........
Niks het in die onlangse verlede, selfs in die onlangse weke, die verdeling tussen die idealistiese idealiste en die realistiese idealiste aangedui soos die twee groeperinge se uiteenlopende reaksies op die aanvang van die Trump-administrasie nie. Vir eersgenoemde is dit ’n ramp, vir laasgenoemde ’n nuwe era.
........
Soos ek al voorheen aangevoer het, is die Afrikaners tradisioneel idealiste. Soos van die beste oomblikke in ons geskiedenis na die vervulling van ideale herlei kan word, so ook die donkerste oomblikke in ons geskiedenis ná die mislukking om die ideale te vervul – of die keuse vir verkeerde ideale, waarvan die apartheidsideaal die prominentste voorbeeld is.
Heelwat sou gesê kon word oor die eietydse verdeling onder Afrikaners tussen wat “idealistiese idealiste” en “realistiese idealiste” genoem kan word.
Die idealistiese idealiste kan omskryf word as diegene wat teen die agtergrond van die sekularisasie van die Calvinistiese uitverkiesingsleer in die vorm van die apartheidsprojek, waarvolgens die Afrikaners die uitverkore volk aan die suidpunt van Afrika sou wees, vandag eerder elemente soos geregtigheid en gelykheid uit dieselfde Protestantse agtergrond beklemtoon. So is dit dan anatema vir Afrikaners om ná die apartheidsverlede as selfbewuste groep kritiek op die huidige bedeling in Suid-Afrika uit te spreek, want in die oë van die idealistiese idealiste heraktiveer dit in ’n ander gewaad die gesekulariseerde uitverkorenheid van die apartheidsprojek. Vir die idealistiese idealiste is gesindheid en die menswaardige behandeling van andere dan ook die sleutel tot die politiek, en lei dit tot groot ontsteltenis wanneer politici te midde van die druk van keiharde botsende belange mekaar in die openbaar toetakel, soos onlangs op regstreekse TV die geval in die Oval Office van die Withuis was in die ontmoeting tussen Wolodomir Zelenski van Oekraïne en Donald Trump van die VSA.
Die realistiese idealiste kan omskryf word as diegene wat teen die agtergrond van die mislukte apartheidsprojek redeneer dat die sentralistiese regering en swak ekonomiese bestuur van die ANC sedert 1994 Afrikaners nie net in ’n polities onbeskermde posisie laat nie, maar ook op risiko plaas om as ekonomies betreklik bevoorregte groep tot sondebok gemaak te word vir wat ná 1994 verkeerd geloop het. Uit die Protestantse agtergrond van die realistiese idealiste word klem gelê op die tragiese gevallenheid van die mens, die noodsaak om vir jou lot verantwoordelikheid te neem, en die strewe na vryheid – wat ewe belangrik was vir Calvyn as vir die Hugenote en die Protestantse Nederlandse republiek van die 17de eeu. Terwyl die realistiese idealiste eweneens teen die agtergrond van die mislukte apartheidsprojek goeie gesindheid en die menswaardige behandeling van andere nastreef, word terselfdertyd gehandel vanuit ’n klassieke sin vir die tragiese, waarvolgens die verrekening van plaaslike en geopolitiese magsbalanse selfs belangriker as goeie gesindheid is.
Niks het in die onlangse verlede, selfs in die onlangse weke, die verdeling tussen die idealistiese idealiste en die realistiese idealiste aangedui soos die twee groeperinge se uiteenlopende reaksies op die aanvang van die Trump-administrasie nie. Vir eersgenoemde is dit ’n ramp, vir laasgenoemde ’n nuwe era.
In hierdie opstel word betoog dat beter begrip dalk moontlik sal wees as in ag geneem word dat die verkiesing van die Trump-administrasie nie bloot saamval met die vierjaarlikse Amerikaanse presidentsverkiesing of die keuse vir een van die twee groot Amerikaanse partye nie, maar bowenal met die ineenstorting van die idealismeparadigma wat vir meer as 80 jaar deur die VSA onderskryf is en ’n Amerikaanse nuutbekering tot die realismeparadigma in die geopolitiek. Om, wel, meer realisties na hierdie saak te kyk, mag help om die gemoedere te kalmeer.
1.
In ’n onlangse opstel oor Trump en die geopolitiek is kortliks stilgestaan by die terugkeer van die realismeparadigma in die geopolitiek. Soos een van die bekendste eietydse vertolkers van dié paradigma, John Mearsheimer van die Universiteit van Chicago, dit stel, berus die paradigma op die aanname dat state nie in die eerste plek handel op grond van hulle ideale nie, maar op grond van hulle vrese. Daarom word ook binne hierdie paradigma gesê dat state nie vriende het nie, maar slegs belange. Vir die realismeparadigma behoort ’n staat wat sy belange wil bevorder, in enige situasie heel eerste te vra wat die balans van kragte in die situasie is en wat werklik tot die staat se beskikking staan om sy belange te bevorder (en nie waarvoor die staat hoop of wens nie). Vir sterker state, wat beskik oor groot ekonomieë en weermagte, is dit makliker om hulle belange te laat geld. Vir swakker state, wat nie dié bates tot hul beskikking het nie, is bondgenootskappe waarin gedeelde ekonomiese vermoë en militêre slaankrag al die bondgenote saam sterker maak, van wesenlike belang. Dog selfs groot moondhede kan nie geheel en al op hulle eie handel nie, en daarom streef ook hulle na bondgenootskappe met swakker state, of na wedersyds voordelige samewerking met ander groot moondhede. Bowendien, weens die feit dat moderne kernwapens deur meer as een staat besit word, kan geen enkele staat bloot op grond van konvensionele militêre vermoëns ’n eensydige agenda afdwing nie – die VSA mag byvoorbeeld vir eers nog die magtigste konvensionele weermag ter wêreld hê, maar die voordeel daarvan in die geopolitiek word beperk deur die feit dat minstens China, Rusland, Frankryk, Brittanje, Israel en Noord-Korea ook oor kernwapens beskik, wat daartoe lei dat konvensionele militêre vermoëns ’n perk plaas op die mate waartoe selfs die VSA sy gesag in die geopolitiek kan laat geld. Maar dit geld eweneens die twee ander lande wat oor sowel kernwapens as ’n groot konvensionele weermag beskik, naamlik China en Rusland. Die sogenaamde doktrine van wedersyds versekerde vernietiging (WVV; in Engels mutually assured destruction, afgekort na MAD) het ons in ’n wêreld geplaas waar ons almal se toekoms en welstand bepaal word deur die mate waartoe die groot moondhede met mekaar oor die weg kom, al dan nie.
