Grondwoorde-kompetisie 2018: wenners aangekondig!

  • 1

Die wenners van 2018 se Grondwoorde-skryfkompetisie is bekend!

Hier is agtergrond van die kompetisie. 

Die digkompetisie, Grondwoorde, is in 2016 vir die eerste keer aangebied, spesifiek vir leerders in KwaZulu-Natal.

Die doel van die kompetisie is om die gebruik van die Afrikaanse taal te bevorder, om ondersteuning aan aspirantdigters te verleen en brûe te bou tussen ’n meer diverse groep leerders.

In 2016 is 23 skole genader om aan die digkompetisie deel te neem. In 2017 is 155 skole besoek insluitende 35 skole in 25 dorpe regdeur Natal. In 2017 is 137 inskrywings van 25 skole ontvang, in vergelyking met 18 inskrywings van 8 skole in 2016.

In 2018 is 239 skole genooi om aan die kompetisie deel te neem en is 218 inskrywings van 29 skole ontvang.

'n Langlys van die beste inskrywings is saamgestel. Hier is die langlys, wat onlangs op LitNet verskyn het.

Agterste ry: Jaco Nel, graad 11 (Gelofteskool), Eugéne van der Linde, graad 9 (Suid-Natal), Kayla Vosloo graad 12 (Suid-Natal), Minette Janse van Rensburg, graad 10 (St Dominic’s, Newcastle), Stefan Friedrich, graad 11 (Eden Kollege), Zoë Meneses, graad 11 (Crawford Kollege), Marcé Strydom, graad 9 (Durban-Noord Kollege)

Middelste ry: Abigail van Staden, graad 10 (Greytown Hoër), Jayla Sayner, graad 11 (Kingsway), Jo-Anne van der Wath, graad 9 (Suid-Natal), Mignon Potgieter, graad 12 (Suid-Natal), Marlene Cloete, graad 10 (Suid-Natal), Tiana Hendrikse, graad 9 (DGHS), Roché Fourie, graad 11 (Durban-Noord Kollege), Chamoné Visagie, graad 11(Durban-Noord Kollege) 

Voorste ry: Caitlyn van Dyk, graad 9 (Suid-Natal), Nitasha Pillay, graad 9 (Arena Park Secondary), Nombuzo Vuna, graad 10 (Avoca Secondary), Kieasha Singh, graad 9 (Belverton Secondary), Nokukhanya Ntuli, graad 11 (New West Secondary), Fiona Mgenge, graad 10 (Avoca Secondary), Prashant Ramlall, grade 11 (New West Secondary)

Daar is ook ’n lys gedigte saamgestel wat spesiale vermelding verdien, genaamd die Inhlabathi-lys, en hier is die jong digters op die lys se name: 

Inhlabathi-lys

Shaleena Jayaram, Stanger
Nokhukanya Ntuli, New West
Nitasha Pillay, Arena Park
Ayanda Nxumalo, Inkamana
Bella Gosnell, Crawford
Zanukuhle Miller, Ganges
Kevin Boodhram, Ashton
Amandisa Diko, Ganges
Amelia Appelgryn, Werda
Tiana Hendrikse, DGHS
Declan Ronan, Ashton
Marcé Strydom, Durban College
Prashant  Ramlall, New West
Thabiso Ngcobo, DGSS
Ronan Pienaar, Suid-Natal
Fiona Mgenge, Avoca

Bo: Amandisa Diko, Amelia Appelgryn, Bella Gosnell, Declan Ronan

Onder: Fiona Mgenge, Nitasha Pillay, Nokukhanya Ntuli, Prashant  Ramlall

Bo: Ayanda Nxumalo, Shaleena Jayaram, Thabiso Ngcobo, Tiana Hendrikse

Onder: Zanukuhle Miller, Kevin Boodhram, Ronan Pienaar, Marcé Strydom

Die wenners is uit al die inskrywings gekies en hier is hulle name:

Eerstepryswenner: Zoe Meneses Crawford Kollege          

                           

Drie  naaswenners: Minette Janse van VuurenSt Dominics Skool, Stefan Friedrich - Eden Kollege, Mignon Potgieter Hoërskool Suid-Natal 

Hartlik geluk!

Hier is die wengedigte:

WENNER VAN EERSTEPRYS 2018

Zoe Meneses, graad 11, Crawford Kollege

"durbanstrate durbangroete"

die snoepiekindjie flits ’n gapingtand glimlag
na die geplooide gekrulde here wat om die tafeltjie sit
môre môre hoe gaan dit met u sê hy fluitstem
’n glans van wit loer deur die tarentaalbaard
en die aloue oë plooi om die hoeke

die poseidon-vleesgeworde tiener
waai na die rooi-gekleede roomysvrou met haar verweerde trolletjie
howzit groete waar gaan jy vandag rasper hy
’n sterk jong hand klamp die ou vermoeide een
en die plae van lugrotte koer net betyds

die oorpakkiemeisie skud haar kop grinnend
sy klim die ou gebou en hys haar kanonbotteltjies hoog om te rammel
bayete dumela lotjhani ndaa! Sê sy sproeiend
hello! wees gegroet! staar trots uit die muur
en die sirenes lui uit in die verte

Hierdie gedig is ook aangewys as die beste gedig in die Kategorie BAYETE

 NAASWENNERS

Stefan Friedrich, graad 11, Eden Kollege

"Die Klank van Verandering" 

In lof van musiek

Hy hurk in ’n hoek
saam met sy ma.
Twee standbeelde wat met stof gemeng is.
Sy liggaam is vasbevrore,
maar sy oë verraai hom.

Hulle dartel van kant tot kant en
flikker na die koor van skietskote,
die finale liedjie van soldate wat ver weg is,
die spookagtige melodie van huilende vroue,
die drumpel van kanonne,
die skreeviool van fakkels.
Die orkes van die dood.

