
Hierdie essay is die resultaat van ’n gesprek tussen Stefaans Coetzee en Izak de Vries. Stefaans het die idees verskaf; die struktuur is uiteindelik tydens die gesprekke en teenvrae gevorm. (Wanneer “ek” gebruik word, is dit altyd Stefaans.)
Dinge wat ons kan doen om boeke te bemark
Moderne oorlogvoering span tegnologie in om met die druk van ’n knoppie grootskaalse verwoesting te saai. Die skaam IT-tegnikus word selfs in spesmagte se operasies ingespan om oorwinning te verseker en lewensverlies te beperk. Hoekom nie dieselfde beginsels in die boekwêreld toepas nie?
Die boekeafdeling van Netwerk24 se Smaakmaker-toekennings plaas sedert 2024 die kollig op ’n digitale era, waar sosiale media ingespan word om boeke te bemark.
Smaakmakers is noodsaaklik. Wat in die verlede gewerk het, werk lankal nie meer nie. En as uitgewers nie vinnig aanpas nie, gaan hulle agterbly, en uiteindelik verdwyn.
Nou goed. Die idee van ’n smaakmaker stuit baie mense voor die bors. Selfs al het ek die aflosstokkie vir ’n jaar gedra, sien ek myself nie as ’n “smaakmaker” nie, maar eerder as ’n bemarker.
So wat kan ons (uitgewers, skrywers en gewone lesers) doen om boeke te bemark?
1 Die kort, eerlike gesprek
Hier is iets waaraan die meeste lesers, en ook skrywers, kan deelneem.
1.1 Wat kan ons van TikTok leer?
Sosiale media, veral TikTok, is visueel, vinnig en werk goed vir aanbevelings – en dit is presies wat die moderne leser vra.
Jip, ek praat bemarking.
Die meeste moderne lesers soeke nie ’n ellelange literêre resensie of ’n bemarkingsveldtog van duisende rande nie. Nee. TikTok wys dat net ’n selfoonkamera genoeg is om te praat oor ’n boek wat jy regtig geniet het.
Die laaste deel van die vorige sin is belangrik.
Bemarking op TikTok werk slegs as jy ’n stem is wat vertrou kan word.
Hoe weet ons dat TikTok werk?
Talle groot boekwinkels het tans ’n TikTok-afdeling. Hulle hou TikTok dop en pas hulle uitstallings in die winkel aan na gelang van wat op #BookTok gebeur. Loop egter na die rakke en begin kyk wat prominent daar uitgestal word: Jy sal dikwels oorsese skrywers daar sien.
Suid-Afrikaanse uitgewers hoop uiteraard dat TikTok se invloed ook in Afrikaans sal posvat.
Ek dink mens moet eerder vra: Hoe kan TikTok se wenresep, wat skrywers soos Colleen Hoover (It starts with us) beroemd en skatryk gemaak het, vir ons in Afrikaans laat werk?
Ek dink ons kan. Met die kleiner, maar passievolle Afrikaanse mark, is TikTok se resep ideaal. Hierdie platform beloon outentieke en relevante inhoud. Dit kan egter ook op ander plekke herhaal word. Kyk na Lekkerleesboek op Facebook.
1.2 Wat kan ons van Lekkerleesboekrak leer?
Die Facebook-blad Lekkerleesboekrak se naam val nie net lekker op die tong nie, dit het ook 12 000 lede.
Lekkerleesboekrak word eintlik deur ’n handjievol boekfluisteraars gedryf. Anschen Conradie, Amanda Claasens, Katinka Steyn, Felicia Gerber, om van die sterk name te paar te noem, lewer gereeld iets. Hul plasings kry meestal min likes, maar word gelees.
As bemarkers moet ons vra: Watter plasings lok meer interaksie uit?
Soms is daar uitskieters. Bemarkers moet dophou en leer watter plasings werk. As daar ’n nuwe naam verskyn van iemand wat goed skryf en reaksie uitlok, is dit iemand om dadelik te nader om as “smaakmaker” te dien.
Uitgewers en bemarkers moet ook kyk: Watter boeke word gereeld deur gewone lesers bespreek op ’n ruimte soos Lekkerleesboekrak? Sukses waarborg sukses.
Meer nog: Wanneer die Rakkers vra “Wat lees jy?” is daar gewoonlik ’n baie goeie reaksie, veral oor naweke.
