Die Johann Rossouw-gespreksreeks: oor verdiepende samewerking in die Afrikaanse wêreld – gedagtes na aanleiding van Kaapse Forum se derde Hoeriekwaggo-beraad

  • 0

Grafika van beraadslaging by tafel: Mohamed Hassan op Pixabay

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.

Op Vrydag 21 en Saterdag 22 November het Kaapse Forum se derde Hoeriekwaggo-beraad met die tema “Afri-sáám of Afri-apart?” by die Protea-hotel buite Stellenbosch plaasgevind – ook onder die vaandel van die Dagbreek-trust en Afrikaans100.

Die beraad was die inisiatief van Kaapse Forum se voorsitter, die joernalis en Afrikaanse gemeenskapsaktivis Heindrich Wyngaard. Deelname was op uitnodiging van die organiseerders. Omdat dit in wese ’n geslote geleentheid was ten einde in vertroue openhartige gesprek aan te moedig, sal in hierdie oorsig en besinning oor die beraad nie by name na spesifieke deelnemers verwys word nie. Hier sal eerder gefokus word op verskillende argumente en gesigspunte wat tydens die gesprek op die Vrydag geopper is – omstandighede het my verhoed om ook die verrigtinge op die Saterdag by te woon.

Die versugting na verdiepende samewerking in die Afrikaanse wêreld sedert die politieke oorgang van 1994 is een waaruit al tallose gesprekke en inisiatiewe gevloei het. Gegewe die gevoeligheid van die kwessies ter sprake teen die agtergrond van ’n uiters komplekse Afrikaanse geskiedenis sal hierdie beraad beslis nie die laaste gesprek van sy soort wees nie. Dit beteken egter nie dat daar nie in die afgelope meer as 30 jaar vordering met die saak gemaak is nie; inteendeel – soos die opkoms by die beraad en trant van die gesprekke bevestig.

’n Ander kwalifikasie is vooraf in orde: Ek self was naamlik tussen 2004 en 2008 gereeld by gesprekke van hierdie aard betrokke; tussen 2009 en 2011 geensins nie; en sedertdien slegs dan en wan. Die nadeel hiervan is uiteraard dat wat hier onder geskryf word, geensins gebaseer is op volgehoue betrokkenheid by die saak nie; die moontlike voordeel is die perspektief wat dit bied om die afgelope Vrydag se gesprek te vergelyk met wat ek in die middel-2000’s kon waarneem. Uiteraard moet lesers van hierdie opstel maar self hieroor oordeel.

Uit die geleenthede waarby ek tussen 2004 en 2008 betrokke was, staan ’n beraad uit wat, as ek reg onthou, in 2006 ook op Stellenbosch plaasgevind het, ter soeke na konsensus vir die destyds nog te stigte Afrikaanse Taalraad (ATR). Van daardie beraad onthou ek:

– die betreklik gespanne atmosfeer

– sterk verdeelheid oor of die Afrikaanse wêreld haar lot by die staat of by die gemeenskap moet inwerp

– dat die bruin deelnemers meestal, of dan veral, intellektuele met een of ander verband met die Universiteit van Wes-Kaapland in die 1970’s en 1980’s was, en dan veral met dié universiteit se Departement Afrikaans – almal mense wat sterk deur Jakes Gerwel beïnvloed is.

By die pas afgelope beraad was die atmosfeer baie meer ontspanne, selfs gegewe hoe fel die debat was wat in die afgelope weke gevoer is oor die “ope brief van die 44”, soos dit skynbaar nou in die volksmond heet. Die ontspannenheid van die geleentheid kan vermoedelik toegeskryf word aan minstens die volgende faktore:

– Feitlik niemand daar teenwoordig koester meer noemenswaardige verwagtinge van die staat nie, terwyl die fokus nou veel eerder geskuif het na wat gemeenskappe in Afrikaans self kan doen om ons gedeelde uitdagings aan te pak.