2.
As ons aan die hand van die realistiese paradigma wil sin maak van die agenda van president Trump, is dit nodig om eers ’n paar illusies uit die weg te ruim. Hierdie illusies het posgevat as deel van die oorheersing van die idealismeparadigma in die geopolitiek vanaf ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) tot die einde van die regering van Joe Biden in die VSA. Volgens die idealismeparadigma behoort state ’n beter wêreld na te streef deur die vestiging van internasionale wette en reëls wat beliggaam word deur ’n aantal wêreldorganisasies waarin die state van die wêreld so ver moontlik deur konsensus te werk probeer gaan. Die bekendste van hierdie organisasies is die Verenigde Nasies (VN), wat op 24 Oktober 1945, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, tot stand gekom het, met die hoop dat dit ’n nuwe era van wêreldvrede sou inlui.
3.
Die idealismeparadigma is aanvanklik veral deur die VSA van die New Deal-president, Franklin Roosevelt (regeer 1933–1945), uitgedra, en in mindere of meerdere mate geanker deur opeenvolgende Amerikaanse presidensiële administrasies tot met dié van Biden – op welke punt dit finaal onhoudbaar geword het, om redes waarop hier onder ingegaan sal word. Indien die stigting van die VN as die oomblik van die geboorte van die idealismeparadigma beskou kan word, moet ook daarop gewys word dat selfs in dié oomblik die geldigheid van die realismeparadigma bevestig is deur die feit dat, naas die VSA, sy destydse belangrikste Westerse bondgenote (Frankryk en Brittanje) en sy magtigste opponente (China en die Sowjetunie) ’n vetoreg in die VN verkry het. Ná die val van die Sowjetunie het sy vetoreg oorgegaan na Rusland. Hierdie reg kan aangewend word op so ’n wyse dat indien ’n mosie of besluit in die VN ter tafel gelê word, die blote bespreking daarvan gekanselleer kan word as enige van hierdie lande hul vetoreg uitoefen. Anders gestel, die uiters beperkte toekenning van die vetoreg in die VN aan moondhede soos China en die VSA, wat beslis nie die ideale van die VSA in 1945 gedeel het nie, maar wie se belange eenvoudig verreken moes word, met die hoop om ’n stabiele geopolitiese magsbalans in die VN te waarborg vir sy optimale funksionering, kom daarop neer dat selfs die voorste eksponente van die idealismeparadigma die geldigheid van die realismeparadigma moes erken.
4.
Tussen 1945 en 2024 het die VSA as hoofborg van die idealismeparadigma opgetree. Goeie werk is veral met die heropbou van Wes-Europa ná die Tweede Wêreldoorlog gedoen, maar metterjare het ’n ongesonde messianisme onder die Amerikaners begin posvat, waarvolgens dit hulle taak sou wees om die liberale demokrasie en die vryemarkkapitalisme oral te bevorder, ongeag die plaaslike kulturele en antropologiese omstandighede van die lande wat in die Amerikaanse visier was.
Dit het onder meer gelei tot die ernstige destabilisasie van Rusland in die 1990’s ná die val van die Sowjetunie weens die Amerikaanse poging om haas oornag die liberale demokrasie en die vryemarkkapitalisme aldaar te vestig. Die uiteinde van dit wat die Amerikaners self daar “skokterapie” genoem het, was dat die Russiese ekonomie aan die einde van die 1990’s in die hande van ’n stuk of sewe oligarge was, en die land ernstig onstabiel. Dit het die tafel gedek vir die terugkeer van ’n tradisionele Russiese outoritêre regeringsmodel, wat onder leiding van president Wladimir Poetin weliswaar ruimte geskep het vir ’n beperkte demokratiese bestel en ’n soort gemengde kapitalisme waarin staatsfirmas ’n groot rol speel.
Dieselfde messianisme het gelei tot die katastrofale destabilisering van Irak, Afganistan en Libië, en uiteindelik ook ’n baie groot rol daarin gespeel om Rusland van die Weste te vervreem en die oorlog in Oekraïne te ontketen.
Die Amerikaanse imperiale poging om Rusland van Europa te vervreem en Rusland geopolities te isoleer begin vanaf die laat jare negentig, en is aanvanklik gedra deur die neokonserwatiewes onder president George W Bush, maar later met mening voortgesit deur die Demokratiese administrasie van president Barack Obama (2009–2016); danksy die neksus van die Amerikaanse sekurokrasie gehandhaaf in die eerste termyn (2017–2020) van die “toevallige” president Trump (wat nie verwag het hy sou verkies word nie, glad nie voorbereid was op sy termyn nie, en nie daarin kon slaag om sy politieke visie met behoorlike beleide en uitvoering daarvan te vestig nie); en toe met mening hervat onder leiding van die Koue Oorlog-valk president Joe Biden (2021–2024). Een van die nou gerehabiliteerde toedieners van die destydse “skokterapie” in Rusland, Jeffrey Sachs van The Earth Institute van Columbia-universiteit, New York, het indertyd ontpop tot een van die felste kritici en boekstawers van die Amerikaanse destabilisering van Rusland vanaf die laat 1990’s tot baie onlangs, soos byvoorbeeld hier gesien kan word, tydens ’n verskyning van hom voor die Europese parlement kort gelede.
