
Onkant! ’n Rugbyliefdesverhaal deur Hendrik Hancke (Jonathan Ball Publishers, 2023)
Onkant! ’n Rugbyliefdesverhaal deur joernalis en skrywer Hendrik Hancke, ook bekend onder die digternaam Kabous Verwoed, het kort voor die Wêreldrugbybekertoernooi vanjaar verskyn. In dié boek versamel Hancke stories uit 14 onderhoude met spelers van regoor die land en oor die generasies heen – van Frik du Preez tot Eben Etzebeth – asook afrigters en ’n rugbyjoernalis.
Jannike Bergh het met Hendrik Hancke gesels oor die stand van sake in die aanloop tot die Wêreldrugbybeker-eindstryd, waarin Suid-Afrika op 28 Oktober die titel teen Nieu-Seeland gaan verdedig.
Hallo, Hendrik. Suid-Afrikaners is baie lief vir rugby, maar ons is nie almal kenners nie en baie van ons het eers in onlangse jare regtig begin kyk – juis as gevolg van hierdie besonderse span. Hierdie vrae is dus vir dié van ons wat probeer inhaal.
By die boekbekendstelling in Stellenbosch het jy voorspel dat die Springbokke die beker weer huis toe gaan bring. Maar het die Wêreldbeker tot dusver verloop soos wat jy verwag het?
Sover was dit meestal soos verwag. Argentinië wat dit tot in die halfeindstryd teen Nieu-Seeland gemaak het, was seker die grootste verrassing van die toernooi.
Ons is uiteraard benoud dat die wedstryd teen Nieu-Seeland ook enige kant toe kan hop. Hoe moet ’n mens die een-punt-oorwinnings lees (ter sielkundige voorbereiding vir die finaal)?
Die halfeindronde verlede Saterdag [teen Engeland] was ’n yslike stryd vir die Bokke. Die Kiwi’s is ernstig op vorm en ’n leeftyd verwyderd van die span wat in die opwarmingswedstryd op Twickenham op hulle herrie gekry het teen ons. Ons twee een-punt-oorwinnings is ’n straf én ’n seën; ons span het die regte temperament om uitkloprugby te speel en daardie ervaring kan goud werd wees teen ’n span wat ’n baie makliker halfeind gespeel het die afgelope naweek. Maar daar sal beslis ’n hele klomp seer lywe in die Bokke se kleedkamer wees. Die vraag is net of ons in een week genoegsaam kan herstel.
........
Ons twee een-punt-oorwinnings is ’n straf én ’n seën; ons span het die regte temperament om uitkloprugby te speel en daardie ervaring kan goud werd wees teen ’n span wat ’n baie makliker halfeind gespeel het die afgelope naweek.
........
Dit wil voorkom of die Noordelike Halfrond fyngevoelig is oor die Springbokke se spel en oorwinnings. In Suid-Afrika maak die span ons bewoë van al die trots – dit is inderdaad vir Suid-Afrikaners ’n liefdesverhaal. Waarom is daar tog hierdie vyandigheid teenoor die Springbokke elders in die wêreld?
Suid-Afrikaanse ondersteuners is baie passievol, soms dalk té passievol. Ons is ook nie bang om daardie passie te verbaliseer nie. Soms kan daardie praatjies sout in rou wonde vryf. Ons speel ook ’n ander soort rugby as die meeste, met Rassie en Nienaber wat soos skaakmeesters elke tree bedink en heroorweeg.
Kan Engeland (en Frankryk) se negatiewe aanmerkings teenoor die Springbokspan ons momentum stuit?
Nee wat. Ons spelers steur hulle nie daaraan nie.
Of die Springbokke die beker nou huis toe bring of nie, hoe lyk Suid-Afrikaanse rugby vorentoe?
Die spel is kerngesond in Suid-Afrika. Die afgelope twee jaar het die Stormers al twee keer in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap in Europa gespeel. Ons het genoeg spelers om drie spanne vol te maak wat hulle rugby in die buiteland speel. Vandaar die ongelooflike diepte wat die afrigters het om uit te kies.
........
Die spel is kerngesond in Suid-Afrika.
.......
Ek glo ons het nog nie die heel beste van die Bokke by die Wêreldbeker gesien nie. Hopelik gebeur dit Saterdag. Ek sit my denkbeeldige geldjie op die Bokke met drie punte vir Saterdag.
Boekbesonderhede:
Onkant! ’n Rugbyliefdesverhaal
Hendrik Hancke
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers (2023)
ISBN: 9781776192649
Lees ook:
Rassie, stories oor rugby en die lewe deur Rassie Erasmus, saam met David O’Sullivan: ’n onderhoud

