Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

  • 1

Wouter Gildenhuys (foto verskaf)

Wouter Gildenhuys is die afgelope paar jaar betrokke by ’n Afrikaanse gedigtekompetisie in KwaZulu-Natal. Hy vertel vir Naomi Meyer van Grondwoorde. 

Wouter, jy het ’n groot liefde vir die digkuns en vir Afrikaans. Vertel my van jou agtergrond, asseblief.

Ek was bevoorreg om my skoolonderrig sowel as my tersiêre studies in my moedertaal te ontvang. Ek is 'n groot voorstander van moedertaalonderrig. Dit is my innige wens dat Afrikaanssprekende kinders huidiglik ook hulle skoolopleiding in Afrikaans kan ontvang. Dus, wat ek vir myself toewens, moet ek ook vir andere toewens, soos byvoorbeeld Zoeloesprekende leerders. Daarom sou ek graag dat die geleentheid ook geskep word vir leerlinge om in ander inheemse tale hul onderrig te kan ontvang. Dit is deur verskeie studies bewys dat dit 'n dramatiese verhoging in die slaagsyfer sal teweeg bring. Die oorgrote meerderheid van my studente al die jare dat ek betrokke was by argitektuuronderrig was Zoeloesprekend.

Dit is 'n deurlopende en vurige debat. Dit het veral implikasies vir almal wat op die oomblik betrokke is by onderrig en nie 'n swart inheemse taal magtig is nie. Dat daar nie akademiese terme vir sekere begrippe is nie en dat Engels 'n wêreldtaal is, is net verskonings van die heersende groepe. Dit klink beter as ek sê die “ruling establishment”.

Ek voel baie sterk oor die gelyke regte van ander inheemse tale in Suid Afrika. Dit is belangrik dat ons indringend hieraan aandag skenk, nie net in die onderwys of op tersiêre akademiese vlak nie, maar ook op kulturele vlak. As ons respek vir Afrikaans wil beding en sy regmatige plek in ons Suid-Afrikaanse samelewing wil bevorder, dan is dit van uiterste belang dat wederkerige respek getoon word vir ander inheemse tale en dat hulle hul regmatige plek in ons ryk taal(kultuur)erfenis inneem; met ander woorde, taalrestitusie moet aan die orde van die dag wees! En ons het nie meer baie tyd oor as ek so na gebeure in ons land kyk nie.

Die toekoms van Afrikaans is in die hande van die swart man en wat ek vir Afrikaans toewens, wens ek ook toe vir ander tale.

Een van die maniere om hul regmatige plek in te neem, te eien, sal wees as 'n groter druk/fokus geplaas word op die bevordering van kreatiewe skryfwerk in ander inheemse tale. Dit is skokkend en onaanvaarbaar as ons kyk na die “ongebruik” van swart inheemse tale onder wit Suid-Afrikaners. Iets moet gedoen word. Dit is van uiterste belang vir die oorlewing van Afrikaans! Die enkele “Trollips” is 'n rariteit.

Ek is op die oomblik besig om Afrikaanse gedigte in Zoeloe te laat vertaal en andersom. Maar dit is 'n moeilike projek as gevolg van 'n tekort aan vertalers wat die poëtiese nuanses verstaan.      

Vertel asseblief hoe die lees van gedigte saam met vriende gelei het tot die gedigtekompetisie vir skoolkinders, Grondwoorde.

Jare lank al reël ek een keer per jaar 'n “gedigte-noenmaal” waartydens ons gedigte saam lees en kos saam eet. In 2015 was die voorlesing as 'n huldeblyk gewy aan TT Cloete, wat op 9 Julie 2015 oorlede is. Ek het by Port Natal Hoërskool gaan aanklop om hulp, aangesien ek geen digbundels van TT Cloete besit nie. Ek het opgemerk dat daar swart en bruin kinders skoolgaan en die leerkrag het my verseker dat hulle hulle onderrig in Afrikaans ontvang. Ek het net daar besluit om 'n digkompetisie van stapel te stuur om erkenning te gee aan die leerlinge wat nog in Afrikaans skoolgaan.

