
Boekomslag: La défaite de l’Occident deur Emmanuel Todd (Parys: Gallimard, 2024)
- Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
’n Vertaling van ’n onlangse Substack-opstel van Emmanuel Todd waarin hy sy tese oor die eietydse geopolitiek in Die nederlaag van die Weste bywerk. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw
Van ontwrigting na ontbinding
Minder as twee jaar ná die verskyning in Frans, in Januarie 2024, van La défaite de l’Occident (“Die nederlaag van die Weste”), is die vernaamste voorspellings van die boek bewaarheid. Rusland het die skok militêr en ekonomies deurstaan. Die Amerikaanse militêre bedryf is uitgeput. Die Europese ekonomieë en samelewings is op die rand van inploffing. Selfs nog voor die ineenstorting van die Oekraïense weermag, is die volgende stadium van die ontwrigting van die Weste bereik.
Ek is nog altyd gekant teen die Russofobiese beleid van die Verenigde State en Europa, maar as ’n Westerling geheg aan die liberale demokrasie, ’n Fransman in Engeland as navorser opgelei, en die kind van ’n ma wat tydens die Tweede Wêreldoorlog na die Verenigde State gevlug het, is ek hewig ontstig (catastrophé) deur die gevolge wat die oorlog wat domweg teen Rusland gevoer word vir ons Westerlinge inhou.
Ons staan slegs aan die begin van die katastrofe. Ons nader ’n kantelpunt waarna die uiteindelike gevolge van die nederlaag sal ontvou.
........
Ons staan slegs aan die begin van die katastrofe. Ons nader ’n kantelpunt waarna die uiteindelike gevolge van die nederlaag sal ontvou.
........
Die “Res van die Wêreld” (oftewel die Globale Suide, of globale meerderheid), wat verkies het om Rusland te ondersteun deur te weier om sy ekonomie te boikot, vertoon hul steun aan Wladimir Poetin nou openlik. BRICS brei uit deur nuwe lede te aanvaar en hul eensgesindheid neem toe. Nadat Indië deur die Verenigde State opgeroep is om te kies in watter kamp hy staan, het hy vir onafhanklikheid gekies: die foto’s van Poetin, Xi en Modi byeen tydens die Augustus 2025-byeenkoms van die Shanghai-organisasie vir Samewerking sal as die sleuteloomblik bly staan. Nietemin hou die Westerse media vol daarmee om Poetin uit te beeld as ’n monster en die Russe as lyfeienes (serfs). Die Westerse media was reeds nie daartoe in staat om in te sien dat die Res van die Wêreld Poetin sien as ’n normale leier van normale mense met ’n eiesoortige kultuur en strewe na soewereiniteit nie. Ek vrees nou dat ons media ons blindheid vererger omdat hulle nie in staat is om Rusland se herwinning van aansien in die oë van die Res van die Wêreld, wat eeue lank deur die Weste arrogant behandel en ekonomies uitgebuit is, te snap nie. Die Russe het gewaag. Hulle het die Empire uitgedaag en gewen.
Die ironie van die geskiedenis is dat die Russe – ’n wit Europese volk met ’n Slawiese taal – die militêre skild van die Res van die Wêreld geword het omdat die Weste geweier het om die Russe ná die val van die Kommunisme weer deel van ons te maak.
