
Foto: Pixabay
Op Sondag 19 Januarie 2025 het ’n voorlopige skietstilstand in Gaza in werking getree, wat effektiewelik beteken dat daar vir die volgende ses weke geen oorlog in die gebied sal wees nie. Hopelik.
Natuurlik is daar geen waarborge dat die skietstilstand respekteer sal word nie. Die aanvang van die skietstilstand is met drie uur vertraag nadat Israel aangedring het dat hulle die name wou hê van die eerste drie Israeli’s wat vrygelaat word, voordat hulle finaal tot die skietstilstand instem. In die gemelde tydperk het hulle steeds die gebied gebombardeer en 13 Palestyne gedood, volgens The Guardian.
The Guardian haal ook Al Jazeera aan dat twee missiele ’n gesin getref het wat op ’n donkiekar probeer teruggaan het na hul huis in Gaza, onder die indruk dat die skietstilstand alreeds begin het.
Al Jazeera English het egter op hulle X-blad aangedui dat 141 Palestyne gedood is, 19 nadat die skietstilstand amptelik begin het.
During the agonising wait between the Gaza ceasefire announcement and its implementation, Israel killed another 141 Palestinians, including 19 after the truce was scheduled to begin. These are the stories of the last victims before the bombing stopped. pic.twitter.com/xqp17xiXhV
— Al Jazeera English (@AJEnglish) January 19, 2025
Sedert die skietstilstand in effek is, het Hamas drie Israeli’s vrygelaat. Sewe uur later het Israel 90 Palestyne vrygelaat: 69 vroue en 21 tienerseuns.
Intussen het die Wêreld Gesondheidsorganisasie, hierna genoem die WHO, aangedui dat hulle gereed is om Gaza binne te gaan om hulp te verleen. Honderde hulptrokke staan gereed om die gebied binne te gaan, om water, voedsel en gesondheidsdienste te begin. 90 persent van die meer as twee miljoen inwoners van Gaza is dakloos gelaat tydens die 15 maande lange konflik. The Guardian berig dat nege uit elke tien huise verwoes is, sowel as skole, hospitale, winkels, moskees en selfs begraafplase.
Volgens die Gaza Gesondheidsministerie het meer as 46 000 Palestyne in die konflik gesterf, met meer as die helfte van die dooies vroue en kinders.
Maar wat is die volle inhoud van die skietstilstand?
In die eerste fase van die skietstilstand, wat 42 dae sal duur, sal Hamas 33 gyselaars vrylaat, in ruil vir honderde Palestyne wat in Israeli-tronke aangehou word. Die volgende uitruil van gevangenes en gyselaars is veronderstel om alreeds volgende Saterdag plaas te vind.
Reuters berig in die tweede fase sal alle oorblywende lewende gyselaars, 65 van hulle, vrygelaat word. Israel sal in totaal byna 2 000 Palestyne in aanhouding vrylaat. Israel sal voorts heeltemal van die gebied onttrek.
Die spesifieke detail sal later onderhandel word, met onderhandelinge veronderstel om 16 dae nadat die eerste fase ingeskop het, te begin.
Die derde fase sal die uitruil van liggame in detail uiteensit, asook ’n plan om Gaza te begin herbou.
........
Die groot vraag, vir my in elk geval, is hoekom Israel gehoor sal gee aan die verdere details van die skietstilstand die oomblik dat hulle al die gyselaars terug het?
........
Dis nie die eerste skietstilstand nie, en ek vermoed dit sal ook nie die laaste wees nie. Die groot vraag, vir my in elk geval, is hoekom Israel gehoor sal gee aan die verdere details van die skietstilstand die oomblik dat hulle al die gyselaars terug het? Wat keer hulle om dan weer voort te gaan met aanvalle, veral gesien in lig van die feit dat die verregse lede van die parlement aandring daarop dat die oorlog moet voortduur tot ’n definitiewe oorwinning bereik is. Die minister van nasionale sekuriteit, Itamar Ben-Gvir, asook twee ministers van die Otzma Yehudit-party het in protes uit die kabinet bedank.
Die minister van finansies, Bezalel Smotrich, het nie bedank nie, maar hy het aangedui dat as Israel sou instem tot ’n algehele beëindiging van die oorlog voordat Hamas vernietig is, sal sy party die regerende koalisie verlaat.
Dit sal waarskynlik beteken dat die koalisie verbrokkel en dat die Israeli-regering in krisis gedompel word, iets wat Benjamin Netanyahu ten alle koste wil vermy.
........
Die VSA kon natuurlik maande gelede ’n einde aan die konflik gebring het, óf deur nie die Verenigde Nasies-resolusies ten gunste van ’n skietstilstand te veto nie, óf deur miljarde dollars se hulp in geld en wapens te staak.
........
Intussen het beide Joe Biden en Donald Trump krediet geneem vir die feit dat daar hoegenaamd ’n skietstilstand is. Dit moet ook genoem word dat die terme van die skietstilstand feitlik identies is aan die terme wat in Maart 2024 voorgestel en deur Israel verwerp is.
Die VSA kon natuurlik maande gelede ’n einde aan die konflik gebring het, óf deur nie die Verenigde Nasies-resolusies ten gunste van ’n skietstilstand te veto nie, óf deur miljarde dollars se hulp in geld en wapens te staak. Dit is toe nie gedoen nie, en dit sal ook nie in die toekoms gebeur indien, soos wat algemeen gevrees word, die skietstilstand verbreek word nie.
Hoekom? Want ’n skietstilstand is nie ’n vredesooreenkoms nie. ’n Skietstilstand is nie die einde van oorlog nie; dis net ’n blaaskans. En solank as wat daar nie blywende vrede en ’n blywende oplossing in Israel kom nie, is vrede vir die res van die wêreld maar ’n brose, delikate illusie.
Lees ook:
Seen elsewhere: New generational hate, fear and despair have been written
Suid-Afrika se tweede klag by die Wêreldhof: Israel pleeg volksmoord
How to consider the ICC prosecutor’s request for arrest warrants