Francois Bekker skryf op Facebook1:
- Die verslegtende verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika is betreurenswaardig. Alles moet in die stryd gewerp word om die verhouding te herstel. Ons kan die nadelige ekonomiese gevolge nie bekostig nie.
- As regerende party staan die ANC in die beskuldigingsbank. Deur vas te klou aan verdwaalde en uitgediende ideologieë met ’n Marxistiese innuendo, verswak dié party as internasionale rolspeler.
- Die ANC ontsien geen moeite om vriendskapsbande met muishondlande te smee nie. En doen bitter min, indien enige moeite, om bande met Westerse moondhede in stand te hou. Indië stel ’n voorbeeld vir ons. Ja, hulle is deel van BRICS, maar is welkom in die Withuis. Dit is hoe mens dit doen.
- Ek onthou ’n refrein in die Afrikaanse pers in die laat tagtigs. Harold Pakendorf in DeKat byvoorbeeld. Skaf apartheid af. Baie Afrikaanses het ongemaklik gevoel met hierdie pleidooi. Die Pakendorfs van hierdie wêreld was reg. Ons kort nou ’n nuwe refrein. En weereens sal dit met ongemak begroet word. Skaf swart ekonomiese bemagtiging af.
- Vlugtelinge en emigrasie moet nie met mekaar verwar word nie. Frederik van Zyl Slabbert het destyds daarop gewys dat mense met verplaasbare vermoëns gebruik sal maak van geleenthede wat die globale dorpie hul bied. Oor grense heen. Niks verkeerd hiermee nie. Dat ons onsself in ’n situasie bevind om te vlug, is ’n drogredenasie en van alle waarheid ontbloot.
- As Afrikaners moet ons besef dat ons lot nou verweef is met die ander kulturele groepe in Suid-Afrika. Ek is eerstens ’n Suid-Afrikaner en dan ’n Afrikaner. Eintlik ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner met eiesoortige kulturele merkers. Saam leef, saam vry wees en saam wen moet ons gedeelde ideaal wees.
- ’n Realistiese historiese bewussyn is nodig. Ek moet egter hier byvoeg wat Van Zyl Slabbert gesê het: “So lank as wat ons die verlede lewend hou, moet ons ruim voorsiening maak vir ’n toekoms gekenmerk deur konflik.” Ja, ons kan en moet nie vergeet nie. Maar ons moet almal saam gretiger vorentoe kyk.
- Die onlangse diskoers, niks anders as onstuimig en onaangenaam nie, stem ’n mens moedeloos. Ons almal moet hand in eie boesem steek. Wat het geword van NP van Wyk Louw se oop gesprek? Hiervolgens kan niemand volkome aanspraak op die waarheid maak nie. En die gesprek is nooit afgesluit nie. Wat kortkom, is bedagsaamheid en ’n grootheid van gees. Nie almal wat bekommerd is oor die huidige Suid-Afrikaanse trajek is verkramp en oningelig nie. Nie almal wat anti-Trump is, is woke nie. Kom ons luister meer en antwoord versigtiger met beter argumente.
- As gevolg van ’n swak rekord wat betref amptelike diplomasie, gekenmerk deur afwesigheid en onbekwaamheid, moet ons nie verbaas wees dat organisasies soos Afriforum, of jy nou van hulle hou of nie, geskakel het met wetmakers in daardie land nie. Met die drastiese aankondiging van Trump die ander dag, het Afriforum wel nou ’n reuse taak op hande om ’n negatiewe persepsie, hoe reg of foutief dit ookal mag wees, aan te spreek. Onbeskaamd Afrikaans ja, maar altyd in belang van die hele Suid-Afrika behoort hulle onbetwiste handelsmerk te wees.
- Donald Trump. Nee. Nee. Nee. Hy is nie maar net ’n anomalie in die politiek nie. Hy is gevaarlik. Sy roekelose en kortsigtige benadering tot die oorlog in Oekraïne getuig van sy gebrek aan ’n waardestelsel en insig wat staatkundige kwessies betref. Hy is nie bekend vir standvastige en langdurige vriendskappe nie. Verwag vuurwerke in stede van vonke daardie dag wanneer hy en Elon Musk uitval. Dit gaan nie mooi wees nie. Die grootste fout wat Afrikaners, hoe naïef en onskuldig ook al, kan maak, is om te dink Trump gaan tot hul redding kom. Dit gaan nie gebeur nie. Vergeet dit.
- Daar is uiteindelik net een manier om politieke verandering te weeg te bring en dit is om ’n kruisie by die stembus te gaan trek. Omdat ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika grootliks resoneer met rasverdelingslyne, sal dit egter geen maklike taak wees nie.
- Slegs daadwerklike ekonomiese groei met Suid-Afrika as ’n aanloklike beleggingsbetemming sal ’n nuwe energie loslaat om sosiale kohesie te verbeter en vloeibaarheid wat politieke steunpatrone betref aan te moedig.
- Die een ding wat Afrikaners of Afrikaanses nie kan bekostig nie, is ’n laertrekmentaliteit. Geen groep moet spesiale behandeling bepleit nie. Die opeis van kulturele ruimtes moet gerig word deur ’n positiewe wisselwerking met ander Suid-Afrikaners.
- Die sluiting van Beeld as gedrukte koerant verlede jaar en nou Vrye Weekblad is nie ’n goeie getuigskrif vir ’n taalgemeenskap wat raas en blaas oor Afrikaans wat volgens baie mense onder druk sou wees nie. Ons moet eienaarskap van ons kultuurgoedere neem. Die toekoms van Afrikaans is in ons hande.
- Verandering in ons land is nodig. Dit begin by jou en my. Met erkenning teenoor Mahatma Gandhi moet ons die verandering wees en leef wat ons in hierdie land so graag wil sien.
Redaksionele nota:
1 Die skrywer het, ná LitNet se versoek om die oorspronklike Facebook-plasing te publiseer, klein veranderinge aangebring.
Kommentaar
Suid-Afrika het 'n liberale Grondwet Francois. Die premis van die klassieke liberalisme is dat mense verskillend is. Hulle dink verskillend. Hulle tree verskillend op. Dis alles hulle goeie reg. Daar sal altyd mense wees wat laertrek. Ek is self nie lief vir die laer nie. Maar jy gaan nie die laertrekkers oortuig deur vir hulle te preek nie.
Wys eerder vir mense dat Suid-Afrika kan werk. Op die oomblik werk die land nie so lekker soos aanvanklik die geval was nie. Jy probeer 'n middelgrond vind deur toe te gee dat SEB faal. Wie gaan die beleid verander? Die DA? Die politici? Die RNE? Ramaphosa? Daar is mense wat na ander alternatiewe soek. Hulle gee nie meer om wat die 400 LP's aanvang nie.
Ten opsigte van Afrikaans. Die patroon is dat tale wat politieke mag verloor, sterf eventueel. Afrikaans is sterwend. Dit gaan nie oornag uitsterf nie. Ons kan ons taal nog lank geniet.
Ek voel nie veel vir my etniese agtergrond nie. Maar wat beteken "Suid-Afrikaner"? Dit beteken net so min as "Afrikaner". Suid-Afrikaner is maar net 'n noodsaaklike euwel.
Smaakmakend