Rise deur Siya Kolisi en Boris Starling: ’n lesersindruk

  • 1

https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780008431341

Rise
Siya Kolisi with Boris Starling
NB-Uitgewers
ISBN: 9780008431341

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Wat is sport sonder die stories wat ons daaroor vertel? Die herinneringe. Die vriendskappe. Ek is seker die meeste mense kan stories oor sporttoere vertel. Die keer toe jy so siek geraak het op die skoolbus. Die keer toe die slot oorgeduik het vir ’n drie, maar toe is dit heeltyd die kwartlyn en nie die doellyn nie. Die kuiers voor, tydens en na die wedstryde. Die helde. Die wenners en die verloorders. En so aan, en so meer. En dit is des te meer die geval waar dit kom by die Springbokke, wie se lot so intens verweef is met dié van die land se mense en politiek. Baie onthou nog die stories van Frik du Preez en Mannetjies Roux. En Errol Tobias. Die 1981-toer na Nieu-Seeland. Naas Botha en Joost van der Westhuizen. Die wêreldbekers van 1995 en 2007. Nelson Mandela in daai nommer 6-trui, nes die kaptein, Francois Pienaar. Baie jare later sou daar ’n ander held op die toneel verskyn. Ook met die nommer 6 op sy rug. En sy storie is net so merkwaardig, dalk selfs meer …

Rise is nie ’n outobiografie van Siya Kolisi (1991–), die Springbokke se eerste swart kaptein nie, hoewel hy heelwat biografiese inligting daarin verskaf. Dit word eerder as ’n memoir beskryf. Die boek se publikasie is voorafgegaan deur ’n onsmaaklike relletjie, toe ’n ander boek tydens 2019 oor Kolisi verskyn het (Siya Kolisi: Against all odds, Jeremy Daniel, Jonathan Ball) en daar ’n woordewisseling in die media gevolg het. Kolisi se verhaal is een wat met goeie rede die verbeelding aangryp, en mens kan verwag dat daar sekerlik nog boeke gaan volg. Dit lyk waarskynlik dat Kolisi in 2023 die Springbokke weer sal aanvoer by die volgende wêreldbekertoernooi, mits hy nie weer deur beserings geteister word nie, iets waarmee hy dikwels gesukkel het in die verlede. Sy loopbaan is dus nog ver van verby. Daar kan nog baie hoofstukke ontvou. Wie weet wat by die 2023-Wêreldbeker kan gebeur?

............
Dit is hierdie deel van Kolisi se storie wat die verbeelding van menige mens aangryp. Die manier waarop Kolisi daarin kon slaag om bo swaar omstandighede uit te styg en nie net ’n Springbok te word nie, nie net die kaptein van die Springbokke nie, maar ook die gesogte William Webb Ellis-trofee omhoog te kon hou, dit is wat sy verhaal so merkwaardig maak.
...............

Die boek het sekere basiese fokuspunte. Daar is Kolisi se jeug in die township Zwide. Dit is hierdie deel van Kolisi se storie wat die verbeelding van menige mens aangryp. Die manier waarop Kolisi daarin kon slaag om bo swaar omstandighede uit te styg en nie net ’n Springbok te word nie, nie net die kaptein van die Springbokke nie, maar ook die gesogte William Webb Ellis-trofee omhoog te kon hou, dit is wat sy verhaal so merkwaardig maak. Maar Kolisi is ietwat krities oor ’n oordadige verromantisering van sy verlede. Daar is niks romanties aan armoede nie. Sy storie behoort eerder as ’n aanklag te dien, want dit is die storie van so baie mense se swaarkry. Die ongelykhede in Suid-Afrika is welbekend, en dit is ’n reuse-ongeregtigheid dat soveel mense, veral jongmense, in armoede en hongersnood leef wat hulle van regverdige kanse beroof. Nietemin vertel Kolisi die verhaal van hoe hy raakgesien is as speler, sy skuif na Hoërskool Grey in Port Elizabeth (vandag Gqeberha) deur middel van ’n beurs, en hoe hy later sy borg persoonlik ontmoet en hulle vriende geword het.

