skerpsinnige gewese regspraktisyn soos Burton Fourie só ’n gaping bied om homself uit ’n moeilike opdrag te wikkel nie.
Self sou ek verkies het dat die ondersoek moes gefokus het op twee eenvoudiger vrae: die behoorlikheid, al dan nie, van die rektor – die eerste respondent in die hangende saak voor Cameron – se geheime skakelings met die einste Cameron in verband met die prestige-amp van kanselier van die US. So ook die vraag na die behoorlikheid, al dan nie, van die feit dat die rektor van meet af aan ’n regsetiese mynveld betree het sonder raadpleging met die universiteit se hoogsbetaalde regsverteenwoordigers. Albei kwessies kon deur ’n eenvoudige “ja” of “nee” beantwoord gewees het.
Fourie het egter die twee kwessies netjies gesystap. Ons sal sien of dit die toets van die tyd sal deurstaan.
’n Versigtige lees van die verslag openbaar dus myns insiens ’n paar tekortkomings in die ondersoek wat ek vervolgens sal uitlig. ’n Versagtende faktor vir Fourie is dat hy klaarblyklik hopeloos te min tyd gehad het om die ondersoek behoorlik te doen en onder die onbillike druk van die US-raad verkeer het.
Die eerste problematiese bevinding van die regter is dat Gelyke Kanse se advokaat, Jan Heunis SC, nie die waarheid gepraat het oor die strekking van ’n telefoongesprek wat die rektor op 26 Augustus 2019 met hom gevoer het nie. Laat ons nie doekies omdraai nie: dit is die noodwendige implikasie van Fourie se woordkeuse.
Heunis se weergawe is dat hy die indruk gekry het dat De Villiers hom versoek het om te help dat Cameron sover moontlik onbestrede tot kanselier verkies moes word, en dat die nominasie van Christo van der Rheede – waarby Heunis betrokke was – teruggetrek moes word. Heunis het onderneem om daaroor na te dink en terugvoering aan De Villiers te gee.
Dat dit in beginsel onbehoorlik is vir een gedingsparty – in dié geval niemand minder nie as die rektor van ’n reuse-instansie soos die US – om direk met die regsverteenwoordiger van die opponerende party te skakel, gaan by Fourie verby, en De Villiers kom skotvry daarvan af. Fourie wys wel daarop dat Heunis feitlik onmiddellik ná die oproep die leier van US se regspan, adv Jeremy Muller SC, daarvan ingelig het. Dít is die soort etiese gedrag wat van advokate verwag word. Die betekenis daarvan sal aanstons blyk.
De Villiers se weergawe van die telefoongesprek was – so blyk dit uit die Fourie-verslag – om Gelyke Kanse te versoek om toe te stem dat Cameron hom as kandidaat vir die kanselierskap beskikbaar mag stel. Fourie vind steun daarvoor in twee whatsapp-boodskappe – een van Edwin Hertzog en die ander van die rektor – wat egter onhulpvaardig is by die beoordeling van De Villiers se weergawe: Dit kan net sowel vertolk word as steun vir Heunis se standpunt dat die oogmerk eintlik was dat Van der Rheede se nominasie ongedaan gemaak moes word en dat Cameron eenparig verkies sou word.
Fourie verwys ook net maar so in die verbygaan na ’n brief wat Gelyke Kanse se prokureur die dag ná die oproep aan die US se prokureur gestuur het. Dit is ’n glashelder uiteensetting van Heunis se weergawe van die gesprek en sy daaropvolgende skakeling met adv Muller SC. Die regter is suinig met hoevéél van die brief hy in sy verslag met die US-Raad deel; gevolglik word dit hier volledig herhaal. Ek moedig jou aan om dit versigtig te lees.
Letter from DJ Roussouw of Attorneys West & Rossouw, attorneys for Gelyke Kanse, to Cluver Markotter Inc, attorneys for Stellenbosch University, 27 August 2019:
Dear Madam
RE: GELYKE KANSE AND OTHERS / UNIVERSITY OF STELLENBOSCH AND OTHERS (CASE NO. 1750/2016) / CC CASE NUMBER 311/2017
-
- This serves to inform you that during the course of the morning of Monday, 26 August 2019, Prof Wim de Villiers, the Rector of the Stellenbosch University ("SU"), and the First Respondent in the abovementioned matter, called Adv Jan Heunis SC seemingly to ask him to cause Mr Christo van der Rheede, who had been nominated by members of the SU Convocation as a candidate for the position of Chancellor, to withdraw as a candidate and, by so doing, contributing to secure the unopposed election to that position of Constitutional Court Judge Edwin Cameron.
- We do not propose to recount the entire conversation for purposes hereof, but will do so if you consider it necessary.
- For present purposes, we would like to bring to your attention the fact that during this conversation -
3.1 Adv Heunis told the Rector that the alumni who initiated the nomination of Mr Van der Rheede originally wanted to nominate Justice Cameron themselves, but decided against it because he is a member of the Court which has reserved judgment in the abovementioned matter;
3.2 it transpired that the Rector had discussed his nomination as a candidate for the position of Chancellor of the SU with Justice Cameron on a number of occasions during the past two weeks;
3.3 Justice Cameron was said to have responded by saying that he was greatly honoured by the proposal; and
3.4 other, unidentified persons, who may or may not be attached to the SU, similarly spoke to Justice Cameron about the matter.
-
- Shortly after the conversation, Adv Heunis told Adv Jeremy Muller SC what had transpired.