Grondwoorde is 'n instrument om digkuns onder hoërskoolleerlinge te bevorder. “Inklusiwiteit” is my wagwoord en alle gedigte wat ek in 2017 ontvang het, is gepubliseer. Ek het 137 inskrywings en altesaam 411 gedigte! Die digbundel is 'n taamlik lywige dokument, maar ek glo dat as die leerlinge hulle gedigte in druk sien, dit as 'n verdere aansporing sal dien om nog meer te skryf/dig.

Elke leerling het 'n bundel waarin die 411 gedigte opgeneem is, ontvang, maar omdat dit 'n lywige dokument is, het ons ook ’n bundel die lig laat sien waarin slegs die mees uitstaande gedigte opgeneem is. Hierdie bundel is beskikbaar by Protea Boekhuis in Stellenbosch.

Dit is uiters belangrik dat ons meer inklusief moet dink in terme van die voortbestaan van Afrikaans. Die dae van “suiwer” Afrikaans is verby. 'n Taal is 'n lewende organisme wat groei en muteer, soos weerspieël word met die onlangse opname van nuwe woorde in die HAT.

Dienooreenkomstig het die voorskrifte vir die Grondwoorde 2017-digkompetisie 'n kategorie ingesluit wat gefokus het op 'n aspek van ons Zoeloe-kultuurerfenis.

Interessant is die feit dat die oorgrote meerderheid van die inskrywings wat ontvang word, deur tweedetaalleerlinge ingestuur word.

Die studenteprofiel by al die skole is redelik verteenwoordigend van ons samelewing/demografie van Suid-Afrika, en die tradisionele "Afrikaanse” skool in KwaZulu-Natal bestaan nie meer nie. Die skole blyk almal in 'n proses van transformasie te wees en by sommige van die skole word daar nou ook Engels en Zoeloe gepraat.

Grondwoorde – waar kom die titel vandaan?

2016 was die eerste jaar van die Grondwoorde-kompetisie. Van die begin af was dit my doelwit om 'n digkompetisie te fasiliteer/skep met 'n streeksgebonde (gefokuste) karakter, 'n digkuns wat eie is aan KZN; uit die grond van KwaZulu-Natal. Van daar die naam Grondwoorde.

Die titel is voorgestel deur Helize van Vuuren van die Nelson Mandela Universiteit. 

Kan enige leerder wat lief is vir gedigte skryf deelneem aan hierdie kompetisie? Of op wie is dit gerig?

Alle skole en skoliere uit KZN is welkom om deel te neem, maar uit die aard van die saak sal dit skole wees waar Afrikaans nog aangebied word.

In 2016 het ek 23 skole genader om aan die kompetisie deel te neem. In 2017 is die getal uitgebrei tot 155 skole en het ek 35 skole in 25 dorpe regoor KZN besoek. Dié jaar (2018) is 75 nuwe skole genooi om aan die kompetisie deel te neem en die getal skole staan nou op 230.

Taal en toegang. Dis warm gesprekke in skole vandag. Hoe kan hierdie kompetisie van jou geleenthede bied vir skoolkinders wat in Afrikaans gedigte skryf?

Afrikaans is onder groot druk in KZN en die kompetisie is spesifiek ingestel om daardie leerders wat nog onderrig in Afrikaans ontvang in KZN te ondersteun. Die doel van die kompetisie is ook om die gebruik van die Afrikaanse taal te bevorder onder hedendaagse leerlinge, om ondersteuning aan opkomende aspirantdigters te verleen en om brûe te bou tussen 'n meer diverse groep leerlinge.

Dit is my droom dat die voorgenoemde aspirasies hopelik weerspieël word in 'n digkuns met 'n unieke streekskarakter en dat hierdie streekskarakter nie net sal “vergestalt” in abstrakte konsepte nie, maar sal voortvloei deur die ontwikkeling en gebruik van 'n idiomatiese streekstaal. Daar is alreeds tekens hiervan te bespeur, deurdat woorde van ander inheemse tale hul verskyning maak in die gedigte van die leerders.       