Ek kan hier ’n model van die ontwrigting van die Weste skets ondanks die gebrek aan beleidsamehang van die Amerikaanse president van die ontbinding, Donald Trump. Dié gebrek aan samehang, dink ek, spruit nie voort uit ’n onstabiele en ongetwyfeld perverse persoonlikheid nie, maar uit ’n onoplosbare dilemma van die Verenigde State. Enersyds weet die Amerikaanse leiers in die Pentagon eweseer as in die Withuis dat die oorlog verloor is en dat Oekraïne aan sy lot oorgelaat moet word. Gesonde verstand lei hulle dus daartoe om uit die oorlog te tree. Maar aan die ander kant laat gesonde verstand hulle aanvoel dat hul onttrekking aan Oekraïne dramatiese gevolge vir die Empire sal inhou wat nie die geval was met Viëtnam, Irak of Afganistan nie. Dit gaan inderdaad om die eerste strategiese nederlaag van die Amerikaanse strategie op wêreldvlak, en dit in die konteks van die massiewe deïndustrialisasie en moeilike reïndustrialisasie van die Verenigde State. China het die wêreld se fabriek geword – dit is wel so dat sy baie lae bevolkingsaanwas hom verhoed om die Verenigde State te vervang, maar dis reeds te laat om industrieel met hom mee te ding.
Die dedollarisering van die wêreldekonomie is onderweg. Trump en sy raadgewers kan dit nie aanvaar nie, want dit sal die einde van die Empire wees. ’n Post-imperiale era behoort nietemin die oogmerk te wees van die MAGA-projek (“Make America Great Again”), wat die terugkeer van die Amerikaanse nasiestaat nastreef. Maar vir ’n VSA waarvan die vervaardingingsvermoë van reële goedere vandag baie swak is (kyk hoofstuk 9 van my boek rakende die eintlike aard van die Amerikaanse ekonomie) is dit onmoontlik om af te sien daarvan om op skuld te leef soos hulle doen deur dollars te druk. Sodanige imperiaal-monetêre terugtrede sal lei tot ’n brutale verlaging in lewenstandaard, met inbegrip van Trump se werkersklasondersteuners. Die eerste begroting van Trump se tweede presidentstermyn, die “One Big Beautiful Bill Act” (OBBBA), bly dus imperiaal ondanks die tariefbeskermings wat deur die proteksionistiese projek of droom beliggaam word. Die OBBBA verhoog militêre besteding en die begrotingstekort. Wie ook al in die Verenigde State praat van ’n begrotingstekort, praat onvermydelik van die druk van dollars en ’n handelstekort. Die imperiale dinamika, of eerder die imperiale lusteloosheid (inertie) bly die droom van die terugkeer na ’n produktiewe nasiestaat ondermyn.
In Europa begryp die leiers nie eintlik die militêre nederlaag nie. Dit was die Pentagon wat gedurende die noordelike somer van 2023 (waartydens ek La Défaite de l’Occident geskryf het) die planne vir die Oekraïense teenoffensief hersien het. Die Amerikaanse militêre leierskap weet dat selfs al het hulle die oorlog gevoer met behulp van hul Oekraïense gevolmagtigde (proxy), hulle hul steeds teen die Russiese verdediging te pletter geloop het – omdat hulle nie voldoende wapentuig kon vervaardig nie en omdat die Russiese militêre bevelvoerders slimmer as hulle was. Al wat die Europese leiers verskaf het, was wapentuig – en bowendien ook nie die belangrikste wapentuig nie. Onbewus van die omvang van die militêre nederlaag, weet hulle egter wel dat hul eie ekonomieë deur die beleid van sanksies teen Rusland lamgelê is, veral deur die onderbreking van die verskaffing van goedkoop Russiese energie. Om die Europese vasteland ekonomies middeldeur te kloof, was ’n daad van waansinnige selfmoord. Die Duitse ekonomie stagneer. Oral in die Weste neem armoede en maatskaplike ongelykheid toe. Die Verenigde Koninkryk is op die rand van die afgrond. Frankryk volg kort op sy hakke. Samelewings en politieke stelsels is geblokkeer.
’n Negatiewe ekonomiese en maatskaplike dinamika het reeds voor die oorlog bestaan en spanning op die Weste geplaas. Dit was dwarsdeur Wes-Europa in wisselende mate sigbaar. Vryehandel ondermyn die nywerheidsbasis daar. Immigrasie lei daar tot ’n identiteitsindroom, veral onder die laer klasse wat nie stabiele poste beklee nie en swak besoldig word.