- We hasten to assure you that we do not think for a moment that the aforementioned conversations with Justice Cameron were conducted with your approval or even your knowledge. We have no doubt that you will share our view that it was utterly inappropriate and irresponsible for the Rector, and any other SU employees or office-bearers, to have approached Justice Cameron as they did and that the fact that this was done may have particularly serious implications for the administration of justice in this matter.
- We know too little of what actually transpired to know whether something should be done about this matter or not.
- We would therefore greatly appreciate it if you would inform us at your earliest convenience – the Rector told Adv Heunis that time was of the essence – exactly who was involved in approaching Justice Cameron, what was said to him, when the conversations took place and what the outcome of the various conversations was. Furthermore, we would appreciate being informed what, if anything, you propose should be done about the matter. lt may, for example, be necessary for the two lead counsel to request a meeting with the Chief Justice and, thereafter, also one with Justice Cameron.
- To the extent that we may fairly be called upon so to do, we shall use our best endeavours to resolve this matter in line with what the public interest and the requirements of justice and fairness demand.
- We await your reply.
Yours faithfully
ATTORNEYS WEST & ROSSOUW
DJ ROSSOUW
Rossouw se brief verleen volledige en omvattende steun aan slegs Heunis se weergawe van sy gesprek met De Villiers; nié andersom nie: Daar is immers géén sprake van De Villiers se beweerde versoek dat Gelyke Kanse moes toestem tot Cameron se beskikbaarheid as kanselierskandidaat nie. Dit is belangrik om daarop te let dat daar op daardie stadium nog geen rede was vir Heunis en De Villiers om die inhoud van die gesprek in geskil te plaas nie. Dié feitegeskil het immers eers tydens Fourie se ondersoek na vore gekom. Waarom sou Rossouw dan De Villiers se weergawe weggelaat het, as dit inderdaad deel van die gesprek was?
Die twyfel wat regter Fourie by noodwendige implikasie oor ’n senior advokaat se geloofwaardigheid saai, is sonderling en – om dit eufemisties te stel – teleurstellend. Dit skend immers Heunis se reputasie. Fourie skuld hom ’n openbare verskoning.
Voortspruitend uit die omstrede telefoongesprek is daar ook Heunis se onbetwiste getuienis dat De Villiers hom meegedeel het dat hy gedurende die voorafgaande twee weke “verskeie” telefoniese gesprekke met Cameron gevoer het. Dit moes rooi ligte by Fourie laat aangaan het: Sy ondersoek was immers “inkwisitoriaal” van aard, wat beteken dat hy hom so volledig moontlik van alle relevante feite moes vergewis.
Ek sou reken dat die aard en omvang van die skakelings tussen die twee here deegliker ondersoek moes gewees het. Ten minste moes Fourie vir De Villiers en Cameron daaroor uitgevra het. Ek vind dit vreemd dat Fourie nie ook De Villiers en Cameron se telefoonrekords (soos ook hul e-poswisselings) aangevra het nie.
Fourie plaas De Villiers oplaas in ’n “etiese vakuum” – amper soos die bekende beeldjie van die drie apies wat niks wil sien, hoor of sê nie. Hou in gedagte dat die rektor in ’n “regshuis” grootgeword het: Sy pa was selfs die dekaan van Regsgeleerdheid aan die US, en sy suster ’n praktiserende advokaat. As medikus is hy ook onderrig in en onderwerp aan ’n uiters streng etiese regime.
Fourie se slotsom is egter –
- dat die rektor met sy eerste skakeling met Cameron vir alle praktiese doeleindes “vergeet” het dat sy universiteit se geding nog hangende was in die Konstitusionele Hof – ongelooflik soos dit mag klink;
- dat De Villiers glo ook nie besef het dat Cameron by die saak betrokke was nie; dat hy in dié opsig dus die verskoonbare vreemdeling in Jerusalem was;
- dat De Villiers se rol as “fasiliteerder” om die beste kandidaat vir die kanseliersamp te bekom (ek verkort nou Fourie se lang relaas hieroor) dit vir hom onvermydelik gemaak dat hy direk (of indirek) met Cameron móés skakel. Ensovoorts, ensovoorts.
Fourie glip gemaklik verby ’n sleutelmoment in die sage: Cameron se e-pos van 2 Augustus 2019 aan De Villiers waarin hy dit onomwonde stel dat hy “omring” is met die hofstukke in die taalgeding, en dat sy posisie “hopeloos gekompromitteer” sou wees as hy sou voortgaan om hom as kandidaat vir die prestigeryke amp van kanselier beskikbaar te stel.
Van dáárdie oomblik af het sowel Cameron as De Villiers se onderskeie posisies uiters kwesbaar geword.
Van sleutelbetekenis hier is ’n aspek waaraan Fourie hoegenaamd geen aandag gee nie (hy het dit klaarblyklik nie eens oorweeg nie). Ek verwys na die aanbevelings van die gerespekteerde King iii- en iv-verslae oor verantwoordbare korporatiewe leierskap, met besondere klem op die nakoming van etiese en regsnorme en die vereiste van risikobestuur in groot ondernemings – nie alleen by JSE-gelyste ondernemings nie, maar ook by groot staatsondersteunde-instellings, soos universiteite. Dit is aanbevelings, sal Fourie weet, wat gaandeweg besig is om – danksy die tussenkoms van die howe – regskrag te verkry (vide King iv in dié verband).
“There is always a link”, lui die King iii-verslag,”between good governance and compliance with law. Good governance is not something that exists separately from the law and it is entirely inappropriate to unhinge governance from the law.
