
Boekomslag: Pan Macmillan; foto van rugbyskoene: Lesley op Pixabay; grafiese voorstelling van rugbyveld: OpenClip-Vectors op Pixabay
Rassie, stories oor rugby en die lewe
Rassie Erasmus, saam met David O’Sullivan (in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs)
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781770108721
Jaco Jacobs waag voorspellings voor die Wêreldbeker-eindstryd Saterdag. En hy praat met Naomi Meyer oor die Pan Macmillan-boek van Rassie Erasmus, Stories of life and rugby, wat hy as Stories oor rugby en die lewe in Afrikaans vertaal het.
Jaco, voordat ek wegspring met my vrae oor die boek: Gaan die Springbokke eerskomende Saterdag die Wêreldbeker met een punt wen?
............
Nee, hulle gaan dit met meer as een punt wen.
..............
Nee, hulle gaan dit met meer as een punt wen. Hulle móét net, want met die afgelope Saterdag se halfeindstryd het ek ’n paar ongewenste woorde tot my arme kinders (wat lank verby hul gewone slaaptyd wakker gebly het om saam te kyk) se woordeskat toegevoeg. Ek hoop vir die soort eindstryd waaroor die koerante agterna kan berig sonder om woorde soos "naels kou", "riller" of "broekskeur" te gebruik.
Ek wil jou vandag oor ’n rugbyboek vra, want jy het die outobiografie van Rassie Erasmus vir Pan Macmillan vertaal. Jy is baie lief vir hardloop en draf. Mens kan jou as ’n marathonspesialis beskryf. Is jy ook ’n kundige op die gebied van rugby? Het jy in die eerste span op skool gespeel?
Enige iemand wat saam met my op skool was, sal baie hard lag as hulle hierdie vraag moet sien. Ek het suksesvol daarin geslaag om my hele skoolloopbaan lank omtrent nie een keer aan ’n rugbybal te raak nie, afgesien van die kere toe ek, teen wil en dank, raakrugby in die LO-periode moes speel. (En dan my bes gedoen het om so min as moontlik die bal in die hande te kry.) Ek was in ’n klein Karooskooltjie en ek was redelik vinnig op die atletiekbaan, so almal wou hê ek moes rugby speel, maar ek het om een of ander rede die eerste paar oefeninge as pienkvoet in sub A misgeloop, en daarom het ek geen benul gehad wat om te doen nie – en toe was dit reeds te laat om te leer – of so het dit vir my gevoel. Ek was ’n tipiese bleeksielboekwurm wat glad nie in sport belang gestel het nie – wat eintlik vreemd was, want my pa het op skool goed rugby gespeel en is ’n groot rugbyaanhanger.
Ek onthou in standerd 9 het ons skoolhoof op ’n dag van die verhoog af verkondig: "Ek verwag van elke seun in hierdie skool om rugby te speel!" Nou op hoërskool het ek ’n lekker rebelse tienerstreep gehad, so ná daardie saalperiode gaan vra ek toe my registeronderwyser om asseblief die res van die personeel in te lig dat ek weens my toekomstige verpligtinge op die rugbyveld noodgedwonge moet onttrek aan die eisteddfod, die twee dramakompetisies, die wiskunde-, Afrikaans- en Engels-olimpiades, die debat, die paar redenaarskompetisies waarvoor ek reeds ingeskryf was, en die jaarlikse skryfkompetisies. Ná pouse het die registeronnie kom rapporteer die algemene gevoel in die personeelkamer was dat die rugbyspan liefs sonder my talent sal klaarkom.
’n Oom het laas week in die tou by Clicks na my bene gekyk en gevra: "Het jy skrumskakel gespeel?" Ek het maar net verleë kopgeskud en liefs nie erken dat ek nie eens mooi weet wat ’n skrumskakel nou eintlik veronderstel is om te doen nie. "Wel, ek sou jou ’n skrumskakel gemaak het," het die oom my meegedeel.
So, dalk het ek my roeping gemis.
Nou hoe het die proses van die vertaling van die boek gewerk? Nie dat jy sukkel met taal nie. Dis immers die boustene van vertaling, eerder as net die vakgebied waaroor dit handel. Vertel asseblief hoe jy meer te wete gekom het van rugby om die boek te kon vertaal.
