Die wenners van die Grondwoorde 2020-projek: ’n onderhoud met Wouter Gildenhuys

  • 0

Wouter Gildenhuys (foto: verskaf)

Die Grondwoorde-projek is in 2016 in die lewe geroep. Wouter Gildenhuys het besluit om ’n digkompetisie vir hoërskoolkinders in KwaZulu-Natal, wat nog in Afrikaans onderrig ontvang, tot stand te bring. Die projek het selfs in 2020 voortgegaan, ten spyte van al die pandemie se uitdagings. Wouter praat met Naomi Meyer oor die projek.

Wouter Gildenhuys praat met Naomi Meyer oor die Grondwoorde 2020-projek.

Wouter, jy het in 2020 nog ’n Grondwoorde-projek afgehandel. Sal jy asseblief eerstens die agtergrond van die projek gee, vir enige lesers wat nog nie hiervan gehoor het nie?

In 2015 het ek besluit, na ’n besoek aan Hoërskool Port Natal, om ’n digkompetisie te loods. Die doel was/is om erkenning te gee en ondersteuning te verleen aan dié leerlinge wat nog in Afrikaans onderrig ontvang. ’n Wederkerige doel van die projek was ook om die Afrikaanse taal te bevorder deur Digkuns Grondwoorde, wat in 2016 vir die eerste keer aangebied is, spesifiek vir hoërskoolleerders in KwaZulu-Natal.

........

Die kompetisie is meer as net ’n digkompetisie. Dit is nie net ’n inisiatief wat erkenning gee aan die gebruik en handhawing van Afrikaans nie, maar is ook ’n belegging in die skryf en voortbestaan van die taal, om belangstelling in poësie te bevorder, om ondersteuning aan aspirantdigters te verleen en om brûe te bou tussen ’n meer diverse groep leerders.

...........

Die kompetisie is meer as net ’n digkompetisie. Dit is nie net ’n inisiatief wat erkenning gee aan die gebruik en handhawing van Afrikaans nie, maar is ook ’n belegging in die skryf en voortbestaan van die taal, om belangstelling in poësie te bevorder, om ondersteuning aan aspirantdigters te verleen en om brûe te bou tussen ’n meer diverse groep leerders.

Ek sien en gebruik taal – in hierdie geval: Afrikaans – as ’n instrument van versoening. In my projekte fokus ek op die versoeningsaspek daarvan.

........

Ek sien en gebruik taal – in hierdie geval: Afrikaans – as ’n instrument van versoening. In my projekte fokus ek op die versoeningsaspek daarvan.

.........

Die voorskrifte vir die Grondwoorde-digkompetisie sluit elke jaar ook ’n kategorie in wat eie is aan KwaZulu-Natal. Hopelik sal dit help om ’n digkuns te skep wat ’n sterk streekskarakter weerspieël. Dit is my droom dat hierdie streekskarakter nie net sal vergestalt in abstrakte konsepte nie, maar sal voortvloei deur die ontwikkeling en gebruik van ’n idiomatiese streekstaal.

Inskrywings vereis drie gedigte – die leerders moet ’n gedig in elk van drie kategorieë inskryf om te kwalifiseer vir die kompetisie. Die volgende temas, eie aan KwaZulu-Natal, was onder andere ’n vereiste vir een van die drie gedigte wat die leerlinge moes indien (elke jaar soos aangedui):

In 2016 – ’n lykdig oor DJ Opperman

In 2017 – Koning Shaka en/of sy moeder, koningin Nandi

In 2018 – Zoeloe-volksverhale/-mites

In 2019 – Gandhi

In 2020 – Spikkelkoei

ln 2021 is dit Suikerriet.

Hier volg ’n paar aspekte van die kompetisie:

  • Die kompetisie bestaan uit ’n junior afdeling (grade 8, 9 en 10)    en ’n senior afdeling (grade 11 en 12).
  • Die eerste prys in die senior afdeling is R10 000 en daar is vier naaspryse van R2 500 elk.
  • Die eerste prys in die junior afdeling is R5 000, met vier naaspryse van R2 500 elk.
  • Elke deelnemer ontvang ook ’n kontantbedrag (minimaal) as erkenning van hulle deelname.
  • Die prysgeld word deur privaat skenkers geborg.
  • Geen inskrywingsgeld is betaalbaar nie.
  • Die getal inskrywings het van 54 in 2016 gegroei tot meer as 600 in 2018.
  • ’n Baie belangrike komponent in die digkompetisie is die leerkragte. Sekere skole doen besonder goed en dit is tot ’n groot mate te danke aan die entoesiasme van die leerkragte by daardie skole.

Die Grondwoorde-projek was uit die staanspoor daarop ingestel om leerders aan te moedig om gedigte in Afrikaans te skryf. As deel van die projek bestaan daar dan ook die Inhlabathi-prys.

