Die skrywer as handelsmerk

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Wat is ’n handelsmerk? Pharos se aanlyn woordeboek som dit op as "’n besondere merk of teken waaronder ’n handelaar sy goed verkoop". Verder lui dit: "’n naam, teken of simbool wat op ’n handelsartikel of die verpakking daarvan aangebring word om dit van die produkte van ’n ander fabrikant te onderskei". Google definieer dit as "an identifying mark burned on livestock or (especially in former times) criminals or slaves with a branding iron".

Ek verkies die laaste definisie, want dit is die uitgangspunt – oftewel waarskuwing – wat skrywers en uitgewers in gedagte moet hou wanneer jy ’n skrywer bemark as ’n handelsmerk – "an identifying mark burned on livestock".

Alle kommunikasie en bemarking van ’n skrywer in die media moet gesien word as ’n "brandmerk" wat permanent op ’n skrywer geplaas word. Hierdie brandmerk skep ’n baie spesifieke persepsie van ’n skrywer, en om hierdie persepsie later te verander is ’n moeilike, tydsame en gewoonlik duur proses. Dit is dus belangrik dat daar vir elke skrywer baie spesifieke, deurdagte handelsmerkriglyne opgestel moet word  – ’n  tipe "handelsmerkbybel" waarin soveel riglyne moontlik uiteengesit word oor wat die skrywer se handelsmerk alles behels.

Wat sê ons byvoorbeeld van die skrywer? Wat is sy/haar unieke verkoopspunt; wat onderskei hom/haar van ander skrywers; hoe lyk sy/haar boekomslae (en dan moet stylriglyne ook daarvoor opgestel word); wys ons ooit sy/haar gesig, en indien wel, wat is die styl van fotografie; gaan die skrywer onderhoude met die media doen en op televisie verskyn, en indien wel, wat is die storie wat hy/sy moet vertel? Alles moet saam sit as ’n geheel, as ’n pakket, wat die skrywer se identiteit vorm.

Verbruikers moet byvoorbeeld die naam Deon Meyer hoor of iewers lees en presies weet wat sy "vibe" is. Daar moet onmiddellik ’n baie spesifieke prentjie in die verbruiker se kop opkom. En dit kan net gedoen word as die skrywer se handelsmerk deurlopend konstant bly. Dit moet so goed gedoen word dat jy die skrywer se "vibe", oftewel handelsmerk, in ’n tweet, in een sin, moet kan opsom.

Deon Meyer

Al die bekendste skrywers kan dit doen – sien voorbeelde onder:

Dana Snyman: Reisiger wat verhale skryf oor die mense wat hy langs die agterpaaie ontmoet.
Deon Meyer: Afrikaans se spanningsverhaalkoning en biker.
Ena Murry: Die liefdesverhaalkoningin.
Marita van der Vyver: Bly in Frankryk. Dit is idillies. Wat meer het jy nodig?

Dan op internasionale vlak:

Dan Brown: Unravels the world's biggest mysteries in under twenty-four hours.
EL James, skrywer van Fifty Shades of Grey: Mommy porn.
Gabriel Garcia Marquez: Suid-Amerikaanse magiese realisme.   

Wanneer dit kom by sosiale media as bemarkingsplatform, is dit belangrik om deskundiges te gebruik. Net omdat ’n skrywer ’n duisend vriende op Facebook het, beteken dit nie hy/sy is ’n sosiale-media-deskundige nie. Inteendeel. Uitgewers moet sosiale media sien as presies wat dit is: ’n mediaplatform – net soos advertensieborde en gedrukte advertensies in tydskrifte en koerante.

Dit is hoe mens na sosiale media moet kyk. Elke keer wat jy iets post, moet daar gevra word: Sou jy hierdie post op ’n advertensiebord langs ’n hoofweg plaas? Alle posts, ontwerpe en kommunikasie op sosiale media moet, net soos in al jou ander mediaplatforms, honderd persent strook met die skrywer se handelsmerk en handelsmerkriglyne.

Paulo Coelho

Wat problematies is, is wanneer skrywers of uitgewers dink mens kan jou sosiale skrywersblad hanteer soos ’n persoonlike blad. Alhoewel ons almal dink ons is dalk die volgende Kim Kardashian, en dat sy post wat sý wil, wanneer sý wil, moet daar besef word, dat daar ’n baie spesifieke en doelbewuste sosiale-media-strategie agter haar as handelsmerk is, en dat sy heel waarskynlik nie eens self haar blad bestuur nie. (Sien https://www.facebook.com/KimKardashian.) Elke post word geplaas om iets baie spesifieks te kommunikeer en so ’n doelbewuste persepsie te skep.

Maar dit is nie net realiteitsprogramsterre wat dit regkry nie; die skrywer Paulo Coelho het, soos Kim Kardashian, ook oor die 20 miljoen followers (https://www.facebook.com/paulocoelho). Nou, net dat julle verstaan, daar is geen manier wat jy organies 20 miljoen followers op Facebook kan kry nie. Dit kan net met ’n baie intensiewe sosiale bemarkingsplan gedoen word.