– Van sowel wit as bruin deelnemers kan gesê word dat feitlik almal teenwoordig ’n bewese rekord van gemeenskapsbetrokkenheid het, hetsy formeel of informeel.

– Die bruin deelnemers het steeds mense met UWK-verbintenisse ingesluit, maar was eweneens uit ’n baie groter verskeidenheid instansies, soos die Verenigde Gereformeerde Kerk of kleiner gemeenskapsorganisasies met spesifieke oogmerke.

Op die keper beskou wil dit dus voorkom asof die gesprek in en oor die Afrikaanse wêreld nou een is waar wit en bruin mekaar veel beter hoor. Die konsensus oor die uitdagings waarvoor ons vandag staan, is beslis ook sterker as 20 jaar gelede, waaroor meer hier onder.

........
Op die keper beskou wil dit dus voorkom asof die gesprek in en oor die Afrikaanse wêreld nou een is waar wit en bruin mekaar veel beter hoor. Die konsensus oor die uitdagings waarvoor ons vandag staan, is beslis ook sterker as 20 jaar gelede, waaroor meer hier onder.
........

Die beraad die Vrydag het min of meer in twee dele uiteengeval. Eerstens is beraadgangers genooi om uit te lig wat hulle beskou as positief en uniek aan Afrikaans; tweedens was die geleentheid daar om te gesels oor wat tans verdelend of samebindend in die Afrikaanse wêreld werk.

Wat eersgenoemde betref, word hier slegs twee standpunte bevestigend uitgelig. Die eerste was dat Afrikaans vir sy sprekers volledige toegang tot die moderniteit gee; met ander woorde dat ’n lewe met al die gedifferensieerdheid van die moderne wêreld moontlik is in Afrikaans – van die wetenskap tot die regbank tot die tegnologie, en wat nog.

Die tweede standpunt was dat die Afrikaanse wêreld oor ’n merkwaardige ideologiese diversiteit beskik. Hierby kan gevoeg word dat terwyl die versugting dikwels uitgespreek word dat ons in Afrikaans tog nou net ons ideologiese verskille te bowe moet kom en moet saamstaan – asof dit een of ander teken van kulturele mondigheid sou wees – dit eerder die moeite werd is om ’n kultuur aan te kweek waar ons ideologiese verskille die ryke bron is waaruit ons kan put om ’n meer inklusiewe konsensus te bou oor waarheen ons met mekaar in Afrikaans onderweg is.

In dié verband kan twee faktore onder vele meer vermeld word, naamlik die belang van sowel vryheid as gelykheid vir die Afrikaanse gesprek: Terwyl niemand kan ontken dat vele sprekers van die taal vandag nie in hul eie land vry voel nie, kan niemand eweneens ontken dat die gaping tussen brandarm en skatryk Afrikaanstaliges óók steeds ’n tragiese kenmerk van ons taalwêreld is nie. ’n Mens hoef nie in ’n vlaag van ideologiese besieling absolute vryheid of absolute gelykheid te vereis nie, maar diegene vir wie hul onvryheid die teerste punt is, kan gewis aansluiting vind by diegene vir wie ongelykheid die teerste punt is – en, báie belangrik, ook andersom.

Wat die tweede deel van die Vrydag se gesprek betref – wat ons verdeel en wat ons verbind – was dit opmerklik dat heelwat van die Afrikaners teenwoordig die behoefte gevoel het om eers teenoor mekaar in die teenwoordigheid van hul bruin toehoorders keel skoon te maak. Dít is nie iets wat ek my 20 jaar gelede sou kon voorgestel het nie, en bloot hierdie deel van die gesprek het oorgekom as iets van ’n erkenning van die mate waarin die eertydse hiërargie tussen wit en bruin in Afrikaans gerelativeer is. Die onmiddellike aanleiding hiertoe was verskille oor die ope brief van die 44, asook met betrekking tot hoe Solidariteit en AfriForum hulle teenoor die huidige Amerikaanse regering sou posisioneer en verwoord – altans in die oë van sommiges teenwoordig by die beraad.