Die Val van die Berlynse Muur in 1989, asook die val van die Sowjetunie, het die Amerikaanse messiaanse idealiste blindelings laat glo dat húlle wêreldbeskouing die hoogtepunt van die menslike geskiedenis verteenwoordig, en as jy nie die medisyne wou sluk wat hulle vir jou onder die dekmantel van ontwikkelingshulp aangebied het nie, kon dit altyd met behulp van brute Amerikaanse militêre mag in jou keel afgeforseer word. Tot daar niks van jou keel of, trouens, van jóú oor was nie.
Desnieteenstaande is daar ’n baie belangrike punt wat oor die idealismeparadigma tussen rofweg 1945 en 1990 gemaak moet word, en dit is dat danksy die betreklike stabiliteit, voorspoed en vrede wat dit vir veral Westerse lande moontlik gemaak het, die illusie in daardie geledere posgevat het dat oorlog nou iets van die verlede is. Mense dwarsoor die Weste en in van die voormalige Anglokolonies (Kanada, Nieu-Seeland, Australië en, in ’n mate, Suid-Afrika) het begin glo ons is terug in die betreklik vreedsame Europese Middeleeuse Latynse Christendom waarvan die Heilige Augustinus in Die stad van God in 426 die politieke grondslae bedink het – in Christelike samelewings soos dié van Europa tussen 500 en 1400 (toe die Augustiniaanse bestel tot ’n einde begin loop het) was sy siening dat oorlog die tydelike onderbreking van die natuurlike toestand van vrede is, toonaangewend.
Teen hierdie agtergrond, in wat bekend staan as die sogenaamde Koue Oorlog-vredesdividend, het die VSA en Europa ná die val van die Sowjetunie hul verdedigingsbegrotings begin sny en toegekyk hoe hulle wapenvervaardigingsvermoë krimp.
En wie het in daardie stadium daaraan gedink om te luister na die groot teoretikus van die post-Augustiniaanse moderne staatlike geopolitiese orde, Niccolò Machiavelli, wat in 1532 in Die prins skryf dat vrede ’n tydelike onderbreking van die natuurlike toestand van oorlog is, en die goeie regeerder dus selfs in vredestyd homself en sy weermag slaggereed vir die volgende oorlog hou?
5.
Soos hier bo gemeld, het die oorheersing van die idealismeparadigma vanaf 1945 tot heel onlangs ’n paar hardnekkige illusies laat posvat onder diegene wat in die Weste uit die paradigma voordeel getrek het.
Die eerste illusie was dat geweldpleging, konflik en oorlog veronderstel is om, danksy die Amerikaansgeleide Weste, iets van die verlede te wees. Indien die VSA dan nou wel tussen 1950 en 2024 by meer konflikte en oorloë as enige ander land betrokke geraak het, was dit volgens hierdie illusie ’n geval van die doel van wêreldvrede danksy liberale demokrasie en vryemarkkapitalisme wat deur die middele van konflik en oorlog geheilig word – vanaf Iran tot die Demokratiese Republiek die Kongo tot Viëtnam, Chili, Nicaragua, Irak, Afganistan, Libië en, natuurlik, sy uitgekontrakteerde oorlog teen Rusland in Oekraïne. Omdat die doel in Westerse oë die middele geheilig het, is Westerse oë deurgaans verblind vir die skynheiligheid van die idealistiese paradigma. Dus kon hierdie selfde oë ook nie insien waarom die res van die wêreld wat aan die ontvangkant van die messianisme was, geleidelik keelvol geraak en die Weste nie meer vertrou het nie. Wladimir Poetin het vroeg in 2022 hierdie groeiende wêreldwye nie-Westerse argwaan jeens die Weste verwoord deur die Weste as “’n ryk van leuens” te beskryf – en te oordeel aan die gebrekkige steun wat nie-Westerse lande sedertdien in die VN en elders aan die Westerse betrokkenheid by die Oekraïense oorlog toegesê het, het Poetin ’n wêreldwye anti-Westerse sentiment verwoord.
’n Tweede en waarlik naïewe illusie wat onder die idealismeparadigma posgevat het, is dat die Amerikaansgeleide Weste die “goeie ouens” en hul geopolitieke opponente die “slegte ouens” is. ’n Mens sou boeke vol kon skryf oor waarom so ’n simplistiese siening van sake nie steek hou nie, beginnende by die argument van die tragiese aard van menswees – of jy nou met die klassieke Griekse weergawe wil werk waarvolgens ’n tragedie die gevolg is van ’n noodlottige konflik tussen twee protagoniste wat elkeen ’n deel van die waarheid beet het en dit verkeerdelik vir die volle waarheid aansien, of met die Christelike weergawe wat die Heilige Apostel Paulus gee (“Want ons ken ten dele ...”, 1 Kor13:9–12).
Feit is, hoe absurd hierdie verdeling van die spelers van die geopolitiek in twee simplistiese kategorieë ook al mag wees, is dit tans nog so goed gevestig dat dit tot groot verwarring aanleiding gee. Om maar een voorbeeld te noem: Vir die idealiste onder ons kan Trump se besluit om betrekkinge met Rusland te normaliseer om baie goeie geopolitiese redes – waaroor meer hier onder – nie anders verstaan word as die “irrasionele oorgawe” van die “goeie” VSA aan die “bose” Rusland en sy diabolies berekende meesterstrateeg van ’n president nie.