Ek gee hul dokumente terug aan hulle.
Die dirigent val tot stilstand.

Bayete 

En terwyl hulle uitloop, vul ’n nuwe simfonie die gang:
Die geluid van hoop.

Minette Janse van Vuuren, graad 10, St Dominics Newcastle

"Afrikaans, MY versoeningstaal"

Jou hart en myne
klop dieselfde.
Ritmies, gereeld,
jou hand en myne
voel dieselfde ...
Hard, sag ...
Beide van ons deur God beplan,
kroon van Sy skepping -
Sy kind in Sy naam

Woorde kom uit ons mond
In die taal wat ons verstaan
"Good morning"
"Sawubona"
"Goeiedag"
In watter taal ook al,
dit maak mos nie seer nie?

My taal en joune praat van
Liefde
Geluk
Vrede
Dit is woorde bekend in elke taal
Taal kan ons bind
Troos
Verdra
Vergewe
Taal is nie ’n mes of ’n skêr nie,
taal maak nie dood nie
Die mens maak dit ’n dodelike wapen
Dis nooit so bedoel nie -
iewers is ’n groot gaping

Kom ons praat
Afrikaans
Ons kan bid in Afrikaans,
vergewe in Afrikaans,
verstaan mekaar in Afrikaans
want Afrikaans is MY versoeningstaal.

Mignon Potgieter, graad 12, Suid-Natal

"Bayete, moeder Suid-Afrika"

Met die aanraking van jou vlamvingers
het iets in my siel ontwaak
terwyl
ek stom staar na jou kurwes
wat duisende verhale oordra.

Die lewensgewende asem
wat ek diep deur my longe teug,
neem my hart terug
na die jare toe jy jonk was
dié van pure jeug.

Ek rus my hoof
teen die lang groen slierte van jou sagte boesem neer.
Ruik meteens die verlede
van Strandloper, Trekkers, Shaka en Mzilikaats weer.
Ek voel die trane
vir jou kinders
wat steeds bloei.
Steeds struikel.

Jy verfraai jouself met ’n diverse kultuur
           jou ongeoorloofde skat -
Die mooiste juwele
van Kimberley-diamante
tot minerale uit Egoli-goudstad.

Die volke wat jy baar
roep jou seën
deur die eeue uit
Die liefde van miljoene stemme
wat sing vir hulle moeder:
“Nikosi sikelele i’Afrika”

Hier waar die jakkals skree
jou kinders saans aan die slaap sing.
Die Wieg van die Mens
die wat skree tot stilte bring.
en Kaap van Storms
die Atlantiese en Indiese Oseane bymekaarbring
Dis hier waar jy my gedagtes
uit die nagmerrie terugbring
Hier waar hoop weer die toekoms herwin.

Hier waar ek weer kan sê
Bayete my Moeder!
Bayete my Suid-Afrika!

Die digbundels, waarin die gedigte verskyn, is te koop by gildenhuys.wouter@gmail.com.

Uittreksels uit die keurverslae, soos verskaf deur Wouter Gildenhuys:

Hierdie jaar is daar besluit om naas die wenner en naaswenners ook ’n verdere 16 Inhlabathi-pryse toe te ken. “Inhlabathi” is die  Zoeloe woord vir “grond” en hierdie 16 leerders se gedigte toon tekens van vrugbare potensiaal. Die skep van hierdie prys het ten doel  om veral leerders wat moontlik nog nie so bekend is met Afrikaans of die (Afrikaanse) poësie nie, aan te moedig om aan te hou skryf,  aangesien hulle werk getuig van talent en ’n aanvoeling vir die taal en digkuns. 

"Baie geluk aan al die deelnemers en wenners. Julle het ons veral beïndruk met, in die woorde van Steward van Wyk:

  • ’n sterk woordgevoeligheid, 
  • aanvoeling vir metaforiek, simboliek, ironie, parodie en ander stylfigure,
  • ’n bewustheid van vorm/genre konvensies en die kreatiewe spel daarmee, soms ook met tipografiese uitleg,
  • ’n oop ingesteldheid teenoor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek. 

Julle het ons bekendgestel aan ’n spesifiek KwaZulu-Natalse Afrikaans wat nie genoeg verteenwoordig word in die Afrikaanse poësie nie.  Bayete!"

– Bibi Burger, een van die beoordelaars

’n Brief vanaf ’n onderwyseres van een van die deelnemende skole, Effingham Sekondêre Skool:

Goeienaand Wouter Gildenhuys

Ek stuur hierdie e-pos om u hartlik te bedank vir die geleentheid om aan Grondwoorde deel te neem. 2018 was die eerste keer dat Effingham Sekondêre Skool deelgeneem het. 

Die dag toe u na ons skool gekom het met die pryse vir ons leerders, was regtig 'n aangename verrassing vir ons. Ons het dit nooit verwag nie.  Namens die leerders en myself weer eens baie dankie.

Ons het die leerders hulle toekennings en prysgeld voor die hele skool toegeken en hulle was so trots en opgewonde daaroor. En die beste motivering vir die res van die leerders om vanjaar deel te neem!  Ons sien uit na `n suksesvolle jaar met Grondwoorde 2019. 

Met beste wense,

Vanissa Singh, Effinghan Sekondêre Skool

Lees ook:

Grondwoorde groei uit KwaZulu-Natal: ’n onderhoud oor ’n Afrikaanse gedigkompetisie

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

Grondwoorde-skryfkompetisie: langlys aangekondig

  • 1

Kommentaar

  • zastra conway-nunn

    Fantasties! Wel gedaan aan Wouter. Jy doen so baie vir die taal. 'n Persoonlike gelukwense aan Declan en Kevin.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top