By elke geleentheid waar my bundel LitNet-rubrieke bekendgestel word, kry ek die vraag: Het ek nog hoop vir ons land?
Konvensionele wysheid sê dat ek die antwoord eers aan die einde van die rubriek gee, nadat ek ’n lang gesponne uitbreiding van ’n klomp goed gee. Hierdie is nie die tyd vir konvensie nie. Terwyl ek hierdie rubriek skryf, lê my tuin spierwit van die hael, dis ysig koud, ’n kragopwekker het geblaas en ’n groot gedeelte van die dorp is sonder elektrisiteit. Boonop klap die koeëls en ek hoor die ontploffing van traangashouers soos die polisie en protesteerders met mekaar slaags raak in die straat voor my huis.
En steeds bly my antwoord dat ek hoop het. Dis so maklik om net teen die negatiewe vas te kyk. Dis so maklik om te kla oor gebreke in dienslewering. Dis maklik om te kla oor slaggate wat nie reggemaak word nie. Dis maklik om Eskom te blameer wanneer daar beurtkrag is. Ons kla oor die gesondheidsdienste, oor die polisie, oor misdaad, oor munisipale werkers, oor hoë voedselpryse, oor die petrolprys. Ons kla oor soveel Afrikaanse publikasies wat toemaak – ek hoor selfs die woorde “korporatiewe volksmoord”.
Dis maklik om te kla.
Dis harder werk om te gaan kyk na alles wat goed werk in ons land.
Ons demokrasie werk. Dit werk dalk nie soos ons wil hê dit moet werk nie, maar dit werk. Ons het godsdiensvryheid. Ons kan kerk of moskee of tempel toe gaan sonder om te vrees dat ons in hegtenis geneem gaan word of doodgemaak sal word.
Ons het vryheid van spraak. Ek kan die regerende party, of die huidige regering van nasionale eenheid, of die president en sy ministers kritiseer sonder vrees dat ek gaan verdwyn of in hegtenis geneem gaan word en aangehou sal word sonder verhoor. So onlangs as dertig jaar gelede was dié vryheid nie die realiteit in ons land nie.
Ons het ’n regstelsel wat onafhanklik van die regering is, en wat selfs die regering en die uitvoerende gesag kritiseer en bevindinge teen hulle maak.
Ons joernaliste kan sake teen die sittende president ondersoek en daaroor verslag lewer – en hulle word nie doodgemaak nie.
Ons het burgerregte-organisasies wat aktief en relevant is, en wat deur toepaslike druk uit te oefen dit regkry om dinge in die land te verander. Dink maar aan Outa en die e-tol-stelsel.
Ons kan die gesondheidstelsel kritiseer, maar daar is soveel meer mense wat gratis gehelp word as wat voorheen die geval was. Ditto met die onderwysstelsel.
Is daar ruimte vir verbetering? Natuurlik, maar die blote feit dat daar iets is om op te verbeter, gee alreeds hoop.
Selfs Eskom werk. Ons het reeds meer as 100 dae sonder beurtkrag gehad. Onthou die voorspellings dat beurtkrag net na die verkiesing sal terugkom? Dit het nie gebeur nie. Tydens die storms die afgelope naweek het Eskom werkers in die middel van die nag, deur hael, donderweer en blitse gewerk om kragtoevoer te herstel in gemeenskappe wat deur die storms geaffekteer was.
Daar is Sassa. Hoeveel mense wat dalk voorheen geen vangnet gehad het nie, kan nou staatmaak op die geld wat hulle van die regering ontvang? Gaan ek fokus op al die maniere waarop die geld verkeerd aangewend word, of gaan ek fokus op die feit dat mense die geleentheid het om hul eie keuses te maak oor die geld wat aan hulle toegewys word? Ek is dankbaar dat die regering die program op die been gebring het. Hoeveel bejaardes sou gesukkel het sonder daai paar rand? En in elk geval, arm mense het net soveel reg om hulle geld te mors soos wat enigeen anders het. Is dit nie skynheilig om ’n arm persoon te kritiseer wat drank gebruik, terwyl ons self net so lekker drink, en dalk selfs verslaaf is nie? Ons is so geneig om te fokus op die paar wat misbruik maak, en ons vergeet van die derduisende mense wat daai geld met wysheid en insig en groot dankbaarheid gebruik.
