Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?

  • 9

Sincerely Media op Unsplash

Selfpublikasie is baie soos selfbevlekking. Dit bring kortstondige vreugde en agterna sit jy met ’n gemors. Die analogie is nie so laf as wat mens sou dink nie – albei aktiwiteite loop uit op ’n gevoel van eensaamheid.

Dis verstommend hoeveel mense dit as vanselfsprekend aanvaar dat mens alles by die groot universiteite van Google en YouTube kan leer. Een van my vriende wat ’n mediese praktisyn is, vertel dat vandag se pasiënte by ’n dokter aankom met hul diagnose klaar gegoogle – hy moet net die regte pille voorskryf. Sy grootste stryd is om hulle met geduld teen hul protestasies in behoorlik te diagnoseer en behandel.

Mens het uiteindelik spesialiste nodig op die meeste gebiede. Jy sal nie ’n ambulansman vra om jou beenmurgkanker te behandel nie. Jou rekenaar kan jou nie lei om ’n opehartoperasie uit te voer nie. Jy kan nie ’n relevante regsmening oor ’n unieke persoonlike probleem gaan uitkrap met Google nie. Jy gesels met SARS via jou belastingadviseur.

Nou hoekom sal jy self jou boek publiseer as jy niks weet van die prosesse wat daarby betrokke is nie?

...........
Nou hoekom sal jy self jou boek publiseer as jy niks weet van die prosesse wat daarby betrokke is nie?
.............

Voorstanders van selfpublikasie lys graag die voordele daarvan:

– Jou boek word vinniger gepubliseer.
– Jy is self die finale arbiter oor alles wat in jou boek staan.
– Jy kry meer tantième.
– Jou boek sal nooit verpulp of onder kosprys in die handel verkoop word nie.
– Jy het finale seggenskap oor die voorkoms, oor die verspreiding, oor die hantering van neweregte, en as jy meer as een boek publiseer, kan jy jou eie uitgewery bedryf.

Onder “selfpublikasie” verstaan ek die uitgee van boeke deur jouself, of via ’n vanity publisher, wat al die tegniese sake (redigering, taalversorging, elektroniese uitleg van die werk, die plasing van die drukwerk by ’n drukkery) vir jou hanteer, teen betaling, en dan jou boek se hele oplaag met een slag aan jou aflewer.

Dit ís so dat jou manuskrip vinniger gepubliseer kan word as deur ’n tradisionele uitgewer, maar ondervinding het my geleer dat dit die enigste voordeel van selfpublikasie is. Die probleem is net dat spoed geen waarborg van gehalte is nie – wat betref sowel inhoud as die gebinde eksemplaar. Selfpublikasies het die eienaardige eienskap dat hulle lyk asof hulle deur amateurs geskep is.

............
Dit ís so dat jou manuskrip vinniger gepubliseer kan word as deur ’n tradisionele uitgewer, maar ondervinding het my geleer dat dit die enigste voordeel van selfpublikasie is. Die probleem is net dat spoed geen waarborg van gehalte is nie – wat betref sowel inhoud as die gebinde eksemplaar. Selfpublikasies het die eienaardige eienskap dat hulle lyk asof hulle deur amateurs geskep is.
..............

Wat die inhoud betref, moet ek dit duidelik maak dat min mense ’n werklik objektiewe kritiese afstand op hul eie woordskeppings verkry. Ek self ingesluit. Jy het ’n onafhanklike oog nodig om inhoudelike foute, onlogiese spronge, swak smaak/oordeel/styl en so meer te identifiseer en jou te kry om dit reg te stel en te verbeter. Ooit Fifty shades of Grey gelees? I rest my case.

Wat tantième betref, het die uitgewerye waarby ek betrokke was, nooit ’n groter wins gemaak uit die publikasie as die skrywer self nie. Dis net wanneer boeke herhaaldelik herdruk word dat die uitgewer stewige winste begin maak. Hoekom is dit so? Omdat die uitgewer die koste van die druk, bemarking, verspreiding en voorraadbestuur op sig neem.