Op dieperliggende vlak is die negatiewe dinamika van die fragmentering kultureel van aard: die massafikasie van hoëronderwys lei tot gestratifiseerde samelewings waarin die hoogste geskooldes – 20%, 30%, of 40% van die bevolking – begin om slegs met mekaar om te gaan, te dink dat hulle meerderwaardig is, op die laer klasse neer te sien en handearbeid of fabriekswerk te verwerp. Laerskoolopleiding vir almal (massageletterdheid) het die demokrasie gevoed en ’n eenvormige samelewing geskep waarvan die onderbewuste egalitêr was. Hoëronderwys het oligargieë en soms plutokrasieë voortgebring, oftewel gestratifiseerde samelewings wat deur ’n nie-egalitêre onderbewuste oorgeneem is. Die opperste teenstrydigheid is dat die ontwikkeling van hoëronderwys in hierdie oligargieë of plutokrasieë uitgeloop het op die verlaging van die intellektuele vlak! Ek het hierdie opeenvolging van gebeure ’n kwarteeu gelede beskryf in L’Illusion économique (“Die ekonomiese illusie”, 1997). Die Westerse nywerheid is vort na die Res van die Wêreld en, natuurlik, ook na die voormalige volksdemokrasieë van Oos-Europa wat, nadat hulle van die Russiese Sowjet-juk bevry is, sedertdien hul status as buiterand oorheers deur Wes-Europa, herwin het. In hoofstuk 3 van my boek wei ek uitvoerig uit oor hierdie soort interne China waar daar steeds heelwat nywerheidswerkers voorkom. Nietemin het die elitisme van die hoogste geskooldes in Europa die “populisme” voortgebring.
Die oorlog het Europese spanning na ’n nuwe vlak geneem. Dit verarm die vasteland. Maar bowenal – en dit is ’n vername strategiese mislukking – stroop dit die politieke leiers wat nie in staat is om hul lande na die oorwinning te lei nie, van hul legitimiteit. Die opkoms van konserwatiewe werkersklasbewegings (waarna die joernalistieke elites graag verwys as “populisties”, “verregs” of “nasionalisties”) versnel. Reform UK in die Verenigde Koninkryk. AfD in Duitsland, Nasionale Samekoms (Rassemblement national) in Frankryk … Nog ’n ironie: die ekonomiese sanksies waardeur NAVO op “regimeverandering” in Rusland gehoop het, is op die punt om ’n string “ regimeveranderings” in Wes-Europa te ontketen. Die Westerse leiersklas word deur die nederlaag van hul legitimiteit gestroop juis wanneer die legitimiteit van die Russiese outoritêre demokrasie deur die oorwinning herbevestig word, of eerder, na ’n opperste vlak van legitimiteit gevoer word aangesien die herstel van Russiese stabiliteit onder Poetin van meet af aan vir hom onbestrede legitimiteit verseker het.
So sien ons wêreld op die vooraand van 2026 daar uit.
Die ontwrigting van die Weste neem die vorm van ’n “hiërargiese fragmentering” aan.
........
So sien ons wêreld op die vooraand van 2026 daar uit.
Die ontwrigting van die Weste neem die vorm van ’n “hiërargiese fragmentering” aan.
........
Die Verenigde State laat vaar die poging om beheer oor Rusland uit te oefen asook, dink ek toenemend, oor China. Met dié dat die Verenigde State deur die Chinese verhoed word om samarium in te voer – ’n seldsame aardmetaal wat onontbeerlik vir die militêre lugvaartbedryf is – kan die Verenigde State nie langer daarvan droom om China militêr die stryd aan te sê nie. Die Res van die Wêreld – Indië, Brasilië, die Arabiese lande, Afrika – slaan hieruit munt en ontsnap aan hul invloedsfeer. Maar die Verenigde State draai vurig teen hul Europese en Oos-Asiese “bondgenote”, as deel van ’n laaste poging van ooruitbuiting en, dit moet ook gesê word, suiwer weens suur druiwe. Ten einde hul vernedering te ontkom, ten einde hul swakheid vir hulself en die hele wêreld te verdoesel, straf hulle Europa. Die Empire verorber homself. Dit is die eintlike betekenis van die tariewe en beleggings wat Trump op die Europeërs afdwing, wat nou koloniale onderdane pleks van vennote in ’n gekrimpte ryk geword het. Die tyd van die eensgesinde liberale demokrasieë is verby.
