Wat sê Bettina? Oor erfenis

  • 2

Foto: Pexels

Ek het ’n broertjie dood aan die Erfenisdagvieringe by baie werksplekke waar van mense verwag word om in kulturele drag te kom werk. Die konsep self is lieflik, maar feitlik onvermydelik is daar altyd mense wat in ander kulture se kleredrag opdaag.

Dan word dit ’n kostuumpartytjie. Gooi ’n braai in met kerriewors, noem dit Braaidag en siedaar, Erfenisdag is nog ’n dag waar ons met mekaar bots. Dalk is dit ons erfenis, die gedurige struweling, misverstande en onderdrukkings wat Mzansi kenmerk.

Maar ek vind al meer dat ek wonder oor my erfenis as bruin mens. Onlangs is ek weer herinner aan die persoon wat besluit het om haar bruin kultuur uit te beeld deur met ’n huiswerkersuniform en kopdoek werk toe te gaan tydens die Erfenisdagvieringe. Hoe selfveragtend moet mens wees om dit te doen?

Ek sien ook soms uitbeeldings van Kaapse Klopse, of mense wat rieldans doen. Is dit bruin erfenis? Ek dink nie so nie. Dis dalk aspekte van ons kreatiewe uitdrukking, maar dis beslis nie universele kultuur onder bruin mense nie. En die hooftooisels gemaak van springbokvel wat ek al meer by sekere tipe vergaderings opmerk, is dit ook nie. Bruin mense het nie ’n kulturele drag eie aan ons nie, dink ek. Daarvoor is ons te deeglik gekoloniseer. Daarvoor is ons te deeglik gekreoliseer.

Soms dink ek bruin kultuur is soos Frankenstein se monster, saamgeflans uit ditjies en datjies van verskillende kulture en groepe, en dit vul my met wanhoop. Watter kultuur het bruin mense op die Kaapse Vlakte gemeen met bruin mense in die Noord-Kaap? Selfs die taal wat ons praat, verskil so dat ons mekaar soms kwalik verstaan.

Maar dan kom ek by ’n begrafnis, en maak nie saak waar ek is nie, die gebruike is bekend. Ons hou dalk nie meer waakdiens soos eers nie, maar die manier hoedat ons die oorledene eer, die manier hoedat ons die familie bystaan, die manier hoedat ons die laaste eerbewyse toon, dis oral dieselfde.

Die manier hoe ons gasvryheid beoefen is dieselfde. Maak nie saak of jy by ’n sturvy partytjie of ’n gham partytjie is nie, daar is ’n manier hoe dinge gedoen word en ons almal weet wat dit is. Ons verstaan die kode sonder dat enigeen dit hoef te verduidelik.

........
Ons verstaan dat ons ambassadeurs nie net van ons gesin is nie, maar van ons hele gemeenskap.
........

Dan is daar die manier hoedat ons empatie met ander het. Die verstaan dat my kind ook jou kind is en na gekyk moet word, dis eie aan ons almal. Ek onthou as student het ek, as ek trein moes ry, altyd uitgekyk vir ’n antie en dan by haar gaan sit. Al ken ons mekaar nie, het ek geweet sy sal my beskerm. En die mans op die trein het geweet om weg te bly van die anties af, want hulle sou vinnig met ’n goedgekose woord op hulle plek gesit word. En noudat ek self ’n antie is, sien ek hoedat jonger meisies dieselfde met my doen. Ek twyfel of dit in ander kulture op presies dieselfde manier gebeur.

Dan is daar die spitsvondigheid, die blitsvinnige skerp sin vir humor, die gelag te midde van swaarkry, die resilience wat nie regtig behoorlik vertaal kan word nie. Bruin mense weet hoe om alchemies met swaarkry om te gaan.

Kom ons praat oor hoe ons kinders dissiplineer. Nou verwys ek nie na pakslae en sulke goed nie. Maar ons almal weet dat wanneer ’n bruin kind in die openbaar wangedra, dan hoef die ma daai kind net een kyk te gee en hulle weet dadelik hulle moet nou fyntrap. Ons almal is by die huis mooi verduidelik dat jy nie jou mense in die skande steek deur jou swak te gedra nie. Ons verstaan dat ons ambassadeurs nie net van ons gesin is nie, maar van ons hele gemeenskap.

Ek hoef net ’n paar woorde met ’n ander bruin persoon te praat en ek kan hulle met akkuraatheid plaas in terme van ’n hele reeks gebruike. Ons gebruik dalk nie dieselfde woorde nie, maar ons praat nie-verbaal dieselfde taal.