Die sperdatum om die Afrikaanse vertaling af te handel was rof. Ek het net ’n raps meer as ’n maand gehad om 116 000 woorde te vertaal. Ek het my pa en van my vriende vooraf ingelig dat hulle op bystand moet wees as ek vashaak met rugbyterme en -beskrywings, soos daardie “phone a friend”-lewenslyn in Who wants to be a millionaire?. Sommer gou het ek besef dit gaan nie veel help nie – van die terme is bloot te tegnies en selfs groot rugbyaanhangers ken nie die Afrikaans daarvoor nie. Een oggend terwyl ek douvoordag gym toe draf, het ek ’n oomblik van inspirasie gehad. Ek is jare lank al Facebook-vriende met Francois Griebenow – ek weet hy is ’n gesoute vertaler en ek het uit sy inskrywings op sosiale media afgelei hy is ’n groot rugbygeesdriftige. Daardie selfde dag nog het ek Francois gekontak en gevra hoe goed sy rugbykennis is. Net daar vind ek toe uit hy was saam met Rassie op skool, het saam met hom rugby gespeel, en het selfs op Rassie se troue gesing! Francois het my bas gered.
...........
Ek is jare lank al Facebook-vriende met Francois Griebenow – ek weet hy is ’n gesoute vertaler en ek het uit sy inskrywings op sosiale media afgelei hy is ’n groot rugbygeesdriftige. Daardie selfde dag nog het ek Francois gekontak en gevra hoe goed sy rugbykennis is. Net daar vind ek toe uit hy was saam met Rassie op skool, het saam met hom rugby gespeel, en het selfs op Rassie se troue gesing! Francois het my bas gered.
..............
Hy het baie van die spelbeskrywings vertaal (en dit briljant gedoen), van my blapse reggemaak, en selfs hier en daar gesien as iets soos ’n onderwyser se van in die oorspronklike Engelse manuskrip verkeerd was.
Was daar enigiets wat vir jou interessant was terwyl jy die boek vertaal het – iets van die boek se inhoud, of dinge wat jy in die proses geleer het (nie noodwendig van die rugby self nie)? Wat kan mense wat die boek koop, verwag om hierin te lees?
............
Dit is regtig ’n lekker boek om te lees. Ek het op ’n dag vir my pa gesê: "Die rede waarom ek nie juis rugby kyk nie, is dat daar nie ’n storielyn is nie." Toe antwoord hy: "Dis omdat jy nie die karakters ken nie." Met die vertaling van hierdie boek voel dit of ek ’n hele klomp van die karakters leer ken het.
...............
Dit is regtig ’n lekker boek om te lees. Ek het op ’n dag vir my pa gesê: "Die rede waarom ek nie juis rugby kyk nie, is dat daar nie ’n storielyn is nie." Toe antwoord hy: "Dis omdat jy nie die karakters ken nie." Met die vertaling van hierdie boek voel dit of ek ’n hele klomp van die karakters leer ken het. En met dié Wêreldbekertoernooi was ek vir die eerste keer vasgenael voor die kassie. Veral die hoofstukke oor Rassie se grootwordjare was vir my heerlik om te lees.
Wat is volgende – gaan jy sport oor die radio begin uitsaai? Jy beskik beslis nou oor die vakterminologie. En nou toe, as jy dit nie as loopbaanskuif oorweeg nie, vertel asseblief vir ons lesers van enige ander skryfprojekte of boeke waarmee jy besig is, of wat pas afgehandel is.
Kyk, een ding kan ek jou waarborg: As ek sport begin uitsaai, gaan mense beslis luister – om al die verkeerde redes! Ek is pas klaar gelees aan die bladproewe van my nuwe boek met kinderrympies wat binnekort verskyn. Die titel is Dit is nie ’n boek nie en dit bevat 366 rympies – een vir elke liewe dag van die jaar. Dit is so verskriklik belangrik dat kinders rympies moet lees, en met hierdie boek wil ek vir ouers ’n hulpmiddel gee wat hulle kan help om een keer per dag, al is dit net vir ’n minuut of twee lank, ’n oomblik saam met ’n kind te spandeer om pret te hê met taal en ritme en rym.


Kommentaar
Vroeg gedrop uit die O13-eerstes, ewetydig my vermoëns aanvaar en geleer om mens te bly en te weet ander ouens is beter. Bly steeds mal oor rugby