Die krag van een

  • 3

As Bryce Courtenay ooit ’n model vir sy boek The power of one buite homself en sy eie lewe wou soek, sou Rassie Erasmus se lewe ’n goeie riglyn kon lewer.

Eendag was daar ’n man.

Hy was ’n bietjie soos ’n monster, hierdie man. Hy’t 15 koppe gehad, of meestal meer, tot so veel as 23.

En dan nog twee.

Die laaste twee het soos satelliete om die veelkopmonster gewentel. Hulle was van ’n ander planeet af. Hul koms is lank gelede in ’n boek getiteld Chariots of the gods? deur Erich von Däniken voorspel.

Die Duitse titel van die boek was Erinnerungen an die Zukunft – Herinneringe aan die toekoms.

Die herinneringe begin in 1921. ’n Suid-Afrikaanse troep van sowat 30, bekend as die Springbokke, reis na Australië en Nieu-Seeland. Op die spel is ’n informele titel. Die wenners sou as die wêreld se beste rugbyspan beskou word.

*

Daar’s uiteraard ’n aanloop.

Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) is in 1891 gestig, ’n jaar voor Nieu-Seeland se Rugbyvoetbal-unie (NSRVU).

Dis die eerste “Syfer Een” wat van belang geword het tussen twee lande wat oor die daaropvolgende 130 jaar nes magtige tektoniese plate na mekaar sou skuif, op pad na die soort konfrontasie waaruit die planeet se hoogste bergspitse verrys – of die beste rugby, soos Hansie Brewis se drie in 1949 op Ellis Park toe hy soos ’n mes deur botter vanaf Nieu-Seeland se kwartlyn tussen vyf All Blacks sou deurnael.

Dit was pragtig om te aanskou. So ook die Bokke se reeksoorwinning van 4-0.

Minder mooi was dat die NSRVU genoop gevoel het om minstens drie Maori-spelers wat ongetwyfeld die 1949-span sou gehaal het, weens Suid-Afrika se rassesieninge by die huis te los.

*

Reeds in 1884 speel die eerste Maori’s vir Nieu-Seeland. Ná die stigting van die NSRVU in 1892 word Tom Ellison, ’n Maori, kaptein van die span.

Inderdaad is dit Ellison wat voorstel dat die nasionale spankleure hoofsaaklik swart met ’n silwer varing moet wees.

In die jare daarna het dosyne Maori’s die Land van die Lang Wit Wolk verteenwoordig. In die tweestryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland raak hulle ongelukkig ook politieke pionne.

Onmin het van meet af uitgebreek, sommer op die eerste Springboktoer van 1921 met die Bokke se wedstryd in Napier teen ’n Maori-span. Ná die gashere se befaamde haka het ’n groep vroue ’n poi-dans uitgevoer, waarop sommige Bokke hul rug op die meisies gedraai het.

Die Maori’s was geaffronteer.

In sy wedstrydverslag beweer ’n Durbanse joernalis, Charles Blackett, per kabelgram dat die Suid-Afrikaners geskok was oor die Maori’s se oorrobuuste spel, asook die luidkeelse ondersteuning wat die tuisspan uit die geledere van Nieu-Seelanders met dieselfde velkleur as die Bokke geniet het.

Volgens Blackett sou die spanbestuurder, Harold Bennett, daarop aandring dat geen Maori ooit vir ’n Nieu-Seelandse toerspan na Suid-Afrika oorweeg moet word nie.

Bennett het homself en sy span van die kabelgram gedistansieer, maar die duiwel was los. In sy vaarweltoespraak aan die Bokke het die Nieu-Seelandse eerste minister, Gordon Coates, dit duidelik gemaak “dat die Maori en die Pākeha één in Nieu-Seeland is”. Pākeha is die Maori-woord vir Europeërs.

Coates het ook die hoop uitgespreek “dat die besoekers dit nou verstaan”.

*

Presies 60 jaar later speel die Bokke in nog ’n omstrede Maori-wedstryd op Napier. ’n Colin Beck-skepskop trek die eindtelling gelyk op 12–12, maar dié in lyn met die bal se vlug was van mening dat die Springbok se skepskop mis was.