My buurvrou het drie kinders, broers, in pleegsorg geneem. Deur die geld wat die regering beskikbaar stel, kan sy vir hulle sorg en kan hulle bymekaar bly. Dit sou nooit kon gebeur sonder die maatskaplike bystand wat Sassa bied nie.
Ons het die vryheid om die taal van ons keuse te gebruik. Ek hoef nie te vrees dat ek toegesluit sal word omdat ek Afrikaans skryf en praat nie. Al baklei ons onder mekaar oor wie se Afrikaans die beste is, is ons steeds vry om Afrikaans te praat. Of Xhosa of Zoeloe of enige ander taal. Selfs wanneer publikasies toemaak, is dit nie as gevolg van politieke druk of omdat daar teen mense op grond van taal gediskrimineer word nie. Dis ’n vryheid wat nie oral as gegewe aanvaar kan word nie.
Ons atlete word wêreldwyd geprys vir die hoë kwaliteit van hul sport. Terwyl die media meestal fokus op rugby en krieket, het ons soveel sterre in ’n wye verskeidenheid sportsoorte op wie ons trots kan wees.
Ons voedsel is van uitvoergehalte. Ons minerale is dwarsoor die wêreld gesog. Ons het so baie om op trots te wees.
En dan, heel laaste, kom ek by die Suid-Afrikaanse produk wat my die meeste hoop gee. Ons mense. Ons het ’n kan-dit-doen-gees wat ons in staat stel om deur te druk in omstandighede waar baie ander sou tou opgooi. Ons gee om vir mekaar. Waneer dit regtig nodig is, staan ons by mekaar en help mekaar. Selfs mense wat gewoonweg met mekaar sou baklei, vind maniere om met mekaar saam te werk tot die krisis, wat dit ook al mag wees, oor is. Ons mense het maniere gevind om destyds ’n burgeroorlog wat voorspel was, te systap. Ons mense het met die pas afgelope verkiesing gesorg dat elkeen se stem gehoor word.
Wanneer daar dinge gedoen moet word, en ons regering, op watter vlak ook al, is nie vinnig genoeg nie, dan kom ons mense bymekaar en doen dit self. Is daar ’n ramp, dan rol ons moue op en spring aan die werk. Iemand is in nood? Ons samel gou-gou geld in, of kry die regte vakmanne om te help.
Jo Black sing ’n lied met die naam “Bring die hoop weer terug”. Van die lirieke klink so: “Jy’s die lig in die donker gang, jy’s die baken wat op die heuwel staan, ek sien die mens wat jy nog kan wees, so, bring die hoop weer terug.”
Ek het hoop omdat ek nie net sien wat die mense rondom my nog kan wees nie; ek sien wat hulle alreeds is. En dit gee hoop.
Kommentaar
Amen Bettina! Dis soveel makliker om in sak en as te sit en "o, wee" te prewel, as wat dit is om dinge wat werklik saak maak, raak te sien. Dankie dat jy dit so goed beskryf en deel.
'n Mens moet balans vind. Ek verkies my eie land. Maar ek kan my ook nie blind wil hou vir wat aangaan nie. Ek wil nie die realiteite ontken nie. Daar is in hierdie land amper geen geleenthede vir jongmense nie. Hulle gaan in strepe oorsee. Ons lei hulle op met belastings, net om hulle aan die buiteland te verloor. Dies wat hier bly, gaan werkloos bly. Suid-Afrika het nie werk nie en die infrastruktuur is besig om ten gronde te gaan. Met een van die grootste, lompste regerings op aarde.