
Foto: Ivan Samkov op Pexels
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Sedert 1933 is dit tradisie dat die nuwe Amerikaanse president ’n diens in die Washington Nasionale Katedraal bywoon. Hierdie diens word gesamentlik aangebied deur al die hoofgeloofsgroepe, en die Episkopale biskop in wie se geestelike “huis” die diens gehou word, is die gasheer of gasvrou.
So was dit die afgelope amper ’n eeu, en so was dit weer op 21 Januarie 2025. Twee weke vroeër, op 9 Januarie 2025, is president Jimmy Carter vanuit die katedraal begrawe. Teenwoordig was al die lewende presidente van Amerika: Bush, Clinton, Obama, Biden en Trump. Die biskoppe van Washington Nasionale Katedraal is gewoond daaraan om politieke swaargewigte in hul kerk te hê. Sedert 18 Julie 2011 is Mariann Edgar Budde daardie biskop. Dit beteken dat sy vir Obama se tweede presidensie, Trump se eerste presidensie en Biden se enkele presidensie die tradisionele dienste in die katedraal gelei het. So ook op 21 Januarie 2025.
Ek het president Carter se diens op YouTube gevolg. Die kerk het die gewone gebrandskilderde glasvensters, die altaar, die optog met die stukke wat uit die Bybel gelees word terwyl die kis na vore geneem word. Behalwe die militêre teenwoordigheid en die presidente was daar geen wesenlike verskil tussen die diens wat Jimmy Carter gekry het en die een wat my ma gekry het nie. In die Anglikaanse tradisie word almal dieselfde behandel.
Daarom kan ek my indink dat die dele van die kerk wat nie op televisie vertoon is nie, baie dieselfde sou wees as dié in die kerke waaraan ek gewoond is. Iewers sal daar ’n kennisgewing wees dat almal welkom is – ook die vlugtelinge, die MIV-positiewes, die armes. In die Washington-katedraal se geval is daar op hul webwerf aanduidings dat almal welkom is, alhoewel hulle nie in besonderhede ingaan op wie die “almal” is nie.
Vorige jare het niemand regtig kennis geneem van wie die diens om die nuwe president te verwelkom, lei nie. Dis “business as usual”, en die meeste mense het nie regtig erg aan wat hulle beskou as die verveligheid van kerk nie. Wie wil nou deur eindelose gebede sit, en boonop is dit nie net Christelike gebede nie. Die Mormone, die Hindoes, die Sikhs, die Boeddhiste, die Moslems en die Jode neem almal deel. Die doel van die diens is om eenheid te simboliseer – die verkiesing is verby, en nou kan almal aangaan met hul lewe. En wat is meer simbolies as om al die gelowe saam te sien aanbid?
........
Saam met empatie is daar die konsep van genade. Wanneer Mariann Budde dus vir Donald Trump vra om genade te hê met die vlugtelinge, met die gays, met die trans mense, is haar versoek en haar gebed heeltemal belyn met die beginsels van die Christelike geloof wat sy aanhang.
........
Tussen verskillende gelowe is daar gewoonlik heelwat verskille: wie die Redder is, hoe mense tot redding kom, wat gebeur na die dood, en so meer. Maar een aspek waaroor al die gelowe dit eens is, is die beginsel dat elke gelowige na sy of haar naaste moet omsien. Anders gestel, daar is ’n verwagting dat gelowiges, maak nie saak wat hulle geloof is nie, empatie sal hê met ander. Daar is ’n verwagting dat gelowiges hulleself in die skoene sal sit van dié wat anders as hulle is, en dat hulle hulle naaste sal liefhê.
Saam met empatie is daar die konsep van genade. Wanneer Mariann Budde dus vir Donald Trump vra om genade te hê met die vlugtelinge, met die gays, met die trans mense, is haar versoek en haar gebed heeltemal belyn met die beginsels van die Christelike geloof wat sy aanhang. Dis ook heeltemal belyn met wat haar Joodse, Moslem-, Sikh-, Boeddhistiese en Mormoonse medegelowiges glo. Wanneer sy praat van die migrante wat nou bang is, dan is sy besig om haarself in hulle skoene te plaas, om empatie met hulle te toon.
Sy vra nie vir Trump om enigiets te doen wat sy nie bereid is om self te doen nie. Blykbaar het sy, toe sy uitvind dat Matthew Shephard se as nie ’n permanente rusplek het nie, sy ouers genooi om sy as by die katedraal te begrawe, saam met dié van Helen Keller en Woodrow Wilson. Sy ouers het op daardie stadium sy as vir 20 jaar by hulle gehou uit vrees vir grafskending. (The Laramie Project, my eerste kennismaking met Matthew Shephard se verhaal, bly steeds van die mees aangrypende en ontstellende beeldmateriaal wat ek ooit aanskou het.)