Beck se skepskop was die tweede twyfelagtige een in vyf jaar wat in Suid-Afrika se guns beslis is. In 1976 het skeidsregter Gert Bezuidenhout Dawie Snyman se linkervoetskepskop in die Nuwelandse toets geregmerk, terwyl die bal volgens baie eintlik regs van die pale verbygeseil het.

Ander klagtes was oor Bezuidenhout se beweerde onbereidwilligheid om ongeoorloofde en vuil Springbokspel te straf.

Van skewe skepskoppe tot die beheer van skoorsoek- en skolliespel was skeidsregters nog altyd, en op alle vlakke van feitlik alle sportsoorte, ’n faktor – soos in 1981 se laaste toets in die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland op Auckland se Eden Park.

Nes ses dekades vantevore het die Bokke die reeks met ’n nederlaag afgeskop (9–14) voordat die tweede toets oortuigend beklink is (24–12).

Die derde was gelykop (22–22).

Maar wag, het hier iewers ’n skeidsregterfoutjie ingesluip?

Inderdaad. Want aan die einde van die beslissende toets het die Wallieser Clive Norling die Bokke kis geblaas totdat ’n strafskop deur heelagter Alan Hewson in die negende minuut van beseringstyd ’n gelykoptelling van 22–22 na 25–22 vir die tuisspan gepromoveer het.

Met die eindfluitjie het Norling hoër as die seëvierende All Blacks gespring.

*

Ná een van die mees omstrede toetsreekse in sportgeskiedenis het die Springbokke beter verdien as om die reeks te verloor.

Wedstryd ná wedstryd is deur betogings onderbreek. Mense het op velde gestorm. Polisieknuppels het geswaai. Doringdraadversperrings is opgerig. By sommige van die velde waarop hulle die volgende dag moes speel, het die Bokke in die paviljoene se kleedkamers en muurbalbane oornag.

Meelbomme is ook uit vliegtuie gegooi.

In die derde toets word een van die All Black-stutte, Gary Knight, deur so ’n bom neergevel, en heel ironies eintlik, want vyf jaar later tydens die Nieu-Seelanders se “rebelle”- of “Kavaliers”-toer na Suid-Afrika het Knight nogmaals harpuis geruik toe hy in Gert Smal se gebalde vuis sou vasloop.

Ek is seker Gert het nie bedoel om Gary te pos nie. Ek is seker dat ’n volmaakte reguit regter per ongeluk uit Gert se skouer gelanseer is toe hy homself uit die stoeierige Gary se greep wou losruk.

In ieder geval het Knight soos ’n os geval.

En so gepraat: Die dolosse is gegooi. Ons rugby is vol osse en kwaggas en mowwe en ongediertes. Mof Myburgh. Beast Mtawarira. Os du Randt. Ox Nché. Kwagga Smith.

Soms word ons rugbyspan juis beskryf as osse wat aanstap deur die stowwe, met die wa wat stuiwend en stampend agterna kom.

Maar op sy pad het daai wa al vier Wêreldbekers opgelaai.

Dis een meer as die All Blacks, in twee minder toernooie.

*

Ons daag as wêreldkampioene in Frankryk op, maar die skares kies teen ons kant.

Ek verstaan dit nie. Presies 30 jaar gelede het vriend Ed sy motor onwetend in die middel van Frankryk met diesel gevul, pleks van petrol. Nie lank nie, of die Golf ruk – ná donker – tot stilstand.

Uiteinde van die saak is dat Ed en sy beterhelf in die motor moes oornag, terwyl ek en my beterhelf omtrent drie kilometer na die naaste dorp sou voetslaan.

Skuins voor middernag klop en klop en klop ons aan ’n herberg se voordeur. Uiteindelik vlieg ’n solderkamervenster oop.

“Fermé!” skree die herbergier, duidelik de dinges in. En die volgende oomblik verskyn drie poelieskarre uit die niet om die indringers te onderskep.

Ons verduidelik en ’n liggie gaan aan: “Aaa, Afrique du Sud! Les Springboks!”