Maar nou sal kritici sê: "Ja, maar Paulo Coelho is reeds bekend en het al meer as ’n 100 miljoen boeke verkoop." In antwoord hierop kan ons kyk na die Annie Leibovitz-voorbeeld. Sy is die fotograaf wat bekendheid verwerf het deur foto's van beroemde persone te neem. In 2008 is daar ’n Facebook-blad vir Annie Leibovitz geskep deur ’n bewonderaar watvan 2008 tot 2013 gereeld interessante posts geplaas het en Annie se fotografie op dié sosiale-media-platform gedeel het. In ses jaar het dié blad gegroei tot meer as 17 000 fans (https://www.facebook.com/pages/Annie-Leibovitz/198845524198). Dan is daar ook die "organiese" Annie Leibovitz Facebook-blad, wat getrek word vanaf Wikipedia, met meer as 44 000 likes (https://www.facebook.com/pages/Annie-Leibovitz/105471716153186).

Maar op 18 February 2014, skaars vyf maande gelede, is daar ’n nuwe, amptelike Annie Leibovitz Facebook-blad geskep, wat huidiglik op oor die 380 000 fans staan. Dit is ’n konkrete voorbeeld van wat die impak is wanneer daar bemarkingsdeskundiges agter ’n sosiale blad inklim – hoekom anders sou 380 000 mense skielik in ’n kwessie van vyf maande besluit om háár Facebook-blad te like

Annie Leibovitz

Nog ’n voorbeeld is ons plaaslike spanningsverhaalkoning, Deon Meyer. (Deon, verskoon dat ek jou as voorbeeld gebruik. Ek doen dit maar net omdat jy een van ons land se topverkopers is, en een van die min skrywers is wat werklik ’n sosiale teenwoordigheid het. Ter wille van die argument gaan ek nie hier praat oor Deon Meyer se meer as 10 000 followers op sy Twitter-blad nie.)

Op Deon Meyer se skrywers-blad op Facebook is daar ongeveer 2 500 fans (https://www.facebook.com/DeonMeyer.Author).

Tog, op die blad wat getrek word op Facebook vanaf Wikipedia, is daar meer as 10 000 mense wat Deon Meyer like (https://www.facebook.com/pages/Deon-Meyer/108229055868901). Die rede hiervoor is nie dat die ander 7 500 mense vir Deon Meyer like maar hom nie wil hoor praat op sosiale media of wil sien wat hy alles post nie. Die antwoord lê, soos ons in die Annie Leibovitz-voorbeeld sien, in bemarking.

Alle kommunikasie met die "buitewêreld", in alle mediaplatforms, moet baie spesifiek uitgevoer word en aan baie streng handelsmerkriglyne voldoen. Twitter en Facebook kán gebruik word (mens wil amper sê: is lewensbelangrik), maar dan móét dit reg gedoen word deur die regte deskundiges. Sou jy vir jou skrywer vra om vir jou ’n advertensiebord te ontwerp wat jy langs die hoofweg wil opsit? Of om enige ander handelsmerk, soos ’n waspoeier, vir jou te bemark? Miskien, as jou skrywer ’n bemarkingsdeskundige is. Maar dit is nie ’n skrywer se werk om dit te doen nie. ’n Skrywer se werk is om die boeke te skryf wat ek en jy elke dag lees. Uitgewers moet die bemarking hanteer en sorg dat die brand en vibe wat hulle vir die skrywer skep, aanklank vind by lesers.

Ek onthou toe Dan Brown se boek The Lost Symbol in 2009 uitgekom het, is daar ’n ses verdieping hoë advertensiebord aan die onderkant van Langstraat, bo McDonalds (ek dink dit was toe nog ’n 7-Eleven), opgesit. Al wat op die advertensiebord was, was die beeld van die sleutel van die omslag van sy nuwe boek met die woorde: "The Lost Symbol. 15.09.09. The New Dan Brown Novel." Maar dit was ses verdiepings groot! Dit maak ’n statement. Dit sê: “Ek is een van die grootste skrywers daar buite, en al wat ek vir jou hoef te sê is wat die titel van my volgende boek is, en wanneer dit beskikbaar is”. Net so maak Paulo Coelho se 21 miljoen fans op Facebook ’n statement.     

Dus, ter opsomming: skrywers is handelsmerke. Span die regte bemarkingspan en hulpbronne in en jou branding, boekverkope en skrywers sal soveel meer suksesvol wees. En, selfs belangriker, meer mense sal hul boeke wíl lees.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief

Skryfsake
Agter elke storie
– Hennie Aucamp
2007-05-03

Akademies
Hiperteks of hipermark? LitNet en die www
– Etienne van Heerden
2001
Young Voices Conference 2004
Die wetenskap van liefde, en ander maniere om te dobbel
–Nèlleke de Jager
2004-11-23
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie
– Franci Greyling
2012-09-28
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Selfuitbeelding en Facebook: ’n Estetika van verdwyning?
– Amanda du Preez
2013-01-21
Briewe deur die lug
Hibriditeit en die internet
– Joan Hambidge
2000
Menings
Digitaal Afrikaans: Internet en de Afrikaanse literatuur
–Hendrik-Jan de Wit
2014-03-26
Seminaarkamer
Southern African languages, globalisation and the Internet
– Russell Kaschula

Naklanke
Afrikaanse Musiek: Eiendoms (Beperk)
– Albert du Plessis
2012-07-18

Skryfsake
Splinternuwe Facebook-groep vir splinternuwe skrywers
2012-10-15

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top