Wat leer ons hieruit? Moderne bemarking is nie ’n eenrigtingstraat nie. Dis ewe belangrik om moeite te doen om ook van die klante te hoor wat vir hulle werk.
1.3 Wat kan ons by Anschen Conradie en #uitdieperdsebek leer?
Anschen Conradie is ewe lief vir perde as vir boeke. Daarom deel sy haar sienings onder die hutsmerk #uitdieperdsebek. Dit het ’n bekende handelsmerk geword en haar maandelikse plasings oor haar persoonlike top 5 lok groot belangstelling uit.
Meer nog: Haar video’s waarin in sy direk met haar gehoor gesels, lok selfs meer reaksie uit. Haar rekordvideo staan op 3,7k kyke.
Anschen se video-indrukke skep onmiddellike vertroue, want kykers sien, hoor en voel haar entoesiasme – en dit tel. Sy is boonop nie bloot entoesiasties nie. Sy is ’n kenner. Haar kykers weet dat sy ’n grondige kennis van boeke het. Almal vertrou haar en almal weet sy lees wyd. In haar guns tel dit daar amper daaglikse lesersindrukke verskyn van alles wat sy lees.
Sou ’n mens nog groter legitimiteit aan haar kon gee as dat #uitdieperdsebek se top 5 byvoorbeeld op Netwerk24 gedeel word? Sou sy, as handelsmerk, daarby baat om saam met ’n ander gerekende handelsmerk te werk? As bemarker sou dit my opgewonde maak.
En tog, hier is my máár: Ek sou dink sy moet nie haar plasings vanaf Lekkerleesboekrak en ander Facebook-ruimtes onttrek nie.
Hoekom nie?
Conradie se krag lê juis daarin dat sy soos ’n “gewone” mens met ander “gewone” mense praat. Mense vertrou haar, maar hulle voel ook na aan haar, danksy die wyse waarop sy met ons ander in interaksie tree.
1.4 Wat kan Anschen Conradie vir skrywers leer oor bemarking?
Ek koop gereeld boeke as een van my gunstelingskrywers op die boek se voorblad ’n aanbeveling maak, soos om iets positief daaroor te skryf. Die Engelse woord shout-out sê dit so lekker.
Één sin. Dis genoeg.
Penguin Random House het laat weet dat Deon Meyer vir Tom Eaton se An act of murder ’n shout-out gee. Ek het niks meer nodig gehad om die boek te koop nie, want Meyer sal nie sy naam aan ’n swak boek koppel nie.
Daar lê die ding. Ek vertrou Meyer, soos ek ook vir Anschen Conradie vertrou.
Meer nog: As ’n bemarker wil ek weet wanneer skrywers ’n medeskrywer lees en van daardie boek hou. Kritiek? Vir ’n bemarker kan kritiek liefs voor die deur van resensente gehou word.

Deon Meyer vertel ons hy lees Wilna Roux. Een sinnetjie op Instagram. Dit word raakgesien deur haar uitgewer, uitgebasuin op hulle blaaie, en sy haal Nielsen se trefferlys.
Dis een ding om as medeskrywers ’n ander se boekbekendstelling by te woon. Dóén dit. Om ander skrywers se plasings te deel en “veels geluk” of “kyk hier” te sê, toon solidariteit. Dit as sodanig beteken egter nie dat potensiële lesers sal weet dis ’n goeie aankoop nie. As bemaker wil ek weet: Hoeveel skrywers borrel oor weens ’n medeskrywer se boek?
Kom ek demonstreer: Daar is psalms oor PJO Jonker se Die onsigbare gesing. Toe Graffiti byvoorbeeld gedurende Desember 2024 skrywers se keuses gedeel het, was Die onsigbare verreweg die meeste skrywers se keuse.
Die vraag aan medeskrywers is: Wat van die ander boeke wat jy lees? Het jy die ander skrywers se werk regtig nie geniet nie? Onthou: Lesers tel die opwinding op; hulle wonder egter ook oor die stilswye.
Terloops: Ek het dit goedgevind om in 2025 minder boeke op sosiale media te deel, sodat my keuses uitstaan.
1.5 Boekfluisteraar, span jou sterk punte in
Anschen Conradie is skaam vir video, maar sy lees so vinnig dat sy altyd ’n paar dae voorsprong bo ander het, daarom kan sy haar lesersindrukke gereed hê terwyl gewone sterflinge nog lees.
Wat kan ons by Anschen leer? As jy werklik baie moeite doen vir boeke, kan jy soms vir uitgewers vra of hulle dalk sekere boeke ’n paar dae voor die verskyningsdatum aan jou kan gee. Dan kan jy ook, soos Anschen, voor in die koor staan.