Die poelieste neem ons vir laatnag-koffie-en-beskuit na die brandweerstasie. Ons praat rugby: Benoît Dauga, die Spanghero-broers, die Camberabero’s, Jo Maso, Pierre Villeneuve, Jean-Pierre Rives, Philippe Sella, Roger Bourgarel, Serge Blanco ... die lys gaan aan.

’n Huurmotor word gereël om ons twee dorpe verder te neem, waar die herbergier met toebroodjies en ’n nagkamer wag.

Vriend Miggie (van “Michael” afgelei en beslis nie van “muggie” nie) beleef iets soortgelyks. Saam met vroulief stap hy verby ’n Paryse drankwinkel waar ’n soetwyntjie vir die aand wink. Die man daarbinne beduie dat sy boetiek reeds gesluit is, maar hy stap tog nader om kop by die deur uit te steek.

Miggie verduidelik. ’n Lig gaan aan. “Aaa, Afrique du Sud! Les Springboks! Entrez!”

En daar hou die drie tot middernag partytjie.

’n Kantkiesery (ja, dáái woord!) op Stade de France kan ek dus verstaan as Les Bleus speel. Maar Bok teen All Black of Bok teen Rooi Roos?

Komaan, baie van ons krygers is tog afstammelinge van die Franse Hugenote. En waar tydens Suid-Afrika se halfeind teen die Bleektruie was die berugte renons wat die Galliërs in die Engelse vang?

Of onthou die Franse skare dalk nog Frik se kort Nuwelandse regter wat Dauga in 1967 gedek het? Was hulle só suur omdat die Hane se stertvere vanjaar in die kwarteind gepluk is? Of is dit omdat Stade de France se Asterix-nasate revolusionêres is wat daarvan hou om konings en koninginne se koppe af te kap?

Ons wás per slot van rekening die heersende kampioen, dan nie? Die wêreld se rugbykoning.

Maar toe Danton, Marat en Robespierre ons die Hane. Met een punt.

Ditto die Wit- en die Swarttruie.

Een punt. Een punt. Een punt.

Maklik.

*

Die Franse was morrig oor daai punt. So ook die Engelse en die All Blacks.

Jip, die blasers. Dis ’n bekende verloorspanmantra.

Maar Nieu-Seeland moenie kla nie. Beauden Barrett het in die eindstryd gaan druk ná ’n duidelike vorentoe-aangee deur Mark Telea. As die Nieu-Seelanders 1981 se wedstryd op Napier dus as ’n 12–9-sege vir die Maori’s beskou, het Suid-Afrika vanjaar se Bekerstryd met 12–6 gewen.

Buitendien verdien ons dat die fluitjievoordeel vir ’n slag aan die groen-en-goue kant val, of hoe, Bongi? Vir lang tye ná Suid-Afrika se hertoetrede was daar ’n duidelike vooroordeel téén die Bokke.

Dalk het dit met ons kragdadige spel te make. Mense kry seer. Pieter-Steph en Eben se plettervatte op 28 Oktober 2023 het immers aan Corné Krige se bombardering van Christian Cullen in 2000 en Joggie Jansen s’n ’n halfeeu gelede op Wayne Cottrell herinner, om nie van Mannetjies Roux se 1962-tekkel op Richard Sharp te praat nie.

Ongelukkig spoel robuuste fisieke kontak dikwels tot ontoelaatbare geweld oor. Deesdae kan jy maklik vir ongeoorloofde spel in die geel tjoekie gaan sit, of selfs ’n rooietjie vir die res van die wedstryd inpalm, soos Sam Cane laas Sondag op potensieel die grootste dag van sy lewe uitgevind het.

Maar insidente soos Burger Geldenhuys se steelhou wat Andy Dalton met ’n dubbelgebreekte kakebeen uit 1986 se Kavaliers-toer sou haal, het die beeld van Suid-Afrikaanse rugby ewe veel skade aangedoen as die All Blacks se besluit om die oudbokser Kevin Skinner in 1956 tot die toetsspan te herroep met die uitsluitlike doel om hulle stutteenstanders Jaap Bekker en Chris Koch met die vuis te verniel.

*

So, ja. Hoe’t David Kramer nou weer in “Hak hom Blokkies” gesing? “Ons ouens was rof in die ou dae.”