Inhlabathi is die Zoeloe-woord vir grond en hierdie pryskomponent skep die moontlikheid om ook ander toekennings te maak. Die prys is die eerste keer in 2018 toegeken. In die lig van die beoordelaar se spesiale vermelding van "onthoubare stukkies uit gedigte" is daar besluit dat die volgende 16 leerders van wie daar stukkies verskyn, vanjaar in aanmerking kom vir ’n Inhlabathi-aanmoedigingsprys:

1. Agostinho Coelho (Reddam House Ballito)

2. Anele Sethebe (Dundee High School)

3. Chante Luus (Ferrum High School)

4. Danielle Viljoen (Curro Mount Richmore)

5. Diya Luckan (Effingham Secondary School)

6. Gia Naicker (Reddam House Ballito)

7. Jemma Loud (Reddam House Ballito)

8. Megan Loud (Reddam House Ballito)

9. Michael MoreiraI(Reddam House Ballito)

10. Nikita Darling (Hoërskool Port Natal)

11. Sasini Suriya Ramalingam (Heather Secondary School)

12. Savannah-Lee Jacobs (Curro Mount Richmore)

13. Shenaaz Basha (Heather Secondary School)

14. Simphiwe Buthelezi (Lincoln Heights Secondary School)

15. Teniel Moodley(Heather Secondary School)

16. Yvonne Wheeler (Hoërskool Port Natal)

Die prys is R1 000 per leerling.

2020 was ’n jaar soos geen ander nie. Hoe het jy, ten spyte van al die uitdagings, vanjaar se projek benader en hanteer?

Dit was ’n besonder moeilike jaar en geduld was die wagwoord. Ek is nog besig om die 2020-kompetisie af te handel. Dit was moeilik om die vlugskrifte by die skole te kry en dit het tot gevolg gehad dat ek verskeie aansoeke om uitstel moes oorweeg. Van die skole het ook onttrek as gevolg van die pandemie.

Het die jaar se gebeure die kinders se temas en gedigte beïnvloed, of hoe het jy dit ondervind?

Die leerlinge het wel na die pandemie verwys, maar nie in ’n besonder groot mate nie, wat amper op ’n manier teleurstellend was. Prof Olivier het in sy verslag daarna verwys.

Op hierdie stadium dink almal net aan kieme, virusse en inentings. Waarom is kreatiewe skryfwerk nog relevant en iets om in stand te hou?

........

Afgesien van al die probleme rondom Covid gaan die lewe voort. Die kreatiewe skryfproses is ’n ontsnapping van die daaglikse probleme en hartseer. Die leerlinge moet ook iets konstruktief doen gedurende hulle vrye tyd. Wat is beter as om verlore te raak in jou boeke en die kreatiewe skryfproses te ontdek/ontleed.

..........

Afgesien van al die probleme rondom Covid gaan die lewe voort. Die kreatiewe skryfproses is ’n ontsnapping van die daaglikse probleme en hartseer. Die leerlinge moet ook iets konstruktief doen gedurende hulle vrye tyd. Wat is beter as om verlore te raak in jou boeke en die kreatiewe skryfproses te ontdek/ontleed.

Ek het verskeie briefies ontvang van ouers en leerlinge wat my bedank het vir die kompetisie en die geleentheid om daaraan deel te kon neem.

Grondwoorde is nou al ’n paar jaar lank op dreef. Het die projek gegroei gedurende die paar jaar wat dit al plaasgevind het? Dink jy dat daar ’n groter belangstelling is in kinders van alle kultuurgroepe om in Afrikaans kreatief te skryf? Of wat het jy om van die projek te deel wat vanjaar vir jou uitgestaan het?

Die projek het definitief gegroei – van 54 tot 600 inskrywings. ’n Interessante aspek van die kompetisie is die groot aantal Afrikaans Tweedetaal-leerders wat inskryf.

........

’n Interessante verwikkeling is die feit dat van die leerders voortgaan, na skool, om gedigte te pen. Een so ’n voorbeeld is die “publikasie” van isigalo deur Nokukanya Bongeka Ntuli. Sy het vir drie agtereenvolgende jare ingeskryf vir die digkompetisie terwyl sy op skool was. Sy is nou ’n eerstejaarstudent by UKZN.

..........

’n Interessante verwikkeling is die feit dat van die leerders voortgaan, na skool, om gedigte te pen. Een so ’n voorbeeld is die “publikasie” van isigalo deur Nokukanya Bongeka Ntuli. Sy het vir drie agtereenvolgende jare ingeskryf vir die digkompetisie terwyl sy op skool was. Sy is nou ’n eerstejaarstudent by UKZN. Sy is nie die enigste leerling wat voortgaan om te dig nie. Daar is verskeie ander wat my van tyd tot tyd kontak vir raad, ens.

  • Wouter J Gildenhuys, Projekkoördineerder, Grondwoorde

Weens inperkingsregulasies en ander veiligheidsmaatreëls kon die leerders nie bymekaarkom sodat 'n foto van die wenners geneem kon word nie.

Lees ook:

Grondwoorde 2020-projek: Fanie Olivier se beoordelaarsverslag

Wenners van die Grondwoorde 2019-digkompetisie aangekondig!

Grondwoorde-skryfkompetisie: langlys aangekondig

Persverklaring: Grondwoorde van ver vind tuiste in Paarl

Grondwoorde-kompetisie 2018: wenners aangekondig!

Grondwoorde groei uit KwaZulu-Natal: ’n onderhoud oor ’n Afrikaanse gedigkompetisie

Boekresensie: Grondwoorde 2018 saamgestel deur Wouter J Gildenhuys

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top