’n Derde en nog naïewer illusie wat vandag weens die idealismeparadigma onder sy aanhangers ingeburger is, is dat die wel en wee van die geopolitiek nie soseer met staatlike belange te make het nie, maar met leiers van hierdie state en hulle spesifieke persoonlikheidstipes. Twee voorbeelde hiervan kan genoem word.
Eerstens, kort nadat Poetin ná dekades van Amerikaanse ondermyning, sowat agt jaar van gewelddadige onderdrukking van die Russiese en/of Russiessprekende minderheid in die ooste van Oekraïne (die Donbass), en die Biden-administrasie se volstrekte weiering om met Rusland oor hierdie dinge te onderhandel, Oekraïne op 24 Februarie 2022 inval, reik die Franse radiostasie France Culture ’n hoorbeeld van vyf episodes oor die lewensverloop van pres Poetin uit. Terwyl die navorsing wat in die dokumentêr ingegaan het, ongetwyfeld deeglik en (miskien om ander redes as wat die vervaardiger in die oog gehad het) besonder leersaam was, moet die realistiese waarnemer die kop meewarig skud by die gevolgtrekking waartoe die reeks kom: Poetin het Oekraïne in wese ingeval omdat hy reeds as geboeliede klein outjie in die rowwe buurte van St Petersburg tot die slotsom gekom het dat dit in hierdie wêreld beter is om eerste te slaan as wat dit is om eerste geslaan te word. Nie eers Sigmund Freud sou volwasse mense se optrede so eensydig tot hulle kinderjare herlei het nie.
Tweedens, in weerwil van die feit dat, soos onder vele andere oudambassadeur Willem Steenkamp onlangs in ’n deeglike opstel uitgewys het, die program wat Trump vanaf die eerste dag van sy tweede termyn ingestel het, oor etlike jare deurdink, voorberei en sedert sy oorwinning in November se presidentsverkiesing chirurgies saam met sy span beplan is, en ondanks die feit dat Trump baie goeie redes het om sy program teen ’n geweldige tempo te implementeer (waaroor meer hier onder) – in weerwil van al hierdie dinge verkies die aanhangers van die idealismeparadigma om te glo dat dit alles eerder ’n funksie van Trump se impulsiewe, vulkaniese, en selfs narsistiese persoonlikheid is, en dat hy dit alles eintlik doen om uit die tronk te bly, of les bes omdat hy al in ongeveer 1987 deur die KGB as agent gewerf is. (’n Skerpsinnige Franse joernalis maak onlangs droogweg die opmerking teenoor my dat hy nie kan glo die KGB sou iemand wat sy hart so op sy mou dra, as agent sou werf nie. Die man is eenvoudig nie diskreet genoeg daarvoor nie.)
6.
........
Dit sal ons almal loon om die idealismeparadigma en sy gekoesterde illusies nou maar aan die vergetelheid toe te vertrou, pynlik soos wat dit mag wees, want die pyn om steeds daaraan vas te klou mag dalk op die duur veel erger wees.
........
Dit sal ons almal loon om die idealismeparadigma en sy gekoesterde illusies nou maar aan die vergetelheid toe te vertrou, pynlik soos wat dit mag wees, want die pyn om steeds daaraan vas te klou mag dalk op die duur veel erger wees. ’n Meer realistiese taksering van wat tans in die geopolitiek aan die gebeur is, mag soos volg klink.
Koos Malan het onlangs in Rapport geskryf dat die omwentelinge wat ons nou aanskou, syns insiens beskryf kan word as ’n (konserwatiewe) revolusie van dieselfde omvang en impak as, opeenvolgend, die liberale, kommunistiese en liberaal-progressiwistiese revolusies. Die liberale revolusie se groot geskiedkundige oomblik is die Amerikaanse (1776) en Franse (1789) revolusies; dié van die kommunisme is die Russiese (1917-) revolusie; en dié van die liberaal-progressiwistiese die Universele Verklaring van Menseregte (1948), wat uiteindelik sou uitloop op wydverspreide Westerse selfhaat waarvolgens alles uit die Weste uit die bose is. Malan wys voorts daarop dat elk van hierdie revolusies oor dekades heen deur ’n aantal denkers en meningsvormers voorberei is.
Die Franse filosoof Régis Debray dink in sy mediologie na oor wat die voorwaardes daarvan is dat idees uiteindelik inslag vind by ’n samelewing wat smag om verandering, en hy sonder die rol van vervoer- en kommunikasienetwerke uit. Ons era, waarin die oudiovisuele die vernaamste kommunikasiemedium is, noem Debray die videosfeer, en ons kan duidelik sien dat die berekende gebruik van verskillende oudiovisuele platforms deur die bestuurders van Trump se tweede verkiesingsveldtog uitmuntend hierin geslaag het. Trump het natuurlik sy vuurdoop in die oudiovisuele medium gehad met die werklikheidsprogram The Apprentice, waarvan hy in 14 van die 15 reekse vanaf 2004 tot 2017 die gasheer was. Onder die wêreldleiers van ons era het Trump geen gelyke as dit kom by die bemeestering van die regstreekse TV-uitsending nie – soos die voormalige TV-akteur wat self ’n suksesvolle de facto-presidentsverkiesingsveldtog in ’n TV-reeks oor ’n “toevallige” president gevoer het, Wolodomir Zelenski van Oekraïne, op ’n bitter harde wyse moes uitvind tydens die rampspoedige regstreekse mediakonferensie in die Oval Office van die Withuis op Vrydag 28 Februarie vanjaar.
