Grondwoorde 2020-projek: Fanie Olivier se beoordelaarsverslag

  • 0

Foto van Fanie Olivier: Naomi Bruwer; foto regs: Pixabay

Die Grondwoorde 2020-projek, ’n digkompetisie vir hoërskoolleerders van KwaZulu-Natal, is onlangs afgehandel. Hier is die agtergrond daarvan.

Die wenners van die Grondwoorde 2020-projek: ’n onderhoud met Wouter Gildenhuys

Hier volg Fanie Olivier se beoordelaarsverslag van 2020 se projek.

Beoordelaarsverslag: Grondwoorde 2020

Inleidende opmerkings

Dit was ’n groot voorreg om vanjaar weer as beoordelaar vir die Grondwoorde-projek op te tree. Dit bly vir my steeds ’n verstommende onderneming en ek kan die persone en instansies wat vir die ondersteuning en voortsetting van die projek verantwoordelik is, nie genoeg daarvoor bedank nie.

Natuurlik is die uitsonderlike en rojale pryse ’n belangrike aansporing: ’n eerste prys van R10 000 in die senior afdeling en R5 000 vir die juniors, terwyl vier naaswenners in albei afdelings almal R2 500 kon verdien met hulle pogings. Dan was daar ook die moontlikheid van ’n prys vir die beste gedig in elkeen van die drie kategorieë in elke afdeling, as ek die inligtingstuk reg verstaan.

Ek is onseker hoe die reglemente rondom die laaste groep pryse lyk, maar ek sou hoop dat die kategorieprys net in daardie gevalle toegeken word waar die gedig nie geskryf is deur iemand wat reeds wenners van die eerste pryse is nie. Op hierdie wyse word meer mense aangespoor en beloon, en strek die geld wat beskikbaar is, verder.

Dit word moeiliker as daar ’n oorkoepelende prys gegee word vir die beste gedig wat ingeskryf is! En hoe groot so ’n prys sou wees. Dit is onwaarskynlik dat dit nie ’n wenner of naaswenner sou wees nie, en ek sou ongemaklik wees as so ‘n wenner nog ’n verdere sak vol geld ontvang.

Die eer om as beste gedig aangewys te word, behoort daarin geleë te wees dat hierdie gedig die ereplek in die publikasie kry. Ek dink altyd aan die oorspronklike Griekse Olimpiese Spele, waar die atlete wat tweede en derde gekom het, kranse van goud en silwer gekry het. Die wenner is egter met die lourierkrans, gemaak van blare, bekroon.

Dit sou anders kon wees as die beste gedig nie dié van die wenner van ’n eerste prys of ’n naaswenner was nie; dan sou die organiseerders inderdaad die gedig met ’n kontantprys kon beloon.

........

Dit is, uiteindelik, nie net ’n kompetisie om wenners te bepaal nie, maar eerder iets waardeur leerders uitgedaag word om met die poësie om te gaan. En dit in Afrikaans, wat in baie (ek dink die meeste) gevalle nie hulle moedertaal is nie. Op hierdie wyse word die taal self belangrik gemaak, word dit gestroop van die vooroordeel wat histories in KwaZulu-Natal sou bestaan.

..........

Dit is, uiteindelik, nie net ’n kompetisie om wenners te bepaal nie, maar eerder iets waardeur leerders uitgedaag word om met die poësie om te gaan. En dit in Afrikaans, wat in baie (ek dink die meeste) gevalle nie hulle moedertaal is nie. Op hierdie wyse word die taal self belangrik gemaak, word dit gestroop van die vooroordeel wat histories in KwaZulu-Natal sou bestaan. Dit is ook nodig dat die onderwysers hiervoor bedank moet word: vir hulle toewyding as taalonderwysers, hulle belangstelling in die digkuns en die administratiewe dinge wat met die inskrywing saamhang. Niemand weet uiteindelik hoe wyd die nadraaie gaan wees van die prikkels wat deur hulle bydrae gegee word nie.

