..........
Sou dit nie hemels gewees het as mens manuskripte suiwer op literêre of vakkundige meriete kon publiseer nie, ongesteurd deur die eise en behoeftes van ’n uitgewer se bemarkingspan?
..........
Caren van Houwelingen se “Tien kilogram boeke, asseblief” het ou wroegings en gewaarwordinge in my gedagtes laat herleef. Ek glo nie daar is enige uitgewers, veral diegene wat met die keuring en publikasie van manuskripte werk, wat nog nie daardie versugting gehad het nie. Sou dit nie hemels gewees het as mens manuskripte suiwer op literêre of vakkundige meriete kon publiseer nie, ongesteurd deur die eise en behoeftes van ’n uitgewer se bemarkingspan? En sonder ’n finansiële bestuurder wat jou kom aanspreek omdat jou publikasies nie winsgewend is nie?
Salige gedagte.
Maar dan moet mens ook dink aan die bemarking- en verkoopspanne, wat meermale as wat gesond is, gebede opstuur dat die redakteurs vorendag sal kom met iets wat boekkopers na boekwinkels sal laat stroom. Van Houwelingen wonder hoekom boeke in winkels nie beter uitgekies en versorg is nie – die bemarkers, wat die drempels van boekwinkels deurtrap, sal sê dit is juis gekureer om te voorsien in die navrae na boeke wat van die publiek ontvang word.
En op die agtergrond is daar steeds ’n rekenmeester wat naels kou – as die onderneming nie winsgewend is nie, maak dit uiteindelik geen sin om daarmee voort te gaan nie.
Ek vermoed die enigste keer waar drukwerk die geskiedenis verander het sonder om winsgewend te moes wees, was toe Martin Luther, of Lotharius, soos hy toe nog bekendgestaan het, op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die voordeur van die kerk in Wittenberg vasgespyker het. Luther, ’n monnik en hoogleraar in teologie aan die Wittenbergse universiteit (waar Hamlet later sy gelerentheid gekry het), het die leerstellinge, wat daarop gemik was om ’n teologiese debat onder die studente en monnike te stimuleer, self meerdere male gekopieer en onder sy kring van kennisse versprei.
Een van dié afskrifte het Gutenberg in die suide van Duitsland bereik, waar die eerste drukpers 40 jaar vantevore in gebruik gekom het. Spoedig had Luther die verrassing van sy lewe, en kort daarna ’n nog groter een, toe hy moes verneem dat die Pous ook een van die gedrukte pamflette gekry het. (Bygesê, Luther het vir die Pous ’n handgeskrewe ene gestuur op 1 November 1517, maar die Pous het dit vir die aandag van Vatikaan-klerke aangestuur. En in 1517 het dit in die Vatikaan baie gegaan soos in die Suid-Afrikaanse staatsdiens vandag – almal praat, maar niemand werk nie.)
Die wins in daardie geval was die Hervorming. Bid jou aan wat sal gebeur as mens vandag boeke kureer met die hoop dat dit mense tot ’n ander siening van geloofsberou sal bring.
Sedert 1517 het die boek ’n sentrale deel geword in die kulturele sfeer in die meeste lande waar kultuur dinge soos opvoeding en intellektuele diskoers insluit. Met die koms van ontspanningsleesstof het uitgewers ’n wonderlike manier gevind om kop bo water te hou. ’n Paar blitsverkopers help om die boeke te laat klop; die publikasie van digbundels en ’n verskeidenheid niefiksie-, kinder- en jeugboeke word hierdeur moontlik gemaak. Die ideaal is dat elke publikasie winsgewend moet wees; in die praktyk gebeur dit selde.
..........
’n Paar blitsverkopers help om die boeke te laat klop; die publikasie van digbundels en ’n verskeidenheid niefiksie-, kinder- en jeugboeke word hierdeur moontlik gemaak.
..........
Boonop het uitgewers ’n bykomende probleem: Hulle is die tussenganger tussen skrywer en leser. Hulle bou ’n vertrouensverhouding met skrywers op, meestal via die redakteur-uitgewers en bestuur. En hulle beloof dat hulle vir die skrywers lesers sal vind. Kyk mens na die standaardkontrak wat uitgewers met skrywers sluit, sien jy hoe daardie dinge een vir een uitgepak word. (Die heerlike ironie is dat die vertrouensverhouding op sy gesondste is wanneer die bemarkingspan welslae behaal met die verkope van die outeurs se skeppings.)
Een van die belangrikste segmente van die kontrak beskryf die vergoeding wat die skrywer sal ontvang. Geen mens wat by sy volle verstand is, sal só ’n kontrak vir ’n skrywer aanbied as hy nie weet sy bemarkingspan gaan (en kan) alles in die stryd werp om die boek verkoop te kry nie. Dit is ’n groot belegging wat ’n uitgewer in elke boek maak – en die finansiële risiko is slegs die uitgewer s’n.
Daar is baie ratte in die uitgewersmasjien; laat net een rat wobble en die hele gedoente sidder tot stilstand.
