Boekresensie: Grondwoorde 2018 saamgestel deur Wouter J Gildenhuys

  • 0

Grondwoorde 2018 – Afrikaanse debuutgedigte uit en oor KwaZulu-Natal & Grondwoorde 2018 – Afrikaanse debuutgedigte uit en oor KwaZulu-Natal: Volledige werksdokument
Wouter J. Gildenhuys (samesteller)
Uitgewer: Wouter J Gildenhuys
ISBN: 9780639987132 en 9781928374602

Die afgelope paar weke het dit my weer eens opgeval hoe die Afrikaanse taal gedurig onder beleg verkeer. Op universiteitsvlak ervaar Afrikaanssprekende studente die laaste stuiptrekkings van Afrikaanse onderrig. Afrikaansdepartemente sneuwel een na die ander en in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap gaan dit so sleg met Afrikaans dat die Afrikaanse koerant slegs een keer per week (in gedrukte formaat) in die Oos-Kaap verskyn. Professore gooi vloermoere in boekwinkels terwyl ander bekgevegte aanlyn voer oor wie se taal Afrikaans nou eintlik is. Boonop word daar kopgestamp oor standaardafrikaans versus Kaaps of Kaapse Afrikaans en watter variëteit die (meeste) bestaansreg het. Op skoolvlak skud Afrikaansonderwysers moedeloos hul koppe oor die oorheersende negatiwiteit en selfs antagonisme wat daar teenoor Afrikaans as taal en vak by talle skole in provinsies reg oor Suid-Afrika heers. Moet dosente en onderwysers boedel oorgee of gaan ons voortploeg en poog om Afrikaans as taal op ’n positiewe wyse te bevorder?

Wouter Gildenhuys het die spreekwoordelike bul by die horings gepak en besluit om opnuut belangstelling in Afrikaans deur middel van poësie in KwaZulu-Natal te kweek. Dit is immers die provinsie waar een van Afrikaans se grootste digters, D.J. Opperman, gebôre en getoë is. Opperman was ook vanaf 1940 tot 1945 Afrikaansonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker en het ook dié skool se skoollied geskryf. Gesiene literatore soos G.S. Nienaber, A.P. Grové en Helize van Vuuren was eens verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die eertydse Universiteit van Natal (tans Universiteit van KwaZulu-Natal) wat ’n aantal jare gelede die Afrikaansdepartement se deure gesluit het. Laasgenoemde besluit deur die universiteitsowerhede het die voortbestaan van Afrikaans in KwaZulu-Natal ’n groot onreg aangedoen.

Die Grondwoorde-kompetisie stel ten doel om die gebruik van die Afrikaanse taal onder skoliere in KwaZulu-Natal te bevorder. Die kompetisie is spesifiek gemik op hoërskoolleerders en betrek Huistaal- sowel as Eerste Addisionele Taalleerders. Die gedigte is gevolglik streeksgebonde en weerspieël die karakter van die provinsie.

Digkompetisies en die publikasie van wengedigte is nie ’n nuwe verskynsel in Afrikaans nie. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se jaarlikse Poort-kompetisie vir hoërskole bevorder reeds dekades lank die skryf van kortverhale en gedigte in Afrikaans. Skrywers soos Koos Prinsloo en Riana Scheepers se kreatiewe skryfwerk het reeds tydens hul skooljare in Poort verskyn. Ook die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands bied aan talentvolle aspirantdigters die geleentheid om in die studentebundel Penseel te publiseer en sodoende word jong talent aangemoedig om in Afrikaans te skryf.

Laat ek by uitstek bieg dat Grondwoorde ’n astronomiese projek in skaal is. Laasgenoemde afleiding kan gemaak word bloot deur die Grondwoorde 2018 werksdokument te bestudeer – ’n allemintige 760 bladsye. In 2018 is 218 inskrywings van 29 skole vir die kompetisie ontvang en in totaal is 652 gedigte deur drie gerekende beoordelaars, naamlik Barbara Burger (Universiteit Pretoria), Steward van Wyk (Universiteit van Wes-Kaapland) en Elena Bredell van NB-uitgewers, beoordeel. Die titel van die bundel Grondwoorde was Helize van Vuuren (Nelson Mandela Universiteit) se idee. Die titel aktiveer en beklemtoon die kompetisie se streeksgebonde karakter deur klem te plaas op die spreekwoordelike “woorde” wat uit die vrugbare “grond” van KwaZulu-Natal ‘groei’. In 2018 was die drie afdelings waarvoor deelnemers gedigte moes skryf “Bayete” (Zoeloepryslied), “Vier natuurgedigte” en “Afrikaans as taal van versoening”.

Zoe Meneses, ’n graad 11-leerder van Crawford College is as die algehele wenner van die digkompetisie aangewys met haar gedigte getiteld “Bayete”, “seisoenale eienaardighede” en “Storiewoorde”.

Bayete

durban strate durban groete

die snoepiekindjie flits ’n haasbek-glimlag
na die geplooide gekrulde hare wat om die tafeltjie sit
more more hoe gaan dit met u sê hy fluitstem
’n glans van wit loer deur die tarentaalbaard
en bloue oë plooi by die hoeke

die poseidon vleesgeworde tiener
waai na die rooi-geklede roomysvrou met haar verweerde trolletjie
howzit groet hy, waar gaan jy vandag rasper hy
’n sterk jong hand klamp om die ou vermoeide een
en die plae van lugrotte koer net betyds

die oorpakkiemeisie skud haar kop grynsend
sy klim die ou gebou en hys haar kanonbotteltjies hoog om te rammel
bayete dumela lotjhani ndaa! sê sy sproeiend
hello! wees gegroet! staar trots uit teen die muur
en die sirenes lui in die verte

Meneses se wengedig in die Bayete-afdeling omskryf die tipiese milieu van die Durbanse strate. Veeltaligheid word bevorder deur die gebruik van verskillende groetwoorde en Meneses slaag daarin om Durban se vitaliteit en multikulturele samelewing in die gedig uit te beeld.