............
Wat tantième betref, het die uitgewerye waarby ek betrokke was, nooit ’n groter wins gemaak uit die publikasie as die skrywer self nie. Dis net wanneer boeke herhaaldelik herdruk word dat die uitgewer stewige winste begin maak. Hoekom is dit so? Omdat die uitgewer die koste van die druk, bemarking, verspreiding en voorraadbestuur op sig neem.
.............

As mens self publiseer, kom daardie koste na jou kant toe en erodeer die tantième wat jy verdien baie gou. As jy gelukkig genoeg is om bestellings vir jou boek te kry, gaan jy koerieronkostes op die lyf loop wat jou sal laat steier. As boekwinkels bereid is om jou boeke op hul rakke te plaas, gaan jy ’n sy van die ekonomie leer ken wat jou vertroue in die kapitalisme korting vir korting, rabat vir bykomende rabat gaan wegknibbel. Dis nou te sê as jy nie uit die staanspoor ingestem het tot consignment-verkope nie. Dis baie ingewikkeld, maar dis miskien net genoeg om daarteen te waarsku. Moenie. Moenie!

Wanneer boeke herhaaldelik herdruk word, tree daar by eerbare uitgewers ’n glyskaal van tantième in werking, en kry die outeur in elk geval meer daarvan. As jy self jou boeke publiseer, gaan herdrukke vir jou ’n ander soort kopseer word. EL James het haar regte en verpligtinge aan Vintage Books verkoop toe die eerste deel van die Fifty shades-reeks weens die print on demand-proses se eise gedreig het om haar finansieel onder te laat gaan.

Jy sal miskien nie jou boek verpulp of onder kosprys aan tweedehandse handelaars verkwansel nie, maar jou erfgename gaan dit eendag moet doen wanneer jy aanstap. Boonop gaan hulle nie lus wees om die oordruk- en neweregte in jou boek(e) te administreer wanneer jy nie meer daar is nie. Terwyl jy gelewe het, het jy genoeg gekla oor hoe ’n onbegonne taak dit was vir jou om daaraan óók aandag te gee. Om nie te praat van die kere wat jy ontdek het iemand plunder jou inhoud en jy nie geld gehad het om hulle hof toe te sleep nie. Jou erfgename gaan nie lus voel vir al daai onvrolike sleur nie.

Dit is ongelukkig ’n feit soos ’n koei dat die uitgewerswese nie ’n eenvoudige bedryf is nie. As iemand aanbied om jou boek te publiseer, mits jy help om die drukkoste te delg, dan moet jy gatskoon maak. Vra eers wie dit gaan ontwerp, hoe die boek bemark aan winkels gaan word, wie verantwoordelik is vir die reklame en watse kanale gebruik gaan word; vra uit waar die pakhuis is en wie die voorraadhouding- en versendingskostes gaan hanteer, en les bes kan jy vra hoeveel maal per jaar tantième betaal word en watse verkoopsyfers jy gaan kry. Die antwoorde op daardie vrae sal vir jou sanerend wees, om die minste te sê. Jy sal ook gewoond raak aan SARS se vermoë om baie diep gesprekke te voer.

Die rol van die tradisionele uitgewer is dat dit verskeie stelsels omsluit wat verseker dat jou manuskrip ’n boek word wat uiterlik kan meeding om die aandag van kopers, en innerlik foutloos en stylvol sal wees.

.............
Die rol van die tradisionele uitgewer is dat dit verskeie stelsels omsluit wat verseker dat jou manuskrip ’n boek word wat uiterlik kan meeding om die aandag van kopers, en innerlik foutloos en stylvol sal wees.
............

Die groot gevestigde uitgewers sluit wat tipografie en verpakking betref aan by eeue oue tradisies, en ondersteun dit met redigering wat sorg dat jou taalgebruik onbesproke is, asook redaksionele leiding wat jou help om dinge te vermy wat jou skerp kritiek op die hals sal kan haal, of lesers die boek na ’n paar bladsye opsy sal laat skuif omdat jy hulle verveel het.

