Sport fassineer my.
Of dalk moet ek eerder sê: Om sporttoeskouers dop te hou fassineer my.
Hierdie afgelope naweek het ek vir die eerste keer in jare ’n rugbywedstryd gekyk, die een tussen die Springbokke en die All Blacks. Teen halfvyf was die dorp waar ek bly se strate grafstil. Op ons eie rugbyveld was daar ’n wedstryd tussen plaaslike spanne aan die gang, en die stadion was volgepak. Ek het nie nodig gehad om te sién wat daar gebeur nie – elke kreun of oorwinningskreet het deur die skare getrek asof hulle een lewende organisme is en nie ’n paar honderd individue nie. Maar die res van die dorp het reeds stelling ingeneem voor hulle televisies vir die wedstryd tussen die Bokke en die All Blacks. Ek weet sommige van die toeskouers op ons rugbyveld kon ook nie wag vir die eindfluitjie om te blaas sodat hulle kan huis toe gaan en die laaste deel van die wedstryd op TV volg nie. Die Spar het emmers met klaar gespeseryde hoender te koop vir die braai; die biltonghangrak was dolleeg; en die drankwinkels se bier het min gelyk in vergelyking met ander naweke.
Nou gaan ek na die Elgin Railway Mark om pizza of gebraaide rib en chips te koop. Dis net te veel moeite om nog vuur aan te steek en ek is nie juis die brannas-en-Coke-rondom-’n-vuur-tipe nie. Al die eetplekke is reeds toe, maar rondom die verhoog waar daar gewoonlik musiek gemaak word, is die sitplekke volgepak met mense wat stip na die reuse skerm kyk waar onderhoude voor die wedstryd gevoer word. Maar hier is die ding: Die meeste van die toeskouers het hulle Springboktruie aan om hul ondersteuning te wys, maar daar is ook ’n paar locals in All Black-truie!
.........
Voor 1994 was dit niks vreemd om te sien hoedat bruin en swart Suid-Afrikaners die All Blacks ondersteun nie. Enige span wat die Bokke kon looi, was outomaties ons helde, en ek sluit myself daarby in, alhoewel ek nie eintlik rugby gevolg het nie.
........
Voor 1994 was dit niks vreemd om te sien hoedat bruin en swart Suid-Afrikaners die All Blacks ondersteun nie. Enige span wat die Bokke kon looi, was outomaties ons helde, en ek sluit myself daarby in, alhoewel ek nie eintlik rugby gevolg het nie. Maar sedert daardie dae het die Springbokspan verander en meer inklusief geword. Waar Errol Tobias die anomalie was, is daar nou hope bruin en swart spelers wat die groen-en-goud dra. Ons kaptein, Siya Kolisi, is gewild en bemind waar hy gaan. Hoekom dan nog steeds vashou daaraan om ’n span te ondersteun met wie ons eintlik niks gemeen het nie, en ons eie span die rug toekeer?
Ek vermoed, maar kan natuurlik nooit seker wees nie, dat ten minste ’n deel van die hardkoppige vashou aan die tradisie om teen die Springbokke te juig kom uit ’n posisie waar mense nog steeds gemarginaliseerd voel in ons samelewing. Baie mense, veral bruin mense, voel dat daar steeds teen hulle gediskrimineer word en dat BEE nou teen hulle werk in die teenoorgestelde rigting. Reg of verkeerd, mense se gevoel van ontheemdheid is vir hulle geldig.
........
Daar is iets helend omtrent die kohesie wat ’n sportspan bring.
........
My eie reaksie tydens die wedstryd het my verras. Die ongelooflike sportmanskap, die spangees, die manier hoedat albei spanne alles gegee het vir hul span, het my mateloos beïndruk. Ek het saam met die spelers naels gebyt en op die randjie van my sitplek gesit. Ek het saam geskrum wanneer hulle skrum, saam gespring met elke lynstaan, vies geraak wanneer die bal nie altyd strategies weggeskop word nie, en asem opgehou wanneer spelers val en so half op hulle nekke beland. En elke keer wanneer drie, vier spelers op mekaar val het ek altyd jammer gekry vir die ou wat onder lê – maak nie saak hoe wedstrydfiks jy is nie, om al daai lywe bo-op jou te voel val kan nie lekker wees nie.
Maar ek het weer besef: Daar is iets omtrent sport wat toeskouers saambind in ’n gemeenskaplike aktiwiteit op ’n manier wat bitter min ander dinge dit doen. Daar is iets helend omtrent die kohesie wat ’n sportspan bring.
Ons het dit nodig as ’n land, en wie weet, dalk het ons ook Suid-Afrikaanse All Black- ondersteuners nodig. Ons het al hoeveel keer bewys dat ons deur verskille en geskille kan werk as ’n nasie, en dat ons diversiteit in ons RNS ingebou het.
Intussen kan ek net sê viva Bokke viva, viva Siya viva! Ons weet inderdaad wat hulle nie weet nie.
Lees ook:
The wonderful corniness of the Springboks: South African softness at its best
"Ons een-punt-oorwinnings is ’n straf én ’n seën," vertel Hendrik Hancke, skrywer van Onkant!
Kommentaar
Dis vir my vermaak. Niks meer. Niks minder. Daar is 'n hele spul van die rugbyondersteuners wat baie onverdraagsaam is teen die Suid-Afrikaanse All Black supporters. En wat maak dit tog saak wie mens support? Dis professionele sport. Die gebrand van All Black truie is vir my te erg. Maar nou ja elkeen moet maar maak soos hy of sy smaak. More draai die wiel, dan wen die All Blacks weer. Iets wat ek die naweek gesien het, 'n couple, man en vrou. Die vrou met haar All Black hempie, die man met sy Springbok hempie, loop hulle hand om die lyf in die winkelsentrum. Dit was vir my mooi.
Oppas! Hierdie tipe opwellinge is ook bekend as 90-minuut-euforia.
Oh dear. Daai groen kleur pas net nie my veltipe nie. Ek soek 'n wit en blou span om te ondersteun.