Wat sê Bettina? Slava Ukraini!

  • 4

Foto: Peter Muscutt via Pexels

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
Dit was beslis nie op my bingokaart dat een van die ysingwekkendste vergaderings van 2025 sou plaasvind tussen ’n komediant, ’n realiteitstelevisiester en ’n skrywer nie.
........

Geskiedenis gebeur in siklusse. Ons hoef nie daarvan te hou nie, maar dit is steeds die realiteit waarmee ons saamlewe.

Daar is egter ’n reuse verskil tussen dit wat ons brein weet en wat ons hart hoop. Toe Wolodimir Zelenski in 2019 as president van Oekraïne ingesweer is, het hy geweet Poetin se Rusland is ’n kopseer. Teen begin 2022 moes hy geweet het oorlog met Poetin is onvermydelik. Ek is seker daarvan dat nie hy of Poetin kon droom dat hulle drie jaar later, in 2025, nog steeds in oorlog gewikkel sou wees nie. Poetin het beslis nie gedink dit sou langer as ’n paar weke neem om Oekraïne op hulle knieë te dwing nie.

Nog minder sou Zelenski, ’n Jood wie se oupa in die Tweede Wêreldoorlog teen Nazi’s geveg het en wie se hele familie in die Joodse Volksmoord uitgewis is, kon voorsien dat hy in 2025 vir hulp sou moet vra van ’n Amerikaanse president wie se naaste vertrouelinge met uitbundigheid die Nazi-saluut gee, skynbaar met die President se goedkeuring.

Dit was beslis nie op my bingokaart dat een van die ysingwekkendste vergaderings van 2025 sou plaasvind tussen ’n komediant, ’n realiteitstelevisiester en ’n skrywer nie.

Niemand het verwag dat die vergadering goed sou afloop nie. Vergeet maar eers dat Trump reken dis ’n goeie idee om vrede te probeer afdwing deur met die aggressor alleen te onderhandel. Sy bewondering vir diktators in die algemeen en Poetin spesifiek is algemene kennis. Maar selfs met Poetin buite rekening gelaat, dink enigeen Trump sou vergeet hoedat Zelenski geweier het dat Oekraïne as ’n speelbal gebruik word in die struweling tussen hom en Biden? Dit alleen sou in Trump se kop rede wees vir die VSA om Oekraïne binne te val as hy gedink het hy kan dit sonder nagevolge doen.

Die gesprek sou nooit ’n diplomatieke gesprek wees wat gemene grond probeer vind nie. Dis gewoon net nie in Trump se aard om te probeer versoen as hy op bombastiese manier kan boelie nie. Daarom dat hy soveel bewondering vir boelies het.

Boonop het Zelenski nou die reputasie as ’n president wat sy land tydens oorlog inspireer. Trump is nie gepla deur mense wat in T-hemde in die Oval Office verskyn nie. Musk het dit gedoen en boonop sy peuter saamgebring. Die rooi vlag, die ding wat aanstoot sou gee, is dat Zelenski die “real deal” is, iemand wat nie net oorlog speel nie, maar in oorlog gelouter is en sterker anderkant uitkom. Hoe durf hy? Hy het nie die geld, die fisiek imposante houding of die vuisbal-sterkman-mentaliteit nie, en tog kon Trump se held hom in drie jaar nie oorwin nie. Hoe durf hy hom nie deur die beste president van die beste land ooit te laat intimideer nie?

Trump het Zelenski gedreig dat hy met die Derde Wêreldoorlog speel. Dis eerder Trump wat besig is om reg te maak vir die oorlog. In sy verbeelding sien hy homself alreeds in sy oorlogsuniform, maar anders as Zelenski se T-hemp en kamoefleerbroek sal Trump s’n ’n formele uniform wees propvol medaljes wat hy aan homself toeken, ontwerp deur Hollywood se top ontwerpers. Alles is skouspel vir Trump, selfs die onderhoud met Zelenski. Dit moet wees, want hy het nie die substansie vir enigiets meer ernstig nie, selfs nie met oorlog op die horison nie.

