Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Om vir eens iemand te wees – oor onlangse studenteprotes in die hartland

  • 1

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Dit word dikwels gesê dat universiteite ’n mikrokosmos van die breër samelewing is. As algemene waarstelling is dit korrek, maar om die waarheid van die stelling na waarde te skat hang af van oor watter universiteit ons praat – die Universiteit van Kaapstad is byvoorbeeld nie die Universiteit van Pretoria of die Universiteit van die Vrystaat (UV) nie.

........
Onlangse studenteprotes het verskillende vorme aan verskillende universiteite aangeneem, terwyl die protes aan Fort Hare-universiteit en die Universiteit van die Vrystaat stellig die meeste aandag getrek het weens die vlakke van geweld en saakbeskadiging – veral op die Alice-kampus van Fort Hare en die QwaQwa-kampus van die UV.
........

Onlangse studenteprotes het verskillende vorme aan verskillende universiteite aangeneem, terwyl die protes aan Fort Hare-universiteit en die Universiteit van die Vrystaat stellig die meeste aandag getrek het weens die vlakke van geweld en saakbeskadiging – veral op die Alice-kampus van Fort Hare en die QwaQwa-kampus van die UV. Soortgelyke tonele het hulle ook op die Bloemfontein-kampus van die UV afgespeel, hoewel die graad van geweld en saakbeskadiging laer as op eersgenoemde twee kampusse was.  

Dit is veilig om te sê dat die UV tot sowat 10 tot 15 jaar gelede nie dikwels protesaksie beleef het nie – veral nie in die gedaante wat dit meermale sedert ongeveer 2016 aangeneem het nie. Dit is daarom te verstane dat die reaksie uit die geledere van veral Afrikaners wat voorheen aan die UV studeer het of hulle kinders vir studie na die UV sou stuur – dog nie meer vandag nie – een van grootliks onbegrip en soms skerp afwysing is, soos aangedui deur uitsprake soos: “Dis mos nou amper weer eksamentyd” of “Dis mos makliker om klippe te gooi as om te studeer”. Bowendien verloor enige protesaksie waarin geweldpleging en saakbeskadiging kop uitsteek in elk geval baie gou die geldigheid wat dit dalk nog in die oë van die publiek sou hê.

Dit behoort hopelik vanself te spreek dat ’n filosofieprofessor baie beslis ook nie geweldpleging en saakbeskadiging tydens protesaksie kan goedkeur nie; dié punt beklemtoon ek by voorbaat, want in hierdie opstel wil ek aan die hand doen wat ek dink ’n verklaring mag wees vir die alte gereelde oorgaan tot geweldpleging en saakbeskadiging deur sommige studente in protesaksie. Hopelik sal dit vir die leser duidelik wees dat om te probeer verstaan nie neerkom op om te vergoeilik nie.     

........
Om te beklemtoon dat om te probeer verstaan nie beteken om te vergoeilik nie, het skynbaar al hoe belangriker in die huidige tydsgewrig geword. Waarom? Wel, minstens omdat die tegnologieë en instellings waarmee die publiek se omgang met die nuus bemiddel word, skynbaar al hoe meer abstraksie en dus onbegrip in die hand werk.
........  

Om te beklemtoon dat om te probeer verstaan nie beteken om te vergoeilik nie, het skynbaar al hoe belangriker in die huidige tydsgewrig geword. Waarom? Wel, minstens omdat die tegnologieë en instellings waarmee die publiek se omgang met die nuus bemiddel word, skynbaar al hoe meer abstraksie en dus onbegrip in die hand werk. Afgesien van die feit dat beelde van geweldpleging en saakbeskadiging áltyd die dekking van protesaksies gaan oorheers en waarskynlik gaan bepaal, is dit ook nog so dat algoritmes en nie-tradisionele platforms waarop inligting versprei dikwels meer kwaad as goed doen – ’n selfoonvideo wat uit fokus en rukkerig met die hand deur iemand op die toneel afgeneem is, werk met die illusie dat dit waarder en betroubaarder as die tradisionele media moet wees, omdat dit so onmiddellik en “ongefiltreerd” is. Dis egter dikwels ’n illusie, want ons weet nie wie die video afgeneem het, vir watter doeleindes, of binne watter konteks nie. Maar omdat dit een van die moderniteit se groot illusies handhaaf, naamlik dat die waarste waarheid per definisie onbemiddeld is en eerstehands ervaar word, glo mense eenvoudig wat hulle sien – al is sien vandag minder as ooit glo.

