#MissieErfenis2030

  • 0

Ons voormalige staatspresident, Nelson Rolihlahla Mandela, het tydens ’n toespraak op Erfenisdag in 1996 gesê: “Toe ons eerste demokraties verkose regering besluit het om Erfenisdag een van ons nasionale dae te maak, het ons dit gedoen omdat ons geweet het dat ons ryk en gevarieerde kulturele erfenis ’n diepgaande mag het om ons nuwe nasie te help bou.”

Mandela se toespraak het my laat dink aan ’n Erfenisdag-ervaring van ’n paar jaar gelede. Ek en ’n paar van my vriende het ’n bietjie van die Xhosakultuur en -erfenis leer ken en beleef saam met ’n vriend in Khayelitsha vir die dag. Ons het ’n tradisionele seremonie bygewoon, saam gekuier, geëet en die gemeenskap deur sy lens verken. Ons het vriende en familie besoek, saam gesels, gelag en geleer. Daarna het my vriend na ons huis toe gekom en ons het saam gebraai en melktert geëet, en ons het stories vertel van ons kennismaking met die Afrikanerkultuur, ons grootwordjare en soveel meer. Ek dink daardie dag was dalk die begin van wat Mandela in gedagte gehad het. Ek wil graag baie meer hiervan doen. Daar is so baie om te leer, te ervaar en te vier in en van mekaar. Ek het probeer dink aan ’n manier om myself verantwoordbaar te hou om meer hiervan te doen en met #MissieErfenis2030 vorendag gekom as ’n manier om te begin.

#MissieErfenis2030 is ’n uitnodiging om elke jaar ’n ander Suid-Afrikaanse kultuurgroep te kies om meer van te leer en te vier. Op hierdie manier ken en verstaan jy meer van 10 Suid-Afrikaanse kultuurgroepe teen 2030. Suid-Afrika het 11 amptelike tale en soveel meer kultuurgroepe. Daar is soveel om te leer, te ervaar en te omarm. Maar soveel meer as dit is die begrip dat Suid-Afrika uit verskillende invloede bestaan noodsaaklik om ons te help om mekaar te verstaan, om van mekaar se kulturele praktyke te leer en mekaar te respekteer. Dit is deel van die potensiaal vir genesing wat demokrasie meegebring het nadat kultuur in die verlede gebruik is om ons te verdeel. #MissieErfenis2030 kan ’n manier wees om te verseker dat die geskiedenis nie homself herhaal nie en gee vir ons die geleentheid om ons eie storie te skryf.

So, hoe lyk #MissieErfenis2030 jaarliks in aksie?

  • Wend ’n doelbewuste poging aan om oor die geskiedenis te leer en daarvan sin te maak vir jouself. Ons leer dikwels net wat in die geskiedenisklas op skool behandel word en wat ons ouers met ons deel om die etenstafel. Daar is soveel meer vir ons elkeen om te ontdek en sodoende werklik die groter Suid-Afrikaanse prentjie te verstaan. Ons moet ’n punt maak daarvan om die rol wat ons verlede gespeel het in die vormgewing van wat ons vandag geword het te verstaan. Ons kan boeke en biografieë lees of bloot net uitvra, luister en leer by mekaar.
  • Leer die taal of selfs net ’n paar woorde van die taal wat ’n Suid-Afrikaanse kultuurgroep buite jou eie praat. Dis een van die mees eenvoudige, dog betekenisvolle maniere om opregte bande te smee en betekenisvolle verhoudings te bou.
  • Besoek nasionale gedenktekens en historiese geboue en gaan in gemeenskappe in waar jy nog nooit was nie.
  • Verdiep jou kennis van die kuns, letterkunde en musiek van kultuurgroepe buite jou eie.
  • Koop Suid-Afrikaanse produkte en gebruik Suid-Afrikaanse dienste wat deur ’n ander kultuurgroep as joune begin is.
  • Eet kos wat jy nie ken nie en dalk nooit sou oorweeg nie.
  • Wees opreg en leergierig en hê ’n oop hart, sonder oordeel.

Die waarheid is dat ons Erfenisdag as Braaidag gedoop het en dit dalk so begin aanvaar het. Daar is wel niks fout met ’n stukkie braai nie, en dit is beslis wat ons as Suid-Afrikaners saam bind, maar dit kan soveel meer as dit wees. Dis ’n uitnodiging om nie net ons eie kultuurerfenis te vier nie, maar ook werklik van mekaar te leer.

As gevolg van sisteme wat eeue gelede reeds daargestel is, is ons onbewustelik geleer dat ons verskille juis dit is wat ons verdeel en in die pad staan van eenheid. Erfenis is die brug wat ons aan mekaar kan bind. Ons is bewustelik of onbewustelik geleer dat sekere kultuurgroepe doodeenvoudig minder saak maak as ander. As ons #MissieErfenis2030 aangryp en onsself werklik nederig maak om te leer, sal ons nie slegs bydra tot sosiale samehorigheid, versoening, vrede en ekonomiese ontwikkeling nie, maar ook soveel ryker in ons menswees wees.

Erfenisdag is ’n geleentheid vir ons om na te dink oor wie ons is, waar ons vandaan kom en waarheen ons as Suid-Afrikaners op pad is. As ons nie hou van waarna die pad lei nie, is Erfenisdag ook die uitnodiging vir ons om skouer aan die wiel te sit en aktief deel te neem aan die bou van ’n beter toekoms vir almal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top