Trumpisme is ’n “wit werkersklaskonserwatisme”. Wat tans in die Weste opkom, is nie ’n eensgesindheid van konserwatiewe werkersklasbewegings nie, maar ’n verbrokkeling van interne eensgesindheid. Die woede wat uit hierdie nederlaag voortspruit lei daartoe dat elke land – ten einde sy verbittering (ressentiment) te absorbeer – draai teen diegene wat swakker as hy is. Die Verenigde State draai teen Europa en Japan. Frankryk heraktiveer sy konflik met sy voormalige kolonie, Algerië. Niemand betwyfel die feit dat Duitsland wat vanaf bondskanseliers Scholz tot Merz toegestem het om die Verenigde State te gehoorsaam, in sy vernedering teen sy swakste Europese vennote sal draai nie. My land, Frankryk, lyk vir my die mees bedreigde.
Een van die grondliggende begrippe van die ontbinding van die Weste, is die nihilisme. Ek verduidelik in my boek hoe die “zerotoestand” van die Protestantse religie, oftewel sekularisasie wat sy uiteinde bereik het, nie slegs die Amerikaanse opvoedings- en nywerheidsineenstorting verklaar nie. Die zerotoestand open ook ’n metafisiese leegte. Ek is nie self gelowig nie en ek ageer geensins vir enige terugkeer van die religieuse nie (ek dink nie dis moontlik nie), maar as geskiedkundige moet ek konstateer dat die verdwyning van waardes van religieuse oorsprong lei tot ’n morele krisis, tot ’n drang om dinge en mense te vernietig (oorlog) en uiteindelik tot ’n poging om die werklikheid self af te skaf (byvoorbeeld die transgenderverskynsel vir die Demokrate in die VSA en die ontkenning van aardverwarming vir die Republikeine). Die krisis kom voor in al die volledig gesekulariseerde lande, maar dit is erger in die lande waarvan die Protestantisme of die Judaïsme die religie was – religieë wat in hul strewe na die transendente meer absolutisties was as die Katolisisme, wat oper staan teenoor die skoonheid van die wêreld en die aardse lewe. Dit is juis in die Verenigde State en Israel wat ons parodieë van die tradisionele religieë sien ontwikkel – parodieë wat myns insiens wesenlik nihilisties is.
Hierdie irrasionele dimensie lê aan die kern van die ontbinding. Dít is dus nie slegs ’n “tegniese” nederlaag nie, maar ook morele uitputting – die afwesigheid van ’n positiewe eksistensiële oogmerk wat lei tot die nihilisme.