The starting point of any analysis on this topic is the duty of directors and officers to discharge their legal duties. These duties are grouped into two categories, namely: the duty of care, skill and diligence, and the fiduciary duties.”
Ek vind dit dus vreemd dat Fourie nie die volgende voor die handliggende vraag vir die rektor gevra het nie: “Waarom het u nie minstens ná Cameron se e-pos van 2 Augustus die Universiteit se regspan genader om u te adviseer oor hoe Cameron se kandidatuur verder bevorder kon word nie? Wat in die begrip ‘hopeloos gekompromitteer’ het u nie verstaan nie?”
Ek is 100% daarvan oortuig dat die US se regspan die rektor soos volg sou geadviseer het: Nie alleen was sy geheime skakeling met Cameron tot op daardie stadium hoogs onreëlmatig (selfs onwettig) nie, maar ook sou hulle hom – én ander rolspelers wat aan die US verbonde is – prakties verbied het om verder direk of indirek met Cameron te skakel. Dieselfde sou geld De Villiers se ongewone oproep na Heunis op 26 Augustus: Ook dit was hoogs onreëlmatig en moes stopgesit word.
Fourie vind egter nie fout daarmee dat De Villiers werklik roekeloos – sonder sy regspan – hom deurgaans op ’n gevaarlike regsetiese mynveld begeef het nie. As ’n versuim van dáárdie aard deur die rektor van ’n reuse-instelling soos die US nie in beginsel tugwaardig is nie, sal ek uiters verbaas wees oor die lae drumpel van aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid wat die universiteit dan van sy hoofuitvoerendebeampte vereis.
Die blywende gevolgskade vir die universiteit gaan myns insiens enorm wees – hou maar dop.
De Villiers bevind hom dus nie in Fourie se kunsmatig geskepte etiese vakuum nie, maar in werklikheid in ’n etiese woestyn.
’n Verdere leemte in Fourie se verslag wentel om Cameron en De Villiers se persoonlike ontmoeting – nádat Cameron reeds formeel tot aangewese kanselier genomineer is. Dit het begin by ’n versoek van Cameron om De Villiers op 12 September op Stellenbosch “vir ’n halfuur” te ontmoet. Dit kon nie plaasvind nie, maar op 17 September het hy wel na die Oliver Tambo-lughawe gereis vir middagete met De Villiers en sy vrou.
Fourie bevind dit was ’n onskuldige “sosiale geleentheid”.
Persoonlik sluk ek swaar dááraan. Wát is dit wat Cameron so dringend in ’n halfuurgesprek met De Villiers wou bespreek? Hou in gedagte die kanseliersverkiesing was op hande: dit sou op 25 September plaasvind.
Is dit onredelik van my as gewone buitestaander – persoonlik was ek immers nooit ’n lid of geesdriftige ondersteuner van Gelyke Kanse nie – om te gis dat Cameron se doel met die ontmoeting was om vir De Villiers mee te deel dat die lot op hom, wat Cameron is, geval het om die uitspraak te lewer?
Is dit voorts onredelik van my om te gis dat die regter straks – al was dit by wyse van slegs die spreekwoordelike kopknik – vir die rektor sou aandui hoe die wind op die dag van die uitspraak sou waai?
Is dit ook onredelik om te gis dat Cameron gewéét het sy verkiesing gáán omstrede raak ná die uitspraak (wat hy nog moes lewer) en dat daar by voorbaat ’n strategie bedink moes word om potensiële skade te voorkom?
Waarom ek daarop aanspraak maak dat sulke gissings nie onredelik is nie, is af te lei uit De Villiers se onvermoeide ywer om Cameron se kandidatuur te bevorder. Is dit hoegenaamd denkbaar dat hy daarmee sou voortgegaan het as daar by hom die geringste spesmaas sou wees dat die aangewese kanselier ’n streep deur die universiteit se taalbeleid sou trek? Immers: vir De Villiers sou so ’n uitspraak deur die Konstitusionele Hof ’n vernietigende persoonlike slag gewees het.
Fourie se slotsom dat die OR Tambo-ontmoeting ’n onskuldige “sosiale geleentheid” was, slaag – na my mening – nie die beproefde toets van ’n oorwig van waarskynlikhede nie. Gedagtig daaraan dat die regter self die aard van sy ondersoek as “inkwisitoriaal” bestempel (sien die omskrywing hierbo) vind ek dit jammer dat hy versuim het om mevrou De Villiers noukeurig oor die OR Tambo-ontmoeting te ondervra – sy was immers teenwoordig.
Fourie oorweeg ook nie die vraag of so ’n geheime ontmoeting tussen Cameron en De Villiers denkbaar binne die kader van Gelyke Kanse se omstrede “instemming” geval het nie. Dit kón tog nie; nogtans het De Villiers daar ingeploeter, wéér sonder om die US se regspan se advies te vra.
My slotsom is dat die regter se versuim om indringend te fokus op die behoorlikheid, al dan nie, van die rektor se regstreekse onderhandelings met ’n regter van die Konstitusionele Hof in ’n saak waarin hy – die rektor – die eerste respondent was, ’n onverskoonbare leemte in die ondersoek verteenwoordig. Dieselfde geld die rektor se versuim om hom dwarsdeur die ganse sage van behoorlike regsadvies te bedien. Dit is te betreur dat die Universiteitsraad klaarblyklik nie hieroor vrae gevra het nie; die vreugdevure wat op die tjap van legitimiteit van die Fourie-verslag gevolg het, bewys immers die teendeel.
