Grondwoorde groei uit KwaZulu-Natal: ’n onderhoud oor ’n Afrikaanse gedigkompetisie

  • 1

Wouter Gildenhuys (foto verskaf)

Wouter Gildenhuys woon in KwaZulu-Natal en is die organiseerder van ‘n Afrikaanse gedigkompetisie vir hoërskoolleerders. Vanjaar se finaliste word binnekort bekendgemaak. Hy praat met Naomi Meyer oor vanjaar se kompetisie en verskaf ook besonderhede van volgende jaar se kompetisie.

Wouter, jy is weer die afgelope tyd stil-stil besig met 'n Grondwoorde-kompetisie. Wat is hierdie kompetisie, vir diegene wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Grondwoorde is 'n Afrikaanse digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal.

Die drie hoofdoelwitte is: (i) die bevordering van Afrikaans; (ii) om aspirantdigters te ondersteun; en (iii) om brûe tussen leerlinge van meer diverse groepe te bou.

Hoeveel skoolkinders in KwaZulu-Natal praat Afrikaans, dink jy? As huistaal, maar ook as tweede taal? 

Dit is moeilik vir my om 'n getal te eien, maar daar is meer skoolkinders wat Afrikaans magtig is as wat ons dink. Dit is tog jammer dat daar nie 'n groter fokus op moedertaalonderrig  geplaas word nie. As tweede taal is Afrikaans alomteenwoordig; om die waarheid te sê, ek hoor die tweedetaalleerlinge verkies om dit op skool as 'n vak te neem in plaas van Zoeloe, omdat Zoeloe blykbaar so moeilik is. 'n Ander interessante feit is dat uitlanders (Zimbabwiërs, Kongolese ea) verkies om Afrikaans as vak op skool te neem, alhoewel hulle in baie gevalle Zoeloe magtig is, óók omdat Zoeloe so moeilik is! Zoeloesprekende leerlinge sukkel self met die taal.

Net omdat iemand 'n taal kan praat, beteken dit nie hulle kan in die taal gedigte skryf nie. Hoe ondervind jy dit, te oordeel aan die inskrywings vir vanjaar se kompetisie?

Ek stem nie heeltemal saam nie. Die grootste persentasie van die  inskrywings kom van Addisionele Taal-leerlinge en die standaard is uitstekend. Interessant genoeg is die feit dat 'n  Addisionele Taal-leerling die kompetisie gewen het dié jaar. 'n Groot probleem  is die feit dat baie min Afrikaans Huistaalleerlinge (of Afrikaans Huistaal-skole) aan die kompetisie deelneem.

Hoe het jy mense bewus gemaak van die kompetisie? Ons almal woon in klein borreltjies in hierdie land en weet nie aldag wat elders gebeur nie.

Dit was en is nog steeds 'n moeilike proses om die kompetisie bekend te stel. Ek het die kompetisie in 2016 van stapel gestuur en het 23 skole persoonlik besoek. In 2017 het die getal gegroei tot 155. Ek het 4 500 km gery en 35 skole in 25 dorpe regdeur KwaZulu-Natal besoek. Verlede jaar het die getal skole gegroei tot 280. Intussen het verskeie skole Afrikaans afgeskaf as vak en die getal staan nou op 241. Daar is verskeie skole wat Afrikaans sou wou aanbied, maar hulle het nie die nodige gekwalifiseerde personeel nie. Ek versprei ook 10 000 vlugskrifte.

En hoeveel inskrywings het jy ontvang? 

In die eerste jaar (2016) het ek 18 inskrywings ontvang – 54 gedigte van agt skole. (Elke leerling moet drie gedigte indien om vir die kompetisie te kwalifiseer.) In 2017 het ek 137 inskrywings ontvang – 411 gedigte van 25 skole. In 2018 het die getal gegroei tot 218; 654 gedigte van 29 skole.

Die digbundel wat gepubliseer is, het 760 bladsye! (Al die gedigte word in die digbundel ingesluit – werksdokument – maar ek publiseer ook 'n digbundel van nagenoeg 100 van die beste gedigte vir verkope.)

Die fenomenale groei het my laat besluit om vanaf  2019 die kompetisie in twee te deel: 'n junior en 'n senior kategorie. Tot op hede was almal oor dieselfde kam geskeer. Die verandering sal hopelik ook 'n groter deelname tot gevolg hê.  

Steward van Wyk

Wie was vanjaar se beoordelaars en hoe sal die beoordeling werk?

Bibi Burger

Die beoordelaars vir 2018 was Bibi Burger (Universiteit van Pretoria), Steward van Wyk (Universiteit van die Wes-Kaap) en Elana Bredell  (Naspers).

Die sluitingsdatum vir vanjaar se kompetisie is 1 Augustus 2019 en die wenners sal in November aangekondig word.

Wat was die hooftemas vanjaar?

Die drie temas vir 2018 was (i) Bayete, (ii) 4 Landskapsgedigte en (iii) Afrikaans as taal van versoening.

“Bayete” is 'n Zoeloewoord wat beteken “wees gegroet” en word gewoonlik gebruik om die Zoeloe-monarg te groet. Dit was interessant om die wye verskeidenheid persone te sien wat die leerlinge “gegroet” het – van Aretha Franklin tot “Beast”. Die leerlinge het baie goed gevaar met die 4 Landskap-gedigte en die beoordelaars het 'n spesiale prys toegeken aan Ashton Kollege vir die uitstekende groep gedigte wat in dié kategorie ontvang is. Die leerlinge moes NP Van Wyk Louw se “Vier gedigte by jaargetye” ondersoek as voorbeeld. Maar vir my was “Afrikaans as taal van versoening” spesiaal. Dis was baie interessant om te sien hoe die leerlinge die onderwerp aanpak en ontleed en dan in hulle eie woorde weergee.  (Hou LitNet dop – sodra die kortlys saamgestel is, sal sommige van die gedigte hier te lese wees.)

Dink jy die jong digters lees ander gevestigde digters se werk, te oordeel aan wat jy in hulle werk sien?

Elke jaar stel ek dit my ten doel om die program so saam te stel dat die leerlinge na die werk van 'n ouer digter moet verwys. In die afgelope drie jaar was die digters DJ Opperman (2016), Sheila Cussons (2017) en NP Van Wyk Louw (2018), en Mathews Poswa in 2019.

Elana Bredell

Wat dink jy van die toekoms van opkomende skrywers en digters in Afrikaans in hierdie land?

Te oordeel aan die talent, en spesifiek digterstalent, sien ek 'n nuwe toekoms. 'n Toekoms met nuwe waardes, 'n nuwe leserspubliek met nuwe idees en verwagtinge wat alreeds weerspieël word in die gedigte wat Grondwoorde ontvang.

Daar is 'n blink toekoms vir die Afrikaanse digter as ons tog net die taal kan bevry van alle die kettings wat ons nog saamsleep. En hier praat ek spesifiek van die taalpolitici, die fakkeldraers van standaarde!    

 

  • LitNet sal binnekort ’n langlys van die genomineerde digters publiseer.

Lees ook:

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top