Oorsigtelike aantekeninge

Die kompetisie het by sy vaste patroon gebly en was daarom vir hoërskoolleerlinge bedoel. Dit is verder in twee verdeel: ’n junior seksie (graad 8 tot 10) en ’n senior seksie (graad 11 en 12). 90 inskrywings is in die junior afdeling ontvang, maar net ’n teleurstellende 31 in die senior afdeling. Die ontwrigting wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is, het miskien bygedra tot die skamele oes onder die senior leerders.

Daar was egter ook nege inskrywings deur graad 7-leerders en selfs een van ’n graad 6-dogter. Dit is wonderlik dat dit gebeur, maar natuurlik strydig met die reëls en voorskrifte! Die koördineerder van die digkompetisie het egter besluit om wel ’n spesiale prys aan een van hierdie leerders, Sophia Pollock (van Reddam House Ballito), te gee om haar inskrywing as besonders te erken en haar aan te moedig om te bly skryf.

Agtien skole het inskrywings gestuur en kom uit beide plattelandse en stedelike gebiede en uit sowel staat- as privaatskole in KwaZulu-Natal. Ander demografiese patrone bevestig die diversiteit van die kinders wat deelgeneem het en sluit aan by my opmerkings vroeër oor die groter rol wat die projek speel. Die getalle per skole wissel – in ’n paar gevalle was daar net een deelnemer, terwyl een skool se onderwyser 53 van haar groep kon oortuig om in te skryf. Ongelukkig was 10 van hulle nog in die laerskool en moes ek hulle inskrywings, waaronder daar goeie gedigte was, buite rekening laat, in ooreenstemming met die reëls. Een ander inskrywing is gediskwalifiseer omdat een van die drie gedigte ’n bekende gedig van ’n ander skrywer was. Dan was daar ook amper 30 inskrywings wat nie oor al drie onderwerpe gedigte gestuur het nie, en dus nie oorweeg kon word nie. Die lys van skole wat deelgeneem het, verskyn later in hierdie verslag.

Wat nogal opgeval het, was die gebrekkige deelname van tradisionele Afrikaanse skole in die stedelike dele van die provinsie. Daar was wel inskrywings (maar min) van Hoërskool Port Natal en Hoërskool Voortrekker (lg nou parallelmedium), maar niks van sterk skole soos Kuswag en Suid-Natal nie. Ek sou ook verwag het dat Durban-Noord-kollege sou saamdraai en iets uit Glenwood, wat ’n sterk komponent Afrikaanse rugbyleerlinge trek, sou kom. Maar dit net terloops, en buitendien vergeet ek ’n ander klomp belangrike skole wat hier moes gewees het.

Die temas vir die drie kategorieë was interessant en uiteenlopend en het heelwat moontlikhede vir die leerders gebied, iets wat ook weerspieël word in die 278 nuwe gedigte wat uiteindelik ingestuur is:

(i)   Nag in KwaZulu-Natal (Of: ’n KwaZulu-Natalse nag)
(ii)   My klip / My rots  / My berg
(iii)  Spikkelkoei

Die inskrywings

Taalkundige versorging 

Anders as verlede jaar het die inskrywings direk by my uitgekom voordat dit effens taalkundig versorg is. Soms was dit onthutsend en ander kere weer verrassend. Ek vermoed dat die organiseerders die betrokke onderwysers/kontakpersone by die skool moet vra om eers na die voorgelegde inskrywings te kyk, maar net rondom grammatika en spelling. Op hierdie manier kry die kinders ’n bietjie vakverwante hulp, wat miskien ook die gedig self ten goede kan beïnvloed. Dit is egter onaanvaarbaar dat iets soos die tweede “nie” (Afrikaans se eiesoortige dubbele ontkenning) nie reggestel word nie; die persoonlike voornaamwoorde moet darem reg ingespan word; en skoliere moet bedag wees daarop dat Google Translate nie altyd die korrekte antwoord op alle vrae gee nie.

Verstegniese versorging 

........