Uit die staanspoor was dit vir my belangrik dat die leerlinge meer as een gedig moes indien sodat daar 'n meer gebalanseerde evaluering van die leerling se skryftalent kon plaasvind. Die leerlinge moet dus elkeen drie gedigte inlewer. Die fokuspunt vir elke kategorie word gewoonlik rondom die hooftema vir die spesifieke jaar beplan.

Dit is vir my belangrik dat die leerders nie net bekend is met die hedendaagse digkuns nie, maar ook aan die gedigte van ouer digters blootgestel moet word. Van daar die idee van die lykdig in die eerste twee jaar van die kompetisie.

In 2016, die eerste jaar van die kompetisie, was die twee kategorieë DJ Opperman en die omgewing. DJ Opperman is afkomstig van Ladysmith en die eerste belangrike Afrikaanse digter uit KZN.

In 2017 was die fokus op die vrou, daarom Sheila Cussons en ons Zoeloekultuurerfenis. Alhoewel sy nie uit KZN afkomstig was nie, het sy aan die destydse Universiteit van Natal (nou UKZN) studeer. Sy is in Piketberg gebore en Opperman het 'n belangrike rol in haar ontwikkelingsjare gespeel.

In 2018 is die fokus op die breër KwaZulu-Natal-landskap. In een van die afdelings, “Landskap”, moet die leerlinge die gedigte van NP Van Wyk Louw navors. 'n Verdere aspek in 2018 is die fokus op Afrikaans as taal van versoening.

“Engels, Engels, alles Engels” in KwaZulu-Natal. Of is dit? Watter ontdekkings het jy gemaak vandat jy die kompetisie die eerste keer aangebied het?

Dit is 'n geval van as 'n mens begin soek, kry jy die taal orals! Dit is veral in die platteland waar die taal wegkruip. Dit is tog jammer dat ons in sekere kringe probeer om so polities korrek te wees dat ons die taal ontken. In my omgang kry ek daagliks mense wat baie positief is oor Afrikaans. Die vakhoof vir Afrikaans in KZN is 'n swart vrou, Phumelele Buthelezi. Sy praat vlot Afrikaans en is baie positief oor die bydrae van die taal tot die ontwikkeling van die land. Ek kry geweldig groot ondersteuning van haar vir my projek. En in die skole blyk daar ook nou 'n groter mate van aanvraag te wees na Afrikaans omdat Zoeloe so moeilik blyk te wees. Daarteenoor blyk die standaard van die Afrikaans-eksamenvraestelle so moeilik te wees dat dit weer die leerlinge wegdryf! Daar moet indringend na dié aspek gekyk word. 'n Ander kommerwekkende feit is dat daar 'n tekort aan Afrikaanse leerkragte op primêre vlak is en die leerlinge nie die nodige vaardighede besit om op sekondêre vlak sukses te behaal nie. Daar moet indringend hieraan aandag geskenk word, sodat 'n oorbruggingshandboek saamgestel kan word.             

Mense vra my dikwels waarom Afrikaans. My antwoord is: dis die taal waarmee ek grootgeword het, my moedertaal. Ek is al genader om 'n kompetisie in Zoeloe te reël, maar ek ken nie die taal goed genoeg nie en die nuanses van die taal sal my verbygaan. Ek kan help met die organisering daarvan, maar dit is tog belangrik dat 'n mens die taal heeltemal magtig moet wees.

Ek moet ook byvoeg dat sonder die hulp van die onderwysers die kompetisie nie so 'n groot sukses sou wees nie. Hulle vorm 'n integrale deel van die proses en hulle ywer en geesdrif is baie duidelik sigbaar aan die getal inskrywings wat van sommige skole ontvang word.

Die borge speel ook 'n uiters belangrike rol, en ek is baie dankbaar vir almal wat my ondersteun. 'n Volledige lys word in my jaarlikse finansiële verslag opgeteken.

Wat is die kompetisiereëls? Word die kompetisie vanjaar weer aangebied?

Die kompetisie word jaarliks aangebied.