En is dit onredelik dat sy die man wat net die vorige dag met sy inhuldiging nog gesê het die Here het hom bewaar, vra om dieselfde waardes te openbaar? Ek dink nie so nie.
Tog is die reaksie op haar baie waardige versoek heeltemal buite verhouding tot wat sy gevra het. Sommige Republikeinse politici het selfs gesê sy moet gedeporteer word. Waarheen is onseker, want sy is ’n gebore wit Amerikaner.
In een geval is mense wat vir die biskop briewe van ondersteuning wou stuur, gevra om poskaarte te stuur, want daar bestaan vrese dat gifstowwe in briewe versteek kan word, soos destyds met die antraksvrese.
Ben Garrett, dekaan by die Refuge-kerk in Ogden in Utah, ’n kerk wat terloops vere voel vir vlugtelinge, hulle naam ten spyt, het selfs sy gemeentelede gewaarsku teen wat hy “the sin of empathy” noem. Wat? Hierdie leraar glo dat dit sonde is om empatie te toon. Hy gaan verder en noem biskop Budde ’n slang, ’n beeld wat in die Christen-geskiedenis altyd met die duiwel en die bose verbind word.
........
Is empatie ’n sonde? Nie in enige weergawe van die Bybel wat ek ken nie. Om die waarheid te sê, Jesus predik empatie in sy gelykenisse, in die Bergpredikasie, selfs sterwend aan die kruis toe hy sy ma jammer gekry het en gesorg het dat sy dissipel na haar omsien. Hy waarsku ook dat die koms van die Antichris voorafgegaan sal word deur vals profete wat die Skrif verdraai en Christene van die waarheid sal weglei as hulle kan.
........
Aanvanklik het ek gedink hierdie is ’n enkele geval van ’n pastoor wat met ’n verkeerde lering besig is. Toe ek egter die term google, kom ek agter dat die term reeds so lank gelede as 2019 in preke en godsdienstige tekste gebruik is. Dalk is dit selfs vroeër gebruik.
Is ons dan verbaas dat soveel sogenaamde Christene hulle verlekker in die lot van armes en vlugtelinge en kinders en ander wat onderdruk word? Hulle is in preke en gesprekke oortuig dat om empatie te hê, om jammerhartig te wees, sonde is en nie ’n Christelike waarde nie. Hulle is vir ten minste die afgelope vyf jaar, dalk selfs langer, voorberei om uiterste wreedheid te aanskou en te absorbeer as deel van hulle Christelike waardes. Hulle ken waarskynlik nie die Bybel nie, want hulle word met die lepel Skriftekste ingegee.
Is empatie ’n sonde? Nie in enige weergawe van die Bybel wat ek ken nie. Om die waarheid te sê, Jesus predik empatie in sy gelykenisse, in die Bergpredikasie, selfs sterwend aan die kruis toe hy sy ma jammer gekry het en gesorg het dat sy dissipel na haar omsien. Hy waarsku ook dat die koms van die vals messias voorafgegaan sal word deur vals profete wat die Skrif verdraai en Christene van die waarheid sal weglei as hulle kan.
Daar is niks bekend oor die ander geloofleiers wat by die byeenkoms gepraat het nie. Kan dit wees dat biskop Budde die enigste een was wat dapper genoeg was om, soos die Engelse frase lui, “to speak truth to power”?
Was daar maar meer soos sy.
Kommentaar
Soos altyd - Goed gestel, Bettina!
Waar ek vandaan kom, sou so gesaambiddery met Moslems, Boeddhiste en enige ander geloof, volkome verraad gewees het. Dit sou so goed wees as wat jy self die spykers in Jesus se vlees ingeslaan het om hom te kruisig. Gaywees was natuurlik ook sonde daai jare, uiteraard. Maar by die lees van die artikel vandag, in 2025, is my enigste gedagte wat vassteek, wat verander al die godsdienstigheid enige iets? Iewers langs die pad toe kry ons sosiale media, en die verskynsel van deugpronkery neem ongekende grade aan. Selfs in dourie jare al, het my pa soms gesê iemand 'veins'. Dit was wanneer iemand vir die show godsdienstig is. Mense veins tog so graag vandag nog op sosiale netwerke. Hulle post bybelversies. Praat oor die Here. Dis 'n kompetisie. My latere afskeid van godsdiens was nie lekker nie. Dit het baie van my verhoudige verwoes. Maar vandag kan ek deur die hele godsdiens ding sien. Mense se godsdienste het weinig tot geen invloed op hulle karakters nie. Jy kry eerlike en oneerlike Christene, Jode, Moslems, ateiste, ens. ens. ens.