En, natuurlik die belangrikste is die feit dat daar in elke goeie gedig iets nuuts moet gebeur. Jy moet iets nuuts sê of vertel of iets wat bekend is op ’n nuwe manier sê of vertel. Om bloot ’n klomp sinne aanmekaar te las, maak nie daarvan ’n gedig nie. Om net ’n klomp dinge die een na die ander neer te skryf (ons noem dit enumerasie), is nie genoeg nie – daar moet een of ander spanning tussen die dinge wees of dit moet opbou van een na die ander.

..........

Soos ’n mens by eietydse hoërskoolleerlinge sou moes verwag het, is die meer formele aspekte van poësie óf afwesig óf te eenselwig. Waar die inskrywings met rym werk, is rymdwang of regte geykte ryme aan die orde van die dag. Seker 90% van die gedigte is vrye vers, maar dit is duidelik dat die leerders nie besef dat die vryeversvorm juis ook ’n vorm is nie. En, natuurlik die belangrikste is die feit dat daar in elke goeie gedig iets nuuts moet gebeur. Jy moet iets nuuts sê of vertel of iets wat bekend is op ’n nuwe manier sê of vertel. Om bloot ’n klomp sinne aanmekaar te las, maak nie daarvan ’n gedig nie. Om net ’n klomp dinge die een na die ander neer te skryf (ons noem dit enumerasie), is nie genoeg nie – daar moet een of ander spanning tussen die dinge wees of dit moet opbou van een na die ander.

Die groot jammerte is dat ek baie stukkies kon neerskryf op ’n bladsy rondom “Mooi sêgoed”, maar dit bly beperk tot ’n reël of twee en red selde die gedig. Terloops, ’n bladsy van hierdie aard verskyn as aanhangsel aan die verslag.

Poësie kan natuurlik dikwels ook ’n speletjie word met hoe die gedig lyk, maw hoe daar met die tipografie, die uitleg gewerk word. Daar was twee sulke gedigte: Nichole Schutte se “’n Nag in Kwa-Zulu Natal” en Evandre Venter se “KwazuluNatalse Nag” (albei titels natuurlik met ’n spelfout!).

Terwyl ek oor die toonaard van die gedigte praat, moet ek ook sê dat daar betreklik min humor in die meer as 300 gedigte aanwesig was. En dis iets wat ek jammer vind.

Ek het ook in ’n vorige verslag genoem dat dit waarskynlik baie belangrik is dat die projek ondersteun word deur ’n slypskool of skryfsessies by verskillende skole, sodat die onderwysers en die aspirantdigters ’n bietjie leiding kan kry. Ek dink byvoorbeeld hier aan die feit dat daar te veel mooiskrywery is, groot en versierende woorde gebruik word, iets waardeur die potensiaal van baie gedigte ondermyn word.

Benadering van die onderwerpe

Al drie die onderwerpe het moontlikhede rondom die soort gedig gebied. Maar die eerste onderwerp se ruimte sou seker oorwegend beskrywend kon wees, die tweede meer neig na persoonlike introspeksie of filosofering, terwyl die derde tema moontlikhede rondom verbeelding skep. Op stuk van sake het ons in die Afrikaanse poësie die boeiende gedig van DJ Opperman, “Sprokie van die spikkelkoei”:

Uit holtes van ’n boom
het kuddes vee gekom,
toe kies my broer
die spikkelkoei vir hom.

Ek stoot hom oor ’n krans,
hy val in ’n mik,
toe het ’n kraai
op die spikkelkoei gaan sit.

Smeer vet aan ’n klip,
korrel fyn, moenie kwes,
toe sak ’n duisend vere
noord, suid, oos, wes –

sak ’n duisend kraaie
oor die bloed, oor die klip ...
O waar sal ek skuil
teen die stippels wat pik.

Ek het verwag dat die pandemie en die gepaardgaande grendeltydperke sterker in die inskrywings as tema na vore sou tree. Ek het gedink hoe dit die KwaZulu-Natal-nagte sou raak, miskien self ’n soort nag word. Of dat dit ’n berg, ’n hindernis, sou word wat in die jonges se pad sou staan. Selfs die moontlikheid dat die spikkelkoei daarvan ’n simbool kon word. Maar as ek reg gelees het, was dit net in ses of sewe van die gedigte ’n faktor. Die beste COVID-19-gedig was deur Sasini Suriya Ramalingam van Heather Secondary School. Die gedig verskyn aan die einde van hierdie verslag, saam met die klompie reëls wat ek as besonders uitgelig het. 