In die jare tagtig, toe ek by Human & Rousseau begin werk het, het Koos Human my vertel van die ou manier van pryse bepaal waarna Van Houwelingen verwys. (As my geheue my nie in die steek laat nie, was die groot gees op hierdie gebied ’n man genaamd Vernon de Haas.) Hy het my ook die formule gewys vir hoe H&R hul pryse bepaal het; dié formule is aangepas en verfyn saam met Tafelberg-Uitgewers se metode om die beleggingsvorm te word vir elke publikasie wat by NB-Uitgewers verskyn het. Ek vermoed hulle gebruik steeds ’n vorm daarvan – en ek weet al die groot internasionale uitgewers werk op ’n soortgelyke basis.
..........
Kan ’n mens ’n uitgewery ooit as enigiets anders as ’n sake-onderneming beskou?
..........
Kan ’n mens ’n uitgewery ooit as enigiets anders as ’n sake-onderneming beskou? Ek glo nie. Maak nie saak hoe vroom die praatjies is en hoe subliem die ideale, uitgewerye wat nie winsgewend bestuur word nie, is gou bankrot.
Dis gevaarlik om te veralgemeen, maar ek dink alle groot uitgewers, soos dié waarna Van Houwelingen verwys, beskou nie boeke suiwer as kommoditeite nie. Hulle is kieskeurig, en fokus op publikasies waarmee hulle geassosieer wil wees, of wat sekere publikasie-ideale nastreef. Vergelyk gerus die webwerwe van Hachette, HarperCollins, Penguin Random House, Bloomsbury en so meer met mekaar. Of hier naderby die webwerwe van NB-Uitgewers, Jonathan Ball Publishers, Penguin Random House, Protea en Naledi.
Ek sien nie juis kommoditeite daar raak nie. Boeke word kommoditeite eers wanneer daar geen hartsbegeerte is om hulle te publiseer nie. Daarmee wil ek nie sê dat daar nie titels is wat deur uitgewers aanvaar is om hul begrotings te laat klop nie. Maar ek is wel bereid om te sê dat uitgewers selfs in sulke gevalle sorgvuldig kies wat hulle uitgee, en dat die begeerte om daarmee te presteer weldeeglik bestaan.
Natuurlik is ek besig om te oorvereenvoudig. ’n Uitgewery is veel meer kompleks as net ’n gesonde balansstaat. ’n Uitgewery is binne ’n sosiaal-kulturele sfeer aktief en het ’n teikenmark van lesers. As iets met daardie mark gebeur, soos nou met die diaspora van Afrikaners, dan gaan dit noodwendig gebeur dat die rieme dunner gesny moet word aan uitgewerskant. Die kollektief van uitgewers in Suid-Afrika is aktief omdat hulle weet dat daar steeds ’n deel van die bevolking is wat die wil en vermoë het om boeke te koop. (Dit is ’n oorweging waarmee rekening gehou moet word telkens wanneer uitgewers nuwe groeipunte beproef. Ek is veral geïnteresseerd om te sien hoe Kaaps in die komende jare in boekwinkels vorder.)
Maar dit bring my by ’n groter probleem. Hoe stimulerend ek ook Caren van Houwelingen se artikel gevind het, voel ek dat sy ’n aanname maak wat nie steek hou nie. Dit is naamlik dat daar in Suid-Afrika ’n groot en gewillige koperspubliek vir boeke is. Daarmee kan ek nie saamstem nie.
Inteendeel, ons bevind ons in ’n groot gemors. Buiten die invloed wat die diaspora van Suid-Afrikaners op die koop van boeke het, het ons onderwysstelsel dermate agteruitgeboer dat mens nie meer kan aanneem dat iemand wat gematrikuleer het, taalvaardig genoeg is om ’n katolieke leesprogram te volg nie. En die ou ideaal om kinders vir die boekekultuur te wen voordat hulle 12 is, is kwalik ’n flonkering in ons boekstrewes. In alle tale.
..........
In die jare tagtig en negentig was daar ’n gesegde dat as dit goed gaan met Huisgenoot, dan gaan dit goed met Afrikaans.
..........
In die era van digitalisering het boeke iets geword vir die ouer garde. Dit is nie universiteitstudente wat die Woordfees bywoon nie, maar wel veel meer senior oudstudente. E-boeke is besig om veld te wen by ons, maar nie so vinnig soos in die VSA gebeur het nie, en waar dit die grootskaalse sluiting van boekwinkels help ondervang het. In die jare tagtig en negentig was daar ’n gesegde dat as dit goed gaan met Huisgenoot, dan gaan dit goed met Afrikaans. Nou ja, Huisgenoot leef voort – maar nie meer met ’n weeklikse sirkulasie van 500 000 nie. Die groter prentjie lyk benouend.