Trisa Hugo en Analize Viljoen is weer baie gemaklik voor die lens. Ek hou ook baie van Francois Bekker en Jonathan Amid se onderhoude.
Gebruik dus jou sterk punte as jy self wil bemark.
Kies persoonlikhede wat werk as jy ander wil kry om te bemark. Ek dink ... [kug] ... Sidney Gilroy en Erla Diedericks kan ’n lekker geselsprogram op ons sosiale media loods.
1.6 Jy is meer as ’n advertensiebord
Cliffordene Norton weet hoe om die sosiale media te gebruik. Sy handhaaf ’n goeie balans tussen skrywerwees en menswees.
Anschen Conradie praat oor boeke, maar deel ook haar foto’s oor haar perde. Ons ken haar gade en hulle lieflike hond Storm.
As jy ’n boekfluisteraar wil wees, kan jy ongelukkig nie bloot boeke deel nie, want dan is jy ’n net ’n advertensiebord.
Op die sosiale media soek mense na jou persoonlikheid. Hulle soek ’n kykie na binne.
Iets oor myself: My plasings van waar dinge skeefloop, het al dikwels meer kyke gekry as wanneer alles reg verloop het.
2 Die gebruik van tegnologie
Nou ’n meer tegniese kyk na wat gedoen kan word. Diegene wat belangstel om hul eie profiele te lig, kan gerus kennis neem.
2.1 Video, “reels” en “live” is koning
Waar boekfuisteraars in Suid-Afrika te kort skiet, is “reels”, video’s en “live” video’s. Ek gebruik bewustelik die Engelse terme hier.
Ingeval jy nie weet nie: “Reels” is kort video’s wat in ’n sekere formaat aangebied word; en wanneer gesprekke “live” uitgesaai word, beteken dit natuurlik dat hulle direk gestroom word na kykers – die meeste platforms gebruik die Engelse term “live streaming”.
Gaan loer gerus op boekegroepe en privaat bladsye – die oes is skraal. Tog weet ons die gebruik van klank, beeld en emosie kan help om die mens agter die boek te bemark. Weer ’n Engelse frase: “People connect to people.”
#BookTok wys hierdie vorme van kommunikasie is ’n goudmyn. En met spanwerk is hulle moontlik.
2.2 Leer by ander en lees meer
Gebruik Key Performance Indicators (KPIs). Jip. Hier plaas ek die Engels, want as jy nie weet hoe nie, kopieer die skuinsdruk, plaas dit in Google en begin lees.
Ek het. Met die regte titel, die nodige trefwoorde en skakels wat YouTube verlang, het ’n onderhoud met Charné Kemp gegroei van 600 kyke na 5 000 kyke.
Ek het al dieselfde soort getalle met video’s op Instagram gehaal; op Facebook het my kyke verdriedubbel. (Veral nadat ek aan “Alt-teks” aandag begin gee het.)
Gepraat van Facebook. Hier is nog iets om te gaan opswot: Weet jy wat word alles van jou verwag om ’n “Rising creator” te wees?
- 7 group posts
- 9 new public posts
- 380 interactions on you posts
- Get 700 more views on your content.
As bostaande meer na Grieks as Engels klink, het jy duidelik nog leeswerk om te doen.
Hoe gereeld kyk jy na jou weekly challenge op Facebook?
Of: My insights vir die laaste 28 dae is 108, 349 kyke. Hoe maximize ek hierop?
Gebruik asseblief my bewuste Mengels om die woorde en begrippe op te soek en te leer verstaan.
Instagram se high lights is baie meer gebruikersvriendelik as Facebook s’n. Ek het besluit om my high lights te gebruik om my resensies, onderhoude, ens dadelik aan lesers beskikbaar te stel deur middel van skakels.
TikTok verkies weer series content – byvoorbeeld “5 dae, 5 boeke wat my uit die slaap gehou het”.
2.3 Wees sosiaal
Onthou, ons werk op die sosiale media.
Voordat ek iets plaas, “kuier” ek altyd eers op sosiale media. Daarmee bedoel ek: Ek like en comment en deel ander mense se plasings.
Ek gebruik ook hierdie “kuiers” om op hoogte te kom met wat waar in die boekwêreld aan die gang is.
Hoekom? Die algoritme sal jou plasing deel aan diegene met wie jy interaksie het.