Debray se insigte oor die voorwaardes vir die suksesvolle inslag van idees in ’n samelewing ten einde beduidende veranderinge teweeg te bring, is reeds in 1848 kragtig in die Franse tydskrif, Revue des deux mondes saamgevat deur die Franse romansier Émile Souvestre: “Or, dans toute question humaine, il y a quelque chose de plus puissant que la force, que le courage, que le génie même: c’est l’idée dont le temps est venu.” (“Nou, in elke menslike vraagstuk is daar iets magtiger as krag, moed of selfs genialiteit: dit is die idee waarvan die tyd aangebreek het.”)
Wat is daardie idee vir Trump en sy ondersteuners (ook buite die VSA)? Dat die VSA/Weste tot sy sinne moet kom en (weer) sy regmatige plek in die eietydse geopolitiek moet inneem. Met watter slagspreuk kondig Trump dit aan? “Make America great again.” Hoe verwoord hy die uitgangspunt van sy strategie om dit te verwesenlik? “America first.”
Die Trump-projek is ’n reaksie teen dit wat ná 1990 in die vorm van Amerikaanse messianisme onder leiding van die neokonserwatiewes in die Amerikaanse veiligheidsestablishment onder Bush, Obama en Biden skeefgeloop het. In ’n onlangse opstel verwoord die groot eietydse Franse konserwatiewe politieke denker Pierre Manent dit soos volg:
’n Mens kan die Trump-beweging omskryf as ’n opstand van die Amerikaanse nasie teen die Amerikaanse Ryk. Dele van hierdie nasie is in geheel gestroop deur deïndustrialisering, geruïneer deur die vloek van opioïdes en in die algemeen deur die agteruitgang van openbare gesondheid. Die nasie is diep verdeeld deur ’n aggressiewe progressivisme wat die geheel van die Amerikaanse geskiedenis afwys, en sodoende verdeeld moet die nasie steeds sy imperiale verpligtinge trotseer, verpligtinge wat des te veeleisender is namate die imperiale ideologie nou die draer van ’n humanitêre sending geword het. Uit hierdie breuk tussen nasie en ryk kom Donald Trump tot die gevolgtrekking dat die “wêreld”, vriende sowel as vyande, op die rekening van die Verenigde State leef. Die syfers wat hy rondgooi, is bra vergesogte seine wat veronderstel is om die volgende diagnose te illustreer: Die VSA beskik nie meer oor die middele om aanhoudend in oorlog gewikkel te wees nie, en nog minder om sy ryk te onderhou, oftewel om dit te behou.
Die denkers en meningsvormers wat die Trump-projek bedink het, het ingesien dat die Amerikaanse messianisme van die idealismeparadigma vanaf 1990 tot 2024 op die volgende uitgeloop het:
– Amerikaanse militêre en ander vervaardigingsvermoëns is afgeskaal of uitgekontrakteer (hoofsaaklik na China en ander Verre Oosterse lande), terwyl China in hierdie selfde tydvak sy militêre en ander vervaardigingsvermoëns dramaties verhoog het, met die gevolg dat die VSA volgens die Pentagon se eie skattings kwalik ’n oorlog teen China sal wen as dié besluit om Taiwan met geweld oor te neem.
– Die VSA is op maatskaplike en ekonomiese gebied in ’n gestadigde afgang wat baie moeilik omgekeer gaan word.
– Die VSA is intern ernstig verswak deur die liberale progressivistiese elite wat mildelik uit die ekonomie geskep het, die nasie in twee verdeel het, en ’n koalisie van uitgeslotenes tot stand gebring het wie se vrese en drome Trump vir sy tweede verkiesing as Amerikaanse president gemobiliseer het.
Indien die VSA uit die oogpunt van die Trump-projek sigself wil handhaaf en sy regmatige plek in die geopolitiek wil inneem, moet dit die volgende doen:
– konflik en oorloë wat vir die VSA onbekostigbaar geword het, vernaamlik in die Midde-Ooste en Oekraïne, beëindig
– onnodige koste in die Amerikaanse staatsdiens besnoei
– onnodige koste in die Amerikaanse weermag besnoei, en ’n beter opbrengs op militêre regeringsbesteding verkry
– Amerikaanse militêre en ander vervaardigingsvermoë probeer herstel
– Amerikaanse toegang tot skaars en strategiese minerale, asook belangrike seeroetes, verseker
– nuwe geopolitiese bondgenootskappe ter wille van stabiliteit bou
– ’n geopolitiese magsbalans met China probeer vind.
7.
Minder as twee maande sedert Trump se inhuldiging as die 47ste Amerikaanse president, is die wêreldwye konsensus dat hy teen ’n ongekende tempo handel. Minstens die volgende redes kan daarvoor aangevoer word:
a) Die Amerikaanse verkiesingsiklusse laat ’n nuut verkose president slegs 18 maande toe om met betreklike vryheid sy stempel af te druk, want rondom die einde van daardie 18 maande begin die veldtog vir die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers. Bowendien beskik Trump oor ’n papierdun meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers, naamlik 218 Republikeinse teenoor 215 Demokratiese lede. Hy sal waarskynlik hoop dat hy deur vinnige optrede die openbare stemming aan sy kant kan hou, en sodoende die betreklik geringe meerderheid kiesers wat verlede November vir hom gestem het, in November 2026 se verkiesing vir lede van die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers kan verhoog.
b) Trump se projek verteenwoordig ’n absoluut dramatiese breuk met die idealismeparadigma wat bykans 80 jaar lank die toon in die Amerikaanse buitelandse beleid aangegee het. Om byvoorbeeld van die deursnee-Amerikaner te verwag om Rusland ná dekades se demonisering sedert 1991, voorafgegaan deur die herinneringe aan die Sowjetunie met wie Rusland geredelik gelykgestel word, nou as ’n belangrike potensiële bondgenoot te sien, is veel gevra. As Trump nie vanjaar nog konkrete dividende vir die herstel van verhoudinge met Rusland aan die Amerikaanse publiek kan toon nie, gaan hy probleme hê. Die maklikste manier om sodanige dividende te toon, is om die oorlog in Oekraïne te beëindig, en dit is presies waarom Trump dit tesame met die herstel van verhoudinge met Rusland sy vernaamste buitelandse prioriteit sedert sy inhuldiging gemaak het.
c) Daar bestaan ook die siening dat hy doelbewus teen ’n hoë tempo uitvoerende bevele uitreik en nuwe beleid bekendmaak en kommunikeer om sy teenstanders te verwar en op die agtervoet te hou. Gegewe dat Trump ’n uitstaande kommunikeerder in die videosfeer is, is dit heel denkbaar dat hy dan ook hierdie strategie inspan om potensiële weerstand teen sy projek te midde van die 18 maande tot sy beskikking te minimaliseer.