Ek dink plaaslike uitgewers verdien soveel ondersteuning as wat mens hulle kan gee. Ek hoop net nie hulle steur hulle te veel aan Van Houwelingen se verwysing na die mark vir vinielplate nie. Dié bestaan wel in ’n baie geringe mate, maar is in Suid-Afrika omtrent so lewendig soos die ou Gallo-fabriek in Steeldale. Sy moes eerder genoem het dat die groot internasionale platemaatskappye (en hul plaaslike verteenwoordigers) almal gevou het voor die aanslag van eers die CD en daarna Apple en Spotify se groot digitale musikale verspreidingspunte. Vandag se vinielmark is vir ’n klein getal musiekliefhebbers wat nog na die warmte van predigitale klank terugverlang en die geld het om die apparaat daarvoor aan te skaf.
Ek is nie heldersiende nie en het nie antwoorde op al die sake waarmee Van Houwelingen worstel nie. Al wat ek wis en seker weet, is dat dit reeds internasionaal aanvaar word dat digitale boeke nie onafhanklik van hul papiermeeloper kan bestaan nie. En binne vandag se ekonomiese klimaat gaan dit belangrik bly om elke publikasie so na aan winsgewend as moontlik te publiseer, en om die groot finansiële las van voorraadhouding te verlig via die beskikbaarstelling van die bedrukte formaat in die vorm van e-boeke.
Is daar ’n alternatief vir die boekbedryf? Ja, sekerlik. Mens noem dit vanity publishing, en dit behels dat maatskappye mens help om jou skryfwerk te publiseer. Jy betaal hulle, en hulle redigeer die manuskrip bolangs, ontwerp en druk die boek, en besorg dan die hele oplaag aan jou sodat jy maar self kan sukkel om lesers daarvoor te kry. En die finansiële risiko is joune.
As ek voor só ’n keuse gestel word, sou ek nie laasgenoemde publikasieweg kies nie.
Kommentaar
Ek en ’n paar vriende koop boeke en ruil soms onder mekaar uit. Ons kerm gereeld oor die droogte aan doodgewone leesbare outentieke Afrikaanse boeke. Deon Meyer. Chris Karsten. Rudie van Vuuren. Peet Venter.
Want die boeke wat die pryse wen en "meriete"-boeke is, soos Jan van Tonder se Verevrou en Ingrid Winterbach is nie ons koppie tee nie. Afrikaans hoef nie so droefgeestig te wees nie. Dan lees ons maar krimi’s, want die bad guys word altyd gevang. Spaar ons die "chick lit", dis breindood. Dan lees ons eerder Romanza-boekies waar al die helde bedonnerd is maar aan die einde ’n smooch waarborg. Ons koop nog steeds boeke. Maar ons sukkel om te kry waarvan ons hou. Dis asof die outeurs se idees opgeraak het. Daar is rêrig niks oorspronklik/nuut op die rakke nie.
Konstruktiewe en goed beredeneerde artikel oor ’n belangrike gesprek.
Kerneels, ek kan maar net beaam. Ek het 25 jaar lank my eie uitgewerye gehad en baie vinnig die wysheid geleer van die ou Sjinese gesegde: No money, no life.
Jissou, Reinette, daar is tog méér ... ek wil nie nou adverteer nie, maar het jy reeds Wilhelm Jordaan se Sondesemoer of Heinz Mödler se Stetoskoop of Alda Merini se Kliniek van verlatenheid gelees? Praat van oorspronklikheid. Ek is selfs bereid om dit verniet weg te gee indien jy die R65.00 koerierkoste sal betaal. Dié boeke lê in elk geval net in ons (Naledi se) stoor omdat almal (of dalk nie almal nie?) net die genoemde skrywers in jou brief se werk koop.
Johan Coetzee, is die boeke nog beskikbaar?
Ja, graag, Claudette. Stuur asb. net jou besonderhede na naledi@mweb.co.za, verwysing: LitNet.
Nee, jinne Reinette. Daar is soveel lieflike Afrikaanse boeke op die rakke. Het jy al ooit Helene de Kock se boeke gelees? Madelein Rust, Irma Venter, Irma Joubert, Cas Wepener, Francois Bloemhof, Isa Konrad, Marie Spruyt, Connie Luyt, Marida Fitzpatrick, Wilna Adriaanse, Bets Smith, Mariël le Roux, Jan Vermeulen, Marita van der Vyver? Dis net 'n paar name en almal uitstekende lekkerleesboeke! Ek weet nie waar jy jou boeke koop nie, maar dit klink nie vir my dis in 'n boekwinkel nie.
Dankie aan Johan Coetzee van Naledi wat na aanleiding van sy antwoord op Reinette Rautenbach se skrywe ook bereid is om aan my boeke te stuur teen slegs die koerierkoste. Sjoe, ek sien reikhalsend uit na die pakkie boeke!
Dankie, Kerneels, vir 'n baie insiggewende artikel. En nee, Reinette, ek dink jy moet vir Leonie van Rensburg by Graffiti e-pos en vir haar vir voorstelle vra. Daar is 'n enorme verskeidenheid boeke in Afrikaans en soveel nuwe debute dat ek nie die helfte op 'n Woordfeesprogram kan insluit nie.