Dié nihilisme onderlê die wil van die Europese politieke leiers – veral op die Protestantse rand van die Baltiese streek – om die oorlog teen Rusland uit te brei deur voortdurende tarting. Dié nihilisme onderlê ook die Amerikaanse destabilisering van die Midde-Ooste, wat by uitstek ’n plek is om die woede voortspruitend uit die Ameriaanse nederlaag teen Rusland uit te druk. Ons moet veral nie toegee aan die te vanselfsprekende getuienis van die oorlogsugtige outonomie van die Netanyahu-regime in Israel te midde van die volksmoord in Gasa of die aanval op Iran nie. Zero-Protestantisme en Zero-Judaïsme klits hul nihilistiese effekte seker tragies saam met hierdie oorgang tot geweld. Dit is egter inderwaarheid oral in die Midde-Ooste die Verenigde State wat deur die voorsiening van wapentuig en soms deur selfs tot die aanval oor te gaan, in die laaste instansie die besluitnemers van die chaos is. Hulle dwing Israel tot optrede net soos hulle dit met Oekraïne gedoen het. Tydens Trump se eerste presidentstermyn is die Amerikaanse ambassade na Jerusalem verskuif, en dit is die einste Trump wat eerstens gedroom het daarvan om Gasa in die “Riviera van die Midde-Ooste” te omskep. Ek besef dat dit ’n hele boek sal verg om hierdie tese te demonstreer, ’n boek wat die een interaksie ná die ander tussen die rolspelers sal demonstreer. Maar as geskiedkundige wat my al ’n halfeeu lank met die geopolitiek besig hou, is my aanvoeling dat NAVO-Europa eweseer as Israel opgehou het om as onafhanklik te funksioneer. Die probleem van die Weste is inderdaad die geskeduleerde dood van die nasiestaat.
Dié Empire is uitgebreid en ontbind rasend en woedend. Dié Empire is reeds polisentries, intern oor sy oogmerke verdeeld, skisofrenies. Maar geeneen van sy dele is onafhanklik van die geheel nie. Trump is sy huidige “sentrum”; hy is ook die beste ideologies-praktiese uitdrukking daarvan in soverre hy ’n rasionele wil tot ’n nabinnekering (repliement) na sy sfeer van onmiddellike oorheersing (Europa en Israel) tot met die nihilistiese impuls van die voorkeur vir oorlog is. Hierdie neigings – nabinnekering en geweld – word insgelyks uitgedruk in die Amerikaanse hart van die Empire waar die beginsel van hiërargiese fragmentering intern aan die werk is. Al hoe meer Anglo-Amerikaanse skrywers verwys na die moontlikheid van ’n burgeroorlog.
Die Amerikaanse plutokrasie is pluralisties – dié van die finansiers, dié van die oliebaronne, dié van Silicon Valley. Die Trumpiaanse plutokrate, te wete Texas-oliebaronne of onlangse nuutbekeerdes van Silicon Valley, verag die hoogsgeskoolde elites van die Amerikaanse Ooskus, wat op húl beurt die Trumpiaanse armblankes van die hartland verag, wat op húl beurt die swart Demokrate verag, ensovoorts ...
Een van die interessante aspekte van die huidige VSA is dat sy leiers al hoe meer sukkel om die interne van die eksterne te onderskei, en dit ondanks die MAGA-poging om immigrasie vanuit die suide met ’n muur te stuit. Die Amerikaanse weermag trek los op bote afkomstig van Venezuela, bombardeer Iran, betree die middestad van Demokratiese stede in die VSA, voer bevel oor die Israeli-lugmag vir ’n aanval op Katar waar ’n reuse- Amerikaanse militêre basis geleë is. Enige wetenskapfiksieleser sal in hierdie kommerwekkende lys die sneller vir die betreding van ’n distopie herken, oftewel van ’n omgekeerde wêreld waar mag, fragmentering, hiërargie, geweld, armoede en perversiteit vermeng is.
Laat ons dus onsself bly, buite die VSA. Laat ons ons persepsie van die interne en die eksterne bewaar, ons sin van maat, ons voeling met die werklikheid, ons opvatting van wat regverdig en skoon is. Laat ons ons nie langer laat meevoer deur ’n oorlogsugtige ontwyking van die werklikheid deur ons eie Europese leiers nie – hierdie bevoorregte verdwaaldes in die geskiedenis, desperaat omdat hulle verslaan is, verskrik deur die idee dat hulle eendag deur hul mense geoordeel sal word. En bowenal – bowenal – laat ons voortgaan om oor die betekenis van dinge na te dink.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Vertaling van Emmanuel Todd oor Rusland as Europa se Rorschach