8.
Wat die inwerkingstelling van die Trump-projek tot dusver betref, word hier slegs stilgestaan by dit waarby ons in Suid-Afrika die meeste belang het, naamlik sy buitelandse beleid. Trump en sy raadgewers is van mening dat vir die VSA om te probeer om met China mee te ding, die volgende gedoen moet word:
– Bespaar kostes waar moontlik (insluitend die besnoeiing van onnodige uitgawes van die Amerikaanse staatsdiens, en die beëindiging van die voortslepende Midde-Oosterse konflikte en die oorlog in Oekraïne).
– Verseker beheer oor die seeroetes wat die VSA se handel kan versterk (vandaar die belangstelling in die Panamakanaal; in Groenland, met die Noordelike Seeroete wat al hoe bruikbaarder gaan word namate ys in die Noordpoolsirkel smelt; in die stabilisering van die Gazastrook en goeie betrekkinge met Saoedi-Arabië en Egipte om die Suez-kanaal weer te kan benut; in Kanada, ter wille van die Noordwestelike Seeroete; in (vrede in) Oekraïne, ten einde die Swart See meer bruikbaar te maak vir skepe en oliepryse te laat daal; en heel moontlik ook Suid-Afrika, vanweë die durende strategiese belang van die seeroete om die Kaap die Goeie Hoop, en vanwaar belangstelling in die Simonstad-vlootbasis om dié seeroete te help beveilig.
– Verseker toegang tot skaars en strategiese minerale (vanwaar, weer eens, belangstelling in Kanada, Groenland, Oekraïne en Suid-Afrika, wat almal oor sodanige minerale beskik, terwyl die VSA nie juis oor sulke minerale beskik nie, maar China en Rusland wel – beter betrekkinge met Rusland gaan vir Trump waarskynlik ook oor toegang tot sulke minerale in Rusland, wat Poetin ook eksplisiet in die openbaar opgehaal het in die laaste weke sedert gesprekke tussen die VSA en Rusland gemik op die herstel van betrekkinge begin het).
9.
Die Trump-administrasie se regsomkeer met betrekking tot Rusland en die oorlog in Oekraïne het groot konsternasie in idealistiese geledere in Europa, maar ook in die Afrikaanse wêreld veroorsaak. Soos reeds gemeld, is hierdie konsternasie waarskynlik toe te skryf aan hoe haaks die Trump-administrasie se benadering in hierdie verband staan tot Amerikaanse idealistiese messianisme se demonisering van Rusland, en dié se strategie om Oekraïne te gebruik om Rusland te destabiliseer. Dit is egter raadsaam om verby die konsternasie te tree en die saak deur die bril van die realismeparadigma van die Trump-administrasie te probeer bekyk.
........
[D]ie Amerikaanse nasie smag na verandering ten einde binne sy vermoë sy regmatige plek in die verskuiwende eietydse geopolitiek in te neem.
........
Een van die vernaamste Franse kenners van militêre strategie en eksponent van die realismeparadigma, Olivier Zajec van die Universiteit van Lyon-III, verklaar onlangs in ’n onderhoud dat Trump volg in die voetspore van president John Quincy Adams (1825–1829), wat, soos Trump, ’n onortodokse Amerikaanse president was in die sin dat hy van mening was dat die VSA nie in die buiteland “behoort te gaan soek na drake om te verslaan nie”. En, verduidelik Zajec, as Trump sê “Amerika eerste”, bedoel hy nie “Amerika bo almal” nie – wat aansluit by Pierre Manent se ontleding hier bo aangehaal dat die einde van die Amerikaanse Ryk op hande is, en die Amerikaanse nasie smag na verandering ten einde binne sy vermoë sy regmatige plek in die verskuiwende eietydse geopolitiek in te neem.
Tweedens wys Zajec daarop dat Poetin [in Junie 2022] eksplisiet aangesluit het by die strategie van tsaar Peter die Grote wat in die 18de eeu grondgebied herower het om Rusland van ’n bufferstrook te voorsien. Uit Poetin se oogpunt was dit teen die agtergrond van die volgehoue ooswaartse uitbreiding van Navo en Oekraïense regeringsaggressie teen die Russiese/Russiessprekende minderheid van die Donbass dat hy Oekraïne binnegeval het nadat die Biden-administrasie volstrek geweier het om met Poetin te onderhandel (oor dieselfde eise waaroor die Trump-administrasie ná drie jaar van bloedige oorlogvoering en die verlies aan honderde duisende lewens nou met Rusland onderhandel). Zajec verwys ook na hoe histories belangrik Kiëf as die bakermat van die Ortodoksie in Rusland vir Poetin is.
........
Noudat die Amerikaanse messiaanse idealisme met sy sekulêre agenda en die bloedige opoffering van Oekraïne vir sy neo-imperiale visie met die einde van die Biden-administrasie in die VSA tot ’n einde gekom het, is dit binne die realismeparadigma vir Trump en Poetin voor die hand liggend dat Washington en Moskou as belangrike historiese setels van die Christendom kultureel en ekonomies meer gemeen het as wat hulle van mekaar verskil.