Die vergadering het een ding onderstreep: Daar is nie meer verstandige volwassenes in die Withuis wat Amerika kan red en Trump se ergste impulse kan bedwing nie.

Ontleders probeer verstaan hoe Trump Amerika se bondgenote so in die steek kan laat en verhoudinge wat oor ’n lang tyd gesmee is, net so in die stof kan vertrap. Hulle neem aan dat daar een of ander ingewikkelde denkpatroon agter sy optrede skuil. Ek twyfel of dit enigsins so gesofistikeerd is.

Trump is op wraak uit, so eenvoudig is dit. Kanada en Europa het hom nie baie ernstig opgeneem met sy eerste presidentskap nie. Hoeveel foto’s is daar nie geneem waar Trump soos ’n stout kind eenkant sit terwyl die ander wêreldleiers bymekaar staan en gemoedelik gesels nie? Kontrasteer dit met MAGA-land, waar hy soos ’n god en koning aanbid word.

.........
Die Derde Wêreldoorlog sal, wanneer dit uitbreek, waarskynlik Rusland, die VSA en Hongarye aan die een kant hê, en Kanada, Europa, dele van Afrika en dalk China aan die ander kant.
........

Wat hy demonstreer, is dat die VSA nie meer ’n betroubare bondgenoot is nie. Europa en Afrika neem kennis daarvan. Trump gee waarskynlik nie om oor die geopolitiese implikasies as Rusland Oekraïne oorwin nie. Europa, daarenteen, besef egter dat dit nie die einde van die oorlog is nie, maar die begin, want daarna sal Poetin die ander lande een vir een aanval.

Die beste waarop hulle kan hoop, is dat hy nie bygestaan sal wees deur Trump se Amerika nie.

Die Derde Wêreldoorlog sal, wanneer dit uitbreek, waarskynlik Rusland, die VSA en Hongarye aan die een kant hê, en Kanada, Europa, dele van Afrika en dalk China aan die ander kant. China is heeltemal gereed om daar waar Amerikaanse hulpverlening gestaak word, in die bresse te tree.

Ja, ek het geskryf wanneer die oorlog uitbreek, nie as die oorlog uitbreek nie. ’n wêreldoorlog word by die dag ’n groter moontlikheid.

Trump het gereken hy gaan Zelenski in een vergadering verneder en knak, hom dwing om in te gee aan sy eise en vir die wêreld wys wie’s baas. Al waarin hy geslaag het, was om intense simpatie en ondersteuning vir Oekraïne se saak te wek. Boonop het hy gelyk asof hy Poetin klakkeloos napraat en geen ruggraat het nie. Soos ons in Suid-Afrika sê, Trump het ’n own goal gescore.

........
Ons almal se lot is verbind met Oekraïne se lot. As Oekraïne val, dan is Europa volgende. En wie weet waar daarna?
........

Maak enige sosiale media oop, en die woorde “Slava Ukraini” begroet jou op profiel na profiel. Glorie aan Oekraïne. Europese lande verhoog hulle steun aan Zelenski se oorlogstrommel. Gewone mense doen wat hulle kan om Trump en Vance se lewens te versuur. Vra maar vir Vance hoe sy skivakansie in Vermont verloop. Voor daai gewraakte vergadering sou Vermont se inwoners en ander vakansiegangers hom dalk net vermy het, maar nou maak hulle dit hulle moeite om te protesteer en klippe in sy skoen te wees.

Ons almal se lot is verbind met Oekraïne se lot. As Oekraïne val, dan is Europa volgende. En wie weet waar daarna?

“Slava Ukraini” is nie net om Oekraïne te ondersteun nie. Dis ’n simbool van weerstand teen imperialisme, teen kragdadigheid, vir vryheid en vir veerkragtigheid.

Slava Ukraini!