Dit bring my by Cameron se rol in die sage. Wat my betref is dit die kern waarom alles wentel.
Dit begin by die rektor se telefoonoproep na dié regter van die Konstitusionele Hof op 16 Julie 2019 waarin hy voorgestel het dat Cameron ’n kandidaat moes wees in die komende kanseliersverkiesing. In die soort milieu waarin ek as regspraktisyn opgelei is en gefunksioneer het, sou ’n regter – énige regter – óf geweier het om ’n oproep te neem van ’n party tot ’n geding wat nog voor hom dien, óf dit hoflik kortgeknip het.
Cameron laat hom egter die oproep en uitnodiging dat hy hom beskikbaar moet stel vir ’n prestigeryke amp by die een gedingsparty, welgeval. Hy onderneem selfs om “daaroor te dink”. Op sy minste moes hy daarná die regsverteenwoordigers van die partye tot die geding voor hom van die oproep verwittig het. Dieselfde geld al die ander regters van die Konstitusionele Hof wat waarskynlik al teen daardie tyd die hofstukke oor die geding ontvang het. Dit is hoe regters in enige beskaafde land dwarsoor die wêreld behoort op te tree.
Dit is ironies dat indien Cameron uit die staanspoor die korrekte regsetiese pad gevolg het, daar waarskynlik nooit ’n skandaal sou gewees het nie. Hy moes gewoon oop kaarte met alle betrokkenes gespeel het; hom aan die verhoor van die betrokke saak onttrek het (“rekuseer” in regstaal), en so sy weg gebaan het tot ’n eervolle verkiesing as kanselier. Sy versuim om dít te doen het die saad gesaai vir sy voorspelbare ondergang as US-kanselier – en straks ook as regter.
Toe Cameron se gewete hom egter ses dae voor die verhoor begin kwel het, het hy die naasbeste opsie gekies: om vir De Villiers op 2 Augustus 2019 “botweg” (sy woord) in te lig dat hy nie kon voortgaan met die plan om hom kanselier te maak nie.
Cameron laat hom daarna egter by ’n partytjie ompraat deur ’n lid van die universiteitsraad van US – wat óók erg ongerymd is, gesien in die lig daarvan dat die Raad die tweede respondent in die geding voor hom was.
Let wel, tot dusver het als taamlik in die geheim geskied – soveel so dat Gelyke Kanse van g’n sout of water geweet het nie.
Dan volg die telefoonsage tussen Heunis en De Villiers waarna ek reeds verwys het, met – kort daarna – Cameron se voorwaarde: hy sal hom beskikbaar stel as kandidaat vir die kanseliersamp op voorwaarde dat Gelyke Kanse daartoe instem.
Dit lyk asof niemand nog ingesien het dat Cameron Gelyke Kanse voor ’n blatant immorele keuse gestel het nie: ’n Regsetiese vraag wat net hy kon beantwoord, is aan die Gelyke Kanse opgedring – hulle moes vír hom besluit. Dit het Gelyke kanse voor ’n haas onmoontlike keuse geplaas. Regter Fourie verwoord dit só, sonder om die ironie van sy woorde te verdiskonteer: “As explained by justice Cameron, had there been an objection by Gelyke Kanse to him accepting the nomination in the circumstancces, i.e. while sitting as a judge in the Gelyke Kanse matter, he (Justice Cameron) would have declined the nomination.”
Die laaste sinsnede van die aanhaling vat Gelyke Kanse se dilemma mooi vas: as hul sou weier, kon daar ’n doodmenslike reaksie van die regter gewees het om op een of ander wyse “wraak” te neem. Stem hulle toe, kon dit later teen hul koppe geslinger word (soos wat nou ad nauseam die geval is.)
“Damned if you do; damned if you don’t.”
Van sleutelbelang is dat Cameron nie volledig oop kaarte gespeel het nie: hy het nie vir Gelyke Kanse laat weet dat die lot op hom geval het om die eenparige uitspraak (soos dit later geblyk het die geval te wees) te skryf nie. Dit maak ’n reuseverskil, wat vir seker rooi ligte by Gelyke Kanse sou laat aangaan het, en hulle sou laat vra het: “Wat sit agter dié versoek? Is dit nie dalk ’n lokval nie?” Dít is, per slot van rekening, die praktiese effek – sy dit dalk onbedoeld – van die keuse wat Gelyke Kanse oplaas uitgevoer het: ’n lokval.
Oor die bewoording van Heunis se brief van instemming, is daar erge meningsverskille. Wat minstens duidelik is, is dat Heunis gewoon laat blyk het dat daar nie ’n beswaar teen Cameron se kandidatuur sou wees nie, en dat hy slegs namens sy kliënt (Gelyke Kanse) opgetree het – vir seker nie namens my of enige ander burger van hierdie land wat nié “lede” of “ondersteuners” van Gelyke Kanse is nie. En dít is nie sonder betekenis nie.
Cameron se naïwiteit verstom my. Dit lyk asof hy vergeet het van artikel 165(2) van die Grondwet, wat bepaal dat die howe onafhanklik is en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe is. Hou ook die ampseed wat regters moet aflê – sien Bylae 2 tot die Grondwet, gelees met die Gedragskode vir Regters – in gedagte. Ook dit het dus “grondwetlike krag.”