(i)   Nag in KwaZulu-Natal (Of: ’n KwaZulu-Natalse nag)

Rondom hierdie onderwerp het veral drie perspektiewe oorheers. Die een het vertel van die uitbundige stedelike naglewe. Die tweede het die eiesoortige klimaat van veral die kusstreke  beskrywe. Die derde tema in die meeste gedigte was die vrees vir of bewustheid van bedreiging en misdaad, waarin skietery en moord ter sprake gekom het. Net in ’n paar gedigte het die leerders geskryf oor die bekoring van die natuur, die landskap met see en berge, en die sterre en die maan. In twee of drie gedigte het die verskynsel van beurtkrag en kragonderbrekings na vore gekom, waar die persoon wat die skakelaar beheer, aan God gelykgestel word.

Alhoewel die sterk aanwesigheid van misdaad en geweld rondom hierdie afdeling die sterkste tema was, moet dit verwelkom word dat leerders bewus is van maatskaplike en ekonomiese ongeregtigheid en die gevolg daarvan vir die gemeenskap.

Ten slotte is dit opvallend, ironies genoeg, dat humor juis ook in gedigte in hierdie kategorie die meeste voorgekom het.

(ii)   My klip / My rots  / My berg

In hierdie kategorie het daar omtrent geen gedigte opgeduik waarin daar van die spreker se persoonlike verhouding of beheptheid met ’n spesifieke geografiese berg was nie. Oorheersend  is die berg of rots as simbool gebruik vir ouers (veral ’n ma) en geliefdes (ai, die tienerliefde darem!); verder, uiteraard, binne die ou religieuse tradisie van die Godsfiguur as rots en ondersteuning.

’n Paar digters het gewerk met die feit dat rotse verweer, terwyl die berge standhou. Net een of twee het spesifiek met die klip gewerk: aan die een kant as iets sterk en waardevol, maar aan die ander kant as instrument waarmee en waardeur beserings kom.

Die beste gedig onder vanjaar se inskrywings kom uit hierdie interpretasie van die tema.

Dit is deur Jurnae Moss, van Durban Girls’ High School. Let op hoe die gebeure in die gedig ontwikkel, hoe die spreker eenkant en uitgesluit staan en uiteindelik in elke strofe die laaste woord het, vernietigend so in die slot, in die storie wat hier afspeel. Wat besonders is, is hoe die ritme wat in die eerste twee strofes aanwesig is, in die derde strofe verdwyn as die disintegrasie ingetree het. Dit is ook waar vir die eindryme wat in die eerste twee strofes as bindmiddel dien, maar hortend weggeraak het in die derde. Terselfdertyd is daar weer sterk binding deur die herhaling van “nou” en “nie meer nie”.

Wat hierdie gedig besonders maak, is dat dit deurgaans onduidelik bly wat die spreker se “klip” presies is en hoe dit gebruik word. Die oop moontlikhede is juis wat aan haar gedig ’n besonderse dimensie gee.

My klip

Hy het sy speelgoed motor met die flitsende ligte,
sy sokkerbal wat nou bruin is en aksiefiguurtjies te veel!
Sy het haar Barbie-pop met die ooreenkomstige Ken,
haar modeboek en tee-stel waarmee sy met haar teddiebere speel
En ek? Ek het my klip

Hy druk sy motortjie vinnig oor die vloer,
teen die muur op, in die spoor af, langs die boekrak
Sy kam haar pop se haare en trek haar klere aan;
pienk hoehakskoene, pienk rok, pienk handsak.
En ek? Ek gooi my klip

Sy motortjie is nou verouderd. Die buitebande is nou verslyt,
die links syspieel is verdwyn en die ligte flits nie meer nie.
Haar Barbie-pop is nou oudmodies. Die hande is gekou,
die hare is gesny en die verlies van Ken was niks meer nie
En ek? Ek het my bloedrooi gevlekte klip

Die gedig is nie sonder gebreke nie, maar het reeds iets wat bewys dat hier moontlik ’n belangrike digterstem aanwesig is.

