Wat sê Bettina? Empatie en die kerk

  • 2

Prent van kerk: Pixabay

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.

Die posisie van aartsbiskop van Canterbury word binne die Anglikaanse tradisie simbolies gesien as ’n posisie wat dieselfde tipe rol vervul as dié van die pous in die Rooms-Katolieke Kerk. Vra enige teoloog wat die Instrumente van Eenheid binne die Anglikaanse gemeenskap wêreldwyd is, en die aartsbiskop van Canterbury gaan eerste wees.

Tweede is die Lambeth-konferensie, ’n byeenkoms elke tien jaar wanneer al die biskoppe dwarsoor die wêreld in Lambeth bymekaarkom om die stand van die Anglikaanse Eenheid te bespreek.

Die derde gaan afhang van watter tipe Anglikaan jy is. Sommiges sal sê die Book of Common Prayer, wat tydens dienste gebruik word en wat  maak dat ’n Anglikaan van Suid-Afrika ewe gemaklik tuis voel in ’n kerk in Engeland of Amerika as in Japan of Rusland. Ander sal sê nee, dis die nagmaal.

Punt is, wanneer daar ’n krisis in die Anglikaanse gemeenskap is, word daar na Canterbury gekyk vir leiding. Maar wat gebeur as Canterbury deel van die krisis is, soos wat hierdie week gebeur het?

..........
Punt is, wanneer daar ’n krisis in die Anglikaanse gemeenskap is, word daar na Canterbury gekyk vir leiding. Maar wat gebeur as Canterbury deel van die krisis is, soos wat hierdie week gebeur het?
...........

Op 12 November het Justin Welby, die 105de aartsbiskop van Canterbury, aangedui dat hy as aartsbiskop bedank. Dis die eerste keer in die geskiedenis van die kerk dat ’n aartsbiskop van Canterbury bedank sedert 597 nC toe sint Augustinus die eerste aartsbiskop van Canterbury geword het. Die rede vir Welby se bedanking? ’n Verslag waarin sy hantering van ’n seksskandaal gekritiseer is.

Die onafhanklike Makin-verslag het bevind dat die aartsbiskop sedert 2013, toe hy bewus gemaak is van die regsgeleerde John Smyth se vergrype tydens christelike kampe, nie genoeg gedoen het om slagoffers te beskerm nie. Smyth is gevra om Engeland te verlaat, wat hy gedoen het. Hy is van daar na Zimbabwe, waar hy voortgegaan het met sy aktiwiteite, tot hy ook daar uit die land geskop is. Niemand het die Zimbabwiese kerk gewaarsku dat hy kinders misbruik nie. Van Zimbabwe het hy Suid-Afrika toe gekom, waar hy rustig in Kaapstad sy aktiwiteite voortgesit het.

Aartsbiskop Thabo Makgoba en die destydse biskop van Tafelbaai, Garth Counsell, is wel gewaarsku, maar hulle het ook niks gedoen om Smyth weg te hou van kinders nie. (Hou die toekomstige verloop van sake dop: Dis net ’n kwessie van tyd voordat ook hulle gevra sal word om antwoorde te verskaf omdat hulle niks gedoen het nie.)

Maar Welby as die hoof van die kerk was in die posisie om iets te doen. Hy kon Smyth verbied het om aan gemeenskapsaktiwiteite deel te neem; hy kon hom intern gedissiplineer het; of hy kon polisie toe gegaan het. Hy het nie. Meer as dit: Hy het dit onmoontlik gemaak vir enigiemand anders om Smyth te keer. As die hoof van die kerk wêreldwyd niks doen nie, na wie gaan jy? Daar is niemand hoër as hy in die kerkhiërargie nie.

Een van die beweringe wat gemaak is, was dat Smyth die kinders sou slaan dat die bloed loop en hulle permanente letsels oorgehou het van sy aanrandings. Hulle moes kaal met hom stort; hy het seksuele praatjies met hulle in hierdie kaal sessies aangeknoop; en veel meer. Welby het nie gedink dis iets wat sy aandag of ingryping verg nie.

Toe die verslag bekend gemaak word, het hy dadelik verskoning gevra, maar ook gesê hy gaan nie bedank nie. Dit was olie op die vuur. Aktiviste het protes aangeteken. ’n Petisie met meer as 11 000 handtekeninge wat sy bedanking eis, het soveel aandag op die verslag gevestig dat hy nie anders kon as om onder die druk te swig nie. Op 12 November het hy aangedui dat hy bedank, nadat hy met koning Charles, die seremoniële hoof van die kerk, vergader het. Hy het beklemtoon dat hy eers in 2013 bewus geword het van die bewerings.

Maar is dit waar? Smyth het in die 1970’s en 1980’s as senior lid van die Iwerne Trust gereeld kampe met skoolkinders gehou, en dis by hierdie kampe dat die mishandeling plaasgevind het. Welby was tussen 1975 en 1978 by dieselfde kampe werksaam vir die Iwerne Trust. Hy was dus teenwoordig in dieselfde kampe oor dieselfde tydperk as Smyth. Is dit moontlik dat hy salig onbewus was dat kinders in die slaapsale waar hy moes toesig hou, aangerand word tot hulle bloei?

Maar goed, kom ons veronderstel dat hy blind, doof en stom was en van niks geweet het nie. Sedert 2013 het hy egter wel geweet. Hy het niks gedoen nie. Hy het nie enige slagoffers te woord gestaan of hulle probeer help nie.

Ten beste dui dit op ’n algehele gebrek aan empatie met slagoffers wat diep seergemaak is, nie net deur hulle misbruiker nie, maar deur die kerk wat vir jare die vergrype toegesmeer het.

...........
Is ons verbaas dat kerke in Engeland leegloop? Nie wanneer sulke  nuus, wat lank algemeen bekend was, rugbaar word nie.
En Suid-Afrika? Dit klink nie asof slagoffers hier veel meer empatie ontvang het nie.
.............

Is ons verbaas dat kerke in Engeland leegloop? Nie wanneer sulke  nuus, wat lank algemeen bekend was, rugbaar word nie.

En Suid-Afrika? Dit klink nie asof slagoffers hier veel meer empatie ontvang het nie.

Aktiviste eis dat meer koppe moet rol, want Welby was nie die enigste een wat die misbruike toegesmeer het nie. Al sy helpers, en almal oor die kontinente heen wat nie die kinders beskerm het nie, moet bedank.

Wat sê Mattheus 18:6? “Maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.”

Sela.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Die Kolisi-egskeiding: Roem is die derde party

  • 2

Kommentaar

  • Ek het 'n ondersoek gedoen in 'n kinderhuis vir 'n jaar. Wat daar gevind is, kan nie hier getik word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top