Die soort rugby wat ons onder meer met Moaner van Heerden, Kevin de Klerk, “Bullet” Dalton, Bakkies “The Enforcer” en Mark Knopfler, oftewel Mark “Psycho” Andrews, gespeel het, was soms vriend-onvriendelik.

Clive Woodward en ander Bleektruie se beskuldiging is dat ons die gees van die spel verkrag (alhoewel Woodward nou vir Rassie as Engelse afrigter soek!).

Wêreldrugby wys nietemin hul afsydigheid jeens ons in die administrasie van die spel en die pryse wat (amper) tel. Tydens laas Sondag se jaarlikse Wêreldrugbytoekennings het Suid-Afrika niks gewen nie, nie speler of deurbraakspeler of afrigter of span van die jaar nie.

Net een Springbok – Eben – het die sogenaamde Span van die jaar gehaal.

Dis ’n belediging teenoor die wêreld se nommer 1-span.

Maar dis oukei. Die trofee wat wáárlik tel het op 31 Oktober 2023 veilig saam met vlug EK761 in Johannesburg geland.

*

Daar’s dalk ook ’n ander rede waarom wêreldrugby ons die rug toekeer.

Dis straks nog stuiptrekkings uit die dae toe internasionale rugby-indoenas hulle vererg het vir Johan Erasmus se kritiese 2021-skeidsregtervideo – die sogenaamde Rassie-kwessie.

Vergeet hulle dan van die rassekwessie wat so briljant deur Erasmus hanteer is?

Want pleks van lofliedere oor die geoliede Bokmasjien wat hy gebou het, plus toorwerk wat gereeld deur Cheslin, Canan, Kurt-Lee, Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am opgedis word, konsentreer kritici eerder op die monsteragtige fasette wat Suid-Afrikaanse rugby ten gronde lê.

Vanjaar se eindstryd as voorbeeld.

Dit was hard. Lelik. Rof. Onbeskof. Bars. Bruut.

Dit was die vleeslike weergawe van ’n kernoorlog. Lywe en durf en moed en vasbyt het teen die vagevuur baklei en daardeur gestoei. Ardie Savea en sy manne het ons probeer smesj en ons vir hulle.

Kragdadigheid is, op stuk van sake, ons vertrekpunt – die stampkarrugby wat met Japie Mulder en die manne begin is, plus golwe en golwe garryowens, up and unders waaronder geen normale verstandige mens sy lewe sal waag nie ...

Ons rugby boesem vrees in. Ons uitslae dwing respek af.

Maar die styl is ongewild.

En tog was dit apartheid wat die grootste meulsteen om ons nekke sou hang.

*

Apartheid was die rede vir 1968 se onstuimige Britse toer vol betogings teen die Bokke, vir die kansellasie van 1971 se Springbokkriekettoer na Australië, vir 1981 se meelbomme in Nieu-Seeland.

Apartheid was die rede dat die Bokke nie aan rugby se eerste twee Wêreldbekertoernooie in 1987 en 1991 mogge deelneem nie, anders het ons nou al ses keer die Webb Ellis gewen.

Meen te sê dat ons die koppie huis toe gebring het ’n skamele jaar nadat die ware Rubicon in 1994 oorgesteek is, onder meer met Chester Williams as een van ons agterlynsterre.

Voor Chessie was daar natuurlik ander, soos Erroll Tobias en ná hom grotes soos Bryan Habana, JP Pietersen, Breyton Paulse en Tendai “The Beast” Mtawarira. Saam met Chessie was ook die grootste Nr 6 nog in Nelson Mandela, gevolg deur die hedendaagse kader van rugbygenieë, met Chessie Nr 2 vooraan.

Verbeel jou om ’n verdoelskop af te storm. Wanneer laas het jy so iets gesien?

Dit aan die kredietkant.

Aan die debietkant was daar egter te veel spelers in die jare ná 1995 wat raskwotas moes volmaak, dermate dat die voormalige All Black-afrigter, Laurie Mains, in 2016 verklaar het dat die Bokke se dae as toppresteerders verby is, juis oor die kwotastelsel.