Die moderniteit is eweneens lief daarvoor om te abstraheer en te kategoriseer – iets wat in ’n koloniale samelewing nog meer die geval is; kategorieë soos “beskaafd” versus “barbaars”, of “Westers” versus “inheems” is lotsbepalend en jou lewe kan afhang van in watter kategorie jy geplaas word. Om te dink dat om die amptelike einde van die koloniale bestel te bereik beteken dat dié soort abstraksie agtergelaat word, is naïef. In ’n land soos Suid-Afrika is die ou rassekategorieë byvoorbeeld nog springlewendig, onder meer as juridiese norme aan die hand waarvan die uitwissing van die onreg van die verlede amptelik bedryf en beoordeel word.

Veral Afrikaners wat hulself ervaar as aan die ontvangkant van beleide en wette wat nomineel op die uitwissing van die onreg van die verlede gerig is, is gou om op die gevare van dié soort abstrahering en kategorisering te wys – en tereg ook. Helaas beteken dit egter nie Afrikaners (en lede van elke ander denkbare groep in die land) maak hulself nie éwe skuldig aan abstrahering en kategorisering nie.

Neem die voorbeeld van die 26-jarige UV-student, Shaney Heydenrych. Heydenrych het oornag beroemdheid of berugtheid verwerf – afhangende van jou perspektief – as “die enigste wit student” wat aan die onlangse protesaksie by die UV deelgeneem het, en wel op die Bloemfontein-kampus. In ’n onderhoud met Netwerk24 gepubliseer op 30 Oktober 2026 stel sy die volgende standpunte:

– “Wit, bevoorregte studente kan meer doen om swart studente wat minderbevoorreg is, by te staan”;

– “As jy neutraal is in situasies van onreg, het jy die kant van die onderdrukker gekies” (met verwysing na emeritus aartsbiskop Desmond Tutu);

– “Ek dink mense glo soms die gesprek oor ongelykheid behoort net aan swart studente. Maar armoede en uitsluiting het nie kleur nie”;

– dat daar talle wit studente is wat deur NSFAS gefinansier word, of nie hul studiegeld kan bekostig nie, maar verkies om tydens die protesaksie stil te bly.

In die genoemde onderhoud word verder berig dat Heydenrych uit ’n arm agtergrond kom; self deur die NSFAS gefinansier word nadat sy haar studiejare lank moes uitstel; vlot is in Afrikaans, Engels, isiZulu en isiXhosa; en ’n tweedejaar-BA-student is wat hoop om eendag as onderwyser terug te keer na haar gemeenskap van Dundee, KwaZulu-Natal en daar skool te gee. (Belangeverklaring: Heydenrych is ook ’n student in Grieks en Latyn aan die departement waarvan ek die hoof is en voor die skryf van hierdie opstel het ek met haar gesels oor haar ervaring en waarnemings van die onlangse protesaksie.)

Lesers van hierdie opstel kan self gaan kyk na die kommentaar onderaan die onderhoud met Heydenrych, maar om dit op te som kan gesê word dat dit oor die algemeen neerbuigend, neerhalend en onsimpatiek is. So asof Heydenrych ’n naïewe jong meisie is wat nie in staat is tot onafhanklike denke en eie inisiatief nie – allermins die indruk wat sy op my gemaak het.

Maar dit daar gelaat. Sover ek kon vasstel uit gesprekke met verskillende mense wat op die Bloemfontein-kampus van die UV op een of ander wyse met die protesaksie te doene had, is die volgende indrukke gevorm:

– Aanvanklik was die protesaksie vreedsaam, maar geweldpleging en saakbeskadiging het later voorgekom;

– sommiges blameer die gebruik van privaat veiligheidsbeamptes en/of die polisie se hantering van die situasie vir die eskalasie tot geweldpleging en saakbeskadiging;

– sommiges blameer die eskalasie op die toetrede van individue of groeperinge van buite die UV tot die protesaksie;

– sommiges blameer die eskalasie ook op hoe sekere politieke partye munt uit die protesaksie probeer slaan het;

– onder sommige studente bestaan die siening dat geweld die “enigste taal” is wat die UV-bestuur verstaan (wat belyn is met sienings wat soms onder deelnemers aan protesaksie op plaaslike regeringsvlak voorkom dat politici nie op hul griewe gaan ag slaan indien hulle nie oorgaan tot geweldpleging en saakbeskadiging nie).