Lees ook:

Europa en Amerika

Amerika: die struikelblok in die pad van wêreldvrede

Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe

Wat sê Bettina? Trump 2.0 in volle swang

Wat sê Bettina? Die "sonde" van empatie

15 punte oor Afrikaners, Trump en Suid-Afrika (elke ketter het mos ’n letter)

Die einde van die Amerikaanse republiek?

 

  • 4

Kommentaar

  • Francois Smuts

    Bettina, iemand - en ek gee nie om as dit nie jy is nie, regtig enige iemand sal doen - moet nog vir my verduidelik hoe Rusland, wat drie jaar lank hulle longe weggesukkel het om 20% van die Oekraïene te verower, en nou heeltemal gretig lyk om vredesgesprekke te voer om die oorlog te beëindig, steeds van plan is om Europa binne te val. Soos ons kleintyd vir mekaar gesê het, 'met watse armie'?
    En as dit nie so is nie, sal ek graag wil weet waar die histerie oor die bedreing van Rusland dan vandaan kom, indien nie van 'n militêre industriële bedryf nie - hetsy Amerika of Europa sin - wat hartseer is dat hulle soustrein stadiger aan die loop is. Hulle, en natuurlik die potsierlike mensies wat koning-koning gespeel het totdat hulle agtergekom het dat die olifant nie meer saam met hulle die brug laat bewe nie.

  • Chris Marnewick SC

    Bettina, met respek, waar is die getuienis wat daarop dui dat Rusland (Poetin) beoog om Europa binne te val?

    Ek hou van Occam's razor, wat aanbeveel dat die eenvoudigste oplossing van 'n probleem die korrekte antwoord verskaf. In hierdie geval lyk dit vir my is die eenvoudigste antwoord - die een met die minste stappe tussen probleemstelling en oplossing - die volgende: Die Weste (Amerika en Europa) skuif sedert 1990 sy invloedssfeer al dieper in Oos-Europa in, en het in 2014 tot in Oekraïne gevorder na die staatsgreep daar. Rusland (Poetin, as jy wil) het sedertdien sy eie invloedsfeer - wat voorheen tot by die verste grense van die Ystergordyn gestrek het) - tot in Oos-Oekraïne (Donbas en Krim) teruggeskuif. En gevolglik hierdie vieslike oorlog.

    Daar is geen aanduiding dat Rusland Europa wil inpalm nie. As Rusland wou, sou dit al van 1990 af stappe geneem het om dit te doen, dan nie?

    • Izak de Vries

      Chris, nee. Met respek. As jy na die 2014-revolusie verwys as ’n staatsgreep, dan het jy reeds die logikaskuif gemaak om nie Poetin se aggressie raak te sien nie. Ek weet jy stir, en ek het baie respek vir die manier waarop jy duiwelsadvokaat speel op baie vlakke. Maar kom ons gebruik die skeermeslemmetjie reg. Begin by dit wat werklik gebeur, nie met Poetin se propaganda nie. Dan hoef nie ’n antwoord te verwag op jou eie vraag nie.

  • Chris Marnewick SC

    Wag 'n bietjie, Izak. In 2014 is die Rusland-leunende regering omvergewerp en vervang met 'n Europa-leunende regering. Dit was 'n revolusie, wat ek as 'n staatsgreep beskou omdat die wettige regering verdryf is.

    Tweedens, ek stir nie, en ek speel nie hier duiwelsadvokaat nie. Ek vra bloot vir getuienis wat die feitelik bewerings oor Rusland se motiewe wat die res van Europa betref sal onderskraag. Maar al wat ek sien is stapels van opinies, een op die ander, sonder die feite waarna ek vra.

    En moenie die klok van "Poetin se propaganda" om my nek hang nie. Selfs al sou ek belangstel in Poetin se propaganda, het ek geen idee waar om dit te soek nie. Ek lees die geskiedkundige gebeure en probeer my bes om sin te maak van oorsaak en gevolg. As iemand hier op LitNet weet wat Poetin se planne is, sal ek graag wil hoor watter inligting hulle op daardie onderwerp het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top