........
In aansluiting by Zajec moet daarop gewys word dat wat die Protestantse Christendom as kulturele motor vir die VSA en die Weste [en die Afrikaners] was, die Ortodokse Christendom vir die Russiese identiteit en kultuur is. Om dit eenvoudig te stel: Wat Jerusalem vir Israel en Mekka vir Islam is, is wat Kiëf vir Rusland is. En ook om eietydse redes, naamlik dat die konserwatiewe elite in beheer van Rusland vrees dat sekularisasie ewe skadelik vir Rusland sal wees as wat dit uit ’n konserwatiewe Russiese oogpunt in sommige opsigte vir die Weste was. Ten regte of ten onregte beskou Poetin die Ortodoksie as ’n integrale deel van die Russiese beskawing, en is Kiëf as geboorteplek van die Ortodoksie in Oekraïne en Rusland vir hom van eksistensiële belang – dinge wat hy ten alle koste wil beskerm, omdat hy dink Rusland loop die gevaar om die dekadente weg van die post-Christelike Weste te gaan.
Die Trump-projek beskou ’n konserwatiewe Christendom en die beskerming daarvan as wesenlik vir sowel die geskiedenis as die toekoms van die VSA, presies soos Poetin dit sien in die konteks van die Russiese geskiedenis en toekoms. Noudat die Amerikaanse messiaanse idealisme met sy sekulêre agenda en die bloedige opoffering van Oekraïne vir sy neo-imperiale visie met die einde van die Biden-administrasie in die VSA tot ’n einde gekom het, is dit binne die realismeparadigma vir Trump en Poetin voor die hand liggend dat Washington en Moskou as belangrike historiese setels van die Christendom kultureel en ekonomies meer gemeen het as wat hulle van mekaar verskil. Die tyd sal leer of sowat 80 jaar se wedersydse wantroue en onderlinge wedywering wat ná die Tweede Wêreldoorlog tussen Washington en Moskou posgevat het, tot iets meer konstruktief omvorm kan word.
So gesien, werp die détente wat tans tussen Washington en Moskou ’n vars blik op die idealistiese oorskatting van die persoonlikheid van ’n leier waarvolgens die politiek die weerspieëling van die persoonlikhede van sterk leiers is. Binne die realismeparadigma kan ons sien dat dit ánders gesteld is, naamlik dat ambisieuse politieke projekte soos dié van groot moondhede wat ’n alternatiewe kultuurpolitiek omarm ten einde ’n katastrofale era in hul geskiedenis agter te laat en hul regmatige plek in ’n veranderende geopolitiese konteks in te neem, leiers met die regte persoonlikhede vereis om hierdie visie te beliggaam. In die Russiese geval het Poetin op die toneel verskyn om Rusland op die herstelpad te probeer plaas ná die katastrofe van die Russiese Revolusie van 1917 en die verdrukkende Sowjetbestel wat meer Christelike martelaars opgelewer het as elders in die ganse geskiedenis tesame. In die Amerikaanse geval het Trump op die toneel verskyn om die VSA op die herstelpad te probeer plaas ná die interne verdeeldheid wat die liberale progressiviste binnelands veroorsaak het, en die enorme ekonomiese koste van krimpende vervaardiging en imperiale oorloë en ander avonture tussen 1945 en 2024. Idealiste wat swaar sluk aan hierdie toegewing vir die minder sosiale openbare persoonlikhede van Trump en Poetin, hoef maar net terug te dink aan hoe belangrik die warm persoonlikheid van Nelson Mandela vir die postapartheid visie van versoening was – elke politieke projek het sy persoonlikheid. As jou projek dié is wat ’n Poetin of ’n Trump moet implementeer, gaan ’n romantiese digterspersoonlikheid nie deug nie. Ons hier in Suid-Afrika weet tans hoe lyk swak presidensiële leierskap omdat die verkeerde persoonlikheid nou aan die stuur van sake is (en sy party bowendien nie meer ’n projek buiten die vasklou aan mag en patronaat het nie).
10.
Terwyl die Trump-projek ’n radikale breuk met die verworde messiaanse idealisme van die laaste drie dekades verteenwoordig, is dit geen uitgemaakte saak dat dit gaan slaag nie. Soos sake nou staan, loop dit minstens die volgende risiko’s, wat elk voldoende is om die projek te laat misluk en die wêreld verder te destabiliseer:
a) Die Amerikaanse kultuur en geskiedenis is een van idealisme. Wanneer Trump hom daarop beroep om die VSA weer groots te maak, is hy met niks anders as die jongste vorm van hierdie idealisme in die Amerikaanse konteks besig nie. Ondanks sy administrasie se omarming van die realismeparadigma, is daar ongetwyfeld ook ’n soort messianisme by Trump vaardig, wat manifesteer as ’n soort beskawingsending, en waarin die Christendom en dié se simbole ingespan word om die projek te legitimeer en die sentiment van kiesers te mobiliseer. Hiermee word onvermydelik verwagtinge geskep waaraan nie noodwendig voldoen kan word nie.
b) Die Franse denker Emmanuel Todd is van oordeel dat die afgang van die VSA onomkeerbaar is. Onder die vele redes wat hy daarvoor aanvoer, is die vernaamste dat die Amerikaanse Christelik-Protestantse kultuur in so ’n mate gedisintegreer het dat dit gewoon nie meer dieselfde aandrywer van Amerikaanse vooruitgang en produksie op alle gebiede as voorheen kan wees nie. Denkers en segslui van die konserwatiewe Westerse beweging voer dikwels aan dat ’n soort herkerstening van die Weste noodsaaklik is om die afgang van die Weste om te keer. Die tyd sal leer of Todd, of die konserwatiewe denkers en segslui, reg is – of selfs of albei ’n punt beet het.