Alle leerlinge van graad 8 tot graad 12 mag deelneem, en slegs skoolgaande leerlinge mag deelneem. Die pryse sal nie outomaties toegeken word as die standaard dit nie regverdig nie. Enige digstyl is aanvaarbaar. Geen inskrywingsgeld is betaalbaar nie. Die gedigte moet leerlinge se eie oorspronklike werk wees. Die inskrywings moet in Afrikaans wees.

Elke gedig wat ingeskryf word, moet op ’n afsonderlike bladsy verskyn. Elke gedig moet duidelik gemerk wees vir die kategorie waarvoor dit bedoel is. Gebruik die lettertipe New Times Roman, 11-punt-grootte. Gedigte kan ook handgeskrewe wees, maar dit moet netjies en duidelik leesbaar wees.

Die volgende inligting moet ook op die keersy van elke gedig of by elke inskrywing aangedui word:

Leerling se naam, van en ouderdom.

Die naam van die leerling se skool en sy/haar graad.

’n Kontaknommer en/of e-pos-adres.

Die leerling se inskrywing kan in 'n verseëlde koevert by die verteenwoordiger by sy/haar skool ingedien word of direk aan die organiseerder gestuur word.

Leerlinge het tot 1 September 2018 om hul gedigte vir die kompetisie in te skryf. Die wenners sal in Oktober 2018 bekend gemaak word.

Daar sal gepoog word om die ingeskrewe gedigte in 'n bundel te publiseer.

Dié jaar bestaan die kompetisie uit twee kategorieë: (i) individuele inskrywings en (ii) 'n nuwe kategorie, naamlik groepgedigte.

Die individuele inskrywing

Elke kandidaat moet 'n gedig in al drie die volgende afdelings indien. Sou die voorvereiste nie nagekom word nie, sal leerlinge outomaties gediskwalifiseer word.

  1. Pryslied: Bayete. “Bayete” is 'n Zoeloewoord wat beteken “wees gegroet”.
  2. Vier landskapsverse. In strofevorm, verkieslik strofes bestaande uit ses reëls. In hierdie afdeling moet die leerling vier aspekte van iets beskryf, byvoorbeeld die vier seisoene, of vier natuurelemente, of vier planttipes, of 'n kombinasie van vier verskillende inspirasies. Daar moet (i) 'n duidelike verbintenis tussen die gedigte wees en (ii) 'n duidelike KZN-streekskarakter in hierdie gedigte weerspieël word. Verwys byvoorbeeld na “Vier gebede by jaargetye in die Boland” deur NP Van Wyk Louw.
  3. Versoening. Afrikaans as taal van versoening. Ondersoek as verwysing die werke van Mazisi Kunene, Mafika Gwala en Shabbir Banoobhai.

Die eerste prys in die afdeling is R10 000 en daar is vier verdere pryse van R2 500 elk. Die pryse sal nie outomaties toegeken word as die standaard dit nie regverdig nie. Verder sal elke leerling wat deelneem, 'n kontantbedrag ontvang as erkenning vir hulle deelname.

Groepsgedigte

Die afdeling val onder die titel “Saamraap”.

Om die kompetisie wyer uit te brei en 'n groter mate van deelname te bewerkstellig word 'n tweede afdeling in 2018 ingesluit. In dié afdeling kan groepe leerlinge gedigte saamstel wat vir beoordeling ingedien kan word.

Die titel is “Saamraap” en soos die naam aandui, kan die gedig óf oor 'n individuele gebeurtenis óf oor 'n groep gebeurtenisse handel. Klanke sluit 'n mate van musikaliteit in en aandag behoort aan dié aspek verleen te word. Dink aan “woorde-in-klankbeeld”.

In dié afdeling kan die groep leerlinge ook dan hulle gedig voorberei/verwerk vir 'n opvoering –  sogenaamde performance poetry.

In hierdie afdeling sal nie individuele pryse toegeken word nie. Daar sal slegs 'n eerste prys (R3 000), 'n tweede prys (R2 000) en 'n derde prys (R1000) wees. Aparte pryse sal toegeken word vir die opvoerings van die gedigte, in dien toepaslik.

Leerlinge word aangemoedig om oor kultuur- en taalgrense saam te werk.