*

Mains se uitspraak was ’n jaar nadat die Bokke in 2015 se Wêreldbekertoernooi teen Japan verloor het. Ironies genoeg was dit onder meer omdat sekere spelers wat die span op meriete moes gehaal het – soos Cheslin Kolbe – by die huis gelaat is.

En dit ná ’n goeie klompie loesings in die voorafgaande paar jaar deur die All Blacks (57–0 in 2017; 57–15 in 2016; 41–13 in 2016; 29–15 in 2013; en 32–16 in 2012 in Soweto se Soccer City, nadat ons teen rustyd met 16–12 voor was).

Suid-Afrikaanse rugby was in ’n verknorsing. Vir ’n kortstondige oomblik het Johan Goosen op losskakel as ’n moontlike redder gelyk.

Maar toe verskyn ’n ander Johan op die toneel.

As SARU se nuut aangestelde direkteur van rugby in 2017 en ook as Springbok-afrigter in 2018–2019 het Rassie Erasmus die aangesig van die spel in Suid-Afrika verander, nie soseer met die sóórt rugby wat gespeel is nie, maar met die denke, patrone, gees, afrigting en breëre visie – die filosofie – agterom die spel.

Dié het ook ’n aanloop. Dis ’n bal wat al ’n kwarteeu vóór Rassie deur Francois Pienaar en Kitch Christie aan die rol gesit is.

Vergeet dus vir ’n wyle, as dit moontlik is, van Johan Erasmus se briljante statistiese ontledings en fenomenale insig (kom nou – ’n 7:1-reserwebank?!). Rassie was, en is – in die gees van Pienaar en Madiba se versoenende vriendskap – op pad om iets veel groters te vermag as om Wêreldbekers te wen.

Sy doel was nie net om ’n rugbyspan te vestig nie.

Sy doel was om ’n land en ’n nasie tot ’n span te help bou.

*

Dis hierdie visie wat sorg dat Rassie Erasmus so goed oor die kleurskeidslyn werk.

Reeds as seun in Despatch het hy ’n renons in apartheid ontwikkel, merendeels onder die invloed van sy menssensitiewe en rasverligte pa wat dompasse verag het. Grondverskuiwende werk kom dus al lank uit die Erasmus-verlede, onder meer met Rassie se Elite Player Development-program (EPD) wat behoeftige maar belowende onder-15’s identifiseer.

Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am was twee van hulle. En was daar al ooit in die geskiedenis van rugby ’n mooier aangee as die een van Am na Mapimpi in 2019 se Wêreldbekereindstryd in Japan?

Het jy voorts ook gedink dat Siya Kolisi se keuse as kaptein gedryf is deur die moontlikheid om munt uit Suid-Afrika se rassesituasie te slaan, moet jy verstaan dat Rassie op ’n ander ritme en golflengte werk.

“Siya se keuse was nie ’n politieke meesterskuif nie,” verduidelik hy. “Siya was eenvoudig net die beste ou om kaptein te word nadat my eerste keuse, Duane Vermeulen, nie beskikbaar was nie.”

Eerlik, onse Rassie-klong. Reguit. Regop. En meestal reg.

*

Die keuse van Siya as kaptein het Rassie ’n paar vriende gekos.

Maar dis nie die persoonlike wat vir hom tel nie. Dis die groter prentjie, die span, die nasie.

En siedaar! Skielik, sedert Erasmus se aanstelling as direkteur en afrigter van Suid-Afrikaanse rugby voor 2019 se Wêreldbekertoernooi, het ons nasionale sport ’n heel nuwe kleur gekry.

Skielik was die groen groener en die goud gouer. Skielik was daar hoop.

En skielik het die tuisekwivalent van wat in Nieu-Seeland as Maori en Pākeha bekend staan, op sovele fronte tot een saamgesmelt.

Wit, bruin en swart. Één.

Met die Boere se sport as katalisator. Hoe koel is dít?

“Dit gaan alles oor ons saamwees,” verklaar Rassie. “Om die beker te wen is fantasties, maar vir my is die mooiste ding dat ons ’n span gebou het, vol vertroue en wedersydse respek en ondersteuning vir mekaar, vir ons land.

“Dis wat die meeste tel.”