c) Trump se uitgesproke voorkeur vir fossielbrandstowwe plaas ten minste in beginsel die ekologie van die planeet, en bygevolg die welstand van die Amerikaanse ekonomie, op risiko. Die feit dat die ekologiese beweging dikwels ook aan sy eie messianisme ly, beteken nie dat al die wetenskaplike navorsing wat al daaroor gedoen is en steeds gedoen word, gewoon geïgnoreer kan word nie.
d) Brandpunte met ’n lang geskiedkundige aanloop is nie so maklik om op te los nie. Op papier maak dit sin dat die verdwyning van die messiaanse idealisme as aandrywer van die spanning tussen Oekraïne en Rusland mag help om vrede daar teweeg te bring. Maar in die Midde-Ooste het die faktore wat die vernaamste konflikte daar aandryf – tussen Israel en die Palestyne, en tussen Israel en Iran – nie met Trump se verkiesing verdwyn nie. Trump maak aanspraak daarop dat die VSA “die grootste beskawing is wat die wêreld nog gesien het”, maar as lid van ’n beskawing wat in die ouderdom van 250 jaar ’n babatjie is teen die eeue oue en millennia oue beskawings van die Midde-Ooste en China, mag hy dalk agterkom dat ’n transaksionele benadering en ’n realistiese idealisme nie genoeg is nie.
e) Soos soveel ander aspekte van die huidige Trump-administrasie, word dinge wat lankal agter die skerms aan die gang is, nou in die ope gestel – in hierdie geval die groeiende mate waartoe die VSA gevaar loop om ’n oligargie te word. Reeds met Barack Obama se tweede verkiesing as president in November 2012 is geraam dat ’n Amerikaanse presidentskandidaat minstens ’n miljard dollar aan skenkings moet insamel. Daardie soort geld kan slegs deur mense met baie diep sakke geskenk word, en die soort mense met sulke diep sakke eis hulle pond vleis vir hulle skenking. In die geval van Trump is sy skatpligtigheid teenoor die tegboetas tech bros), met Elon Musk voor in die koor, welbekend. Musk se (openlike) invloed op Trump strek veel verder as dié van enige vergelykbare oligarg in die geskiedenis van Amerikaanse presidente. Hoe stabiliserend of destabiliserend Musk en die ander tegboetas, soos Jeff Bezos van Amazon en Mark Zuckerberg van Meta, vir die tweede Trump-administrasie en die Amerikaanse politieke en regstelsel is, sal nog gesien moet word.
f) As mens die liberale pers lees, is Trump ’n fopnuusfabriek en leuenaar van formaat, wat die moontlikheid van ingeligte openbare debat as hoeksteen van die demokrasie ernstig bedreig – vergelyk byvoorbeeld The Guardian se feitekontrolering van Trump se toespraak voor die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers op 4 Maart. As jy die konserwatiewe en veral populisties-konserwatiewe pers lees, is Trump bloot besig om die feite op te smuk ten einde die impak van sy boodskap te verhoog – dis min of meer die saaklike vertolking wat Pierre Manent in die aanhaling hier bo gee. Maar selfs dan is die risiko wat Trump vir sy eie reputasie en die gehalte van die openbare debat loop, baie groot. Wanneer die openbare gesprek eers verby ’n sekere punt sy integriteit en samehang verloor, is faksievorming jou voorland, met uiteindelik die verbrokkeling van jou demokrasie ’n besliste moontlikheid.
g) Laastens: Terwyl Trump se siening oor proteksionisme en president Xi Jinping van China se siening oor uitvoergeleide groei vir die twee here wedersyds uitsluitende geloofsartikels is, en China hulle opkoms as die herstel van (in hulle oë) hul status as middelpunt van die wêreld is, en die kulturele verskille tussen die twee lande enorm is, is dit ’n ope vraag of dié twee moondhede mekaar ooit sal vind.



Kommentaar
Baie dankie vir hierdie briljante en uiters insiggewende artikel. Dit getuig van grondige kennis en nadenke, nugterheid en ewewigtigheid. Wat 'n waardevolle en welkome bydrae tot die openbare diskussie oor die grondverskuiwings wat gaande is in die internasionale politiek.
Dis regtig bedrukkend om te sien watter cliché’s die kommentariaat rondgooi, hoe uitgediend hul analitiese kategorieë is, en hoe hulle skynbaar dink dat navorsing oor die geo-politiek afgehandel is as jy die New York Times en/of The Guardian lees.
Uitstekende artikel. Ek het dit baie geniet, veral die ontleding van die realistiese en idealistiese benadering van buitelandse beleid. Stem saam dat die internasionale realiteit tot nadenke dwing. Baie geluk. As voormalig diplomaat in Rusland in die 1990's kan ek egter nie die idee van 'n Westerse demonisering van Rusland onderskryf nie. Ek kan ook nie saamstem met die suggestie van 'n oorlog tussen die Weste en Rusland in Oekraïne nie. 'n Grondige studie van die betrekkinge/samewerking tussen NAVO/EU en Rusland van 1990 tot 2012/2015, die Budapest Memorandum ens, tot die Russiese inval in Georgië en later in die Krim ontnugterend gewerk het en 'n toenadering van Oekraïne tot die Weste tot gevolg gehad het, kan insiggewend wees. Nogmaals geluk. Jan Mutton
Baie dankie. Die artikel, veral ook saamgelees met dié van Willem Steenkamp, het my ’n ander blik op die situasie gegee. Ek kan net nie help om te wonder of Trump inderdaad in staat is om dit te kon konseptualiseer en beplan nie. Is dit nog een van die/my mistastings dat hy nie skerp is nie of het hy besonder goeie raadgewers? En wie is hulle in elk geval?