Geloof in 'n god of die afwesigheid van geloof se niks van iemand se karakter nie.
Amen, suster!
Philop48
24/01/2025 19:24
Volle ondersteuning vir hierdie biskop Mariann Budde. Net omdat TRUMP en MUSK gelaai is met geld, beteken dit nie dat hulle so minagtend moet wees en dink almal moet hul leiding volg nie! Geld is geen bewys van intelligensie van die hart nie; iets wat veral die verregses moet onthou.
TROEF en MUSK moet nie net soos bloedsuiers optree nie!
.
Harry Potter
24/01/2025 17:06
Hierdie biskop is deel van die wakker links. Gelukkig word gespesifiseer dat dit 'n vrou is.
.
anoniem 108986
24/01/2025 09:53
Trump moet haar genadig wees, sy weet nie wat sy sê nie.
ReplyReport
Navalny
23/01/2025 20:52
En dan is dit nie asof Trump godsdiens oormatig gebruik vir politieke doeleindes nie, nè! LOL
Aldus vier kommentare op die berig hieroor in LE FIGARO.
.
Die Republikeine in Amerika voel verskriklik bedreigd. Ek weet net dat hier by my is daar ook baie bedelaars en parkslapers, maar ons kry hulle net jammer en gee 'n ou ietsie kossies geldjies as ons kan. Daar is ook so baie gay mense, die hele omvang, onder ons swart broers en susters. Ek weet nie hoekom die Republikeine daar so wil baklei nie. In so wonderlike land soos Amerika.
.
My swaer, 'n Dopper-predikant, voel Trump is sy man. My swaer het nog nooit 'n boek van letterkundige waarde gelees nie. Ek het vir hom gesê dis tyd dat hulle begin jammer sê. Hy dink my brille op my kop is daar oor ek hou daarvan om dinge op plafonne te lees. Ek lag maar altyd vir sy simpel grappies. Die arme drommel staan ook al met sy een rumatiekbeen in die graf waar hy dan ook maar tot sy einde sal kom.
.
Ek verstaan maar ook nie dat sommige Christene, eintlik so baie, so vieslik kan wees teenoor ander mense nie. My een sus se opmerkings het my al amper 'n hartaanval gegee. Ek dus lesbies, met seksuele skade uit die kinderjare, en hoogs verlief op 'n vrou. Ek sweer ek het amper een enorme koronêr gestrike. By die pad af gehol NEVER TO RETURN.
Die Bybel blaas misdaad aan. Bloed! Bloed! Maak dood! Maak dood!
Hik.
Ek sweer hulle dryf my na drank.
Beste is om maar te ignoreer in die werklike lewe. Die lewe is werklik te kort. Veral myne met my vreeslike siektes. Ons mooi mense is inderwaarheid te mooi mense, so hierdie is nou die laaste wat ek van al hierdie haat ... wil ... maar dankie aan LitNet, want ek sou nou nie van hierdie wonderlike biskop eers geweet het nie, ek volg nie nuus nie, want oor my toestande. Maar ek is baie verheug oor mense soos hierdie wonderlike biskop van die Episkopale.
Ek weet nou nie of my landlady weet eks gay nie. Sy weet ek glo nie terwyl sy 'n hele huiskerk aan die gang het, maar ek het maar gesê, "As long as it give you comfort old Baguette." Toe hou sy op om vir my te preek. Ek kan dit nie mooi ... o, sy is 'n brugbouer, want ja, hier bly baie vrouens met seksuele skade uit die kinderjare. Soos baie gays en dan word mens net verder verwerp en geskop.
.
Die massas migrante is wel 'n wesenlike probleem in ontwikkelde lande. EN ja, party is regtig skuim. Dit dan oor dit. So daarvandaan daais.
.
Die eighties het gaywees skade aangedoen met Vigs. Al die rondseksery soos ek nou weer van gelees het in Die derde spoel. Die Christene hou ook nie van die Pride-optogte met al die goetertjies matoetertjies nie.
.
EK het egter lekker Pride gestap met my kinders. Hondjies en als en ek het die mooiste lady ever gesien. Transgender vroux. Ek het soos 'n bosolifant teenoor haar gevoel.
.
Ai. Hierdie Trump is hardvogtig. Dit is so verskriklik sy reaksie op hierdie vrou se praatjie. Werklik net so verskriklik.