Met hierdie deel van die gesprek geleidelik agtergelaat, kon die gesprek verskuif na wat sekerlik een van die grootste knelpunte in die Afrikaanse wêreld en selfs aanklagte teen die 1994-bedeling is, naamlik die haglike materiële en psigiese toestand waarin soveel arm bruin Afrikaanstaliges hulle bevind. Gewag is gemaak van die betreklik bekende maar nie daarom minder tragiese feit nie dat bruin Afrikaanstaliges die gemeenskap is met die laagste deelname aan naskoolse studie. ’n Ander statistiek wat gemeld is en die haglike toestand van hierdie taalgenote tuisgebring het, is dat 70% van die Wes-Kaapse tronkbevolking bestaan uit bruin mans onder die ouderdom van 35 wat dikwels ook kinders verwek vir wie hulle nie vaders kan wees nie. Bloot hierdie statistiek vertel die verhaal van ’n gebroke gemeenskap wat reeds oor eeue sistemies verrinneweer word, en wie se lot nié beduidend sedert 1994 verbeter het nie. Trouens, dit wil voorkom asof hulle lot sedertdien eerder beduidend versleg het en dat die wanhoop onder hierdie taalgenote van ons eenvoudig bly toeneem. Wie kan hulle dit kwalik neem?

Dit is ’n interessante, miskien selfs dwingende vraag waarom die onderlinge begrip tussen verskillende segmente van die Afrikaanse wêreld skynbaar bly groei – en met “verskillende segmente” word nie slegs verwys na die wit en bruin segmente nie, wat beslis nie meer twee eenduidige komponente is nie, maar wat as sodanig ook heelwat interne ideologiese diversiteit vertoon.

........
Daar kan sekerlik talle redes vir hierdie groeiende onderlinge begrip uitgewys word, waarvan onder meer die volgende: die moeite wat die Afrikaanse media doen om die wel en wee van alle Afrikaanstaliges te belig; die rol wat die kunste speel om onderlinge begrip en versoening aan te help; inisiatiewe vir bemagtiging onder bruin Afrikaanstaliges deur tradisioneel oorwegend wit instansies soos AfriForum, Solidariteit en die Dagbreek-trust; en die tallose gesprekke en inisiatiewe oor die afgelope twee dekades en meer onder die vaandel van die ATR en die Afrikaanse Taalmonument.
........

Daar kan sekerlik talle redes vir hierdie groeiende onderlinge begrip uitgewys word, waarvan onder meer die volgende: die moeite wat die Afrikaanse media doen om die wel en wee van alle Afrikaanstaliges te belig; die rol wat die kunste speel om onderlinge begrip en versoening aan te help; inisiatiewe vir bemagtiging onder bruin Afrikaanstaliges deur tradisioneel oorwegend wit instansies soos AfriForum, Solidariteit en die Dagbreek-trust; en die tallose gesprekke en inisiatiewe oor die afgelope twee dekades en meer onder die vaandel van die ATR en die Afrikaanse Taalmonument.

Hierby sal ek nog iets wil voeg waarna reeds hier bo verwys is, naamlik bykans universele teleurstelling in die Afrikaanse wêreld vandag jeens die bedeling wat in 1994 tot stand gekom is – nie omdat enigiemand wil terugkeer na die vorige bedeling nie, maar omdat die hoop op ’n beter lewe vir almal en ware inklusiwiteit in ’n nierassige staat nog nie voldoende verwesenlik is nie.