Daar is egter ’n veel meer gewone rede: Mense is geneig om jou goed te deel, te kyk of kommentaar te lewer daarop as hulle voel jy het húlle en húlle werk raakgesien.
2.4 Doen goed wat werk
Leer by ander wat werk vir hulle en doen dit ook as dit by jou pas.
Ek het die afgelope ruk grotendeels op unboxing gefokus. As jy nie weet nie: ’n Groot ding op die sosiale media is om ’n boks oop te maak terwyl jy dit direk uitsaai.
So kan jy oor ’n boek praat lank voor jy in meer besonderhede daaroor skryf.
Jy kan ook selfs blitsige terugvoer gee. Byvoorbeeld: “As jy van Bettina Wyngaard gehou het, gaan jy beslis Dolos van Jaco Wolmarans verslind.” Hou hierdie soort video’s (gewoonlik reels) kort. Agt sekondes is omtrent maksimum.
Maar nie alle video’s hoef kort te wees nie.
’n Direkte uitsending van ’n onderhoud met ’n skrywer kan tyd gegun word, maar nie almal hoef lank te wees nie. Daar is kitsskrywergesprekke, maksimum vyf minute lank, wat baie goed kan werk. Gebruik sulke kort lusmakers byvoorbeeld voor die eerste boekbekendstellings.
As jy dit slim doen, kan jy vir ’n paar dae elke dag iets doen. Dit bou afwagting op, soos ‘n aftelling.
Kyk net hoe goed het dit met Op pad na Grysberg gewerk. Ons het die laaste 22 dae afgetel en elke dag op ’n skrywer gefokus.
Dink aan pret. As jy meer wil weet, kyk na Trisa Hugo en Analize Viljoen se “Vyf vrae”.
2.5 Moenie als doen wat ander doen nie
’n Boekfluisteraar moet die golf dophou. Hoewel ek mense aanmoedig om te kyk wat ander doen, is die beste tyd om iets nié te plaas nie juis wanneer al die ander dit doen. Jy is óf eerste, óf laaste. In die middel smelt jy weg.
Moenie bloot ’n golf ry nie. Daar is altyd ’n gier. As almal dit begin doen, gaan jy nie uitstaan as jy dit ook doen nie.
2.6 Dink slim oor die gebruik van tegnologie
Sê tog asseblief vir my: Hoekom word boekbekendstellings nog nie direk op sosiale media uitgesaai nie? Al wil ons, kan ons nie altyd boekbekendstellings bywoon nie. Afstand, tyd en geld maak dit soms baie moeilik. Gebruik die sosiale media om die leemte te vul. En moenie boekfeeste vergeet nie! Deel inhoud op direkte uitsendings! Facebook maak dit maklik.
Dink ’n bietjie. Ons almal wonder hoe werk dinge by die drukkers. Van waar word die boeke uitgestuur? Hoe lyk ’n tipiese pakstoor? Hier lê gulde geleenthede vir diegene wat ernstig is oor boekbemarking.
En hoekom word potgooie nie gereelder ingespan vir onderhoude nie?
2.7 Ken jou platforms
Ons leef in ’n digitale era; ons moet digitaal begin dink. Jy gaan nooit almal op een platform vang nie, maar moenie bloot copy and paste op jou platforms nie.
Beplan elke video, potgooi of plasing vir ’n spesifieke platform.
2.8 Google Maps
Die hoogste aantal kyke wat ek al op Google Maps gekry het, is 13 657 346.
Jip. So kan jy boeke bemark.
Ek reis baie en plaas gewoonlik foto’s van boekwinkels, skoolbesoeke en boekfeeste.
Annerle Barnard se foto in Curro Roodeplaat High School het 498 253 kyke gekry. Fanie Viljoen se Hoërskool Eldoraigne-foto het 442 262 kyke. Constant van Graan, Alwyn Uys, Christelle Wessels, Dibi Breytenbach en Jaco Wolmarans – om net ’n paar te noem – kry maklik meer as 50 000 kyke per foto.
Hoekom nie Google Maps gebruik nie?
Ek stel voor dat lesers en uitgewers gereeld boeke op Google Maps bemark.
As ek byvoorbeeld Bargain Books in Rustenburg op Google Maps soek, kan dit my net baat om ’n keur Afrikaanse boeke in hulle galery te sien, want die meeste mense wat boekwinkels besoek, het beperkte tyd tussen inkopies. Dink net as jy ’n boekwinkel opsoek én jy sien die boek wat jy soek? Gaan dit jou nie motiveer om soheentoe te ry nie?
