Nog gedagtes oor die bemarking van boeke

  • 3

Ek wil hierdie skrywe begin deur te sê dat ek geen skrywer of uitgewer probeer benadeel nie. Ek weet alte goed dat gevestigde skrywers ure se sweet moes opoffer om bekend te word, maar in dieselfde asem wonder ek wat sal gebeur indien jong stemme dieselfde blootstelling kry. Ek praat nie van resensiespasie in die koerante nie, maar die ekstra blootstelling.

Ons moet immers die volgende Deon Meyer aan die wêreld voorstel. Dibi Breytenbach, Jaco Wolmarans, Marie Lotz en Sidney Gilroy (om maar enkeles te noem), het bewys dat die talent daar is. Wat kort, is bemarking deur uitgewers, lesers en sakemanne.

Ek onthou nog hoe bly ek was toe Charlize Theron in 2004 met die Akademieprys vir Beste Aktrise weggestap het vir haar rol in Monster. Dit het gevoel of ek dit gewen het! Dieselfde trots Suid-Afrika klop in my are wanneer enige ander Suid-Afrikaners ons vlag omhoog hou, ongeag of dit in sport, besigheid of die skoonheidsbedryf is. Dit is lekker wanneer Arnold Vosloo, Rolene Strauss en Caster Semenya se woorde met ’n oorsese aksent oor die tong rol.

Ek weet dat dit vir die uitgewers oor rand en sent gaan, dus gooi ek die bal terug in ons lesers – en sakelui – se hande.

Sosiale media

Die lewe is gans te duur om sommer net ’n boek op te tel en te koop.

Ek doen vooraf moeite om oor die boek op te lees en steun geweldig op lesersindrukke. As ek nie seker is nie, wag ek eers ’n bietjie.

Voordat ek en Anschen Conradie van #uitdieperdsebek vriende geword het, het ek haar op Lekkerleesboekrak gevolg om te sien wat sy aanbeveel. Haar eerlike indrukke het van haar ’n betroubare bron gemaak. Sy het aan my bewys dat daar op sosiale media plek is vir lesers om boeke te bemark, mits die leser dit doen sonder om by skrywers gat te kruip. ’n Vriend vir wie ek kan WhatsApp of bel, dra geweldig gewig, dus moet persoonlike vriendskappe nie die lesersindruk se geloofwaardigheid beïnvloed nie. Selfs ’n kitsopmerking soos “lees dit!” dra vir my meer gewig uit ’n betroubare bron se mond as mooi woorde wat gemik is op selfpromosie, of soos reeds gesê, gatkruip.

As jy regtig voel dat jy nie kan skryf nie, is daar ander kreatiewe maniere om my aandag te trek. Trisa Hugo van Boekemakranka se foto’s laat my byvoorbeeld gereeld lank genoeg stilstaan om die titel te lees. Die feit dat sy aanlyn boekgesprekke voer, maak dit net nog lekkerder.

Ons het ook soveel boekklubs; dit is nog ’n bemarkingsgeleentheid om te ondersoek.

Ons leef in ’n tegnologie-era met ’n legio moontlikhede, kies wat werk vir jou en gebruik dit om Afrikaans te bemark.

Boekbekendstellings

Ek moet tot my skande erken dat my eerste boekfees deur vyf skrywers en 14 gaste bygewoon is. Slegs een boek is verkoop. Ek het daarna deur middel van boekbekendstellings ’n databasis opgebou en toe, met die hulp van ons plaaslike radiostasie en koerant, ’n tweede boekfees gehou. Meer as 430 mense het dié een bygewoon, en dit gedurende Covid. Sedertdien het ons boekfees ’n instelling geword.

Ek het hieruit geleer dat plattelandse dorpe honger is om saam met hul gunstelingskrywers te kuier. Ek weet, ek weet, nie almal kan boekfeeste reël nie, maar as ’n paar dorpe in dieselfde omgewing se boekklubs hande vat, kan ’n deeglik-beplande boekbekendstelling meer gewig dra. Dit is in klein, intieme byeenkomste waar skrywers met die lesers connect.

Boekbekendstellings se grootste voordeel is die selfies saam met die skrywer, wat dan op sosiale media versprei word. Indien 20 gaste die geleentheid bywoon, is daar sonder twyfel meer as 100 foto’s op Facebook. As net vyf mense die gaste se foto’s like, is 100 mense bereik.

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Jy doen goed, ek dink baie mense waardeer al die dinge waarmee jy besig is. Hopelik sal die passie vir die geskrewe woord nooit by jou kwyn nie. Ook al die ander werk wat jy so onbaatsugtig doen, die motiveringspraatjies van jongmense en minder-jonges. En dan is jy by dit alles so nederige en vriendelike mens - 'n voorbeeld vir die meeste van ons.

  • Elsabé Welman

    Dankie vir die gedagte om onbekende skrywers ook 'n hupstoot te gee in terme van bekendstelling aan die leserswêreld.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top