Die brandende vraag is of ’n regter – énige regter – ’n afdwingbare “ooreenkoms” met ’n gedingsparty kán sluit, dúrf sluit, waarkragtens hy van die vermelde bepalings van die Grondwet “onthef” word. Dit is ’n volslae onmoontlikheid: Dit is téén die openbare belang; téén die gemeenskap se opvattings van wat reg en verkeerd is; téén die Grondwet: Ex turpi causa non oritur actio. (“Uit ’n skandelike oorsaak ontstaan geen ooreenkoms nie”).
Ek vind dit teleurstellend dat regter Fourie – wat lank as appèlregter waargeneem het – oënskynlik geen fout met Cameron se “oplossing” vir die probleem vind nie. By twee geleenthede in sy verslag word Cameron se strategie as die “right thing” en die “correct approach” bestempel.
So van skande gepraat: ek het elders – kort nadat dié onverkwiklike regssage rugbaar geword het – die mening uitgespreek dat dit die grootste skandaal is wat die Suid-Afrikaanse regstelsel sedert 1994 getref het. Max du Preez van Vrye Weekblad-faam het my opmerking as ’n “hiperbool” afgemaak, maar klaarblyklik hou hy nie sy vinger op die pols van die land se gepubliseerde hofuitsprake nie.
Laat ons dus ’n oomblik stilstaan by ’n ánder skandaal waaroor twee regters – Malusi en Jolwana – van die betreklike klein Oos-Kaapse Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof (Mthatha) so onlangs as Februarie 2019 besonder skerpsinnig beslis het. Die regters se uitspraak hou ’n les vir die Konstitusionele Hof in.
Die aanloop was die verkragting en moord op ’n bejaarde vrou in haar woonplek in ’n informele woonbuurt by Sterkspruit in die Oos-Kaap. ’n Groep inwoners het op die vermeende moordenaar se woonplek toegesak en dit afgebrand. Ses mense is daarvoor in hegtenis geneem en lank aangehou, maar oplaas vrygelaat. Hulle het vervolgens skadevergoedingseise teen die Minister van Polisie ingestel, wat deur ’n landdros van Herschel verhoor is. Hulle is almal deur dieselfde prokureur, ene Zoleka Susan Ponoane, verteenwoordig.
Die landdros het in ’n konsepuitspraak van vier bladsye ten gunste van die eisers beslis. Dié het hy slegs aan Ponoane gefaks, waarna die twee dit telefonies bespreek het. Ponoane het gemeen sy kan op die uitspraak verbeter, klaarblyklik met die bedoeling dat dit “meer oortuigend” sal wees. Die landdros was maar te bly oor dié ruimhartige aanbod. Die prokureur het nie op haar laat wag nie, en ’n aansienlik uitgebreide uitspraak van tien bladsye vir die landdros teruggefaks, wat dit op sy beurt as die hof se uitspraak getjap het.
Toe dié gebeure op die lappe kom, het die Minister van Polisie – teen wie die uitspraak gegee is – aansoek gedoen om die tersydestelling van die ganse verhoor. Dis hoe die saak voor die vermelde regters beland het.
Hou in gedagte dat albei uitsprake dieselfde resultaat had: Die eisers wen. Mense wat nie dieper dink nie, mag straks vra: “Waaroor dan al die bohaai?” Verkeerd: Die regters het die landdros se wangedrag bestempel as “…….to the best of our knowledge, [ ] unprecedented in the annals of the judiciary in this country. We hope it will never be repeated by any judicial officer”.
Die vertrekpunt van die regters se uitspraak is artikel 165 van die Grondwet, wat ek hierbo aangehaal het, maar wat gerus herhaal kan word: ”Die howe is onafhanklik en onderworpe slegs aan die Grondwet en die reg, wat hulle onpartydig en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet toepas.”
“The requirement of judicial officers,” beslis die regters, “to not only be independent but also be seen to be independent, is one of the foundational prescripts of our law and one of the very important aspects of the rule of law – a fundamental jurisprudential principle.”
Wát op die spel is, sê die regters, is individuele en openbare vertroue in die regstelsel. Sonder dáárdie vertroue sal die regstelsel nie gerespekteer word nie; sal dit kragteloos wees.
Die regters het die verhoor nietig verklaar en beveel dat die saak opnuut deur ’n ander landdros verhoor moet word. Hulle het ook beveel dat die prokureur se gedrag onder die aandag van haar prokureursorde gebring word vir dissiplinêre optrede, en sy is ’n bestraffende kostebevel opgelê. (Die landdros was ten tyde van die hof se uitspraak reeds oorlede.)
Na my mening oortref Cameron se betrokkenheid by die US se kanselierskandaal verreweg die aard, omvang en impak van skande wat die landdros van Herschel oor ons regstelsel gebring het. Ons praat immers van die land se hóógste hof – daar wat dit normaalweg vir litigante oor en verby is.
Oorweeg die volgende: As dit – om by Jan-Jan Joubert te leen – maar oukei is dat ’n regterlike beampte geheime onderhandelings tot sy persoonlike voordeel mag voer met ’n gedingsparty in ’n hofsaak wat voor hom dien, waarom is dit dan nie ook maar oukei dat ’n prokureur ’n landdros se uitspraak mag “verbeter” nie?
As dit die nuwe normaal is dat sulke regsetiese vergrype straffeloos gelaat word, is die land regtig op ’n glybaan na ’n piesangrepubliek.
Die vraag is dus of die aangeleentheid – ná die oënskynlik disinfekterende Fourie-verslag – nou maar daar gelaat moet word. Dit kán tog nie.