(iii)  Spikkelkoei

Die oorgrote meerderheid van die gedigte rondom hierdie onderwerp het gehandel oor die werklike Nguni-bees, sonder om in ag te neem dat nie alle Nguni’s gespikkel is nie. Vlekke is byvoorbeeld nie spikkels nie! In hierdie gedigte is daar veral klem gelê op die krag en die weerstandigheid van die ras, hulle intieme verbintenis met die Zoeloesprekers se geskiedenis en kultuur en dat hierdie beeste eintlik as simbool vir Suid-Afrika kan of behoort te dien. In ’n paar gedigte is die spikkelkoei ook die spreker.

Enkele gedigte het gehandel oor die feit dat die beeste as betaalmiddel rondom lobola gebruik word. Of dat hulle, nadat hulle ons voorsien het van suiwelprodukte, geslag gaan word, sodat die mens (ek/ons) vleis het om te eet. Daar is deur leerders uit die Indiërgemeenskap hierteen beswaar aangeteken, omdat beeste deur Hindoes as heilige diere beskou word, “die moeder van alle gode”, skryf een. Sinies eindig ’n ander digter sy spikkelkoeigedig met die opmerking: “Zoeloes is nie vegetariërs nie.”

’n Klompie inskrywings werk met ander perspektiewe, sien byvoorbeeld die spikkelkoei as ’n randfiguur of “outsider”. In een word hy of sy simbool vir ’n spreker met vitiligo. In ’n verstommende (as gevolg van moontlike interpretasies) kort gedig deur Zander Conradie (Curro Mount Richmore) word die soldaat wat ’n koei skiet, op sy beurt die spikkelkoei.

Toe die organiseerders hierdie kategorie gekies het, het hulle duidelik vir die leerders verbeeldingsruimte geskep, iets waarvan baie van hulle goed gebruik gemaak het.

Die wenners

Soos ook in die verlede die geval was, beteken die feit dat iemand die algehele wenner in die senior of junior afdeling is, nie dat sy of haar gedigte noodwendig die beste in al drie kategorieë is nie. ‘n Besluit oor die “beste” is in ieder geval die resultaat van ’n besonder subjektiewe maatstaf.

Ek bly egter daarvan oortuig dat die organiseerders reg is om nie noodwendig ’n wenner of wenners aan te wys nie, maar meen dat hulle verkeerd is om die beste kategoriegedig sonder meer toe te ken aan die algehele wenner as dit die geval sou wees. Daardie wenner ontvang in ieder geval reeds so ’n groot prys dat Grondwoorde gerus daaraan kan dink om nie ook die kategorieprys aan die algehele wenner te gee nie. Op hierdie manier word die prysgeld ‘n bietjie wyer verdeel. Ek neem die vrymoedigheid om my eie aanbeveling te volg!

Ek let ook op dat daar nie vanjaar voorsiening gemaak word vir die beste gedig wat ingeskryf is nie. Weer eens sou ek hoop dat daar nie ’n oorvleueling sou wees tussen algehele wenner en die wenner van die beste gedig nie. Altans nie vir sover dit die prysgeld aangaan nie.

Senior afdeling

Die wenner van die eerste prys in die senior afdeling is:

Katelyn van Wyngaard (Northlands Girls’ High School)

Die vier naaswenners is:

  • Shané Gouws (Hoërskool Voortrekker)
  • Kayleigh Govender (Belverton Secondary School)
  • Karlien Nel (Curro Mount Richmore)
  • Nikita Perumal (Arena Park Secondary School)

Die kategoriewenners, eerste pryswenner buite rekening gelaat, is:

(i)   Nag in KwaZulu-Natal (Of: ’n KwaZulu-Natalse nag)

Nikita Perumal (Arena Park Secondary School)

