
Prent: Paolo Chieselli op Pixabay
..........
Groot opwinding heers oor die Wêreldbekertoernooi wat nou sy laaste fase betree. Dit belig, te midde van soveel plaaslike en internasionale probleme, weer eens die “aardigheid” van spel, om aan te sluit by Johann Huizinga se werk Homo Ludens (“die spelende wese”).
..............
Groot opwinding heers oor die Wêreldbekertoernooi wat nou sy laaste fase betree. Dit belig, te midde van soveel plaaslike en internasionale probleme, weer eens die “aardigheid” van spel, om aan te sluit by Johann Huizinga se werk Homo Ludens (“die spelende wese”). Dié aardigheid berus in die vermoë waaroor spel beskik om aan ons bestaan ’n supralogiese, oftewel ongedetermineerde karakter te gee. Wat afspeel tydens spel gaan teen die verloop van die normale gang van die werklikheid in, en kan daarom volgens Huizinga slegs deur die “instroom van gees” in die werklikheid verklaar word. Gees moet hier nie verstaan word as ’n abstrakte, suiwer bonatuurlike verskynsel nie, maar as dit wat by uitstek die sensoriese, eksterne werklikheid en vormgewende beginsels byeenbring, om by Friedrich Schiller aan te sluit. Anders as by die wetenskap word vorm en materie nie op ’n metodiese manier bymekaargebring met herhaalbare resultate nie, of by die ekonomie, waar onvoorspelbaarheid met reëlmaat en wette getemper word; tydens die handeling is die spelende wese vry en word die gevoel van vryheid bevorder. ’n “Vrye stemming” tree tussen vorm en materie by die mens in. Natuurlik is daar wetenskap in sport en ook spel in die wetenskap. Eksperimentering kan gesien word as spel, maar die doel bly steeds om herhaalbare resultate op te lewer. Spel bestaan ter wille van sigself, nie iets daarbuite nie. Om hierdie rede kan ons met reg die rol wat reklame speel in sport, wat toenemend wetenskaplik word, van nader bekyk.
Van meet af gee ons almal sekerlik toe dat moderne sport nie sonder borge en adverteerders naastenby die aftrek kan kry wat dit tans geniet nie. Grootliks te danke aan hierdie rolspelers kan sport beoefen word op die skaal wat tans die geval is. Die speelveld is bowendien nie ’n heilige ruimte wat gesuiwer moet bly nie, maar by uitstek ’n ruimte waarin verskillende rolspelers erkenning kry. Bemarking is deesdae ’n enorme bedryf, soveel dat NP Van Wyk Louw al in die vorige eeu verwys het na reklame as die belangrikste sosiale verskynsel van ons tyd. Hy het gesê bemarking beskik oor die vermoë om met siele soos sakkies suiker te werk. En dit is presies hier waar die probleem intree. Indien ons spel verstaan as die ruimte waarin vryheid gedy, en daar terselfdertyd so manipulerend bemark word, dan werk dit die positiewe effek van spel teen.
Met die huidige Wêreldbekertoernooi begin die lyne tot ’n problematiese mate vertroebel. Om twee voorbeelde te noem: Tydens halftyd word advertensies uitgesaai wat mens flous om te glo dit is ateljeegesprekke, en die ander kwessie is die truie wat meer aan maatskappye herinner as aan die tradisie waaraan die span gekoppel word. Eersgenoemde verskynsel staan bekend as “native advertising”, oftewel geborgde inhoud, waarin joernalistiek of meningsvorming en bemarking volledig oorvleuel. As sodanig is dit nie noodwendig verkeerd nie, maar oor die konteks waarin dit afspeel, kan mens sekerlik vrae vra. Die tweede aangeleentheid, van die truie wat die maatskappy se beeld bo die land of die span s’n verhef, dui op ’n dieperliggende kwessie, naamlik die poreuse staat.
Die tendens deesdae is om sterk klem te plaas op die tussenin ruimtes, die brûe tussen plekke, wat Breyten Breytenbach noem Middel-aarde. Hierdie ruimtes is belangrik vir die uitwisseling van meer as net goedere; dit is ontmoetingspunte, plekke van uitwisseling van idees en ook goedere. Die verabsolutering van die brug gee egter daartoe aanleiding dat die oorsprong, waar dinge oorbly wat nie na die brug gebring kan word nie, werklike andersheid, vergete raak. Juis in die oormatige verbruik, in die verorbering van die ander, verdwyn die ander. Ek gaan eet by ’n Griekse restaurant, maar ek wil niks hoor van Griekeland se beskerming van hulle grense nie. Insgelyks, soos Christopher Lasch [ter inligting!] in die laat ’70’s uitgewys het in sy werk The culture of narcissism, lei die gebrek aan begrensing en selfstandigheid tot ’n permanente behoefte aan bevestiging van ander, ’n bevestiging wat deur die handelsmerk verskaf word.