Ek broei al ’n ruk lank oor ’n moontlike strategie om die geldigheid van Cameron se uitspraak in ’n hof te laat toets. Let wel: wat ek hieronder voorstel is nie ’n appél nie. Dit gaan daarom of die Konstitusionele Hof – en by name sy regters – bó die Grondwet verhewe is.
Die kernvraag is of die aanloop tot die GK/US-uitspraak (die goed gedokumenteerde skakeling tussen die regter en verskillende verteenwoordigers van die US) die toets van grondwetlikheid sal slaag. Kollega Jos Floor van Stellenbosch opper skerpsinnig in ’n LitNet-artikel ’n bykomende oorweging: Die vraag of regter Cameron nie, as aangewese kanselier, “’n regter in sy eie saak” was toe hy ná sy verkiesing tot die US se volgende kanselier, die uitspraak gelewer het nie. Nemo iudex in re sua.
Indien die aanloop tot die uitspraak nie die toets van grondwetlikheid slaag nie, is die uitspraak self dan mos ook ongrondwetlik. Dit is immers waarop adv Heunis SC se siening – tydens sy onlangse rede voor die US-konvokasie – oor die "onherroeplike besmetlikheid” van die uitspraak neerkom.
Ek sou dink dat die Gauteng-hooggeregshof genader behoort te word met ’n aansoek vir ’n verklarende bevel oor die regsgeldigheid, al dan nie, van die uitspraak. Die maatstaf is die vermelde bepalings van die Grondwet self. Daarby verleen artikel 169 van die Grondwet myns insiens aan die hooggeregshof die jurisdiksie om so ’n aansoek aan te hoor.
Die respondente behoort minstens die betrokke tien regters van die Konstitusionele hof asook die US te wees.
Die aansoek moet nie deur Gelyke Kanse gebring word nie. Dit gaan nou oor ’n regskandaal; nie die taalkwessie nie.
Ideaal gesproke sou so ’n aansoek gebring kon word deur een – of dalk ’n “koalisie”? – van die instansies wat hoog opgee oor hul verbintenis tot die Grondwet en die bevordering van “judisiële onafhanklikheid”. Kyk maar na die webruimtes van die Algemene Balieraad; die Prokureursorde van SA en ’n instansie soos “Freedom under Law”. Daar is nog baie diésulkes – soos die FW de Klerk Stigting se sentrum vir Grondwetlike Regte en/of die Helen Suzman Foundation.
As ek een instansie kon aanmoedig – selfs uitdaag – om met dié bal te hardloop, is dit juis die FW De Klerk Stigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte, vir wie ek ’n hoë agting koester. Die oud-president word immers dikwels venynig gekritiseer oor sy vaste geloof in die Grondwet se balanserende “wigte en teenwigte.” Ek kan my nie ’n beter geleentheid vir oud-president De Klerk voorstel as juis die US-kanselierskandaal om die werkbaarheid van sy dikwels gekritiseerde oortuiging oplaas in die praktyk te toets nie.
Die vraag is wie almal dan locus standi sal hê. Klaarblyklik behoort al die vermelde instansies die reg te hê om deur ’n hof aangehoor te word. Daarby: soos ek die Grondwet verstaan, behoort enige handelingsbevoegde SA burger locus standi te hê om ’n hof te nader ivm die grondwetlikheid al dan nie van die GK/US-uitspraak. Enige toegelate advokaat of prokureur sou mi ook ampshalwe locus standi hê: Ons is immers “amptenare/beamptes/“officers” van die Hof wat met ons toelating in die onderskeie ampte trou aan die Republiek en die Grondwet gesweer het.
Moontlik sal die hooggeregshof oplaas die aansoek van die hand wys op grond van ’n (vermeende?) gebrek aan jurisdiksie of die applikante se gebrek aan locus standi. Trouens, ek het ’n gevoel dat daar ’n zero kans op onmiddellike sukses sal wees. Laat dit so wees: Die blote aansoek sal die betrokke Konstitusionele Hof regters in ’n baie ongemaklike posisie plaas om hul onder eed te verweer. Om slegs in limine die moontlike gebrek aan jurisdiksie of locus standi te argumenteer, sal straks onvoldoende wees.
Afhangend van wat die hooggeregshof beslis, sal daar dalk ’n geleentheid vir appèl wees. Wie weet: oplaas beland dit wéér voor die Konstitusionele Hof, wat dan nie ’n regter in sy eie saak kan wees nie. Dan sal daar dalk ’n ad hoc-bank saamgestel moet word om die aangeleentheid te bereg.
As die voorgestelde aansoek nie slaag nie, sal dit een ding beteken: die konstitusionele hof en sy regters is bó die grondwet van die (piesang)republiek van suid-afrika (nou sonder die eerbiedige hoofletters) verhewe.
Daar behoort ook ’n klagte gelê te word teen Cameron by die Regterlike Dienskommissie (RDK). So ook as dit sou blyk dat die ander 9 regters wat Cameron se uitspraak gesteun het, vooraf bewus was van sy kwesbare posisie en niks gedoen het om hierdie skandaal te verhoed nie. Daar moet seker gemaak word dat klagte regtens absoluut sekuur geformuleer word, en dit moet voor Cameron se inhuldiging as kanselier van US in Januarie 2020 by die RDK gelê word.
As ’n mens egter in gedagte hou hoe lank dit die RDK geneem het (elf jaar!) om die dronk regter Motata oor die vingers te raps, en dat hul ná tien jaar nog nie vir die Wes-Kaapse regter-president John Hlope suksesvol voor ’n tribunaal kon kry nie, het ek nie veel hoop vir die RDK-roete nie. Die sleutel is egter volgehoue openbare druk.