In 2018 moes leerders se gedigte in die afdeling “Vier natuurgedigte” aansluit by N.P. van Wyk Louw se “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland” uit sy bundel Die halwe kring (1937).  Declan Ronan, ’n graad 10-leerder van Ashton International College, is as die kategoriewenner (Landskapsgedig) aangewys met sy gedig “Winter Umfolozi”:

Dis droog, my kind

Dis droog langs die Umfolozi my kind
  dooie gras wat rol in die wind
   droë bome sonder blare
    staan wag soos houtpilare
     omring deur 'n mat van droë gras
      wat eens somergroen velde was

Dis Winter, my kind

Dís die winterdorsland van KwaZulu-Natal
  weg is die water onder die droë waterval
   die aarde bly nog dors en droog
    ons wag 'n tyd vir die reënboog
     vir reën wat vreugde sal bring
      vir voëltjies wat weer sal sing

Die hemel hou leë beloftes, my kind

Skielik grynslag die hemel donker-grou
  Maar op die oewers van droë riviere
   Staan en wag die arme diere
    Hoeveel meer kan God se diere nog hou
     Want die Umfolozi-vallei eggo plof, plof, plof
       Die klank van hoewe in die versmorende stof

Die wind bly huil, my kind

Die dae is kort, die nagte lank
  Jakkals se huil 'n aardige klank
    Dis grys en vaal in die plek van groen
      Daar is eintlik niks wat ’n mens kan doen
        Hoe depressief, die huilende wind
           Dis droog langs die Umfolozi my kind

Ronan se gedig is prysenswaardig in die opsig dat hy sy beskrywing spesifiek op KwaZulu-Natal van toepassing maak soortgelyk aan Louw wat op sy beurt die Boland as milieu gebruik vir die beskrywing van die seisoenale veranderinge. Die gedig as geheel sien geslaagd daarna uit en is myns insiens een van die treffendste gedigte in die bundel. Die deelnemers het in die algemeen hulself goed van hul taak gekwyt en met ’n hele klomp goeie beelde vorendag gekom. In hierdie opsig is die tyd en moeite wat Afrikaansonderwysers aan die projek bestee het opmerkbaar. In die hedendaagse onderwysstelsel waar daar al hoe meer inhoud as deel van die kurrikulum binne ’n beperkte tyd behandel moet word, is tyd ’n kosbare kommoditeit binne skoolverband. Die feit dat onderwysers bereid was om tyd aan die voorbereiding van die projek af te staan asook om hulp en leiding aan leerders met hul gedigte te verskaf, getuig van die toewyding wat Afrikaanse vakonderwysers in KwaZulu-Natal ten opsigte van Afrikaans as taal toon.

Gildenhuys moet geloof word vir sy bydrae tot die broodnodige projek om die Afrikaanse taal in KwaZulu-Natal te bevorder. Naas die blootstelling wat Afrikaans as taal by skole en in gemeenskappe kry, word leerders boonop beloon met ’n publikasie wat spog met Andries Botha se kunswerk op die voorblad. Een negatiewe aspek van die twee bundels wat dadelik opval is die slordige taalversorging van die bundels as geheel. Die teks is deurspek van tikfoute en selfs een van die wengedigte verwys na “aloue” in plaas van “bloue”. Eenvormigheid ontbreek by die gebruik of afwesigheid van sekere lees- of skryftekens en veral die inhoudsopgawe en erkenningsblaaie is taalkundig swak versorg. Ingrid Jonker se gedig “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga” (Rook en oker, 1963) word voorin die bundels afgedruk sonder dat daar iewers in die bundel erkenning aan Jonker (of die nodige toestemming om publikasie van die gedig) gegee word. Boonop word daar in die tweede versreël van die vierde strofe foutiewelik na “en wag met gewere sarasene en knuppels” in plaas van “op wag met gewere sarasene en knuppels” verwys. Die taalversorger sal hopelik met toekomstige projekte verseker dat soortgelyke foute nie in die teks voorkom nie, aangesien dit nie slegs die bundels as geheel in ’n swak lig stel nie, maar ook die doelstelling van die projek – naamlik om Afrikaans te bevorder – kelder. Dit skep ’n swak indruk by lesers en ondermyn die bevordering van Afrikaans. Leeders moet juis aangemoedig word om Afrikaans te skryf – indien die eindproduk vol tikfoute is, gaan leerders en toekomstige lesers of deelnemers aan die projek nie die gepubliseerde bundels ernstig bejeën nie.  

Ten spyte van die swak taalversorging is Grondwoorde 2018 ’n dinamiese en innoverende projek waarop Gildenhuys inderdaad trots kan wees op die publikasie van die werksdokument sowel as die finale bundel. Meer projekte van hierdie omvang is nodig om nie alleen Afrikaans as taal te bevorder nie, maar ook om kreatiewe skryfwerk onder ’n nuwe generasie jongmense aan te moedig.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top