Voorts stel ’n tradisionele uitgewer ’n span bemarkers, reklamemense, ’n pakhuis en verspreiders outomaties in werking waarmee hulle sorg dat jou boek in boekwinkels beskikbaar is, en wanneer dit bestel word, dit aan die kopers gelewer word.

Selfpublikasie beteken dat jy al daardie dinge self gaan moet doen – of ten duurste gaan betaal as jy agente, bemarkers en verspreiders aanstel om dit namens jou te doen. Ekskuus? Was die gedagte dan nie juis om alles self te doen nie?

Sou ek self ooit selfpublikasie oorweeg? Moontlik, wanneer geen uitgewer bereid is om my manuskrip vir publikasie te aanvaar nie. Maar net daardie feit sal reeds ’n sterk genoeg sein aan my wees dat my manuskrip vir die never-never-laai bestem is.

............
Sou ek self ooit selfpublikasie oorweeg? Moontlik, wanneer geen uitgewer bereid is om my manuskrip vir publikasie te aanvaar nie. Maar net daardie feit sal reeds ’n sterk genoeg sein aan my wees dat my manuskrip vir die never-never-laai bestem is.
.............

Ek sou dié roete dalk ook oorweeg as ek ’n klein oplaag van ’n manuskrip vir ’n intieme kring vriende en familie wil skep. Maar ek glo vas daarin dat die hele idee van publikasie herlei moet word na die Latynse wortels van die woord, naamlik publicare, wat beteken dat jy iets aan die groot publiek openbaar maak.

En as jy dít wil doen, het jy die spiere en ingeboude stelsels van ’n groot uitgewer nodig.

Lees ook:

Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?

Uitdagings en voordele van selfpublikasie: ’n onderhoud met Francine Beaton

Hoe gesond is die Afrikaanse akademiese uitgewersbedryf?

Van bromied tot kuber-ink: Die produksie- en leesproses by uitgewers

Hekwagters en oop hekke

Die skrywer as handelsmerk

Boekprobleme

Tien kilogram boeke, asseblief

  • 9

Kommentaar

  • Jacques le Roux

    Ek vind die illusie wat die artikel skep dat tradisonele uitgewers spesialiste is wat boeke publiseer wat innerlik stylvol en foutloos is, gevaarlik. Dit skep verwagtings by skrywers wat gereeld tot ontnugtering lei.
    My eerste boek, Donker Bloeisel uitgegee deur Naledi, is erg gekritiseer deur Amanda Botha vir ’n gebrek aan redigering, taalkundige- en tipografiese versorging.
    Eendagsblom, ook uitgegee deur Naledi, en die taalkundige versorging deur Louis Esterhuizen gedoen, het ook verskeie taalfoute.
    Dié ontnugtering kan met selfbevlekking vergelyk word.
    Nee, die vals verwagtings van tradisionele utgewers staan my nie aan nie. Ek hou persoonlik, met die hulp van kundiges, baie streng kontrole oor my nuwe projek.

  • Kerneels Breytenbach

    Ek glo nie Naledi kan in die streng sin van die woord as 'n tradisionele uitgewer beskou word nie.

  • Jacques le Roux, wat Naledi betref, moet ek ongelukkig saamstem.
    Ek is 'n onafhanklike redigeerder en ek stem met Kerneels Brytenbach se uitlating saam.
    Ek stem egter nie saam met hom oor al sy kritiek oor selfpublikasie nie. Sommige van sy argumente is waar, maar baie beslis nie alles nie.