Sukses of mislukking: ons durf nie met gevoude hande sit nie. Die land is immers – soos Jan Heunis SC in sy onlangse rede voor die US-Konvokasie gesê het – in ’n eersterangse konstitusionele krisis. Die ganse land moet bewus gemaak word van wat hier aan die gang is en wat op die spel is.
Die beroemdgeworde woorde van die Duitse teoloog Martin Niemöller, wat tussen 1938 en 1945 deur die Nazi’s in konsentrasiekampe aangehou is, is myns insiens hier toepaslik:
“Hulle het eerste op die sosialiste toegeslaan, maar ek het geswyg
want ek was nie ’n sosialis nie.
Toe was dit die vakbonde se beurt, maar ek het my mond gehou
want ek het nie aan ’n vakbond behoort nie.
Daarna was dit die Jode, maar steeds het ek die swye bewaar
want ek was nie ’n Jood nie.
Oplaas het hulle op my toegesak – maar toe daar was niemand oor om vir my in die bresse te tree nie.”
-
- Martin Niemöller (1892-1984) oor die stilswye en apatie van die Duitse intelligentsia en elite oor die opkoms van Nazisme in Duitsland. Niemöller se woorde verraai ook bittere sélfverwyt…. (My vry vertaling.)
Dit is nou Suid-Afrika se Erin Brockovich-oomblik. (Dis mos die verhaal van daardie dapper Amerikaanse dame wat in 1993 ’n magtige reus soos Pacific Gas and Electric Co. aangevat het en teen alle verwagtinge in getriomfeer het. Laat ons by herhaling weer na die spanningsvolle fliek oor Erin Brockovich kyk – en daaruit moed skep.)
Die voorgestelde aksie kan ook, uit ’n befondsingsoogpunt, ’n tweede “Hertzogprys-oomblik” wees: Hertzog moes mos ’n stewige bedrag skadevergoeding en koste opdok ná ’n lastereis teen hom. Soveel skenkersgeld het ingestroom dat die surplusfondse oplaas gestort is in wat die gesogte Hertzog-prys vir letterkunde geword het.
As die voorgestelde strategie reg bemark word, glo ek die fondse sal instroom. Dalk kan Akademia oplaas by voorspelbare surplusfondse baat vind. Dit lyk vir my dís waar die toekoms van Afrikaans as taal van hoëronderrig lê.
Maar nou praat ek nie meer suiwer as regsgeleerde nie ...
Bronne: Minister of Police v Vowana and Another, 2019 [2] SACR 148 [ECM] [14 Februarie 2019]). Oor die King-verslae: Wikipedia en die skakels na die brondokumente wat daar gevind sal word. Die Fourie-verslag is beskikbaar op die US se webruimte.
- Die skrywer is ’n nie-praktiserende advokaat van Vleesbaai
..................
Agtergrond
Gesprekke rondom die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch duur al ’n geruime tyd. In 2015, kort ná die aanstelling van Wim de Villiers as rektor, verskyn die volgende ope brief deur Johann Rossouw op LitNet:
Lees bydraes wat hierop gevolg het, op LitNet se steeds-voortgaande universiteitseminaar.
Hier verskyn skakels na sommige van die artikels:
Why English should be the language of South African universities
University Seminar 2016: Achille Mbembe on the new politics of the South African student
Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate
Lees nog bydraes hier.
In 2016 is die US se taalbeleid goedgekeur.
Gelyke Kanse, ’n drukgroep ten gunste van Afrikaans wat gelyke status as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch behoort te geniet, het die US onlangs voor die hof gedaag. Die Konstitusionele Hof het uitspraak gelewer en die US se taalbeleid as grondwetlik verklaar.
Hierop volg verskeie reaksies:
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief
Te midde van die gesprek oor die US se taalbeleid, verskyn die volgende artikel op LitNet, rakende die aanstelling van Edwin Cameron as kanselier by die US.
Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron
Lees ook Jan Heunis se toespraak by vanjaar se US-Konvokasie:
Lees ook ’n bydrae deur Jos Floor:
Regter Fourie het die saak ondersoek en die US reageer in hierdie persverklaring op die verslag:
Persverklaring: US-raad aanvaar Fourie-verslag se bevinding oor rektor se optrede
Kommentaar
Puik gestel Gustaf. En kom ek wed dat mnre Cameron, De Villiers en Fourie nie 'n woord sal rep nie. Die drie musketiers van Stellenbosch.
Na alles is dit 'n riem onder die hart dat daar nog individue soos Gustaf Pienaar is. Mense wat bereid is om op te staan teen bevindinge wat na hulle oordeel op foutiewe aannames berus; bevindinge wat wys op leemtes in Regter Fourie se verslag. En, nou ook gelei het tot die ongelukkige bedanking van uiters bekwame mense (Adv Heunis en 2 van sy kollegas) van die Konvokasie van die Stellenbosch Universiteit. Adv. Heunis in die besonder sal 'n yslike leemte laat en is 'n groot terugslag vir mense wat 'n premie op Afrikaans plaas. Vir Prof. De Villiers en sy Engelse taal kolonialiste is dit seer sekerlik 'n groot verligting en 'n 'oorwinning' in die kleine, vir nou in elkgeval.
