
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
“Confession is good for the soul,” so lui die gesegde. Ek het dus geen ander keuse as om hierdie meningstuk met ’n paar belydenisse af te skop nie.
Nee, liewe leser, dis nie Siya of Rachel wat bely nie, dis ek, so bedaar nou eers.
Belydenis 1: Ek het nie veel erg aan rugby nie.
Belydenis 2: Ek het nie Siya se Rise gelees nie, en ek beplan ook nie om dit binnekort (of ooit) te lees nie. Die rede: Sien belydenis 1.
Belydenis 3: Tot betreklik onlangs het ek nie geweet wie Rachel Kolisi is nie. Ek onthou dat ek ’n ruk gelede, seker so twee, drie jaar gelede, op my FB-blad gevra het wie sy is. Mense het gedink ek is snarky. Ek was nie; ek het eerlikwaar nie geweet nie.
Belydenis 4: Ek het nie enige kommintaar oor die egskeiding gelees nie. (Ja, ek weet hoe die woord veronderstel is om gespel te word; ek lewer kommentaar op die gehalte van die terugvoer wat sommige lesers gee.)
Dis altyd jammer wanneer ’n huwelik tot ’n einde kom. Niemand trou tog en belowe “Till death do us part” met die gedagte dat alles agt jaar later in trane sal eindig nie. ’n Feit wat soos ’n paal bo water staan, is dat daar heelwat trane gestort was voor die besluit geneem is dat dit beter is om die huwelik van life support af te haal.
Dis altyd jammer wanneer daar kinders betrokke is wanneer ’n huwelik verbrokkel, maar ons moenie vergeet hoe veerkragtig kinders is nie. Wat is beter vir hulle: twee huise waar hulle geliefd is, en waar hulle die voordeel sien van wat gebeur as een of albei ouers hulle boundaries behou en met ’n mate van respek wegstap van ’n verhouding wat nie meer werk nie, of ’n huis waar die ouers mekaar stadigaan vernietig terwyl hulle die beste voetjie in die openbaar voorsit en die perfekte skynhuwelik aan die gang hou? Ek dink dis baie beter vir die kinders dat hulle ouers maar eerder uitmekaar gaan as wat hulle in ’n toksiese huis grootword.
Maak dit saak wie se skuld die verbrokkeling van die huwelik is? Ek dink nie so nie. Natuurlik is die hele Suid-Afrika nou amateurspeurders en boekresensente (dis nou een plek waar ek met vrymoedigheid die woord “snotjantieties” sal gebruik) wat Rise fynkam vir leidrade. Dis soos die Bybel. Elke persoon sal iewers in die boek iets vind wat hulle standpunt bevestig.
.........
Watter jongmense kan onder die gewig van verwagtinge leef dat hulle eiehandig ’n land se geskiedenis moet verander?
.........
Ek kan net simpatie uitspreek met enige persoon wat so in die openbare oog hulle pyn en hartseer en verdriet moet probeer verwerk. Roem is ’n wispelturige minnares. Die een oomblik is jy die leier wat die Wêreldrugbybeker verower het; die volgende word jy uitgemaak as ’n rokjagter met drankprobleme. Of jou vrou is die een wat nie genoeg gedoen het om jou by die huis gelukkig te hou nie.
Die Kolisi-verbrokkeling is vir baie mense ook simbolies van iets groter. Die Kolisi’s was die verpersoonliking van die rainbow nation. Kyk daar, wit en swart kan saamleef. Maar wat beteken dit vir ons land se harmonie as die Kolisi’s dan nie eens met mekaar oor die weg kan kom nie. Wat is daai liedjie? “Ebony and ivory, living in perfect harmony, side by side on my piano keyboard, oh lord, why can’t we?” Watter jongmense kan onder die gewig van verwagtinge leef dat hulle eiehandig ’n land se geskiedenis moet verander?
Ek wil ’n radikale stelling maak, en dit gaan die rassiste ontstel: Ras het niks te make met die Kolisi’s se egskeiding nie, net soos wat ras nie relevant was by Joost en Amore s’n nie. Maar ons lewe in ’n samelewing waar roem en rykdom beteken dat glanspersoonlikhede die geleentheid gegee word om allerhande dinge aan te vang wat gewone mense nie doen nie, en dit word oor die hoof gesien of aktief verberg. Solank as wat Siya wedstryde wen, maak die res nie saak nie.
Toe Ray McCauley en sy vrou Lindie destyds geskei het, het lede van sy kerk, mense wat hulleself diep gelowige Christene noem, haar glo so geïntimideer en gedreig dat sy uiteindelik die land moes verlaat. Haar beroemde man kon niks verkeerd doen in sy gemeente se oë nie.
.........
Mense is teleurgesteld oor die Kolisi’s se skeiding asof hulle ’n persoonlike belang daarby het. Hier is die ding: Twee dinge kan gelyktydig waar wees.
........
Mense is teleurgesteld oor die Kolisi’s se skeiding asof hulle ’n persoonlike belang daarby het. Hier is die ding: Twee dinge kan gelyktydig waar wees. Siya Kolisi kan ’n uitstekende rugbyspeler wees en terselfdertyd ’n man op die rand van ’n egskeiding. Dit beteken nie dat hy voete van klei het nie. Dit beteken net dat hy ’n gewone mens is. Dis ons wat hierdie glanspersoonlikhede op troontjies sit en dan wil ineenstort wanneer hulle nie gode is nie, maar gewone, feilbare mense.
Die ding is, as iemand genoeg kere hoor hoe wonderlik hy is, dan glo hy dit self later. As genoeg vroue hulleself aan sy voete neergooi, net om te kan sê hulle het met hom gescore, ongeag of hy die tipe persoon is met wie hulle andersins in gewone omstandighede selfs ’n gesprek sou voer, dan kom daar ’n dag dat hy die geleentheid sou kon aangryp. En as genoeg mense om hom dit toesmeer, dan gaan dit weer en weer gebeur.
Onthou toe Elton Jantjies die affair gehad het met die dieetkundige? Dis nie net sport en godsdiens waar dit gebeur nie. Roem het vele voordele, en minstens een daarvan vir beroemde mans is dat hulle vrye toegang het tot baie dinge wat hulle nie behoort te hê nie.
Maak nie saak watter beweringe in die toekoms in die media gemaak gaan word nie, die ware derde party in die verbrokkeling van die Kolisi’s se huwelik is roem.
Lees ook:
Siya Kolisi – against all odds: an interview with Jeremy Daniel
The wonderful corniness of the Springboks: South African softness at its best


Kommentaar
Ek dink nes jy. En ek het geen begeerte om beroemd te wees nie.
Ek het Rise gelees. Dis nice. Vertel nie alles nie, maar het dit geniet.
Ek wil vir my 'n All Black-rugbytrui koop. Professionele rugby het nie 'n siel nie. Dis soos 'n Spur-restaurant. Die All Blacks speel ten minste mooi rugby. En die helfte van die Springbokke se supporters is bly dat hulle eie kaptein gaan skei van sy vrou. Want ja, Suid-Afrika is vrot van die rassiste wat hulle in so iets verlekker.
En ja, ek het die kommentare gelees.
Ek het nogal weer gedink jy hou seker van rugby, veral na ek jou boek GRIETJIE SE LOUTERING gelees het. Daarin speel rugby nogal 'n groot rol.