Dit spreek vanself dat bogenoemde indrukke geensins die status van deeglike kwalitatiewe navorsing geniet nie, maar nogtans word op grond van hierdie indrukke ’n hipotese oor die oorgaan tot geweld en saakbeskadiging aan die hand gedoen – ’n hipotese wat uiteraard óók met behoorlike navorsing getoets sal moet word, maar wat ons hopelik verder bring as blote abstraksies oor die studente en hul motiewe waarna reeds hierbo verwys is.

’n Aantal jare gelede vertel ’n vrou gemoeid met die maatskaplike opheffing van vroue afkomstig uit moeilike omstandighede my van neurologiese navorsing. Volgens dié navorsing is mense afkomstig uit ’n gelukkige gesin met ’n stabiele ekonomiese situasie geneig om danksy die gereelde erkenning van hul suksesse vanaf hul vroegste jare sukses as hul verstekverwagting te hê. Wanneer hulle dan ’n mislukking ervaar, word dit beskou as die uitsondering, verwerk hulle dit en beweeg aan. Mense wat daarenteen uit ’n gebroke gesin met ’n onstabiele ekonomiese situasie kom, is meer geneig om weens die afwesigheid van erkenning van hul suksesse vanaf hul vroegste jare mislukking as verstekverwagting te hê. Wanneer hulle wel sukses smaak, word dit as die uitsondering beskou, iets wat eintlik nie veronderstel is om met jou te gebeur nie, en sukkel jy voort na die volgende mislukking. Die neurologiese verklaring hiervoor is dat die erkenning van sukses telkens breinpaadjies sodanig beïnvloed dat die brein sukses as die norm beskou – met die omgekeerde wat gebeur wanneer sukses nie gereeld voorkom en sosiaal erken word nie. (Nodeloos om te sê dat uitsonderings na albei kante toe natuurlik voorkom – en dat mense uit moeilike omstandighede met die regte hulp en ondersteuning uiteindelik kan beweeg vanaf die verstekverwagting van mislukking na een van sukses; dit is immers waaraan die vrou wat my van die navorsing vertel het, haar lewe met sukses wy.)

Hierdie neurologiese navorsing hou verband met wat Bernard Stiegler suksesvolle individuasie noem, oftewel die ontwikkeling van ’n geïntegreerde selfstandige persoonlikheid. Vir Stiegler is twee aspekte wesenlik tot individuasie. Enersyds is dit die suksesvolle oordrag van kennis en deugde van een generasie na die volgende danksy gesonde instellings van oordrag, soos die gesin, die skool en die universiteit; andersyds is dit die suksesvolle toe-eiening deur elke individu van wat aan jou oorgedra word.

Wat Suid-Afrikaanse openbare skole betref, word dit algemeen aanvaar dat die oorgrote meerderheid van hierdie skole nie funksioneer soos hulle moet nie – om dit ietwat eufemisties te stel. Skoolverlaters wat wel uit funksionele openbare (of privaat) skole kom, is kroonwild in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor. Die vyf of ses mees gesogte openbare universiteite ding mee om hierdie studente te lok, terwyl hulle ook gewoonlik hierdie studente se eerste keuse is.

Teen 2015 was sowat ’n derde van die UV se studente wit (om nou teensinnig dié raskategorie by te haal), meesal vanuit ’n middelklasagtergrond, vanuit funksionele skole en dikwels in staat om hul studie self te finansier. Ná die protesaksie wat die openbare hoëronderwyssektor in 2015 en 2016 geskud het, is die Heher-kommissie aangestel om die sektor te ondersoek. In sy voorlegging aan die kommissie het die UV destyds verklaar dat sowat 46% van sy studente met NSFAS-lenings studeer.