Ons het dalk nie ’n kleredrag wat uniek aan ons is nie. Maar wat is dit anders as kulturele erfenis wanneer mens in ’n lokaal vol vreemdelinge kan instap en dadelik tuis voel, want jy weet wat van jou verwag word sonder dat dit uitgespel word? Wat is dit anders as kulturele erfenis wanneer mens die gedragskode en gebruike verstaan wat jou dadelik laat besef jy is nou tussen jou mense?

Wie het kleredrag nodig om jou te laat voel jy behoort? Want sien, dis bruin kultuur – die behoort aan ’n groep waar jy tuis laat voel word.

Ek hoef niemand anders se kulturele drag aan te trek om my trots op my kultuur te laat voel nie. Ek is bruin en ek is trots daarop. Ek vier Erfenisdag deur seker te maak dat daai gebruike wat eie aan ons is, ook vir die volgende geslag ’n gevoel gee dat hulle behoort, dat hulle ’n kulturele tuiste het.

Lees ook:

Erfenisdag is g’n braaidag nie

Begrawe, maa moenie vegiet

#MissieErfenis2030

Oor hoop

Oor ma’s en kinders

Springbokke vs All Blacks

 

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    'n Mens kry die indruk dat Erfenisdag miskien een van die meer suksesvolle publieke vakansiedae tussen die lot is. Dis nou behalwe vir Kersfees, Paasfees en Nuwejaar. In vergelyking met konsepte soos Jeugdag, Vrouedag, Werkersdag, Menseregtedag, Versoeningsdag en Gesinsdag, vertoon Erfenisdag eintlik nie te sleg nie. Steeds nou nie juis iets buitengewoon nie en ook maar omstrede en ontlok baie kritiek, maar darem meer versoenbaar met realiteite.

    My eie voorsate het in die Here geglo en is uit kerke uit begrawe. Ek is 'n ateïs en kom nooit meer in kerke nie. Ek dink ook nie ek gaan eendag uit die dood opstaan, soos wat al my voorsate gedink het nie. Die beste deel van dood, is juis dat jy dan finaal klaar is met die mensdom. En ook met die mensdom se gode. Soos ek verstaan, het my voorgeslagte hulle gode ook maar oorgeneem by ander mense, of dis op hulle afgeforseer. Ek weet nie. Was nie self daar nie. Vermoed dit was laasgenoemde. Ook ons taal, Afrikaans, is blybaar gesteel by ander kulture soos ek verstaan. Die witmense het natuurlik ook Suid-Afrika se grond gesteel, dis algemeen bekend.

    Ten opsigte van werksplekke, mense trek dikwels teenoorgesteld aan. Ek het dit self al gedoen. Dit is nie noodwendig iets wat hulle self besluit nie. Die menslikehulpbronnebestuurder sit maar daar in sy of haar kantoor en dink, hoe kan ons hierdie dag bietjie skop gee? Dan outomaties volg dit: crossdressing van kulture! Ek trek joune aan en jy myne. By sommige van hierdie vieringe word kolonialiste soos my eie voorgeslagte se kakie en two-tone hemde dan gedra, met hoedens, kieries en pype, maar nie oral nie. Van my oumagrootjies het seker Voortrekkerklere gedra, maar ek reken daai is te warm vir die dames van vandag.

    Ek moet sê, die krale wat sommige mense dra, bly darem maar net aangrypend mooi.

  • Bettina, na meer as 20 jaar in die vakansie-akkommodasiebedryf, kan ek jou wel iets sê van die bruin kultuur wat universeel is. Die kinders is soet, hulle luister want hulle ma gee hulle een kyk en sê: Wat het ek gesê? Dan rits 'n kleintjie die reëls af wat ek maar kon wens my kinders het oral nagekom, al was hulle ook "soet" kinders. Die ergste skade wat ek al ooit gehad het van 'n bruin gesin, was dalk 'n handjie teen 'n muur wat ek moes afwas. En hulle is spontaan, hug graag, en niks van stranger danger kyke nie.

    En die mense is skoon. Die bruin gesinne is uit en uit my beste kastimmers, hulle lag en kuier en braai en die kids speel in die straat, maar as hulle uitgaan, is die plek skoon, die vadoeke uitgewas en opgehang.

    Ek wens ek kon dit veralgemeen na "my mense" toe. Jy is my mens. Dankie vir jou menswees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top