Wat wel belangrik is, en mens hoop sal gebeur, is die die volgende uittreksel uit Gustaf Pienaar se betoog hierbo:
"Ek sou dink dat die Gauteng-hooggeregshof genader behoort te word met ’n aansoek vir ’n verklarende bevel oor die regsgeldigheid, al dan nie, van die uitspraak. Die maatstaf is die vermelde bepalings van die Grondwet self. Daarby verleen artikel 169 van die Grondwet myns insiens aan die hooggeregshof die jurisdiksie om so ’n aansoek aan te hoor.
Die respondente behoort minstens die betrokke tien regters van die Konstitusionele hof asook die US te wees.
Die aansoek moet nie deur Gelyke Kanse gebring word nie. Dit gaan nou oor ’n regskandaal; nie die taalkwessie nie" - aldus Gustaf Pienaar.
Die proses van verengelsing op Stellenbosch sal kwalik gestop kan word. Tog gaan dit oor meer as dit, naamlik beginsels wat ter sprake is sowel as geregtigheid en regverdigheid. Hopelik kan Gustaf Pienaar se versugting hierbo realiseer....
Goeie navorsing Gustav... Het jou so leer ken. Deeglik!
Baie goed gestel Gustav. Ek meen die volgende uittreksel in die Glenister beslissing, komende van die Konstitusionele Hof, is ook van toepassing:
"This Court has indicated that ‘the appearance or perception of independence plays an important role’ in evaluating whether independence in fact exists. This was said in connection with the appointment procedures and security of tenure of magistrates. By applying this criterion we do not mean to impose on Parliament the obligation to create an agency with a measure of independence appropriate to the judiciary. We say merely that public confidence in mechanisms that are designed to secure independence is indispensable. Whether a reasonably informed and reasonable member of the public will have confidence in an entity’s autonomy-protecting features is important to determining whether it has the requisite degree of independence. Hence, if Parliament fails to create an institution that appears from the reasonable standpoint of the public to be independent, it has failed to meet one of the objective benchmarks for independence. This is because public confidence that an institution is independent is a component of, or is constitutive of, its independence.".
Die uiters gewigtige implikasies van hul onbehoorlike en onbekookte optredes, gebrekkige insigte en twyfelagtige oordele word hier so klinkklaar gestel dat die here De Villiers, Cameron en Fourie voor 'n gewetenskrisis van die ergste graad te staan behoort te kom. Is dit te laat om op manmoedige boetedoening en die gevolglike enigste eerbare uitweg te hoop? Wil mense van soveel aansien werklik die vernedering verduur dat ander hulle formeel as diaboliese konkelaars ontbloot? Kan hulle nog vermy om met bekwame spoed op hul eie swaarde te val?
As dit nie vir die Grondwethof se deurlopende Anti-Afrikaanse uitsprake was nie, sou ons nie nou hierdie debat gevoer het nie.
Dat daar 'n geweldige veldtog teen Afrikaans op alle gebiede is, kan nie betwyfel word nie.
Ongelukkig het ons nou die situasie waar die hoogste hof in die land homself bewys as 'n meeloper in daardie veldtog. Dis nie net die uitspraak teen US nie, daar is ook onder andere Hoofregter Mogoeng se uitspraak bv UKOVS.
Hierdie ondeurdagte optrede deur De Villiers, Regter Cameron , gerugsteun deur Regter Fourie is net 'n verdere manifestasie daarvan
In sy eerste Artikel hieroor, maak Gustaf dit duidelik dat hy slegs konsentreer op die etiese mistasting van die betrokke partye, nie die meriete van die uitspraak nie.
In sy eerste Artikel verwys Gustaf na die "redelike mens" se mening hieroor.
Dit is juis die kern van die saak: dit is die "redelike mens" wie se kind verhoed word om sy kennis in sy moedertaal te verbreed, as gevolg van 'n ideologie van die regeerders van hierdie land,
In ongeveer 1995 was ek werksaam by 'n baie groot Britse Maatskappy. Een aand het hierdie maatskappy 'n geselligheid vir 'n klompe senior ANC lede aangebied. Ek moes daardie aand met skok verneem dat een van hierdie menere op 'n vraag van een van die Engelse geantwoord het :"it was decided in Lusaka that by 2020 there must be nothing left to remind the world of the existence of the Afrikaner"
Die Anglisasie veldtog woed voort...sonder enige lig in die tonnel...
Eina! david ras, nou weet ek hoekom ek so hinkepink moet loop, daar word teen my gekonkel.
Wat 'n deeglike uiteensetting deur Gustav Pienaar, werklik deurdag. Nou is die vraag: wie gaan dit verder voer?
Dankie Gustaf vir jou deurtastende en analitiese kommentaar oor die (On)Gelyke Kanse sage. Dit het my onwillekeurig laat dink aan die volgende staaltjie van 'n professor aan sy regstudente in die regsetiekklas :
'n Boer kom met 'n baie swak saak na 'n prokureur en dring daarop aan dat hy moet prosedeer. Toe hul die pleitstukke ontvang se die prokureur hy dink hul moet die saak terugtrek. Die boer vra toe of dit nie sal help as hy vir die regter in die saak 'n boks Roodeberg stuur nie. Die prokureur vererg hom en se vir die boer dat hy hom aan die saak moet onttrek as hy dit sou waag. Hul gaan toe maar hof toe met 'n hopelose saak.
Toe die regter uiteindelik in hul guns beslis stap die prokureur baie verbaas uit die hof en se hy het nie gedink hul kan wen nie. Die boer se toe vir hom hy het ook so gedink en daarom het hy die kas wyn vir die regter gestuur. Dit kan nie wees nie se die prokureer. Ja ek het se die boer - maar onder die teenparty se naam.