(ii)   My klip / My rots  / My berg

Kayleigh Govender (Belverton Secondary School)

(iii)  Spikkelkoei

Bianca Hunlan (Hoërskool Sarel Cilliers) 

Junior afdeling

Die wenner van die eerste prys in die junior afdeling is:

Susan Gregory (Hoërskool Pionier

Die vier naaswenners is:

Nabuhle Chauke (Lincoln Heights Secondary School

Amahle Majola (Reddam House Ballito)                            

Jurnaé Moss (Durban Girls’ High School)

Kaitlin Swart (Curro Mount Richmore)

Die kategoriewenners, eerste pryswenner uitgesonder, is:

(i)   Nag in KwaZulu-Natal (Of: ’n KwaZulu-Natalse nag)

Barbara Volschenk (Curro Mount Richmore)

(ii)   My klip / My rots  / My berg

Jurnaé Moss (Durban Girls’ High School)

(iii)  Spikkelkoei (gedeel deur)

  • Zander Conradie (Curro Mount Richmore)
  • Tanya de Villiers (Hoërskool Pionier)

Leerlinge van die volgende skole het aan die projek deelgeneem

Apollo Secondary School
Arena Park Secondary School
Belverton Secondary School
Curro Mount Richmore
Dundee High School
Durban Girls’ High School
Effingham Secondary School
Ferrum-hoërskool
Ganges Secondary School
Heather Secondary School
Lincoln Heights Secondary School
Northlands Girls’ High School
Hoërskool Pionier
Hoërskool Port Natal
Reddam House Ballito
Hoërskool Sarel Cilliers
St Mary’s Diocesan School for Girls
Hoërskool Voortrekker                            

Stukkies uit gedigte wat nie wenners was nie, maar wat die  onthou werd is

en ek weet dat net soos ’n golf
ek weer op haar kan breek
(Danielle Viljoen, Curro Mount Richmore)

*

Jou spikkels vlek jou vel,
soos ’n koeël van sproete wat jou getref het
so skaars
is jy
(Savannah-Lee Jacobs, Curro Mount Richmore)

*

Jy is geklee in gevlekte lap.

As jy stamp,
is jy hard soos reën.
(Anele Sethebe, Dundee High School)

*

die lang uitspattige gras
(Diya Luckan, Effingham Secondary School)

*

Wie se drome vinnig eindig as osean verdrink in
dik lae olie
en die tiere se jagsessies stop en hiënas ophou
lag
(Chante Luus, Ferrum High School)

*

Die vlamme van die vuur soos die brandende
son in die middag
Mense se begeertes wat sterker as die winde
die windpompe beur

*

Die riviere en strome vloei misleidend,
agter elke vlek is daar ’n les en ’n verhaal.
(Simphiwe Buthelezi, Lincoln Heights Secondary School)

*

jou oë bly water soos ’n lopende kraan
(Yvonne Wheeler, Hoërskool Port Natal)

*

die rots is so te sê ’n berg
(Agostinho Coelho, Reddam House Ballito)

*

Die Nguni-koei is soos ’n skildery
Die smere van donker, ongelyke kolle
kwashale teen hul wit doekvel
(Kaitlyn Cornish, Reddam House Ballito)

*

Die spikkelkoei gee ons krag
Ons is sterk
Ons is die spikkelkoei
(Jemma Loud, Reddam House Ballito)

*

’n Spikkelkoei is ’n droom vol kleure
(Megan Loud, Reddam House Ballito)

*

Ek is te lief vir die sterre om bang te wees
vir die dag 
(Michaela Moreira, Reddam House Ballito)

*

Jy het die reën oorleef en die son omhels
(Gia Naicker, Reddam House Ballito)

*

Jy is my anker
soos ’n papiergewig vir papier op ’n
winderige dag
(Nikita Darling, Hoërskool Port Natal)

*

Dit is deur haar geheue wat ek daagliks
wakker word
met my drome op my mou
(Shenaaz Basha, Heather Secondary School)

 *

Haar hart is ’n lapwerk van liefde
(Teniel Moodley, Heather Secondary School)

*

 gedagtes is die enigste geraas wat die stilte verbreek.
(Sasini Suriya Ramalingam, Heather  Secondary School)

..........