Terloops, verander jou foto se naam. Moenie dit IMG3456 hou nie. Ek gebruik gewoonlik die skrywer se naam en boektitel, asook Afrikaans, lees, boeke, krimi (of natuurlik ’n ander relevante genrenaam) in die naam van my foto. Trefwoorde is die geheim van die bedryf.
2.9 Koppel jou bemarking aan verkope
Onthou die goue reël: Elke plasing móét ’n aanlyn koopskakel hê.
Ek verkies ’n skakel na Graffiti – hulle het ’n goeie diensrekord, maar daar is ander winkels wat ook baie graag sal wil help.
2.10 Betrek jou leser
Betrek jou lesers by jou werk. Laat hulle kommentaar lewer, al verskil hulle met jou. Verskille is soms goed.
As jy vriendelik antwoord, het jy ’n persoon goed laat voel. Hulle mag dit onthou wanneer hulle ’n keuse moet maak oor watter boek om volgende aan te skaf.
3 Literêre kritici
Ek kon tot my bitter spyt nog glad nie daarin slaag om die gaping tussen gewone lesers wat hulle menings op sosiale media deel, en sekere literêre kritici te oorbrug nie.
Die geleerdes is ongelukkig soms ook boekfluisteraars en smaakmakers se grootste vyand.
Hoekom dan?
Ons het die letterkundiges en kritici nodig. Ek sien egter my rol as bemarker anders. Ek wil nie op die akademiese kritici se tone trap nie. Ek wil by hulle leer.
Ek gaan egter ook nie terugstaan nie.
Ek wil, as bemarker, eerder daarop fokus om mense aan die lees kry. In my profielonderhoud vir Taalgenoot met Marion Erskine noem hy dat mans in Frankryk lees. Dit is ongewoon dat ’n man nie in Frankryk lees nie. In Suid-Afrika is die teendeel waar.
Hoekom?
Ons moet die media en die sosiale media gebruik om ’n leeskultuur aan te wakker.
Solank ’n handvol kritici en boekfluisteraars mekaar as ’n bedreiging sien, veg ons vir die voortbestaan van boeke in papierformaat (en uiteindelik die voortbestaan van Afrikaans) met een hand agter die rug vasgebind.
Ons het mekaar nodig. Ons moet by mekaar leer.
Die einde van Rapport en Beeld se papieruitgawes het vir ons gewys dat Afrikaanse boeke dieselfde pad gaan stap as ons nie nuwe lesers werf nie.
Soveel jongmense lees nie Afrikaans nie. Die vrae is hoekom nie, en hoe gaan ons hulle bereik?
Boekfluisteraars is nie boeke se grootste vyand nie – games, Netflix en Showmax is.
Ons moet saam dink.
Saam is ons groter.
Lees en kyk ook:
Stefaans Coetzee: Nog gedagtes oor die bemarking van boeke
Ena Jansen, Joanita Erasmus-Alt en Hennie van Coller: Geheime van blitsverkopers in Afrikaans
Pasverskyn: Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking deur Joanita Erasmus-Alt en HP van Coller
Bettina Wyngaard: Oor boekresensies, lesersindrukke, uitgewers en skrywers
Surene Esterhuizen en Stefaans Coetzee: Bemarker, skrywer, pa, tweedekansgryper: ’n onderhoud met Stefaans Coetzee
Kerneels Breytenbach: Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?
Hein Viljoen: Cappuccino of flat white: Literêre waardes en die kanon tussen resensente en smaakmaker
Daniel Hugo: Kreatiewe reaksies op literêre kritiek
Emily Smith: Die belang van lesersindrukke
Marlies Taljard: Resensent of smaakmaker – edelmetaal of klatergoud?
Bernard Wessels: Laster en belediging: ’n oorsig oor tersaaklike regsbeginsels




Kommentaar
Weldeurdagte skrywe, Stefaans. Vir my as skrywer bly die moeilikste ding die verwagting dat ek my eie werk moet bemark. Ek was vir 'n kwart eeu in bemarking (van ander produkte). Skryf is in 'n sin nou my veilige hawe, so ver as die ooste verwyder van die bemarkingsweste. Daarom is ek dankbaar vir jonger mense, soos jy, Anchen en ander (en oueres soos Trisa - jammer T) wat hulle bemarkingsstemme laat hoor.
Solank julle stemme eerlik bly.