Tereg kan mens vra hoeveel sport deesdae werklike respek vir ander op gemeenskaplike terrein bevorder, en of dit eerder die handelsmerk ophemel waaraan die individu gekoppel word as verbruiker, waarin alle onderskeide opgehef word in ’n globale individualisme.
..........
Tereg kan mens vra hoeveel sport deesdae werklike respek vir ander op gemeenskaplike terrein bevorder, en of dit eerder die handelsmerk ophemel waaraan die individu gekoppel word as verbruiker, waarin alle onderskeide opgehef word in ’n globale individualisme.
.............
’n Spel het reëls en lyne waarbinne die deelnemers, deur oefening geslyp, hulle kan uitdruk. Die vryheid en die grense van die spel komplementeer mekaar dus, anders as die moderne opvatting van vryheid, wat juis grensloosheid as vernaamste kenmerk van vryheid eien. Verskillende stempartye in ’n koor speel en balanseer byvoorbeeld oor en weer binne die komposisie. ’n Sekere integriteit moet vir die spel geld. Hierdie integriteit perk nie in nie, dit is wat vryheid toelaat. Die woord integriteit stam van integer af, wat “intakt” beteken. Gesprek moet gevoer word oor die integriteit van en verhouding tussen die selfstandige ruimtes, tussen die wetenskap, politiek, die mark, die kerk, die land, die gemeenskap, die self, en ook die ruimte van spel.
- Hercules Boshoff is ’n dosent in filosofie, Akademia
Lees ook:
"Ons een-punt-oorwinnings is ’n straf én ’n seën," vertel Hendrik Hancke, skrywer van Onkant!
Rassie, stories oor rugby en die lewe deur Rassie Erasmus, saam met David O’Sullivan: ’n onderhoud


Kommentaar
Hercules, baie dankie vir jou insigryke essay. Jy het jou gedagtes helder verwoord. Advertensies kan op winsbejag gerig wees en die vryheid van die mens ondermyn. 'n Brug gee toegang tot ander ruimtes. Ruimtes mag nie vir eie gewin misbruik word nie.
Dit is so.
Vryheid en verbeelding gaan ook vir my saam en ek kan dink: kreatiwiteit in die spel, dan gegrond op die tegniek en ervaring van die spelers en dan verder as dit in die reklame. Ja oral is oorbrugging.
"Die spelende wese" druk dit mooi uit en dit is ook die brug tussen sport en kuns.
Spelende wesens.
Mense oor die algemeen het 'n behoefte aan 'n gesamentlike identiteit, dit is ook 'n rede vir die spel, maar alleenlopers en kunstenaars, soos ek, is geneig om meer en meer na individualiteit te wil beweeg.
Einstein het blykbaar gesê dat verbeelding groter is as kennis, maar in 'n artikel wat ek gelees het, is dit so uitgedruk dat hy bedoel het: "In order for your imagination to take you to worthwhile places, you need that sturdy foundation of knowledge to build it upon. Otherwise, your intellectual flights of fancy might lead you to fantastical places, but any relationship to the real world that we actually inhabit will be purely coincidental in nature."
Dit is ook wat ek altyd ervaar het. Ja, ek het 'n groot verbeelding, maar ek kan en kon altyd 'n duidelike lyn trek tussen die verbeelde en die werklike.
Wat die spel van rugby betref: Hier is baie goed in diepte, filosofies ontleed. Mense oor die algemeen het behoefte daaraan. Die vryheid met kreatiwiteit en ook tegniek en reëls.
Fran Lebowitz het in 'n Netflix-dokumentêr "Pretend it's a City" in 'n onderhoud gesê: "I hate sport. Hate it."
Ek hou altyd baie van die meeste van haar opmerkings. Ek het ook al gedink dalk haat ek sport, maar dankie tog daarvoor. Die mense geniet dit vreeslik en dis goed.
Ek het gedink die wêreldbeker was al verby en ons het gewen. So dankie vir hierdie skrywe en, ja, ek kan nou sien die spelers moet kreatiwiteit, verbeelding en vryheid binne die vorm van die spel toon en uitvoer.
https://bigthink.com/starts-with-a-bang/einstein-famous-quote-misunderstood/?fbclid=IwAR3rRIEJI_F9aibg17m8hkLjQ3ebav41Mjo5r_3m-yF1DwvasrPpusKkE78