‘n Nag in KwaZulu-Natal

Lank gelede …
Vroeër was daar
die suiwer opgewondenheid van die nag.
Nou beklemtoon hierdie sentiment versigtigheid
uit die verte waardeer ons die skoonheid van die skitterende nag.

Daar is stilte in die beligte straat,
gedagtes is die enigste geraas wat die stilte verbreek.
Die koue lig is vergiftigend
Ons dra ’n nuwe bykomstigheid – die maskers aan ons gesigte.

Ons nag het verander … almal se nag het verander.
Die lewe gaan voort ...
Almal bly agter geslote deure as die beperkings oorval.

Tye sal beter word, tot dan – dis ’n vreemde nag in KwaZulu-Natal.
Dit sal gegraveer word in ons verlede!

...........

‘n Nag in KwaZulu-Natal

Lank gelede …
Vroeër was daar
die suiwer opgewondenheid van die nag.
Nou beklemtoon hierdie sentiment versigtigheid
uit die verte waardeer ons die skoonheid van die skitterende nag.

Daar is stilte in die beligte straat,
gedagtes is die enigste geraas wat die stilte verbreek.
Die koue lig is vergiftigend
Ons dra ’n nuwe bykomstigheid – die maskers aan ons gesigte.

Ons nag het verander … almal se nag het verander.
Die lewe gaan voort ...
Almal bly agter geslote deure as die beperkings oorval.

Tye sal beter word, tot dan – dis ’n vreemde nag in KwaZulu-Natal.
Dit sal gegraveer word in ons verlede!

(Sasini Suriya Ramalingam, Heather Secondary School, graad 11B)

 

Naskrif deur die koördineerder rondom Inhlabathi

Die Grondwoorde-projek was uit die staanspoor daarop ingestel om leerders aan te moedig om gedigte in Afrikaans te skryf. As deel van die projek bestaan daar dan ook die Inhlabathi-komponent. Inhlabathi is die Zoeloe-woord vir grond en hierdie komponent skep die moontlikheid om ook ander toekennings te maak. Die prys is die eerste keer in 2018 toegeken. In die lig van die beoordelaar se spesiale vermelding van “onthoubare stukkies uit gedigte” is daar besluit dat die 16 leerders wat daar verskyn, vanjaar vir ’n Inhlabathi-aanmoedigingsprys in aanmerking kom:

1. Agostinho Coelho (Reddam House Ballito)

2. Anele Sethebe (Dundee High School)

3. Chante Luus (Ferrum High School          

4. Danielle Viljoen (Curro Mount Richmore)

5. Diya Luckan (Effingham Secondary School)       

6. Gia Naicker (Reddam House Ballito)

7. Jemma Loud (Reddam House Ballito)                

8. Mega Loud (Reddam House Ballito)

9. Michael Moreira (Reddam House Ballito)  

10. Nikita Darling (Hoërskool Port Natal)

11. Sasini Suriya Ramalingam  (Heather Secondary School)

12. Savannah-Lee Jacobs (Curro Mount Richmore)

13. Shenaaz Basha (Heather Secondary School)   

14. Simphiwe Buthelezi (Lincoln Heights Secondary School)

15. Teniel Moodley(Heather Secondary School)     

16. Yvonne Wheeler (Hoërskool Port Natal)

Lees ook:

Grondwoorde-skryfkompetisie: langlys aangekondig

Grondwoorde-kompetisie 2018: wenners aangekondig!

Grondwoorde groei uit KwaZulu-Natal: ’n onderhoud oor ’n Afrikaanse gedigkompetisie

Boekresensie: Grondwoorde 2018 saamgestel deur Wouter J Gildenhuys

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

Wenners van die Grondwoorde 2019-digkompetisie aangekondig!

Die wenners van die Grondwoorde 2020-projek: ’n onderhoud met Wouter Gildenhuys

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top