Nagenoeg vier jaar gelede is aan my vertel dat die proporsie wit studente aan die UV afgeneem het na sowat 8% – welke groepering op sy beurt grootliks bestaan het uit óf studente wat vir beroepskwalifikasies studeer (soos argitektuur, medies, ensovoorts), óf kinders van UV-personeel wat onder sekere voorwaardes vir praktiese doeleindes gratis mag studeer. Sedert 2016 het die aantal UV-studente wat met NSFAS-lenings studeer, gestyg na 70%, terwyl die aantal studente wat eerste uit hul gesin is om aan ’n tersiêre instelling te studeer (oftewel sogenaamde eerstegeslagstudente) aan die UV tans staan op 82%. (Myns insiens het die openlik vyandige houding van ’n voormalige UV-rektor jeens die UV se eertydse tradisionele voedingsgemeenskap in kombinasie met die verengelsing van die UV vanaf 2016 die deurslaggewende rol in die radikale demografiese verandering van studente aan die UV gespeek, maar dit is streng gesproke ’n ander gesprek.)

Wat van die gesinsomstandighede waaruit die studente kom? Wel, volgens die jongste beskikbare statistiek wat jaarliks deur Statistiek Suid-Afrika bygewerk word, naamlik dié van 2023, word 45,4% van Suid-Afrikaanse kinders groot in enkelmoedergesinne, terwyl slegs een derde van die kinders grootword in gesinne met albei ouers. As laasgenoemde die ideaal is, word slegs ’n derde van Suid-Afrikaanse kinders in ideale gesinsomstandighede groot waar kennis, deugde en ’n respek vir liefdevolle gesag aan hulle oorgedra word.

Ons kan dus met redelike veiligheid postuleer dat die gemiddelde student aan die UV vandag kom uit ’n skool wat nie funksioneer soos dit moet nie, in kombinasie met moeilike ekonomiese en gesinsomstandighede. In Stiegler se terme is dit jong mense by wie die individuasieproses dalk nie so ver gevorder is wat ’n mens graag sou wou sien nie. Dit is allesbehalwe hulle skuld of hulle toedoen; feit is dat hulle by die UV inval met ’n veel steiler bult om te klim as vele van hul meer bevoorregte portuur aan bogenoemde vyf of ses mees gesogte openbare universiteite.

’n Belangrike stukkie anekdotiese getuienis wat hierdie waarneming oor die profiel van die gemiddelde eietydse UV-student bevestig, is die feit dat by verre die algemeenste verskoning vir studente se afwesigheid van akademiese aktiwiteite of vir assesserings wat laat of glad nie ingedien word nie, probleme met geestesgesondheid is. My eie waarneming is dat hierdie probleem voorkom onder studente van elke denkbare kulturele agtergrond – en veral onder studente uit ’n brose maatskaplike agtergrond, ofskoon beslis nie uitsluitlik nie.

In die mimetiese teorie van René Girard word aangevoer dat wat Stiegler suksesvolle individuasie noem, onder meer afhang van die beskikbaarheid van geskikte rolmodelle vir jong mense – ouers, onderwysers, dosente, en so meer. Dit gaan met ander woorde om mense wie se voorbeelde navolgenswaardig is en waarvan die nagevolgde voorbeeld die jong mens help om te ontwikkel tot ’n selfstandige persoonlikheid met ’n sterk interne lokus van beheer.

Die tragedie van gekoloniseerde samelewings en gemeenskappe is dat part en deel van die kolonisasieproses is om psigiese en materiële selfstandigheid te vernietig en bygevolg koloniale subjekte te skep wat psigies en materieel afhanklik is, altyd wagtend op hulp van buite of van bo, om dit nou so te stel. Bowendien vernietig die kolonis ook die inheemse rolmodelle van die gekoloniseerde, met die gevolg dat suksesvolle individuasie vir koloniale subjekte baie moeilik gemaak word. Ook dít is iets wat dikwels in postkoloniale samelewings voortduur – hoeveel (jong) Suid-Afrikaners is nie vandag steeds vasgevang in ’n mentaliteit en materialiteit van afhanklikheid nie? En hoeveel van die beleide en wetgewing wat ná 1994 ingestel is om die onreg van die verlede reg te stel, het nie die staat as die groot redder voorgehou en stellig die gevestigde koloniale patrone van afhanklikheid gehandhaaf nie?