Benewens die verhaal van Kolisi se ontwikkeling as speler bou die boek dan ook logies op na die 2019-Wêreldbeker, waaroor daar in besonderhede geskryf word. Kolisi sou aanvanklik ’n Cheetah word, maar het uiteindelik by die Westelike Provinsie beland, die unie waarmee hy ’n besondere pad gestap het. Hy vertel van sy huwelik en gesinslewe, en sy stryd teen alkohol en pornografie, en die boek bevat ook heelwat besonderhede oor Kolisi se Christelike lewensoortuiging. Daar word deurlopend ook oor sosiale ongeregtighede geskryf, soos gendergebaseerde geweld en armoede en ongelykheid, en Kolisi besin ook oor sy toekoms. Uiteraard word daar ook heelwat geskryf oor verskeie medespelers en spesifiek ook die rol van die Springbokke se inspirerende afrigter, Johan (Rassie) Erasmus (ook op sy dag ’n nommer 6 van die Bokke). Ook die toer teen die Britse en Ierse Leeus word in die boek gedokumenteer.

Ek moet bieg dat die professionele era van rugby op die lange duur ietwat skade gedoen het aan my entoesiasme – nie teenoor rugby self nie, maar teenoor die hele sisteem van sport. Daar bestaan goeie en geldige kritiek teen die internasionale sportsisteem, veral die Olimpiese Spele. Geld is vandag deurslaggewend in sport en daar was ’n tyd, wat baie mense nog in herinnering kan roep, toe oorwinnings sport nie so in totaliteit oordonder het nie. Daar was ’n tyd, amper ondenkbaar vandag, toe daar nie so iets soos wêreldbekers bestaan het nie. Toe die Springbokke lang toere onderneem het wat nie eens altyd op televisie uitgesaai was nie. Die uitslae het maar so saam met die koerant gekom. Daardie romantiek van die amateur-era is vir goed verby. Tog het die 2019-Springbokke, presies net soos die legendariese 1995- en 2007-spanne, die nasionale storie van Suid-Afrika hulle eie storie gemaak en dit as inspirasie op die veld gebruik, en so die verbeelding aangegryp, nie net plaaslik nie, maar internasionaal. Dit was skynbaar veral Erasmus wat die sielkunde daaragter op besonderse wyse ontsluit het. Die hele storie van Kolisi en die Springbokke se 2019-glorie word dus goed gedokumenteer in Rise, en die boek is ook om die ander redes soos hier bo uiteengesit ’n interessante leeservaring, hoewel ten opsigte van Kolisi se loopbaan onvolledig. Hierdie soort boeke word seker ook maar strategies gepubliseer om verkope te bevorder. Dieselfde is waar van die boek oor Beast Mtawarira, wat gepubliseer is voordat die einste 2019-Wêreldbeker gewen is en waarin een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan dus ontbreek. As daar gewag word tot die einde van spelers se loopbane vir groter volledigheid, dan is die momentum van verkope dalk daarmee heen, en is dit dalk “ou nuus” vir te veel lesers en potensiële kopers.

..........
Die laaste woord oor hierdie inspirerende en legendariese rugbyheld is Rise egter nog lank nie. Alle rugby-oë sal spoedig wees op die 2023-Wêreldbeker, wat beloof om ’n verwoede stryd af te gee.
...............

Die laaste woord oor hierdie inspirerende en legendariese rugbyheld is Rise egter nog lank nie. Alle rugby-oë sal spoedig wees op die 2023-Wêreldbeker, wat beloof om ’n verwoede stryd af te gee.

 

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    En dit was, dit was toe 'n verwoede stryd. En Kolisi was daar en hy en sy span het hulleself bewys as die mees suksesvolle span ooit in Wêreldbekerrugby. Welverdiend!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top