Dis hoekom Johan Erasmus reken dat sy grootste prestasie nie ’n Wêreldbekerwen was nie, maar om ’n EPD te vestig waaruit spelers ontwikkel kon word, onder meer om te verstaan dat dit ’n voorreg is om hul vlag te verteenwoordig.

Siya: “As mense uit verskillende agtergronde wys die Bokke dat dit moontlik is om saam te werk, nie net op die rugbyveld nie, maar ook in die daaglikse lewe.

“Ek hoop die span inspireer mense van alle stande om na hul drome te streef, want enigiets is moontlik.

“Dis ook ons hoop dat die transformasie in rugby ons land se sportvelde sal oorskry en deur die hele samelewing beslag sal kry.

“Hierdie sege was vir alle Suid-Afrikaners.”

*

Eendag was daar ’n span.

Hy was ’n bietjie soos ’n monster, hierdie span. Hy’t 15 koppe gehad, of meestal meer, tot so veel as 23, of eintlik 33.

En dan nog twee: Rassie s’n en Jacques Nienaber s’n.

Saam-saam het hulle almal soos een gewerk, by uitstek die twee satellietkoppe wat om die veelkopmonster gewentel het.

RassNaber was inderdaad, seg party, van ’n ander planeet af, van ’n boaardse plek waar hulle die toekoms uit herinneringe kon lees – Rassie met sy kleurblindheid, Jacques met sy oog vir rotsvaste verdedigingspatrone.

En tog is dit, sonder om iets van Nienas weg te vat, veilig om te sê dat die spil waarom Suid-Afrikaanse rugby oor die laaste ses jaar gedraai het, Rassie was. Hy’s die proton en die neutron van die Springbokbom. Selfs die Bomb Squad is net elektrone onder sy beheer.

As sodanig het Rassie Erasmus hom as die hedendaagse draer van Danie Craven se onsterflike titel gevestig. Hy is Suid-Afrika se nuwe Meneer Rugby.

Onder hom het ons hemel en aarde versit en in die proses sommer ook ’n hele klomp belangrike “ene” gevoeg by die een jaar wat ons rugby-unie ouer as Nieu-Seeland s’n is: een ekstra punt in vanjaar se eindstryd; een meer Webb Ellis-trofee; die eerste wat vier kon wen; en as die All Blacks ook al back-to-back bekerseges behaal het, was die Bokke een beter met Bok-to-Bok-bekers.

Wat alles op een enkele slotsom uitloop: Ons is nou één.

Die hoop is om verder hierop te bou.

Die hoop is ook dat Nieu-Seeland – en die res van die wêreld – dit nou verstaan.

Lees ook:

Rassie, stories oor rugby en die lewe deur Rassie Erasmus, saam met David O’Sullivan: ’n onderhoud

Wêreldrugbybeker, reklame en spel

  • 3

Kommentaar

  • Alles baie naïef. Die reënboognasieidee is mos nou al oor en oor bewys, die afgelope 30 jaar, dat dit wensdenkery is. Die lewe daar buite gaan oor baie meer as 'n rugbyspan. Gewettigde diskriminasie teen witmense gaan ongebreideld voort ongeag wat in sport gebeur. Mens moet realisties wees. Onthou, rubyspelers en administrateurs word hope geld betaal.

  • Ferdie Gerber

    Wat 'n pragtige en diep storie, briljant vertel! Soveel waarhede tussen al die toepaslike voorbeeld en historiese uittreksels spreek van insig, begrip en kundigheid, gekoppel aan vermoë om die hart van die storie oor te dra. Na die besoek van die Bokke aan ons dorpie gister, was my gevoel ook een van hoop vir ons landjie hier aan die suidpunt van Afrika - dieselfde hoop as wat Egmont so treffend en lewendig beskryf. Ja, soos Egmont sê die pad nie die beker was belangrik, maar meer van belang was die rol wat Rassie as die katalisator gespeel het om ons weer waardig te laat voel het as Suid Afrikaners! Vir ons, die geslag wat ons rugby geleer en waardeer het sedert die 1960’s het die stories wat aangehaal is in die berig diepgewortelde herinneringe laat herleef. Dit neem 'n meester om 'n besondere storie soos die te kon vertel! Briljant gedoen, Egmont! Briljant!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top