Selfs en eintlik veral in sulke omstandighede gaan jong mense nog meer soek na rolmodelle – as dit nie onder die ouer geslag gevind word nie, word daarna onder eie portuur gesoek. Dink byvoorbeeld aan die werk wat die Suid-Afrikaanse kriminoloog, Don Pinnock, gedoen het om ons te help verstaan wat die rol van bendes as plaasvervangers vir gebroke gesinne en afwesige vaders speel, en waarin gewelddadige gedrag as ’n soort inisiasie vir die nuwe bendelid vereis word.

Stiegler verwys na iets soortgelyks in ’n ander konteks in sy boek Aimer, s’aimer, nous aimer (2002, “Om lief te hê, om sigself lief te hê, om ons lief te hê”; nie in Engels vertaal nie) wanneer hy skryf oor die massamoordenaar, Richard Durn, wat op ’n dag by die munisipale kantore van Nanterre, Frankryk ingestap en agt raadslede koelbloedig doodgeskiet het. Terwyl Durn in aanhouding verhoorafwagtend was, het hy hoog vanuit ’n gebou na sy dood gespring. Daarna is sy dagboek gevind, waarin hy die motief vir sy daad soos volg verwoord het: “Vir eens wou ek iemand wees.” In Stiegler se terme was Durn se individuasieproses gebrekkig en het hy wanhopig tot geweld oorgegaan om te probeer individueer.

In ’n boek wat pas gepubliseer is oor enkellopende massamoordenaars (“lone-actor mass killers”), ná ’n loopbaan van werk met sulke individue, verduidelik die forensiese psigiater, Paul E Mullen, dat sulke mense juis besig is om in ’n wanhopige soeke na sosiale erkenning die voorbeeld van ander massamoordenaars na te boots.

Terug na ons postkoloniale konteks en wat die onlangse protesaksie op die Bloemfontein-kampus van die UV ons moontlik kan leer. Aan die hand van die statistiek wat hierbo oor die UV se studenteprofiel aangehaal is, is die gemiddelde UV-student vandag iemand wat uit moeilike sosiale, materiële en skoolomstandighede by die universiteit aanmeld. Die student moet in sy of haar tweede- of selfs derdetaal studeer, kan as eerstegeslagstudent nie staatmaak op raad en leiding van ouers wat reeds studeer het nie, is uitgelewer aan ’n verkrummelende stelsel van studiefinansiering en is as gevolg van dikwels gestremde individuasie weens al die voorafgaande meer aangewese op portuurerkenning as wat wenslik is. Die student is bes moontlik meer vatbaar vir geestesgesondheidsuitdagings en moet met betreklik hoë spanning in die alledaagse lewe akademiese sukses probeer behaal. Hoe sou die meeste van ons gevoel het as jy byvoorbeeld tot die middel van die jaar moes wag op jou NSFAS-finansiering – soos dit die geval vir sommige UV-studente vanjaar was – terwyl jy reeds gekondisioneer is om te glo jou heil kan slegs van buite of bo kom? Sou jy nie in sulke omstandighede besonder vatbaar wees vir mobilisasie tot kollektiewe protesaksie indien een of ander gerug of selfs amptelike aankondiging in burokratiese taal jou laat glo jy sal nie verder kan studeer nie? En indien geweld te midde van omstandighede van ’n gestremde individuasieproses ’n wanhopige poging tot individuasie word, sou ons nie kon verwag dat sommige individue wat ongesond afhanklik van portuurerkenning is, tot geweldpleging en/of saakbeskadiging sou oorgaan nie?

Soos reeds hierbo genoem, is dit wat hier uiteengesit word, niks meer as ’n hipotese wat vra om verdere navorsing nie. Indien die hipotese geldig blyk te wees, mag dit universiteite wat proporsioneel hoë getalle studente in die kategorie van brose postkoloniale individue huisves, help om na te dink oor wat gedoen kan word om die gestremde individuasieproses van hul studente konstruktief aan te help, eerder as om telkens weens die invloed van eksterne kragte in reaktiewe modus terug te val en te aanskou hoe studente wat skynbaar vir eens iemand wil wees, ’n klip optel of ’n brandbom aansteek.

Lees ook:

Achille Mbembe: "Om die demokrasie aan die hand van die lewende te heruitvind" (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw)

Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Trump en Suid-Afrika

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie insigvolle artikel! My beste wense vir die dappere Heydenrych vir die intergriteit wat sy op so 'n jong ouderdom openbaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top