Leerlinge word ook aangemoedig om na die gedigte van die surrealistiese skrywers te kyk wat dié tipe digkuns geïnisieer het. Die beweging het in die vroeë 1920's ontstaan en is veral deur dadaisme beïnvloed.

Die leerlinge kan meer inligting bekom op die internet onder “Exquisite corpse”.

’n Ander afdeling is geïnspireer deur die 2017-bydrae van die Skool Our Lady of Fatima onder leiding van E Harris.

Waarom gedigte in Afrikaans, en waarom skoolkinders? Wat is jou visie vir hierdie projek?

Die doel van die kompetisie is om die gebruik van die Afrikaanse die taal te bevorder onder hedendaagse leerlinge, om ondersteuning aan opkomende aspirantdigters te verleen en om brûe te bou tussen 'n meer diverse groep leerders. Dit is ook 'n inisiatief om die gebruik en handhawing van Afrikaans te ondersteun deur onderskraging te verleen aan groepe leerders wat nog onderrig in Afrikaans ontvang.

Daar is kultuurooreenkomste tussen Zoeloesprekers en Afrikaanssprekers, en een van die oogpunte van die kompetisie is om 'n groter verstandhouding tussen die twee taalgroepe te bewerkstellig. Nie net is daar ooreenkomste van elemente van patriargie nie, maar al twee kulture is deurvleg met agrariese ooreenkomste. Taal is 'n baie emosionele verskynsel en deur die leerlinge bloot te stel aan die “ander” (en dit sluit die Indiërgemeenskappe in), sal dit hopelik tot 'n groter mate van aanvaarding onder alle leerlinge lei.

En laastens: Ek hou van woorde en wou my liefde met die leerders deel. 'n Gedig is argitektuur met woorde of konstruksie met woorde. 'n Opstapeling van woorde.

Hoe lyk ’n goeie gedig deur ’n skoolkind?

Die blote feit dat die leerling in Afrikaans skryf, is 'n groot uitdaging! Verder is elke gedig wat 'n leerling skryf, vir my 'n goeie gedig. Om gedigte te skryf is nie maklik nie, en veral noudat selfone, Facebook ens die jongmense se daaglikse bestaan totaal oorheers. Desnieteenstaande moedig ek die leerders aan om hulle selfone te gebruik as beginpunt, omdat hulle goed vertroud is met die tegnologie en hulle dit maklik vind om dit as vertrekpunt in te span.

Die feit dat hulle deelneem, en deur die proses gaan om 'n gedig in Afrikaans te skryf, is vir my die belangrikste. Elemente soos vorm, komposisie, rym, struktuur ens ens as kriteria kan later kom. Die leerlinge moet eers die ervaring kry van die kreatiewe proses en die bevrediging om iets tasbaar te sien.

Elke leerder wat 'n gedig in Afrikaans skryf, is vir my 'n wenner. Dit is veral interessant om te sien hoe taal- en kultuurverskille in die leerders se gedigte deurskemer en in hul taalgebruik weerspieël word. As ek die kenmerkende verskille in drie woorde moet opsom, dan is dit kleure (nie soos in wit en swart nie), godsdiens en politiek (die gevolge van onderdrukking).

En laastens moet ek ook byvoeg dat ek nie 'n verskil tussen Huistaal- en Eerste Addisionele Taal-leerlinge maak nie – my uitgangspunt is: 'n taal word goed of beter gepraat, of geskryf dan! Daar word ook nie ’n verskil getref tussen die verskillende ouderdomsgroepe nie. In 2016 is die kompetisie deur 'n graad 8-leerling gewen.

Elke gedig is vir my 'n wenner.

  • 1

Kommentaar

  • Ek voel nie, dié as geheel, is regverdig teenoor digkuns nie.
    Wat hierdie "kompetisie" ons, as hoërskoolleerlinge, wil leer is dat ’n gedig wat uit iemand se hart en siel uit kom, beter is as dit wat uit ’n ander se hart en siel uitkom. Dis eenvoudig – digkuns was nog nooit ’n kompetisie nie, en moet ook nooit wees nie. Digkuns is ’n verbeelding en smart se manier om te ontsnap oom Wouter, nie ’n manier om te kompeteer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top