Dit is waarskynlik teen hierdie agtergrond dat verskeie van die bruin beraadgangers openlik gepleit het dat die Solidariteit-beweging moet kom help om die maatskaplike krisis onder arm bruin Afrikaanstaliges in veral die Wes-Kaap op te los. Aan die ander kant was daar ook vanuit bruin geledere by die beraad die standpunt gehuldig dat bruin Afrikaanstaliges by hulself moet begin om hulle lot te verander. Albei hierdie sentimente verteenwoordig verstaanbare sentimente, en is weer eens tekenend van hoe die middelgrond in Afrikaans al gegroei het.

Aanduidend van die sterker middelgrond is die ontvanklikheid wat daar ook bestaan het vir die volgende standpunte: Eerstens, dat hoe mense verkies om hulself te identifiseer, nie ’n beletsel op hulle deelname aan die gesprek moet wees nie, of daardie identifikasie nou is as Afrikaner, bruin Afrikaner, Khoisan, van slaweafkoms, of bloot Afrikaans.

Tweedens was daar skynbaar ook ontvanklikheid vir die standpunt dat terwyl daar ou wonde in die Afrikaanse wêreld is wat nog nie geheel het nie – natuurlik veral oor die haglike omstandighede waaronder soveel van ons bruin taalgenote in veral die Wes-Kaap nog leef – daar ook erkenning gegee moet word aan nuwe wonde wat onder die huidige bedeling opgedoen is. Anders gestel, ook Afrikaners wat materieel betreklik beter daaraan toe is, het verliese gely en ly dit steeds. Hier praat ons nie van die verlies aan mag ná die vorige bedeling nie, maar oor hoe ook Afrikaners deur die huidige bedeling misken en geleenthede ontneem word. As voorbeeld van so ’n nuwe wond het ek verwys na die verlies aan die tweetalige Universiteit van die Vrystaat sedert 2016 wat my as Afrikaner en my taalgenote die geleentheid ontneem het om Afrikaans in ’n groter omgewing as slegs Afrikaans te mag wees.

Miskien is die grootste verlies wat ons almal deel, en wat ook bydra tot groter samehorigheid in Afrikaans, die verlies aan die toekoms waarna ons steeds streef in hierdie land.

’n Laaste opmerking as nagedagte by die beraad: Naby die einde van die gesprek die Vrydag het verskeie stemme opgegaan vir ’n plan om die ellende onder ons Wes-Kaapse taalgenote te verhef. My indruk is dat terwyl so ’n plan noodsaaklik is, dit sal moet begin by ’n behoorlike bestekopname van die probleem. Dit is vandag lank reeds geskiedenis watter verskil die werk van die Carnegie-kommissie in die 1930’s gemaak het om die destydse sogenaamde armblankeprobleem onder Afrikaners te help oplos – al het die kommissie volgens sommige geskiedkundiges segregasie destyds help legitimeer. Daarna het die Erika Theron-kommissie ook in 1976 ’n verslag oor die probleme van die bruin gemeenskap(pe) uitgebring, waarvan vele nie deur die destydse Nasionale Party-regering aanvaar is nie, en wat bygedra het tot die sistemiese ellende van ons bruin taalgenote.

In 2026 sal 50 jaar sedert die verslag van laasgenoemde kommissie verloop het. Die tyd is ryper as ooit dat die Afrikaanse wêreld vandag weer ’n deeglike ondersoek na die ellende van ons bruin taalgenote loods ten einde ’n plan uit te werk om hierdie ondraaglike krisis te probeer beëindig.

Lees ook: 

Verslag oor die Hoerikwaggo Indaba: ’n suksesvolle byeenkoms

Hoerikwaggo Indaba val vas in identiteitskwessies sonder nuwe voorstelle

Konferensie-verslag: bruin identiteit

DAK-konferensie: Oor “die taal wat miere daidelik is”

Afrikaner, Afrikaan, Afrikaans

Is Afrikaners slagoffers?

Die Afrikaner Verklaring: Saambou of laertrek?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Trump, die Weste en "die res van die wêreld"

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Om vir eens iemand te wees – oor onlangse studenteprotes in die hartland

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top