  • Kerneels, goeienaand. Ja, ons ken mekaar al van Huppelland af - darem nie self daar geleer skoolgaan nie.
    Ek stem nie ten volle met jou kritiese artikel saam nie. Ek het onlangs die manuskrip van 'n bekende skrywer onder oë gehad om te resenseer. As redigeerder en verhaalontwikkelaar, was ek geskok oor die hoeveelheid foute, onlogiese gebeure en lam verhaallyn wat die boek vertoon. 'n Bekende druknaam by 'n groot uitgewery het gegly op 'n gewone proeflees, erg op redigering en ook verhaalontwikkeling. Nee, die groot en bekende uitgewers is nie bo verdenking of foute nie. 'n Bekende skrywer het onlangs kommentaar gelewer oor wat sy wel op die ou einde verdien uit haar jongste boek. Ek lewer my diens tesame met 'n kollega wat ook die uitleg van manuskripte doen, aan 'n selfuitgewer, Ns Skrywershuis. Nico Schamrel is die inisieerder van die uitgewery. Glo my, ons het al uitstekende terugvoer ontvang oor ons werk. Ongelukkig is die lot van die selfuitgewer dat die indoenas wat toekennings gee, nie eens bewus van die interpreneurs en hul werk nie. Na my mening word eers gekyk na die naam van die uitgewer, dan die skrywer en eers dan na die boek self. [Name van druknaam en skrywer verwyder - LitNet-redaksie]

  • Marthinus Willemse

    Kan ek duiwelsadvokaat speel? Wil ons boeke nie 'n bietjie te fancy uitgee nie? Wat geld kos. My pa se familie in die Vrystaat [Clarens] was lesers, en het die pulpfiksie van die 50's, 60's opgeslurp. Hierdie "boeke" is op goedkoop papier gedruk, met drie krammetjies vasgeheg; mooi kleurvoorblad en 'n sigaretadvertensie heelagter. Ek lees hulle vandag nog. Die doel van 'n boek is om gelees te word; nie om mooi te lyk op 'n rak nie.

    Ek het 'n paar maande gelede by Sophia Kapp navraag gedoen, en volgens haar is uitgewers al hoe meer gebonde aan 'n bemarkingstrategie, as aan 'n goeie skrywe.

    Was Leon Rousseau en Koos Human nie selfuitgewers nie? En Nicol Stassen?

  • Ronel, ek sou baie bekommerd wees met jou as "redigeerder en verhaalontwikkelaar" van boeke as jy woord soos "interpreneurs" gebruik.

  • Kerneels Breytenbach

    Marthinus, Koos Human en Leon Rousseau was nooit selfuitgewers nie. Hulle sou nooit 'n outeur vra om by te dra tot die druk- en ander kostes verbonde aan publikasie nie.

  • Bruno Andries

    Jan Pik, ek sou eerder bekommerd wees oor mense wat kritiek lewer op woorde wat hulle nie ken nie, soos entrepreneur. Soek dit gerus op.

  • Jacques le Roux

    Ek is van mening dat die uitgewersbedryf werklik professioneel moet funksioneer, en dus deur ’n professionele beheerliggaam gereguleer moet word. Dit beteken nie enige inbraak op die vryheid van spraak nie, maar slegs dat etiese aspekte maklik aangespreek kan word.
    ’n Wyd gepubliseerde en bekroonde kinderboekskrywer sê die naweek dat sy met ’n "tradisionele uitgewer" gewerk het, en dat haar manuskrip met geringe kosmetiese veranderings onder ’n ander bekende skrywer se naam gepubliseer is.
    Ek ken nie die meriete van die saak nie, en op hierdie stadium is dit slegs hoorsê. Maar ’n gerespekteerde skrywer maak die aantyging. Die dame is in haar tagtigerjare en sal nie meer op die stadium ’n kriminele klag lê nie. Sy behoort ’n kanaal te hê om haar bewering te toets.
    Die skrywers bly almal tjoepstil. ’n Bekende digter sê vir my dat ’n sekere uitgewer mense verneuk met geld. Hy wil nie daaroor praat nie, want "die bedryf is te klein."
    Ken ons nie hierdie gatkruip en politieke speletjies vir ’n niksseggende resensie of prys alte goed nie?
    Kerneels, ek hoor van die moontlik onetiese praktyke as buitestaander. Jy is mos baie meer betrokke, en weet moontlik meer?
    Ek dink daar is moontlik professionele uitgewers met goeie morele/etiese praktyke, maar daar is waaragtig ook baie ongure karakters.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top